(Briefie van ‘n sendeling-vriendin in die Midde-Ooste)
Reën is iets so wonderbaarliks.
Ons het maande lank daarvoor gewag. Die
wolke het weke lank vrugteloos verbygedryf. Maar vandag het hulle saamgestapel
en die reuk van die reën in die lug het my leerlinge gespanne gemaak.
Hier ruik die reën soos stof: reënstorms roei die stof orent en
dit meng met die stof wat in die lug hang en ons ruik dit as dit weer neersif
en dink: “Reën! Die reën kom.” Ek veronderstel nat stof ruik anders as droë
stof.
Maar die reën het weggebly en, weggebly. Die wolke het die son
verdof, en verdwyn. Energievlakke het gestyg en produktiwiteit het getuimel.
Alles in afwagting op die reën. Maar niks het gebeur nie. Teen die tyd dat die
huistoegaanklok gelui het, het ons almal hoop opgegee.
En nou het die reën gekom. Saggies, vermeng met die
aandskemering. En die stof is van die olyfbome afgewas; hulle is weer silwerig
blink. Reën is verkwikkend. Reën maak skoon. Reën herinner my aan God se
versorging. Sy genade is vir my genoeg. En soos die olyfbome, voel ook ek weer
blinksilwerskoon. Ek het nodig gehad dat my stowwerigheid vanmiddag afgewas
word.
Ek het buitekant my klaskamer gaan staan en die reën ingedrink.
Met my oë, my ore en met my siel. Ek het my hande bakkiegehou onder die geut.
Ek het met oorgawe die wonder van die reën beleef. Ek het gesing, en ek het
aanbid.
Mag ons vanjaar almal tyd maak om die mooie uit Gods hand te
bewonder. Mag jy die energie en genade ontvang om te doen wat jy moet. En mag
jy binnevrede en -vreugde ervaar, wat ook al jou omstandighede.”
Hy lei my in die
spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil. Psalm 23:3