Thursday, July 9, 2009

Ry sal ons ry


Vennoot is besig om die huis te verf en op te knap. Vanoggend is dit heerlik koel genoeg om die buitenste vensterrame by te dam.

Ná ‘n soektog deur sy verfblikke in die motorhuis, kom hy teleurgesteld in die kombuis rapporteer: “Niks van die regte kleur nie en ek verpes dit om eers te moet ry om die regte goed te gaan koop as ek wil begin werk.”

Hmm Venoot, en hoeveel keer per week ry ek kruidenierswinkel toe….

Wednesday, July 8, 2009

'n Baken van lig en hoop

Jare gelede is Mary Achai en haar sewe kinders deur Islamietiese militantes uit hul klein dorpie in suid-Soedan ontvoer. Sy is as ‘n seksslaaf aan ‘n Moslem man in die noorde verkoop. Die man het haar herhaaldelik gevra om Christus te verloën, maar Mary het bly weier, en nadat sy probeer het om saam met haar kinders te ontsnap, het hy haar aan die brand gesteek.

Met geen mediese hulp naby nie, het haar brandwonde nie reg gesond geword nie. Haar arms het vanweë die wondweefsel op haar rug en arms, teen ‘n hoek van 90º kromgetrek . Sy kon niks vir haarself of haar kinders doen nie.

In 2006 het drie sendingorganisasies saamgespan om vir haar mediese onkostes te betaal.

Deesdae is Mary ‘n leier in haar gemeenskap, en verleen hulp aan weduwees en voormailige seksslawe. Met behulp van ‘n digitale klankstel lei sy ‘n vroue-Bybelstudie. Baie min in haar dorpie, Mary ook nie, kan lees.

As ‘n inkomste maak die groep vrouens seep en verkoop dit saam met tee en ander lewensmiddele, op die dorpsmark.

Nietemin is Mary se geloof brandend sterk en het sy geen berou omdat sy so swaar moes ly vir Christus nie. As mens haar vra hoedat sy dit regkry om aan te gaan, dan antwoord sy met nederigheid: “Alleen God is die ware God, en ek wil Hom aanbid.”


Ná talle operasies kan sy nou haar arms amper heeltemal reguit maak, en self haar huiswerk doen.

Mary het onuitspreeklike aakligheid en smart beleef. Dog, ten spyte van slawerny, misbruik, verlies, armoede en pyn, prys sy steeds die God wat haar staande hou.


O Here Jesus, dankie vir Mary.
Dankie dat U hoop gee aan U kinders, ja, dat U ons Hoop op ewige heerlikheid is.
En Vader, help my om ook elke dag ‘n helder baken van lig en hoop te wees in U diens.
Amen

Tuesday, July 7, 2009

Blindemanskompliment

Verlede week by ‘n damesfunksie vertel die spreekster dat kort nadat haar jongste spruit universiteit toe is, sit sy en haar man een aand rustig op die sofa in die woonkamer en gesels. Naderhand skop hy sy skoene uit, swaai sy bene op die bank op en gaan lê al geselsende met sy kop op haar skoot.

Baie versigtig haal sy sy bril af en laat ewe romanties hoor: “Weet jy skatlam, sonder jou bril lyk jy vir my nog net so aantreklik soos op ons troudag.”

“Liefie,” antwoord hy met ‘n ondeunde trek op die gesig, “en so sonder my bril, lyk jy self nie sleg nie, hoor!”

Saturday, July 4, 2009

Te veel van 'n mooi ding

(Nie my foto's nie.)

Sit nou hier met die reuk van kruit in die neus en die geluid van klappers in die ore. Dis mos 4 Julie, Amerikaanse Onafhanklikheidsdag, en uit die afgelope 2 ure se veelkleurige sprinkelsterre in die lug en die klapgeluide in die omgewing, sou mens waarlik nie kon aflei dat die ekonomie knyp nie.


Nou kyk, soos met Kersfees, word mens mos weer pure kind wanneer die een verskietende wonderkleur ná die ander die donker hemelruim verlig. Maar ai, ek kry dit die afgelope paar jaar maar net nie meer reg om heeltemal skiet te gee oor die kostes en skades van hierdie skouspel nie.
In 2007 is 9 800 mense (waarvan 5% ernstig), vir hand-, oog- en beenbeserings veroorsaak deur vuurwerke, behandel.

En tot laasjaar het Amerikaanse huishoudings altesame nagenoeg $420 miljoen p.j. (R2 940 miljoen) op vuurwerke uitgegee. Ek kon nie eens maatskappye, amptelike en staatsorganisasies se syfers opspoor nie. Want afgesien van die agterplaasvuurwerke, hou elke liewe dorp en stad, en in groot stede elke ryker munisipaliteit, hul eie vertonings op hierdie vierde dag van Julie.


So iewers, tussen die fantastiese flonkering van fonteinsterretjies en die geknetter van klappers heen deur, brand ‘n eina-vonkie my. Want ek onthou van armes en ellendiges, haweloses en hongerlydendes....

En skielik verloor die skouspel iets van die betowerende skittering van my kindweesjare.

Thursday, July 2, 2009

God luister

Aangestuur gekry van 'n vriendin van my sus:

Elke oggend voordat ek padvat, bid ek en vra die Here om engele voor my motor uit te stuur. Oudergewoonte toe doen ek dit weer verlede Dinsdagoggend voordat ek ry. Deur die dag lees ek die artikel van Bertha Cronjé (oorlede Hansie Cronjé se vrou).

Hoe sy die stukkies van haar lewe moes optel en hoe swaar sy gekry het ná sy dood, al het sy sterk voorgekom. Sy vertel hoedat sy een aand net nie meer kon aangaan nie. Sy het in die donker voor haar kamervenster, teen die gordyne, vir die hele nag gelê en huil en bid.

Die volgende oggend toe sy haar voordeur oopmaak, lê daar 'n veer op die stoelkussing op die stoep en een op die voordeurmatjie, rég voor die deur.

Sy en 'n Engelse vriendin het in dié se Bybel die woorde 'feather' en 'bird' gaan opsoek. Kry 'n teks wat daarop neerkom dat die Here haar soos 'n fyn veertjie sal beskerm, en dit het haar die grootste gemoedsrus gegee.

Wat gebeur toe met my toe ek by die huis kom.....??? Daar lê 'n pragtige veer op my matjie voor die voordeur!!!! Net daar het ek besef: God hoor elke woord wat ons bid. Dit voel dalk soms of ons teen die dak vasbid, maar dis nie die werklikheid nie.

Die boodskap wat ek gekry het,was dat God vir my wil sê: "Ek hoor jou gebed, en Ek beskerm jou daagliks op die paaie!!! Ek HOOR jou!!"

Is dit nie wonderlik nie?!

Die Here is so getrou. Van die dag van my geboorte kyk Hy na my. Alles wat ek het, het ek van Hom onvang -- en is dit nie ontelbaar baie nie! Hy is groot en magtig --- Sy naam is Abba - VADER.

Here, U is my lewe, U sorg Vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja wat ek ontvang het, is vir my, en dis mooi, Here!

"Ken die Here In alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat wandel - Spr.3:6."