Monday, August 2, 2010

Lewer en lemoen…..sáám???

‘n Oú sêding, dié van vinkel en koljander, die een lyk nes die ander.


Maar almiskie.


Nie eens lyk nie, en nooit as te nimmer próé nie. Waarrempel nie lewer en lemoen nie. (Al wat dié twee in gemeen het, is die “l” en die “e”.)


Maar skoonma het dit der jare goed gedink om skoonsus (toe so twee jaar oud en gek na lemoen) te flous deur etenstyd elke keer as daar lewer-en-rys was, ‘n lepeltjie daarvan onder ‘n skyfie lemoen weg te steek en nes dié soet en sappige wiggie in arme skoonsussie se wagtende mondjie sou inglip, dan blitsvinnig die gehate vleisie eerste in te stoot.


En dan was dit sluk, sussie. Nee, nie eens te dinke aan uitspoeg nie. Selfs nie as skoonma jou eie bloedma was nie. Nee, selfs nie dan nie.


Vennoot het nou wel nie lemoen en lewer saam hoef in te gekry het nie, maar dit het hom ook nie liewer gemaak vir lewer nie. En so het dit gekom deur die tye saam, dat ons nie baie maal lewer geëet het nie. Ter wille van Vennoot, en soms ten koste van myse belustigheid daarvoor. Want ai, Oumoeder se lipafleklekker lewer met ‘n suursousie waarvan ek die resep oorgeneem het….ai, my mammie tog….


En toe vanaand maak ek ná verloop van seker vyf jaar se lewerloosheid, ‘n lekker skaaplewertjie van die plaas af gaar. Mooi gedokter met saggebraaide uie, soetrissie en sampioene. En room. Vir Vennoot se ontstehalwe.


Dog toe hy die reukie kry, toe stel hy so ewe ongeërg voor dat ons ‘n ou glasie rooiwyn daarmee saam geniet. (So asof hy die lewer gaan “geniet”. Gesien (of geproe) die omstandighede, miskien selfs nie eens die wyntjie geniet nie!)


Maar raai, toe so uit die bloute uit, is die ou sagte lewertjie jou waarlikstewaar vanaand vir my ook skielik nie meer so lekker nie. En dit het niks te doene gehad met die gebrek aan die veelgeliefde suursousie nie. Nee, dit was sommer net so.


Nou toe nou. Ek kan maar net dink dat ek die smaak daarvoor afgeleer het.


En vanaand vir die eerste keer, het ek geproe hoe lewer dalkies vir Vennoot moet smaak.


Darem sonder lemoen.


(Mooitjies nie my foto nie, maar dis sowaar lewer en lemoen bymekaar!!)

5 comments:

Thea said...

Het jou skoonsus toe darem later in haar lewe van lewer begin hou Mariki? :-)

Ekself maak nie lewer gaar nie, ek gril vir dit maar ek eet dit graag as my ma dit gaarmaak so met gebraaide uie en saam met pap. Ai, wat 'n jammerte dat jy toe nou nie die lewer geniet het nie! Jou reseppie klink só lekker!

Sonja said...

Ek sal n betogingsbord solank maak dan kan ek en Vennoot voor die kombuisvenster bymekaar kom as daar weer lewergedoente in die kombuis geruik word ! Hoenderlewertjies sal ek eet, ek maak hulle lekker gaar maar die res.... Johan se hy sal kom help in die kombuis en dit eet ook!

cat said...

Dankie vir die inloer!Ek het jou gemis want met die oorlaai van my lêptoppie se hardrive het vele boekmarks verdwyn - jou ok.

Ek is nie vreeslik lief vir 'n lewertjie nie - die anner helfte is wel, maar hoenderlewer s'n ander saak. Ek vrek daaroor.ing

Dané said...

Nee kyk, Mariki, ek verstaan jou wederhelfte se afkeur. Ek verkies kalfslewer -- baie sagter van smaak.

Maar óók sonder lemoen, dankie!

mariki said...

Ha-ha, nee Thea!

Sonnie -- lyk my ná dese staan ek ook voor die venster!

Cat, jy en Dané het al lankal ontdek wat ek nou eers agterkom.