Ek lag toe mos alte lekker vir Vennoot wat nie kan “byhou” nie.
Maar elke hond kry sy dag.
Saterdagoggend toe hy my kom wakkermaak met my oggendkoffietjies, vra hy so terloops watter dag ek nou weer vlieg. Nou ook nie die moeilikste vraag nie, want dis “Komende Woensdag”, antwoord ekke. Waarop hy my inlig nee, dis eintlik Dinsdag --- ugh, waar skrik ek myself winduit en helderwakker, want mens beplan mos met 'n seker datum in jou kop. En vir my maak een hele dag nogal groot verskil hier na die einde se kant toe (dis nou die einde van die voorberei, nie my einde nie.)
Genadiglik was ek darem nie te ver agter met die dinge nie, en die Here is ook so getrou om mens te dra deur dale en oor heuwels, en nou is die nuwe rok gesoom, die jannas korter gemaak, Vennoot se koekies en beskuit gebak en koffers klaar gepak, want more is dit Dinsdag!
Ek sal DV weer so oor vier weke terug wees, en groet dus – altyd met waardering vir my liewe blokmaats wat my lewe so verryk.
Mooi loop!
mariki