Monday, September 26, 2011

Muise in huise


Die aarde draai en die seisoene wissel en ons beleef tans die mees vredige en sagte, ryke herfsdae. En dis wonderlik om vensters en deure te laat oopstaan ná ‘n nogal baie warm Augustusmaand.


So sit ek vanaand teen skemer welbehaaglik op die rusbank in die woonkamer toe iets vaals, klein en blitsig, reg voor my voete verbyflits onder die bank in.


Nou wel, dit moes presies die oomblik gewees het waarop hierdie moedige en beheersde, volwasse vrou moes afgebuk en die die klein, hulpelose ou diertjie opgeskep en by die oop skuifdeur na buite vrygelaat het. (Seersekerlik waarskynlik met ‘n boog deur die lug.)


Ek wens ek kon julle beïndruk en sê dis absoluut net wat gebeur het….maar dan sou ek moes jok.

My eie gille weerklink nou nog in my ore, en elke keer as ek vir Vennoot kyk, dan wil-wil hy weer begin lag oor my gebokspringery van die een bank tot op die ander tot op die groot stoel in die hoek – die laaste springslag het ek so dodelik ampertjies nie gemaak nie!


Haai, en om te dink ek het voorgeslagte gehad wat feitlik kaalvoet oor die Drakensberge getrek het; ‘n oupa wat in die Boereoorlog teen die kakies baklei het en ekself het die moed gehad om ‘n hele paar keer in my lewe kindertjies in die wêreld te bring --- hoe dan dat ek so halfpad in my oudag in nog steeds sulke wilde wegholspronge gee omrede van ‘n swerkater van ‘n muis….


Ek troos my darem aan een ding: dit bewys net ek is nie katterig nie….

Tuesday, September 13, 2011

Tyd en hoogtyd


‘n Tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan....en as mens te lank wegbly moet jy oppas, of jou blokmaters mag dink, jy (dis nou ekke) -- het besluit dit is beslis net hier die gerieflike tyd vir myse kraaltjie om af te sterwe.

Dêffenitief néé EN aikona. Dit sou mos moord wees om hierdie ou kuierkraaltjie van my nek om te draai! As’t ware so goed soos om ‘n eie kind by die deur uit te jaag.

‘n Ander logiese moontlikheid vir die "stilstatus" sou kon gewees het, dat ekself dalk nie meer op die ondermaanse was nie. Sal dalk eendag gebeur, hoor – nie “dalk” nie -- dis nou die doodgaan, want dis mos tog wat op ons almal wag. Maar dat ek net in stilte sal wegraak met kraaltjie daar medeby is goed moontlik, want liewe Vennoot het g’n basteridee van hoe om by hierdie geselsplek uit te kom indien hy oor my heengaan sou moes publiseer nie.

(Heeltemal anders as die ou wat vir sy vrou die opdrag gegee het:

As ek die dag finaal disnis is,

my assies in ‘n nis gekis,

kan jy maar oral vonkpos stuur:

die ou is oor “ en in“ die muur!)

Nou maar wat het dan gebeur om my langerekte stiltetyd te veroorsaak?

Verskonings, verskonings: kinders en kleinkinders en ver reis en lank vat met die terugkomslag, en weer ‘n keer die vlaktes inry.

Kangaroeland toe gewees vir ‘n kinderkuiermaand tot helfte Maart; drie weke tuis; opry Halifax, Kanada toe saam met Vennoot aan begin April vir die geboorte van die tweelingfeetjies -- tot my tuiskoms so al terug by mysigselwers met die langpad langs, ‘n tyd gelede. Daarna groot vreugde toe die Australiërs hulle vir vyf weke hier by ons kom tuismaak het. Toe weer laasweek die wiele vir 900 myl ver laat draai saam met Vennoot, om die noordwestelike hoek van Colorado bietjie te verken so voor die koms van die winter.

En van al die dinge en doene sal ek dalk nog vertel.

Dit was ‘n ryk tyd; ‘n moegwerk tyd; ‘n dinktyd; 'n rustyd;‘n liefhê tyd en die hele tyd kon ek sê: “Die Here het vir my die meetsnoere in lieflike plekke laat val.”

Ja, die afgelope paar maande was verrykend en vervullend.

Ek het waarlik gelééf. En daarom wens ek ook vir jou vandag in die woorde van Jonathan Swift toe:

“May you live all the days of your life.”

En mits dese sê ek dan weer “hallo” aan almal van die liewe julles! (Gróót verskoning aangeteken, want julle het vriende geword met die tyd saam, en my vriende is kosbaar.)

Saturday, February 5, 2011

Oupa bly nie meer by nie

Met my breiery vir die dogterkindertjies wat oppad is, soek ek gisteraand ‘n bababaadjie-patroon op die internet, en die ene hier langsaan trek my aandag.


Ek vergroot die prentjie en terwyl ek dit sit en bestudeer, stap Vennoot verby. Skielik steek hy vas, kom loer oor my skouer en vra so half verstom: “Wie’s dié?”


Ek verduidelik waarmee ek besig is. Toe hy wegstap, hoor ek hy brom so onderlangs verontskuldigend vir homself: “Ek wou mos darem sê dis nie een van die kleinkinders nie.”


Siestog Oupa -- dinge gaan nou te vinnig vir jou.

Wednesday, February 2, 2011

Konsertpret

Dié ouma het reeds gehoor dat sy swemlesse, balletklasse, ‘n Sondagskoolpiekniek en ‘n skoolkonsert daar in Australië gaan bywoon.

Skoolkonsert! Jare laas dié vreugde beleef. Ek hoop dit is net so vermaaklik soos hierdie ene: