Friday, October 31, 2008

Happy Halloween se voet

Miriam Webster's Dictionary Definition:

Main Entry: Hal low een
Variant(s): also Hal low e'en /"ha-l&-'wEn, "hä-/
Function: noun
Etymology: short for All Hallow Even (All Saints' Eve)
Date: circa 1700
: October 31 observed especially with dressing up in disguise, trick-or-treating, and displaying jack-o'-lanterns during the evening



En waar kom Halloween (Allerheiligeaand) so ewe vandaan?

Die heidense Keltiese Samhain-fees is waarskynlik die oorsprong van die hedendaagse Halloween.

Die Kelte het hulself meer as 2 000 jaar gelede tuisgemaak in wat vandag die Verenigde Koninkryk, Ierland en Noord Frankryk is.

Hul nuwe jaar het op 1 November geval, maar die feesviering ter ere van die Keltiese doodsgod, (brrr) Samhain (dis nou bietjie anders as die hollandse Piet Hein!), het reeds die vorige aand begin. Hiermee is die seisoen van koue, duisternis en verval ingelui en het dit geassosieer geraak met die dood.

Volgens die Kelte het Samhain (uitgespreek Sah-ween) die siele van die afgestorwenes toegelaat om net vir daardie aand na die aarde terug te keer.
Dan is die mense deur die Druïede (die priesters en wyses), aangesê om die vuur in hul vuurherde te blus en is ‘n groot vuur (bonfire) -- sogenaamd heilig -- met eikehouttakke gemaak. Diere, oesprodukte en moontlik selfs mense, is geoffer voordat elke familie sy eie vuur met ‘n stomp uit die heilige vuur, kon aansteek.

Vir hierdie geleentheid het die feesgangers soms kostuums van dierkoppe en velle gedra, en die toekoms is voorspel deur die oorskot van die offerdier te begluur.

In 43 voor Christus begin die Romeine die Kelte verinneweer en speel vir 400 jaar lank baas oor vandag se Verenigde Koninkryk.

Blykbaar moes hulle gemeen het te veel feesvierdery is nie goed vir die volk nie, en kombineer toe die Romeinse vereringsfees van die afgestorwenes en Pomona, godin van vrugte en bome, se vrugtefees met Samhain se doodsfees – voorwaar ‘n konkoksie!

Wat is Allerheiligedag?

Baie van die Keltiese gebruike het behoue gebly, selfs nadat die Christendom gevestig geraak het.
Gedurende die 800’s het die kerk 1 November as Allerheiligedag verklaar en maak toe sommer die die ou heidense gebruike deel van dié Christelike vakansiedag. Lekker! En nog later word 2 November die dag waarop die Rooms Katolieke Kerk die onbybelse verering van die dooies vier.Onder die Kelte het elke streek sy eie Halloweengebruike gehad. In Ierland is ‘n parade gehou ter ere van die god Muck Ollen en het die leier ‘n wit gewaad en ‘n dierkopmasker gedra. In Skotland weer, het die optoggangers met fakkels geparadeer en groot vure op die heuwels aangesteek om hekse en bose geeste te verwilder.
In Wallis het elkeen sy naam op ‘n klip geskryf en in die vuur gegooi. Die arme siel wie se klip die volgende oggend soek was, sou beslis binne die volgende jaar sterwe.

In Engeland is Halloween soms Neutkraker of “Snap Apple Night” genoem en het families om die vuur sit en neute en appels eet terwyl stories vertel is (allerwaarskynlik oor geeste en hekse). Die volgende dag het die armes rondgegaan om te bedel – “a-souling”. Hulle is ‘soulcakes” (sielkoekies?!) in die hand gestop en moes beloof om vir die afgestorwenes te bid. (En waarvandaan kry ons dit!)

Hmm…klink (of lyk) vir my allermins Bybels of edel, lieflik of loflik…hoe kan ek my dus hiermee ophou, of my kinders toelaat om saggemaak te word vir iets wat beslis nie die Here se Naam tot eer strek nie?

