Showing posts with label vraetyd. Show all posts
Showing posts with label vraetyd. Show all posts

Thursday, April 23, 2009

Daggadag

Daar is twee dae in April waarop die Amerikaners op ‘n streep deelneem aan blatante wetsverbreking. Maar, hou diegene vol, dis in orde -- omdat almal dit doen en dit niemand hinder nie en jouself nie benadeel nie; inteendeel, veral die een geleentheid maak jou o, so gelukkig.

Die eerste hiervan, die dag waarop belastings moes in wees -- en betalings van der miljoene nog agterstallig was -- was vroeg vandeesmaand.

Die ander een was die pas afgelope Maandag, 20 April, ook bekend as “4/20-Day”. Dis die dag waarop die daggamanne en –vroue hul ding vrylik en openlik mag doen. Word selfs Nasionale Rokersdag, genoem.

Die 4/20-konnotasie kom uit die sewentigerjare toe ‘n groep tienderjariges in Kalifornië elke middag om 4.20 bygmekaargekom het om dagga te rook, en dié benaming is later vryelik deur die raas-en-gil-musiekgroepe bevorder.

In kleinadvertensies lees mens ook uitnodigings na ‘n "420-sessie" raak, of van iemand wat ‘n “420-kamermaat” soek.

Die besit van selfs klein hoeveelhede marijuana is ‘n oortreding met ‘n boete van $100, dog tussen agt- en tienduisend studente van die Universiteit van Colorado het Maandag aan die rookfees op die kampus deelgeneem.

‘n Segsman van die universiteit sê dis bykans onmoontlik om teen die rokers op te tree, omrede van die klomp toeskouers wat dit soos ‘n konsert of vertoning, bywoon. “Ons is heeltemal hierteen gekant, maar ons hande is afgekap met hierdie gebeure wat ons geërf het.”

In die verlede is die kampuspolisie gebruik om die studente te verjaag en is hulle ook met watersproeiers bespuit. Dit het tot groot onmin en agressie gelei.

Die rokers dring daarop aan dat die gebruik van marijuana gewettig moet word.

Baie van die Universiteit van Colorado se studente is teen die geleentheid gekant en een ou het daar rondgeloop met ‘n plakaat: “Daggarook maak jou dom.” (Hoop net hy het nie te veel tweedehandse rook só ingeasem nie.)

Marijuanamuise:
Die afgelope paar jaar het twee mediese navorsingstudies glo getoon dat dagga met welslae in die stryd teen kanker ingespan kan word.

Tydens ‘n Britse navorsingsprojek is muise ingespuit met THC (tetrahydrocannabinol carboxylic – die chemies aktiewe stof in marijuana), nadat menslike longkankerselle vantevore in die einste arme muise ingeplant is.

Dit het glo die kankergewasse met 50% laat krimp.

Het ek dit reg? Dagga kan gebruik word teen kanker, maar daggarook is (bewese) sleg vir jou longe??

Klink vir my baie na die redenasies van ‘n ou wat nie helder is nie…..maar wag, ek sê nie die muisgeleerdes was gerook nie, hoor.

Wednesday, February 4, 2009

Mag Redding volg op redding

As jy ‘n vierjarige uit ‘n gelukkige gesin is waar mamma saans met beddtyd vir jou feëverhale lees, en jy dan saam met pappa ‘n wonderbare noodlanding van ‘n vliegtuig op ‘n rivier beleef, glo jy die vliegtuig het in ‘n boot verander!

As jy grootgeword het met ‘n lewe van misbruik, drank, losbandigheid en wetsoortreding -- en kies om jouself laterjare daarin te verstrengel -- en die strop trek al nouer om jou nek, dan klim jy in jou kar en gaan jaag oor ‘n krans.

Of altans, jy probeer.

Dis wat Daniel Lyons (34) voorlaasweek hier in Colorado probeer doen het. Maar toe laat die Here dit nie werk nie.

Lyons se Volkswagen het 120 vt. (37 m) ver oor die kransrand gevlieg voordat dit aan ‘n rotspunt vasgehaak en wiegend bly hang het. Sou hy ‘n meter hoër verbygetrek het, dan het hy 300 vt (91 m) geval en verbryseld onder in die kloof te lande gekom.


