Ousus vannie Kaap -- wat ek vier hele jare laas gesien het, kom gooi vandeesweek ‘n vinnige draaitjie hier.
Heerlik vooruitsig!
En nou is die huis ook sommer skoon vir Kersfees……!!
22 September 2010:
Vir die eerste keer in bykans 20 jaar, het die begin van die noordelike herfs eergister saam met volmaan geval.
Toe die son eergisteraand op die laaste dag van ons somer in die weste gesak het, het die Oesmaan in die ooste begin opkom. Die twee ligbronne het vermeng in ‘n soort van 360-grade, somer-herfs aandgloed, wat selde gesien word.
Die goue sirkel in die ooste het ongewoon “geswel” gelyk –- ‘n maan-illusie.
En die vol Oesmaan met die maan-illusie daarmee saam, was wondermooi.
Maar dit was nie al nie!
Die noordelike somer het gisteraand kort by middernag in herfs oorgegaan en op daardie presiese oomblik -- herfs-ewening -- het die Oesmaan hoog teen die naghemel gehang met die planeet Jupiter reg langsaan – sjoe!
Dis natuurlik weer die boere wat met die benaming Oesmaan vorendag (oftewel, voren-nag), gekom het.
In die dae voor elektriese lig, was die boere van die maanlig afhanklik om hul werk ná sonsondergang gedoen te kry. Dit was die enigste manier waarop hulle die oes betyds vir marktyd, kon in. Die volmaan naaste aan die herfs-ewening, het die “Oesmaan” geword, en was altyd ‘n welkome gesig.
Gewoonlik maak die Oesmaan sy opwagting ‘n paar dae of selfs weke, voor of ná die begin van die herfs. Maar die Oesmaan van 2010 het sy volgroote ‘n skrale ses ure ná die ewening bereik en sterrekundiges het gisteraand s’n, ‘n super-Oesmaan gedoop.
Daar was laas in September 1991 naasteby so ene (volgroote en ewening tien ure uitmekaar uit), en as die aarde dan nog bestaan, sal dié van ons wat die lewe behou, weer so-iets in die jaar 2029 beleef.
So is ons herfs dan ingelui met ‘n super-Oesmaan, ‘n rare aandgloed en ‘n middernagtelike konjunksie – baie besonders.
Hmm….dit alles beteken mos nou net één ding: die winter kom.
Dus dan maar:- lekker lente vir julle.......
Vennoot is in sy skik -- sommer baie. Want sy bester mater (*die uwe), is veilig tuis ná amper ‘n week se uithuisigheid.
Ek en my klein rooi karretjie het voorverlede Donderdag padgevat na Utah se jaarlikse storiefees. Die tweede grootse ene in die land.
Vennoot sou saamgegaan het, maar sy werksvrag pootjie hom toe. Hy het my die geleentheid egter van harte gegun -- "Ry, vrou, ry."
Syse vrou het haar ook nie onnodiglik laat aansê nie.
Luister partykeer baie graag as die man praat.
Hierdie storie-gedoente is waarlikwaar ‘n fees. Gewoonweg (maar alles behalwe “gewoon”), word die feesgangers deur storievertellers van formaat, en wat vanoor die hele land kom, op die wieke van die woord meegevoer.
En as dit nie stories uit die skatkis van die geskiedenis of oor hul eie families se doene en late en stommiteite is nie, is dit opgerakelde verhale oor wie en wat ook al. Huilstories en lagstories en liegstories. (Einste so op Jan Spies-patroon.)