Thursday, October 30, 2008

Verskonings, verskonings

Ek het so ‘n idee ek het met party van julle se koppe gesmokkel die afgelope 24 uur!

Iewers gisternag het ek die veelkleurige woestynpossie klaar, waaraan ek nogal lank gewerk het – maar baie in my skik daarmee.

Toe ek dit vanoggend bekyk, staar sulke ontsierende wit kolle waar daar prentjies moet wees, my in die gesig.

Ek was verstom – IEMAND moes oornag my prentjies weggedra het! (As dit in Ouland was, kon ek dit verstaan, want ek sal my nie min verbaas as hulle daar al so grys is om selfs jou blogs te besteel nie…)

Skryf toe gou ‘n verskoninkie (pak die skuld op die neukenaar) en noem dat ek nie weet hoe om te korrigeer nie. En toe vind ek uit hoe, en vee die verskoningpossie uit.

Nou sien jy my…nou sien jy my nie…

(Wonder of ek moet waghou by my blog vannag?)

Vir vergoeding pos ek nou maar weer hierdie grappie:

Letter to the bank from a worried customer…

Dear Sirs

In view of current developments in the banking market, if one of my cheques is returned “insufficient funds”, does that refer to me or to you?

Yours faithfully

Saturday, October 25, 2008

Woerts deur die Wilde Weste (3)

Kleurespel in die woestyn

(Ekskuus as hierdie possie dalk bietjie uitgebreid is, maar die wonder van waaroor dit gaan, is so verstommend!)

Oppad Phoenix toe met I-40 en al sy miljuisendes trokke, het ek wel die padpredikant na die Versteende Woud Nasionale Park gesien, maar weens tydsgebrek en ook omdat ek daardie barre alleenheid nie op my eentjie wou aandurf nie (ek het mos gesê ek is nie onverskillig nie), het ek verbygehou. Teruggaan eendag? Vra jy nog!!

Hier is dus die Nasionale Park se foto’s en inligting, ook oor die “Painted Desert” Park, wat deel van die Versteende Woudpark uitmaak.



Pragtige kwarts in die stukke versteende hout hierbo. Ametis is ook volop. Van die park se beste stukke word gereeld deur vandale beskadig wat stukke juweel uit die stompe kap.

Die versteende hout in hierdie park is feitlik alles soliede kwarts, met ‘n gewig van 168 pond per kubieke voet! Dit is so hard dat dit slegs met ‘n diamantpuntsaag gesny kan word.

(Bo) Die Jaspiswoud. Sover as wat die oog kan sien, lê die kleurvolle woestyn besaai met versteende hout.



Van versteende hout na die asemberowende tonele van die die Geverfde Woestyn.

Die Geverfde Woestyn


Die Geverfde Woestyn is ‘n fantasieland van plat heuwelrante (genoem “mesa” en uitgespreek op’t se Spaans: “m-y-sa”, wat tafel beteken), spits klipkoppe en bar erosieland.




Die Blou Mesa met sy maanagtige landskap.

Hier, in noordoos Arizona lê die aarde en rus onder ‘n sagte kombers van modder, sandsteen en vulkaniese as. Die erosie van hierdie sagte deklaag, sowel as die mineraalryke water wat die grond vlek, veroorsaak ‘n fantasieland van kleur.




Die handewerk van die Here bly immer ongelooflik!

Friday, October 24, 2008

Woerts deur die Wilde Weste (2)

Met my terugkoms vanaf die weskus voorverlede week toe wonder ek mos nou, maar waar IS die Wilde weste, of liewers, waar was dit gewees?

Dekades ná die vestiging van die eerste blanke immigrante aan die ooskus in die sestienhonderds, begin die grenslyne wes verskuif. Die “Weste” was altyd net anderkant die bekende grense. Meestal beskryf die “American Old West” of “the Great West”, die gebied wes van die Mississippi gedurende die 19e eeu.

My eerste oornagting was in Las Vegas.


Poskantoor (roerie!)


