Ek bewandel al genoeg jare lank hierdie ou aarde om baie dinge te gesien en gehoor het. Onder die “gesien het” tel onder andere vele grappies oor die oulike glipse en blapse van kleingoed, en onder die “gehoor het” ook dinge wat hulle dan sodanig in kerke en onder eredienste sou oorgekom of kwytgeraak het. (Party daarvan maar papierdun as dit teen die lig gehou en beskou word. Klink sommer plein opgemaak as jy my vra.)
Self het ek sodanige gebeurtenis nog nie beleef nie. Tot vanoggend.
Ons het ‘n strenge doominis in ons klein gemeentetjie. Baie reguit, en vat nie nonsens nie. Só dan, geen kinderkerk nie want kinders hoort in die erediens (maar hy het altyd tyd vir die kleintjies en bestee baie tyd aan hul sielesorg.)
Vanoggend begin hy sy preek met ‘n inleiding oor die sonde-geneigdheid van die mens.
“Wens julle nie ook dat as julle een oggend die koerant oopmaak, al die nuus in daardie uitgawe net goeie nuus is nie? Wens julle nie dat alle mense goeie mense is nie? Of dat jyself altyd die regte ding sal doen nie, of selfs net die regte ding sal sê nie? Of dalk wens jy dat jy net nadat jy vanoggend opgestaan het, liewers jou tong afgebyt het.”
Dis toe dat een klein outjie wat baie goed geluister het, erg verontwaardig en kliphard in die stilte laat hoor: “Jêgg! Oh NO!”
No comments:
Post a Comment