Showing posts with label Blognaam. Show all posts
Showing posts with label Blognaam. Show all posts

Thursday, September 25, 2008

Woordmusiek


Fluitjiesriet.

Sê dit. Die een woord. Sê dit tog net weer ‘n keer.

Dis woordmusiek, sommer net so. Onopgesmuk, sonder omhaal; dog so fyn en suiwer en ryk. Daar lê ‘n wêreld verskuil in hierdie klankgewordenheid.






Die liedjie
van my rietfluit
my gonnie-piet-
verdriet-fluit
het niks
het niks
van die
ret-tet-tet
van die
luister-hoe-ek-
skree-trompet,
het niks
het niks
van die
rom-tom-tom
van die
hier's-ek-weer-
met-my-
trommel-trom;
hy't net
hy't net
die fyn verdriet
die fyn verdriet
van die fluitjiesriet

Philip de Vos

'n Kind, en 'n blog, moet tog 'n naam hê

Fluitjiesriet? Fluitjiesriet??

Lank gedink, nog gedink en heroorweeg.

‘n Blognaam kan mos nou ook nie sommer so verbeeldingloos soos ‘n straatnommer wees nie. Stel jou voor: blog nommer sewentien miljoen driehonderd een-en-veertig. (Ek lees daar is iewers ingeligtes wat skat dat daar min of meer al aan hierdie soveel miljoene blogs die lewe geskenk is.)

En al sou ek ook weet dat my ou bloggie wel nommer sewentien miljoen driehonderd een-en-veertig is, dan is ek mos nog EK (al is ek nou ook maar net een van die 6,723,884,291 siele wat hierdie aarde bevolk – en let wel, hierdie syfertjie is al ‘n maand oud!)

Maar daar is anders redes ook nog, en daarby kom ek later uit.

Vereers genoeg om te sê ek het ‘n oom geken wat baie beslis kon voet neersit met “so is dit. Uit en blerrie klaar.”

So, hier sit ek voet neer.
mariki