Thursday, August 20, 2009

Soetigheid vir ‘n kind (en dié wat maar net nie meer soos kinders lyk nie…)


Het ons maar altyd geweet wat die regte manier van optrede is…


Ook in die Bos van Honderd Akkers is daar ‘n verkeerde en ‘n regte manier.

En selfs vir dié met meer verstand, is dit moeilik om daai manier agter te kom….


Kennismaking

“Wel,” sê Uil, “die gewone optrede in so ‘n geval, is soos volg.”

“Wie se gewoonte is op en wie het geval?” vra Pooh.

“Want ek is ‘n Beer van Klein Verstand, en lang woorde maak my deurmekaar.”

“Dit beteken die regte ding om te doen.”

“O,” antwoord Pooh.


Uit: Winnie-the-Pooh.

(Al weet ek meestal darem watter optrede van my verwag word, en al het ek Pooh Beer baie, en nog meer jare gelede, vir die eerste keer teëgekom, is en bly sy doene en late vir hierdie ouma ‘n heuningsoete en lieflike lekkerte.

Seker maar die kind in my.)

Wednesday, August 19, 2009

'n Soppie storie

Vandag het die weer vir my besluit wat vanaand gekook sal word. Heerlik in die middel van die somer het ons ‘n dag van sagte en deurdringende “ouKaapse” reën.

Dus: sop sal dit wees vanaand, en wel yskassop. Dit is nou, al die oorskietgroentetjies in die yskas, opgekook saam met ‘n verdwaalde ou skaapskenkeltjie van laas se skapie-aankope op die plaas.

