Saturday, November 22, 2008

Goudoogeend

Common Goldeneye Duck by John James Audobon

En hier is dan die Goudoogeend-storie:

Anders as die Boeretradisie waar oupa, ouma en oompie Hannes vernoem (moet) word, het hierdie goudogige geveerte sy naam aan sy iris te danke.

As pas-uitgebroeide bondeltjie donsies het hy grysbruin ogies. Dan word dit persblou, blou en dan groenblou. Vyf maande later is die ogies bleek groengeel.

En sou jy ‘n volgroeide eendkind stip in die oë kon kyk, sien jy die opvallende heldergeel kykers (met die dowwer skakering vir die wyfietjie).

Hierdie eenters vlieg in klein groepe saam, en mens hoor ‘n baie kenmerkende fluitgeluid met elke vlerkgeklap.

Soek hulle en jy sal hulle in Kanada (het julle hulle al gesien, Desia?) Minnesota, Michigan, Alaska en die noordelike VSA vind.

Hulle is see-eende van afkoms (hoewel die Goudooggroep in riviermondings bly) en baie van hul ander familielede het ter wille van oorlewing spesiale soutkliere in die ouer gevoëltes ontwikkel.

Eendjies op die waterplas










Mooimaaktyd
















En om af te sluit, ‘n eenterige grappie:

Die eend loop by die kroeg in en vra vir die kroegman: " Het jy brood?"
Kroegman: “Nee.”
Eend: “Niks brood nie?”
Kroegman: “Nee.”
Eend: “Man, enige brood.”
Kroegman: “Nee, ons het nie enige &*^%$ brood nie!!!”
Eend: “Nie eers ou brood nie?”
Kroegman: “Is jy doof of wat? Ons het nie &*^%$ brood nie!! As jy my weer vra, gaan ek jou
&*^%$ bek aan die kroegtoonbank vasspyker.”
Eend: “Het jy spykers?”
Kroegman: “Nee!”
Eend: “En brood?”

Thursday, November 20, 2008

Gebed


Hulpkreet

Ek het net mooi reggeskuif om blogsgewys verder oor Kentucky te gesels, toe Vennoot met ‘n 2009 geskenkkalender by my aankom. ‘n Pragtige ene oor eende, en omdat ons sopas nogal baie oor blou gesels het, dog ek ek haak daarby aan en vertel iets oor die besonderse Geeloogeend.

Maar juis toe e-pos Grootsteseun ‘n gebedsversoek deur, en so is die gesels oor eende en als anders vereers van die baan. Ek deel die briefie uit Indië en vra, bid asseblief!!

Liewe Vriende in Christus,

So-iets het ons nog nooit gesien nie. Natuurlik het ons geweet dat Orissa die Indiese staat is waar Christene die meeste gehaat word, maar wat nou hier gebeur, was onvoorstelbaar. En die Westerse media gee skynbaar nie om nie…

Die rooi gebied is die Indiese staat Orissa

Verlede naweek is ‘n Hindoe-priester en vier van sy volgelinge wat besig was om Christene tot Hindoeisme te ‘herbekeer’, deur onbekendes vermoor. Dadelik is die Christene blameer…en die verskrikking het begin…

In die afgelope vier dae moes ons sien hoedat honderde kerke afgebrand en baie, baie dosyne Christene vermoor is…net omdat hulle Christus liefhet.

In Tihidi, net nadat die polisie daar opgedaag het, het 70 bloeddorstige militantes die YWAM-sentrum bestorm. Die aanval is afgeweer, maar hulle word enige tyd terug verwag. Die personeel en die Indiese kinders onder hul sorg, skuil reeds die afgelope drie dae agter toegesluite deure en vensters in die gebou. Dis ‘n tyd van desperate gebed tot die Here.

In Kalahandi het ons personeel en die kinders omtrent drie minute gehad om te vlug voor die moordenaars daar opgedaag het. God het ‘n bloedbad voorkom.

In sekere dorpe is ons mense deur hul Hindoe-bure beskerm, maar by ‘n Katolieke weeshuis is ‘n priester en rekenaaronderwyser in ‘n huis toegesluit en doodgebrand.

Gelowiges word aan stukke gekap en net daar op straat gelaat…selfs vroue en kinders.

Sestigduisend vreesbevange Christene skuil in die oerwoud, terwyl dit wil voorkom asof die regering nie juis gepla is oor wat aangaan nie.

Hierdie dinge sal nog vir die volgende 10 dae so aangaan, as deel van ‘n veertien dae lange “routyd” vir die vermoorde priester.

Ons is egter vasbeslote om hier te bly en ons doel te verwesenlik: Orissa moet gered word! Dit is die gebed van ons harte. As ons aan hierdie derduisende weggooikinders kan vertel hoe om dissipels van Jesus te word, sal hulle die ganse streek verander.

