Om eerlik te wees, toe ons sowat agt jaar gelede Amerika toe gekom het, het ek nie mooi geweet watter staat waar geleë is nie! Waarom sou mens ook, Amerika is mos nie die wêreld nie (uhhm, hierin lê natuurlik ‘n hele gesprek opgesluit…)
In die Burgeroorlog was Kentucky waarlik in die middel van die tameletjie vasgevang: dit was ‘n slawehandelstaat, maar ‘n besonder groot groep inwoners was heftig gekant daarteen. En so kom dit toe dat KY beide die Union en die Confederates van letterlik duisende troepe voorsien het. (Ironies genoeg is albei die 2 presidente van die noorde en die suide – Abraham Lincoln en Jefferson Davis -- 8 maande uitmekaar uit, in KY gebore).
KY lê in een van die land se sogenaamde “Bible Belts”, met perdetelery (en dus weddenskapsdobbel), tabak en whiskey die groot bedrywe!!)
Hoogaangeskrewe onder die ander state is Kentucky – en dis nou om dit sagkens te stel – gewis nie. Die rede? Hoofsaaklik langdurige armoede in ‘n groot deel van die staat (onherbergsaam en onbewerkbaar), en daarmee saam die veragterliking van die bewoners van daardie streek. Appalachia -- by die Appelagiese gebergtes soos ons dit in standerd 5 geleer het -- wat ‘n eie subkultuur van “Hillbillies” tot gevolg gehad het. Die Appalachian voetheuwels krink die heeltyd in en uit, (vorm glooiings) en in hierdie feitlik onbegaanbaar beboste klofies het die mense gaan bly.
Die klowe, “hollows” het in die taal van daardie streek as “hollers” bekend geword, en is verwant aan die woord “hollowin” (hollowing) = om te skree.
Hoog op die lys van kultuurgebeure in folkloristiese styl en met goeie smaak, word “hootin’ ‘n hollerin’ ''- musiekgeleenthede jaarliks in verskeie suidelike state gevier – vet pret, glo my!
Die staatsregering en welsynsorganisasies werk grootskaals vir die opheffing van die armes van KY, maar die Appalachians tel nog steeds as een van die drie armste gebiede in Amerika – skaars drie ure se ry van die rykste perdeplaasstreek ter wêreld, rondom Lexington, “Horse Capital of the World”.
Maar daaroor later meer. Hier is eers net ‘n paar herfsprentjies van in en rondom Lexington soos ek vinnig laasnaweek daar op die ou paaie rondgery het.