Sunday, January 30, 2011

Ek met die keiser se klere aan....

'n Voorbeeld van 'n aaklige sekuriteitskassie:

~~~~~

Staan toe mos vandeesweek met geen klere aan nie, op die lughawe.


Kaal. Sonder ‘n draad of ‘n vesel om my te bedek.


En ek is bekyk. Van bo to onder en van voor tot agter.


Darem deur mense wat ek nie kon sien nie – asof dit ‘n verskil maak…..En die mense rondom my wat ek wel kon sien, het genadiglik teen my klere vasgekyk.


Vrywillig? Nee, natuurlik nie!


Maar dit het gekom toe ons ná ‘n kort wekie se kuier by Tweede-Jongste in Phoenix se lughawe deur die sekuriteitskontrole moes gaan, en ek onkant gevang was, en nie vinnig genoeg gedink het om dié vernedering te ontduik nie. Voor ek my kon kom kry, is ek in die Full Body Scanner ingewink, met hande bokant die kop staan gemaak, en – soos dit vir my gevoel het – “gefussileer.”


Ek weet nie in hoeveel ander lande dié aaklige sekuriteitskassies al hul opwagting gemaak het nie, maar hier vervuil hulle by dosyne.


Die Full Body Scanner “ontklee” ‘n mens deur ‘n 3-D beeld van jou te vertoon – kompleet met alle nate, voue, skaduwees, bult-en-hobbel vlakke – en op die lughawens word dié beeld gesein na ‘n skerm in ‘n vertrek waar sekuriteitspersoneel jou bestudeer om te sien of al daardie kontoere werklik jou eie is, en of jy dalk dwelms, wapens of plofstof saamsmokkel.


Genadiglik kan mens nog weier om so verneder te word, maar dan word jy deeglik deur gehandskoende dames “betas”.


Liewer dit. Vat aan my as jy dan moet. En ek kan jou sien. Maar moet my nie beloer nie. Veral as ek nie klere aan het nie.


Friday, January 14, 2011

Verkleurmense

Hóé lank jou lysie van voornemens vir 2011 ook al is – MOET jy daarby aanlas om nooit vanjaar (en vir altyd!) met ‘n emmer vol verf in jou motor rond te ry nie.

Want sou jy in 'n botsing kom, is dit wat gaan gebeur:



Die insittendes van hierdie blou motortjie het ‘n 25 liter-emmer verf op die agterste sitplek vervoer. Jônna-whê!

NS:

Die ambulansbestuurder het geweier dat die vroulike paramedikus uit hul voertuig klim, omdat sy nie kon ophou lag nie. Dit was totaal onprofessioneel, het hy gesê. (!)

Wednesday, January 12, 2011

Splinternuwe nuwe jaar

Ek het al hier vertel dat Joni Eareckson Tada een van my geëerde heldinne is. Elke keer as ek een van haar boeke/artikels/webwerfinskrywings lees, laat sy my oorstelp en geïnspireerd.


Baie ken die verhaal van hoedat sy in haar tienerjare ná ‘n duikongeluk, van haar nek af verlam gelaat is.


In "Dié God Wat Ek Liefhet", bl 304, skryf sy:


“Ek onthou die nag lank gelede toe ek as beangste tienderjarige in ‘n skemer hospitaalkamer hardop gelê en wonder het of God my dan afgeskryf het. Die gange was donker en verlate.


Dis toe dat my vriendin Jackie pens-en-pootjies langs my in die bed klim en teen die donkerte van daardie nag in begin sing:


‘Man of Sorrows!’ What a name!

For the Son of God who came

Ruined sinners to reclaim!

Hallelujah, what a Savior!’


“Wanneer iemand oor die afgelope dekades my gevra het na die keerpunt in my geestelike wroeging oor die ongeluk, beskryf ek daardie oomblik. Dit was die allerbeste wat enigeen vir ‘n verlamde meisie kon doen.


“Vroëer reeds in al die eindelose ure in daardie bed, het ek Bybelverse lê en herhaal oor God se doel met ons lyding, maar dit het nooit my diepste denke deurdring nie. Antwoorde en redes, hoe goed bedink ook al, het nie by die probleem in my hart uitgekom nie – in my hart en diepste wese…


“Eers het ek dit nie begryp nie. Máár, as God dan waarlik die middelpunt van die heelal en die skepping is, dié Een wat dit bymekaar hou sodat dit nie uitmekaartuimel nie – as alles deur Hom leef, beweeg en bestaan soos wat Handelinge 17 vers 28 sê, dan kan Hy ons geen belangriker antwoord óf rede óf geskenk gee as Homself nie.


Dit is wat Jackie my daardie nag help verstaan het. God het ons nie woorde gegee nie – Hy het ons die Woord gegee – Jesus, die verminkte en verbryselde Man van Smarte.”

~~~~~~~~~~~~~

Ek gaan hierdie nuwe jaar in met die Man van Smarte aan my sy. Hy ken my hartseer en het medelye met my swakhede. Hy is die Seun van God – God Self!


Hy dra my pyn vir my. Hy veg my geveg tot die oorwinning toe.


Hy stort Sy seën oorvloediglik op my uit. Hy gee my die goeie en verheug Hom in my lofsange.


Hy vergewe my opstandige hart en hou my styf in Sy arms vas.


Ek is veilig. Dwarsdeur hierdie splinternuwe 2011 -- en vir altyd.


Halleluja – wat ‘n Redder!!

~~~~~~~~~~~~~~~


Aan elke ene van julle: die Here se seënende nabyheid vir hierdie nuwe jaar toegebid!

Monday, January 10, 2011

Waar is my sjimpansee tog

~~~~~~~~
Nou hoe verduidelik ek nou hierdie saak – ek bedoel, selfs ‘n slim sjimpansee sou kon agterkom dat ek verlede jaar laas hier ingeloer het.

Ek is skoon verstom dat ek nog weet hoe om by my kraaltjie in te kom!

Ken julle daai gevoel van omdat-ek-so-skuldig-voel-stel-ek-uit-om-die-saak-reg-te-stel-en-dan-voel-ek-nog-skuldiger-en-dan-stel-ek-nogmaals-uit……

Ja, Kerstyd was besig; ons het tot Nuwejaars gaste gehad; ek het stapels lakens en handdoeke begin was en selfs kaste regpak om die hartseerwees te probeer ontwyk toe die laaste kinter by die lughawe afgelaai is, maar nogtans…

Groot askies dus. (As ek net nog elf-en-‘n-halwe maande langer gewag het, dan kon ek julle alweer ‘n geseënde Kersfees toegewens het….!)

Maar ek weet een ding: as ek net ‘n slim sjimpansee gehad het om my te help, dan het julle beslis al vinniger weer van my gehoor….

~~~~~~~