Thursday, November 13, 2008

Die Bluegrass Staat

KENTUCKY
Vir Kyle se begrafnis is ek Kentucky toe, of, soos die slawe dit genoem het, Kin-tuck, wat mens, onnodig om te sê, nie meer vandag hoor nie.

Om eerlik te wees, toe ons sowat agt jaar gelede Amerika toe gekom het, het ek nie mooi geweet watter staat waar geleë is nie! Waarom sou mens ook, Amerika is mos nie die wêreld nie (uhhm, hierin lê natuurlik ‘n hele gesprek opgesluit…)

Kin-tuck is een van die sogenaamde “grensstate” (dis nou een met heelwat staatsbure): Wes-Virginia en Virginia (Oos); Tennessee (S); langs die Mississippi Rivier waar aan die oorkant Missouri is (SW) en dan Illinois, Indiana, Ohio oor die Ohiorivier (W & N).

In die Burgeroorlog was Kentucky waarlik in die middel van die tameletjie vasgevang: dit was ‘n slawehandelstaat, maar ‘n besonder groot groep inwoners was heftig gekant daarteen. En so kom dit toe dat KY beide die Union en die Confederates van letterlik duisende troepe voorsien het. (Ironies genoeg is albei die 2 presidente van die noorde en die suide – Abraham Lincoln en Jefferson Davis -- 8 maande uitmekaar uit, in KY gebore).

KY lê in een van die land se sogenaamde “Bible Belts”, met perdetelery (en dus weddenskapsdobbel), tabak en whiskey die groot bedrywe!!)

Hoogaangeskrewe onder die ander state is Kentucky – en dis nou om dit sagkens te stel – gewis nie. Die rede? Hoofsaaklik langdurige armoede in ‘n groot deel van die staat (onherbergsaam en onbewerkbaar), en daarmee saam die veragterliking van die bewoners van daardie streek. Appalachia -- by die Appelagiese gebergtes soos ons dit in standerd 5 geleer het -- wat ‘n eie subkultuur van “Hillbillies” tot gevolg gehad het. Die Appalachian voetheuwels krink die heeltyd in en uit, (vorm glooiings) en in hierdie feitlik onbegaanbaar beboste klofies het die mense gaan bly.

Die klowe, “hollows” het in die taal van daardie streek as “hollers” bekend geword, en is verwant aan die woord “hollowin” (hollowing) = om te skree.

Hoog op die lys van kultuurgebeure in folkloristiese styl en met goeie smaak, word “hootin’ ‘n hollerin’ ''- musiekgeleenthede jaarliks in verskeie suidelike state gevier – vet pret, glo my!

Die staatsregering en welsynsorganisasies werk grootskaals vir die opheffing van die armes van KY, maar die Appalachians tel nog steeds as een van die drie armste gebiede in Amerika – skaars drie ure se ry van die rykste perdeplaasstreek ter wêreld, rondom Lexington, “Horse Capital of the World”.

Maar daaroor later meer. Hier is eers net ‘n paar herfsprentjies van in en rondom Lexington soos ek vinnig laasnaweek daar op die ou paaie rondgery het.







Fantasties, né!

Wednesday, November 12, 2008

Tot weersiens, Kyle

‘n Verweg sonstraal gly oor die die silwer kis
raak aan die stilte daaromheen
‘n Rilling trek deur my lyf;
dit is koud, so bitterlik koud

Bekende woorde stuif vreemd oor die kis
Stof wat terugkeer tot stof
En nou bly net leegheid, leemte, gemis
Soos die naklank van ‘n innig kortstondige lied

'n Verwese sonstraal skuif weg van die kis
‘n skaduwee dring in sy plek
My keel trek toe, ek word skreiend benoud
ons moet voortgaan, maar hoe…sonder jou

Totsiens,
Kyle Matthew Feck










Monday, November 3, 2008

Ons Vader maak nie ‘n fout nie, maar eina!

Kyle en 'n niggietjie, vroeër vanjaar


Donderdagaand herinner Desia op haar blog ons, om ons geliefdes te waardeer vir solank as wat ons hier aan mekaar gegun word.

‘n Paar uur later moet ons verneem dat Vennoot se 40-jarige susterskind (oudste kleinkind aan daardie kant van die familie) in ‘n motorongeluk oorlede is. ‘n Vrou en twee jong kinders bly agter.

Maar van Saterdagaand af huil ek nog meer emmers vol trane: jongste seunskind bel die middag om te sê dat hy die oggend met sy meisie van 18 maande lank, uitgemaak het en hy kry kwaai swaar, maar weet dit was die regte ding. Is oppad na sy beste vriend Kyle se huis vir die aand, en oorslaap.

Bel 'n uur later met die aaklige nuus dat Kyle (net maar 20 jaar oud), twee ure vantevore in 'n motorbotsing op slag dood is. 'n PRAGTIGE seun vir wie ons 'n baie teer plek gehad het. So 'n groot, ou sagtehart teddiebeerding wat baie swaargekry het toe sy ouers laasjaar uitmekaar is. Kop-aan-kop botsing, en die ouens in die ander motor wat die ongeluk veroorsaak het, net skrape....

Kyle en Seunskind was sewe jaar lank “broers”.

My kind is stukkend. Sien hy het vanmiddag op sy werf geskryf:

"Riaan wishes he understood. But still: "The LORD gave and the LORD has taken away; may the name of the LORD be praised."

Oe, dis seer. En die finaliteit van die dood tog.