Jaaa, julle het geweet ek trek julle been – dit IS Las Vegas se poskantoor, maar dié een is in Nieu Mexico en was op die grootpad wat eers suidgeloop het voordat ek wes kon draai om oor die gebergtes te kom; geleë waar die groot vlak hom teen die imposante Rockies vasloop.




Die dorpie spog met 900 geboue op die nasionale lys van gedenkwaardighede, maar die kroonjuweel is sekerlik die Plaza Hotel wat liefderyk gerestoureer is 100 jaar nadat dit in 1882 gebou is en spoedig bekend geword het as “The Belle of the Southwest”.




In hierdie einste kroeg sou jy jou jarre gelede kon vasloop (of liewer dalkies nie) teen berugte wetsoortreders soos Billy the Kid, Doc Holliday en sy vriendin Grootneus Kate Elder.

Doc se Kate in haar later jare


Die rolprente Wyatt Earp (1994) en All the Pretty Horses (2000) – ek lief hierdie een – is hier verfilm, so ook Astronaut Farmer (2006) en No Country for Old Men (2007). (Sal nog ‘n studie oor dese bloederige fliek moet maak om uit te vind wat die punt nou eintlik was)…

Las Vegas se hoofstraat


Die “Calumet says Howdy” (How do you do) – muurpaneel (onder) is oorspronklik vir die filmstel van Red Dawn geverf (‘n verbeeldingsverhaal wat kammakastig in Calumet, Colorado afgespeel het), maar toe lyk dit so van pas dat die dorpsvaders besluit het dit moet bly. Ek skat dit ‘n goeie 15 voet hoog!

(Vroeër was daar petrolpompe net onder hierdie prent, maar die hele spulletjie het ontplof en afgebrand toe ‘n vergeetagtige bestuurder weggery het met die brandstofpyp nog in sy motor se petroltenk – ek kon nie uitvind of hy oorleef het of nie. Maar een ding is parramaneldra: as hy het, sou hy nooit weer dieselfde fout gemaak het nie).

Die volgende oggend strek die pad verder wes (natuurlik)...

Thursday, October 23, 2008

Van vreugde en verdriet























Eergister kuier ek op verskillende blogs.

By Desia die groot opwinding oor ‘n nuwe lewetjie; by Wipneus die verhaal van vergete oumense in bejaardesentrums.

Spieëlbeeld van die lewe.

Altyd weer sonlig en skadu, lag en trane: altyd weer
vreugde en verdriet.

Geen wonder die digter sê:
Sit Vreude aan tafel om jou maaltyd te deel,
dan wag Verdriet al op jou bed om jou nagrus te steel.

En mens onthou die Hollanse vers: zonder vreugde, geen verdriet, want zonder een, bestaan het ander niet.

Loskom hiervan, kan nie een van ons nie. En vergeefs sal ons probeer om die verdriet te ontsnap.

Maar oee! Dan lees ek Army Carmichael:

“Verdriet is een van die dinge wat geleen, en nie gegee word nie. Iets wat geleen word, mag teruggeneem word; iets wat gegee word, nie. Vreugde word gegee, verdriet word geleen.

Ons behoort nie aan onsself nie, ons is gekoop teen ‘n prys en ons verdriet is nie ons s’n nie – dit is aan ons geleen vir ‘n kort tydjie sodat ons dit mag gebruik met die oog op die ewigheid. Dan sal dit van ons weggeneem word en ons sal die present van ewigheidsvreugde in die plek daarvan kry, en die Here God sal al die trane van ons oë afdroog.

So, laat ons hierdie “geleende” ding gebruik om ons nader te trek na die hart van Hom, eens die Man van Smarte. (Hy is dit nie meer nie, maar Hy het die gevoel van smart en verdriet nie vergeet nie).

Laat ons hierdie “geleende” ding gebruik om ons te dring om liefdevol teenoor ander op te tree, soos Hy gedoen het toe Hy op aarde was; en soos Hy nou, op hierdie oomblik, met liefde en teerheid op ons lyding en verdriet neerkyk.”

En nou wéét ek: mens kan vreugde ervaar te midde van verdriet!

