Showing posts with label kentucky. Show all posts
Showing posts with label kentucky. Show all posts

Sunday, November 16, 2008

Die blou mense van die Bluegrass


Die Appalachian–gebied strek met ‘n boog oor 12 state, vanaf onder in Mississippi tot bo in New Yorkstaat, is rofweg so groot soos Groot Brittanje en het 20 miljoen bewoners. Dis ‘n streek van kontraste. Aan die eenkant die wondermooie natuurskoon – hier vind mens die Great Smoky Mountains sowel as bv. die gewilde 3 299 kilometer-lange Appalachian wandelroete -- en aan die anderkant (en hier kan ek net praat van die KY Appalachians) die tragiek van grootskaalse (natuurlik onwettige) daggakwekery, patetiese armoede, kindermisbruik, depressiwiteit, drank en dwelms.

Hierdie mineraalryke gebied is oor die jare heen tot agterlikheid verarm deur brutale grondspekulasie en mynboubedrywighede, sowel as gewetenlose arbeidsuitbuiting.


Een van ons seuns was deel van die kerkjeug se jaarlikse sendinguitreiking na Appalachia (honderde sulke uitreikings vanoor Amerika vind jaarliks soontoe plaas), en het onder andere ‘n huis help herstel vir ‘n gesin van sewe wat niks anders kon doen, as om hul hoenderhok in te trek toe die huis te bouvallig geraak het nie.


In hierdie afgesonderde deel van Kentucky was ondertrouery aan die orde van die dag, (Ook maar net soos in die Hel in die Seweweekspoortkaroo, net op veel groter skaal.) Tot vandag toe is dit waar eindelose Kentucky-grappies -- deur die Appalachianmense self ook vertel -- vandaan kom:

Pete aan die prokureur: “As ek en my vrou nou klaar geskei is, sal sy nog my niggie wees?”

Daar is egter een groep vir wie die gevolge van ondertrouery geen grap was nie – die Blou Fugates van Moeilikheidspruit. Hierdie mense was letterlik blou van kleur weens die rare verskynsel van methemoglobinemia.

Daar is twee toestande wat ‘n blou velkleur kan veroorsaak: methemoglobinemia, waar die suurstofdraende werking van die bloed te kort skiet en Argyria, wanneer iemand te veel silwer ingekry het (meestal in medisyne).

Beide die twee Franse voorouers van die Fugates wat hulle in 1800 hier gevestig het, was draers van hierdie toestand. Dis genadiglik bloot ‘n pigmentversteuring sonder enige gesondheidsprobleme, maar vir der jare het die Blou Fugates so aangekarring. Daar is hewiglik deur almal in die “hollers”gespekuleer oor wat die probleem kon wees: hart- of longprobleme, of “dat hulle bloed maar net nader aan die vel is as ander mense s’n.”

Gelukkig vir die Blou Fugates het ‘n hematoloog in die sestigerjare in hul probleem geïnteresseerd geraak. Madison Cawein het gereeld myle afgery om by hulle te probeer uitkom en dan vergeefse ure bestee om hulle in die bosse en klowe te agtervolg, omdat hulle te sku en bang was om met vreemdes te praat. (Ek sou ook gewees het – party van hulle was indigoblou as hulle ‘n rukkie buite in die koue was – en wie wil nou soos ‘n sirkusdier bestaar word.)

Die goeie dokter het in sy doel geslaag, die blou mensies op ‘n heel eenvoudige manier suksesvol behandel, en was saam met hulle verheug toe hulle gewoon pienk geraak het. Hy was ook baie verontwaardig toe ‘n rolprentspan hierdie mense voor die kameras wou laat paradeer in die “That’s Incredible”- TV program. Met groot genoeë het hy verneem hoedat die Fugate-familie hul honde op die Hollywood-indringers losgelaat, en dié blougeskrik en benoud, teen die berg af moes laat spaander !

Thursday, November 13, 2008

Die Bluegrass Staat

KENTUCKY
Vir Kyle se begrafnis is ek Kentucky toe, of, soos die slawe dit genoem het, Kin-tuck, wat mens, onnodig om te sê, nie meer vandag hoor nie.

Om eerlik te wees, toe ons sowat agt jaar gelede Amerika toe gekom het, het ek nie mooi geweet watter staat waar geleë is nie! Waarom sou mens ook, Amerika is mos nie die wêreld nie (uhhm, hierin lê natuurlik ‘n hele gesprek opgesluit…)

Kin-tuck is een van die sogenaamde “grensstate” (dis nou een met heelwat staatsbure): Wes-Virginia en Virginia (Oos); Tennessee (S); langs die Mississippi Rivier waar aan die oorkant Missouri is (SW) en dan Illinois, Indiana, Ohio oor die Ohiorivier (W & N).

In die Burgeroorlog was Kentucky waarlik in die middel van die tameletjie vasgevang: dit was ‘n slawehandelstaat, maar ‘n besonder groot groep inwoners was heftig gekant daarteen. En so kom dit toe dat KY beide die Union en die Confederates van letterlik duisende troepe voorsien het. (Ironies genoeg is albei die 2 presidente van die noorde en die suide – Abraham Lincoln en Jefferson Davis -- 8 maande uitmekaar uit, in KY gebore).

KY lê in een van die land se sogenaamde “Bible Belts”, met perdetelery (en dus weddenskapsdobbel), tabak en whiskey die groot bedrywe!!)

Hoogaangeskrewe onder die ander state is Kentucky – en dis nou om dit sagkens te stel – gewis nie. Die rede? Hoofsaaklik langdurige armoede in ‘n groot deel van die staat (onherbergsaam en onbewerkbaar), en daarmee saam die veragterliking van die bewoners van daardie streek. Appalachia -- by die Appelagiese gebergtes soos ons dit in standerd 5 geleer het -- wat ‘n eie subkultuur van “Hillbillies” tot gevolg gehad het. Die Appalachian voetheuwels krink die heeltyd in en uit, (vorm glooiings) en in hierdie feitlik onbegaanbaar beboste klofies het die mense gaan bly.

Die klowe, “hollows” het in die taal van daardie streek as “hollers” bekend geword, en is verwant aan die woord “hollowin” (hollowing) = om te skree.

Hoog op die lys van kultuurgebeure in folkloristiese styl en met goeie smaak, word “hootin’ ‘n hollerin’ ''- musiekgeleenthede jaarliks in verskeie suidelike state gevier – vet pret, glo my!

Die staatsregering en welsynsorganisasies werk grootskaals vir die opheffing van die armes van KY, maar die Appalachians tel nog steeds as een van die drie armste gebiede in Amerika – skaars drie ure se ry van die rykste perdeplaasstreek ter wêreld, rondom Lexington, “Horse Capital of the World”.

Maar daaroor later meer. Hier is eers net ‘n paar herfsprentjies van in en rondom Lexington soos ek vinnig laasnaweek daar op die ou paaie rondgery het.







Fantasties, né!