Glo ons dat ons ons dade en die gevolge daarvan altyd kan deurgrond en begryp? Nou waarom het Daniel Lyons nie hier die deur van sy Volkswagen oopgemaak en uitgespring nie? Want hy het tog immers gekom om ‘n einde aan sy lewe te maak? Wat het hom gekeer?

Maar nee, hy het in doodsangs 911 op sy selfoon gebel. Twee ure later is die voertuig, met hom nog steeds binne-in, van die rots afgelig met behulp van toue en die katrolstelsel van ‘n 260-ton hyskraan.
Mag Daniel Lyons tog besef waarom hy ‘n wonderbare tweede kans gegee is.

Wednesday, January 28, 2009

Saamslaap en warm kry

Vennoot en ek is in die diep waters: ons sukkel met ‘n skei-ding. En dit is regtig nie ‘n lekker ding nie, in kringe redeneer bring jou net mooi nêrens nie en buitendien maak dit jou tong lam en jou kop suf.

Hierdie ding kom al van ver af; partymaal gaan die wind lê, maar soos die seisoene kom en gaan, steek dit sommer weer stormsterk op.

Sien, die kwessie van wegslaap van mekaar af, is nou maar eenmaal nie vir hom nie. “Trou is trou, en dit bring bymekaarslaap.” Dis die man se amper onwrikbare standpunt deur die jare heen. Hy slaap dan glo danig onrustig as ek nie my kant van die dubbelbed opeis nie, kry koud in die winter en voel sommer in die somer ook so in sy slaap aan daar is iewers groot fout.

Nou is dit nie my gewoonte om Vennoot te wil ontstig nie – daarvoor is hy ‘n alte wonderlike mens en ná baie jare se getroudwees nog steeds my-alles-hier-op-aarde, behalwe as dit by altyd-saamslaap kom, veral nou met dié dat die Australiese Ope Tennis aan die gang is. Ek bedoel, dis mos nie my skuld dat die wêreld rond is en die son op ander tye oor die kangaroos op- of ondergaan as hier by ons, en dat die tenniswedstryde soms in die middel van ons donkere nagte plaasvind nie –- almal behalwe die Amerikaners weet tog dat Amerika nie alles na húlle se wil kan skik en rig nie?

So kom dit dan dat ek nou tot Vennoot se groot ongelukkigheid al ‘n paar nagte op die rusbank in die gesinskamer nesskop met die wekker onder die kussing, sodat dié my op die onmoontlikste uur kan wakkerskel om die kookwatertennis in Melbourne te kan volg.

Kookwater tennis en kookwatertemperature, want dis asof die son dooierus gevat het op suidoos Australië; die hittegolf wat die kwik die afgelope paar dae hier by die 40ºC laat draal en selfs tot by 45ºC opjaag, kan moontlik die ergste sedert 1908 word. Daar word gevrees dat bosbrande kan ontstaan as gevolg van die uitmergelende droogtes wat die land die afgelope paar jaar geteister het.

Kartering van Australië se hittegolf van 2004

Nooddienste het inwoners van die staat Victoria gewaarsku om noodplanne gereed te hê indien hulle sou moes vlug vir bosbrande en ‘n vrywilligermag van 100 000 brandslaners is op die been gebring.

In Melbourne het treinspore begin buig as gevolg van die hitte en minstens 2 mense is Woensdag van hitte-uitputting dood; die een ‘n 75-jarige man wat 500m ver na sy motor toe geloop het en die ander ‘n 24-jarige persoon wat by ‘n tremhalte getaan en wag het.

Laat my dink aan lang jare terug op Prieska (oppad êrens heen) toe ek by die kruidenierswinkel uitkom en my tromp-op loop teen ‘n wildvreemde vrou wat voor my vassteek met die woorde: “My héénetjie tog, Mevrou, assit nou al hie-onne oppie aar’e soe warm is, hoe kommit lat mê-se hille nie wil bekee' yt banggeit virrie hel nie?!”

Nee, ek weet okkie.