Monday, October 20, 2008

Hoe ry die Boere


Roekeloos en onverskillig is ek nie.

Wel vinnig om my eie ding te doen, en gou om agter die stuur in te glip na waar die ver horisonne roep. En so met dié dat Vennoot op ‘n sakereis weg is, spring ek voorlaasweek in my klein rooi karretjie en durf die verste van die ou Amerikaanse Wilde Weste aan. Deur Arizona, Kalifornië, teen die weskus opgery en deur Nevada en Utah tot weer tuis, altesaam 3 492 myl (4 828 km).


En was ek uitbundig gelukkig oor elke myl wat agter my weggeglip en voor my uitgestrek het – we-el… behalwe vir ‘n paar van dié wanneer donker al begin toesak en ek nog nie slaapplek gehad het nie.

Want sien, ek doen toe mos die ding so kamp-kamp. Vir wat elke nag ‘n in stereotiepe hotelkamer te lande kom – só kan ek tog nie hierdie trippie aan die verbeeldingloosheid oorgee nie!

Maar nou is ek te bang om op my eentjie in ‘n tent te slaap – aikôna vir net ‘n stuk seil tussen my en ‘n reeksmoordenaar wat snags kampgronde deursluip op soek na ‘n nuwe slagoffer. (Het nog nie juis van so een gehoor nie en hier is ook nie dingo’s in Amerika nie, maar mens weet nooit.)

Vooraf deeglik uitgepluis hoe om met afgeslaande sitplekke en oorlengs-opgeboude bed my eie tent-op-wiele te benut. Die voorvenster effens afgerol vir vars lug en binne heel knus met die leesliggie se gloed skaars van buite sigbaar, deur die selfontwerpte en goedpassende silwer vensterskerms (en vleismes byderhand vir daardie net-in-geval…)





Werk dit toe uitstekend, en voel ek nie min opgetrek met myself nie! Fantastiese maanlignagte in rustige kampplekke ingedrink. Twee nagte bietjie gebibber, en een nag in Mesquite (80 myl anderkant Las Vegas) onwettig op ‘n casino se parkeerterrein oornag. (Die padkaart het verkeerdelik twee kamppeerplekke aangedui. Maar dit was baie veilig – die sekuriteitsvoertuig het uurliks sy rondte gedoen.)




Die mees spanningsvolle deel van die avontuur was toe nou om Vennoot agterna in te lig oor my heerlik opwindende ervaring. Ek kan nie onthou wanneer laas die man met so ‘n totale verstomming geslaan was nie. Gelukkig verstaan hy my goed na 37 jaar se saamleef en –beleef, en om die waarheid te sê, ek vermoed hy is nogal geamuseerd so in die stilligheid.

Het my net laat beloof ek sal nie vir die kinders van die kampery vertel nie. In elk geval nie gou nie…nou deel ek dit maar met julle.

Bygesê, ek is diep dankbaar vir die Vader se bewaring en vir so ‘n genotvolle geskenk wat ek oudag-toe sal onthou.



Friday, October 3, 2008

Wat is krieket?



In krieket is daar twee spanne. Die een is uit op die
veld en die ander een is in. Elke speler van die span wat in is, word
uitgevang of uitgeboul deur die span wat uit is. Dan is hy uit.

Wanneer hy uit is kom die volgende een in, wat dan inbly totdat hy uit is.

Wanneer die span wat in is, almal uit is dan is die een span uit en kom die ander span in. Die span wat in was, is dan weer uit op die veld en hulle probeer om die span wat eers uit was en nou in is, almal uit te kry.

Gewoonlik is daar een speler van elke span wat nog in is, en
nie uit is nie, wanneer die span wat in was, uit is. Wanneer albei
spanne in was en uit is, insluitende die spelers wat nie uit is nie, dan is dit die einde van die wedstryd.

***
Nou wel die einde van daardie wedstryd, maar beslis nie van hierdie geselsplek nie, hoewel daar vir die volgende week of twee stilte sal heers vanweë ‘n wegbreekkansie.

Tot anderdag dan,
mariki