Terwyl “yskassop” by almal bekend is, plaas ek hier ‘n meer ongewone reseppie vir blomkoolsop wat ek van ‘n vriendin gekry het. (Net ingeval jy lus is vir ‘n andersoortige soppie storie.)

~~~~
Blomkoolsop

100g botter

1 kg vars blomkool in klein blommetjies gebreek

3 preie, geskil, in ringetjies gekap en goed afgespoel (tensy jy van sandkorrels onder jou tande hou!)

4 knoffeltoontjies, geskil en gekap

3 takkies vars tiemie (vriendin sê sy het ook al gekapte pietersielie gebruik – dis net so lekker)

2 lourierblare

800 ml hoenderaftreksel

125 ml room (opsioneel) – (Hmm, maak dit ‘n vereiste!)

So maak mens:

1) Smelt die botter in ‘n kastrol
2) Roer die blomkoolblommetjies daarby
3) Voeg die preie, knoffel, tiemie en lourierblare by
4) Braai liggies
5) Roer hoenderaftreksel by
6) Laat dit stadig kook totdat die blommetjies net sag is
7) Verwyder lourierblare en tiemietakkies en verpulp die sop met
jou handmenger, of laat effens afkoel en verpulp in jou
voedelsverwerker
8) Verhit die sop weer oor ‘n matige hitte (as afgekoel vir die
voedselverwerker)
9) Roer die room by

En indien jy wonder oor sout en peper – hierdie sop het dit werklik nie nodig nie.

(Natuurlik gaan jy dit bedien met warm, tuisgebakte brood. Hoe anders!)

Monday, August 17, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(laaste)

Wie, ek, Here?!
Toe ek weer gewaar, is Linda besig om haarself moeisaam dwars te draai en uit haar sitplek orent te kom. Sy steek stadig haar linkerhand met die polsstut na my uit. Ek is reeds by haar en vra net dat Jesus my sal wys hoe om haar tog die beste van hulp te wees.

(En toe onthou ek met 'n skok -- daar is mos 'n badkamer aan die agterkant van die bus!! Dus géén uitkoms om te wag vir die volgende bushalte en om die dame oorkant die paadjie te mobiliseer nie!!)

Maar die volgende oomblik steek ek spontaan my arms na haar toe uit met die palms oop na bo, en vat haar onder haar twee elmboë vas, terwyl sy dieselfde met my doen. So beweeg ek treetjie vir treetjie in die onstabiele gangetjie tussen die sitplekke agteruit, terwyl sy my met kreupelstappies volg. Want tot nou toe het ek nie eens gesien dat die een voetjie effens na buite gedraai staan, en die ander een in ‘n ortopediese toerygstewel is nie. En ook nie dat haar arms donkerbruin is van pigmentasievlekke, deurspek met spookwittes nie.

Só vorder ons, stadig maar seker na die agterkant van die bus en terwyl ek daarop konsentreer om haar te help regop hou, vloei ‘n liefde en vreugde deur my vir hierdie vrou, soos waarvan ek lanklaas bewus was.

Later, nadat ek haar in die badkamer help regkom en toe weer op haar siplekkie sitgemaak het, en die busbestuurder by die volgende stopplek so goedgunstiglik geweier het dat enigiemand anders as hy vir haar ete betaal, is ons weer onderweg.

Ek het verwag sy sou nie kon wag om die kos gulsig te verslind nie. Maar nee, soo, ek wil amper sê elegant, het sy warm aartappelskyfie vir warm aartappelskyfie uit die pakkie gehaal, dit stadig in haar mond gesit, en met ‘n glimlag sit en kou. Net so met die hamburger. Duidelik het sy elke happie wat sy geneem het, deeglik geproe en haar behaaglik daarin verlekker. Daarna haar hande ewe sorgsaam met ‘n natlappie afgevee.

Toe, soveel anders as vroeër die dag, trek sy haar kombersie tot onder haar ken, en raak rustig aan die slaap.

En hierdie keer, toe ek haar al slapende sien oorkantel en byna van die sitplek afgly, het ek nie bedinktyd nodig gehad nie. Ek het eenvoudig my klein reiskussinkie onder haar kop ingewikkel en met my hande ‘n bakkie daaronder gevorm, sodat hierdie geringste ene van Jesus, heerlik gesit en slaap het soos ‘n kind, veilig en geborge.

En nie minder nie het ek, rustig en dankbaar, vrede gehad by die Here. Hy, wat dit goedgedink het om my nog ‘n stukkie van my mislike, bedrieglike eie ek te laat aflê op hierdie reis -- nie net van Kentucky na Colorado nie, maar op die pad van minder-word-sodat-Hy-immer-meer-mag-word.

Sunday, August 16, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(2)

[ Om verder eerlik te wees oor hierdie gebeure wat die Here Self so duidelik op my pad gebring het -- ek het weens ‘n administratiewe fout op daardie bus en spesifiek op daardie sitplek beland -- skets 'n minder mooi prentjie van my. Wens ek kon vertel hoe ek selfloos en sonder om te dink, inderhaas die sukkelende vrou voor my op die bus te hulp gesnel het met groot oorgawe! Maar nee, die sondige oue mens sit ‘n horibale en hardkoppige bakleiery op as dit hom/haar pas….]