O, bid vir ons, en vra julle vriende om te bid! Ons is letterlik besig om ter wille van die Koninkryk, teen die duiwel te baklei. Die volgende tien dae is van die uitsterste belang.

Hy het gesê: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.”

Seën in Christus,
C&S
(Name weerhou)





Monday, November 17, 2008

Om uit te maak of warm te gegafoefel...



Gister by die kerk gesels ek en vriendin Beth. Die kinders en hul dinge kom ter sprake en ek vertel onder andere dat Grootste Seun (op 6’4” is ons jongste toe mooi netjies die langste), en sy meisie se paadjies uit mekaar geloop het “and they made out.”

Sien gelukkig tog die vinnig fronsie op vriendin se voorkop raak en kliek: hy het sooo mooi herinner ek moet sê “broke up” en nie “made out” nie.

Want hoe kan twee mense onder sulke aweregse omstandighede dan warm gegafoefel! (Wat “made out” natuurlik beteken…)

Sunday, November 16, 2008

Die blou mense van die Bluegrass


Die Appalachian–gebied strek met ‘n boog oor 12 state, vanaf onder in Mississippi tot bo in New Yorkstaat, is rofweg so groot soos Groot Brittanje en het 20 miljoen bewoners. Dis ‘n streek van kontraste. Aan die eenkant die wondermooie natuurskoon – hier vind mens die Great Smoky Mountains sowel as bv. die gewilde 3 299 kilometer-lange Appalachian wandelroete -- en aan die anderkant (en hier kan ek net praat van die KY Appalachians) die tragiek van grootskaalse (natuurlik onwettige) daggakwekery, patetiese armoede, kindermisbruik, depressiwiteit, drank en dwelms.

Hierdie mineraalryke gebied is oor die jare heen tot agterlikheid verarm deur brutale grondspekulasie en mynboubedrywighede, sowel as gewetenlose arbeidsuitbuiting.


Een van ons seuns was deel van die kerkjeug se jaarlikse sendinguitreiking na Appalachia (honderde sulke uitreikings vanoor Amerika vind jaarliks soontoe plaas), en het onder andere ‘n huis help herstel vir ‘n gesin van sewe wat niks anders kon doen, as om hul hoenderhok in te trek toe die huis te bouvallig geraak het nie.


In hierdie afgesonderde deel van Kentucky was ondertrouery aan die orde van die dag, (Ook maar net soos in die Hel in die Seweweekspoortkaroo, net op veel groter skaal.) Tot vandag toe is dit waar eindelose Kentucky-grappies -- deur die Appalachianmense self ook vertel -- vandaan kom:

Pete aan die prokureur: “As ek en my vrou nou klaar geskei is, sal sy nog my niggie wees?”

Daar is egter een groep vir wie die gevolge van ondertrouery geen grap was nie – die Blou Fugates van Moeilikheidspruit. Hierdie mense was letterlik blou van kleur weens die rare verskynsel van methemoglobinemia.

Daar is twee toestande wat ‘n blou velkleur kan veroorsaak: methemoglobinemia, waar die suurstofdraende werking van die bloed te kort skiet en Argyria, wanneer iemand te veel silwer ingekry het (meestal in medisyne).

Beide die twee Franse voorouers van die Fugates wat hulle in 1800 hier gevestig het, was draers van hierdie toestand. Dis genadiglik bloot ‘n pigmentversteuring sonder enige gesondheidsprobleme, maar vir der jare het die Blou Fugates so aangekarring. Daar is hewiglik deur almal in die “hollers”gespekuleer oor wat die probleem kon wees: hart- of longprobleme, of “dat hulle bloed maar net nader aan die vel is as ander mense s’n.”

Gelukkig vir die Blou Fugates het ‘n hematoloog in die sestigerjare in hul probleem geïnteresseerd geraak. Madison Cawein het gereeld myle afgery om by hulle te probeer uitkom en dan vergeefse ure bestee om hulle in die bosse en klowe te agtervolg, omdat hulle te sku en bang was om met vreemdes te praat. (Ek sou ook gewees het – party van hulle was indigoblou as hulle ‘n rukkie buite in die koue was – en wie wil nou soos ‘n sirkusdier bestaar word.)

Die goeie dokter het in sy doel geslaag, die blou mensies op ‘n heel eenvoudige manier suksesvol behandel, en was saam met hulle verheug toe hulle gewoon pienk geraak het. Hy was ook baie verontwaardig toe ‘n rolprentspan hierdie mense voor die kameras wou laat paradeer in die “That’s Incredible”- TV program. Met groot genoeë het hy verneem hoedat die Fugate-familie hul honde op die Hollywood-indringers losgelaat, en dié blougeskrik en benoud, teen die berg af moes laat spaander !