Ná haar seun se sterwe, skryf Elizabeth Eybers:

"Dit is my seun" het ek verwaand verklaar
soos een wat sorgeloos ’n feit aanvaar,
dog plots staan daar slegs één gegewe vas:
dat is wreedaardig snel verwoord tot was.


Ek weet lankal die lewe is nie vir sissies nie, maar net partymaal is ek 'n groot ou sissie...

Friday, October 31, 2008

Happy Halloween se voet

Miriam Webster's Dictionary Definition:

Main Entry: Hal low een
Variant(s): also Hal low e'en /"ha-l&-'wEn, "hä-/
Function: noun
Etymology: short for All Hallow Even (All Saints' Eve)
Date: circa 1700
: October 31 observed especially with dressing up in disguise, trick-or-treating, and displaying jack-o'-lanterns during the evening



En waar kom Halloween (Allerheiligeaand) so ewe vandaan?

Die heidense Keltiese Samhain-fees is waarskynlik die oorsprong van die hedendaagse Halloween.

Die Kelte het hulself meer as 2 000 jaar gelede tuisgemaak in wat vandag die Verenigde Koninkryk, Ierland en Noord Frankryk is.

Hul nuwe jaar het op 1 November geval, maar die feesviering ter ere van die Keltiese doodsgod, (brrr) Samhain (dis nou bietjie anders as die hollandse Piet Hein!), het reeds die vorige aand begin. Hiermee is die seisoen van koue, duisternis en verval ingelui en het dit geassosieer geraak met die dood.

Volgens die Kelte het Samhain (uitgespreek Sah-ween) die siele van die afgestorwenes toegelaat om net vir daardie aand na die aarde terug te keer.
Dan is die mense deur die Druïede (die priesters en wyses), aangesê om die vuur in hul vuurherde te blus en is ‘n groot vuur (bonfire) -- sogenaamd heilig -- met eikehouttakke gemaak. Diere, oesprodukte en moontlik selfs mense, is geoffer voordat elke familie sy eie vuur met ‘n stomp uit die heilige vuur, kon aansteek.

Vir hierdie geleentheid het die feesgangers soms kostuums van dierkoppe en velle gedra, en die toekoms is voorspel deur die oorskot van die offerdier te begluur.

In 43 voor Christus begin die Romeine die Kelte verinneweer en speel vir 400 jaar lank baas oor vandag se Verenigde Koninkryk.

Blykbaar moes hulle gemeen het te veel feesvierdery is nie goed vir die volk nie, en kombineer toe die Romeinse vereringsfees van die afgestorwenes en Pomona, godin van vrugte en bome, se vrugtefees met Samhain se doodsfees – voorwaar ‘n konkoksie!

Wat is Allerheiligedag?

Baie van die Keltiese gebruike het behoue gebly, selfs nadat die Christendom gevestig geraak het.
Gedurende die 800’s het die kerk 1 November as Allerheiligedag verklaar en maak toe sommer die die ou heidense gebruike deel van dié Christelike vakansiedag. Lekker! En nog later word 2 November die dag waarop die Rooms Katolieke Kerk die onbybelse verering van die dooies vier.Onder die Kelte het elke streek sy eie Halloweengebruike gehad. In Ierland is ‘n parade gehou ter ere van die god Muck Ollen en het die leier ‘n wit gewaad en ‘n dierkopmasker gedra. In Skotland weer, het die optoggangers met fakkels geparadeer en groot vure op die heuwels aangesteek om hekse en bose geeste te verwilder.
In Wallis het elkeen sy naam op ‘n klip geskryf en in die vuur gegooi. Die arme siel wie se klip die volgende oggend soek was, sou beslis binne die volgende jaar sterwe.

In Engeland is Halloween soms Neutkraker of “Snap Apple Night” genoem en het families om die vuur sit en neute en appels eet terwyl stories vertel is (allerwaarskynlik oor geeste en hekse). Die volgende dag het die armes rondgegaan om te bedel – “a-souling”. Hulle is ‘soulcakes” (sielkoekies?!) in die hand gestop en moes beloof om vir die afgestorwenes te bid. (En waarvandaan kry ons dit!)

Hmm…klink (of lyk) vir my allermins Bybels of edel, lieflik of loflik…hoe kan ek my dus hiermee ophou, of my kinders toelaat om saggemaak te word vir iets wat beslis nie die Here se Naam tot eer strek nie?

Thursday, October 30, 2008

Verskonings, verskonings

Ek het so ‘n idee ek het met party van julle se koppe gesmokkel die afgelope 24 uur!

Iewers gisternag het ek die veelkleurige woestynpossie klaar, waaraan ek nogal lank gewerk het – maar baie in my skik daarmee.

Toe ek dit vanoggend bekyk, staar sulke ontsierende wit kolle waar daar prentjies moet wees, my in die gesig.

Ek was verstom – IEMAND moes oornag my prentjies weggedra het! (As dit in Ouland was, kon ek dit verstaan, want ek sal my nie min verbaas as hulle daar al so grys is om selfs jou blogs te besteel nie…)

Skryf toe gou ‘n verskoninkie (pak die skuld op die neukenaar) en noem dat ek nie weet hoe om te korrigeer nie. En toe vind ek uit hoe, en vee die verskoningpossie uit.

Nou sien jy my…nou sien jy my nie…

(Wonder of ek moet waghou by my blog vannag?)

Vir vergoeding pos ek nou maar weer hierdie grappie:

Letter to the bank from a worried customer…

Dear Sirs

In view of current developments in the banking market, if one of my cheques is returned “insufficient funds”, does that refer to me or to you?

Yours faithfully