Dus:

Die bus is reeds weer onderweg, maar die kermgeluidjies en die kneukelkappery duur voort. Ek sit my hand versigtig op die ontstelde vrou se skouer. Sy ruk eers weg, en draai dan stadig haar hele lyf om te sien wie aan haar vat. ‘n Helder blou oog bekyk my aandagtig deur die lens van die halwe bril.

Ek buk en tel die notaboekie op. Skryf met groot letters: “I will buy you food at the next stop.” Gee dit dan aan haar. Verbasend vlug lees sy die woorde, kyk weer deurdringend na my, en maak ‘n vingertaalteken vir “goed”. Drukskrif dan “ need go bathroom” en wys dit vir my. Ek knik en sy draai weg vorentoe.
Verlig sak ek in my sitplek terug, so bly dat ek iets vir haar kon doen. Noudat sy my aandag getrek het, bly ek oormatiglik bewus van haar en haar ontsteltenis en my gedagtes maal rond.

“Here, U weet hoe ‘n privaatmens ek is. U weet hoe moeilik dit vir my is om fisies by mense betrokke te raak. U het my die gawe van ondersteuning gegee, deur mense te bemoedig met woorde en gedagtes en boeke en briewe; maar tog nie om letterlik die dowes en blindes en die verminktes aan te raak nie? U Self het my mos gemaak met die tipe persoonlikheid wat ek het. U maak tog mense verskillend en gebruik hulle verskillend?”

Ek sien hoedat die vrou haar buskaartjie sit en beskou. Lees dis uitgereik aan ene “Linda Byerd.”

“Vader, as u wil hê dat ek hierdie mens, .…Linda.... dalk fisies moet help, moet U my help. Ek sal nie weet hoe nie.” (Voeg nie by dat ek eintlik nie wil kans sien nie.)

Nou eers kom ek agter dat die passasiers naaste aan ons, ook betrokke geraak het by die gebeure en alles deeglik sit en beskou. ‘n Mollige vrou van oorkant die paadjie glimlag met my. “Hmm, vir jou gaan ek vra om vir Linda te help as sy dalk by die volgende busstasie badkamer toe wil gaan,” dink ek verlig.

(Nee, maar so werk ons Here nie volgens ons ou plannetjies nie. En ek is seker Sy sin vir humor kom ook sulke kere in die prentjie -- soos ek toe ook ter bevestiging sou uitvind!)

Friday, August 14, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(1)

Sy sit reeds op die voorste sitplek in die bus toe ek reg agter haar, langs die vriendelike Amerikaanse boeretannie neersak. Met die opklimslag het ek gemerk dat sy beslis nie gewoon was nie, maar "goed opgevoed" en ewe polities korrek, het ek nie meer as vlugtig na haar gekyk nie.

Dis die voorlaaste lang skof oppad Denver toe, deur Kansas. Ek en die boeretannie raak aan’t gesels asof ons mekaar jarre lank al ken, maar net baie lanklaas gesien het.

So tussendeur merk ek uit die hoek van my oog dat die vrou op die voorste sitplek met groot klem sit en vingertaal praat -- die linkerhand en -pols in 'n kort stut -- so in die leegte in voor haar. Hmm, doof, of selfs doofstom dus. Maar ek en die Amerikaanse tannie geséls. En die buswiele vreet die myle op.

Dis eers toe my geselsgenoot afklim by ‘n klein haltetjie oppad na haar suster, dat ek myself regskuif om uiteindelik ‘n rustige leeskansie ingepas te kry. Salig.

En toe trek die vrou voor my vir die eerste keer werklik my aandag. Sy is verstommend “nie gewoon nie.” Sy het na alle waarskynlikheid onlangs ‘n operasie iewers op die voorste helfte van haar kop gehad, want die haartjies daar moes afgeskeer gewees het en staan nou net so stoppelhoog orent. Die langerige, ligbruin hare op die agterkop is in ‘n poniestert vasgevat.

Sy kan nie haar regteroog oopmaak nie, en oor die ander oog is ‘n halwe plastiekbrilraam met kleeflint op haar voorkop en teen haar neus vasgeplak.

Haar mond is ingesak en hol – sy het duidelik nie tande nie, en daarmee saam, staan die kennetjie puntig in die lug, presies net soos dié van Hansie en Grietjie se heks wat doer diep in die bos gewoon het.

Maar die vingers “praat”! Heftig en aanmekaar, en hulle hou net op toe die busbestuurder haar iets vra en sy die notaboekie langs haar gryp en met pen-en-al in sy hande druk. Hy skryf, en sy skryf, en hy skryf weer, maar toe hy omdraai en agter die boeretannie aan uit die bus uit klim en in die ruskamer verdwyn, is sy hoogs ontsteld.

Vir die eerste keer hoor ek ‘n geluid van haar kant af. Dis sulke klein babakat-kermpies, terwyl sy haarself heftig met die kneukels van die regterhand teen die kop bly kap.

“Here,” bid ek woordeloos, “help my om haar te help.” En dis toe ek huiwerig oorleun na haar toe, dat ek sien die notaboekie het oopgeval op ‘n bladsy waarop in onnette drukskrif geskryf staan: “Not eat for 2 days. Have no money.”