Monday, August 16, 2010

Skuilplek -- altyd

"Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou," (Deut. 33:27, NAV).


Dit was ‘n koue Maart-wintersnag in Dallas, Texas toe die dokter Diana Blessing se hospitaalkamer binnestap. Haar man, David, het haar hand styf vasgehou terwyl hulle dapper op die jongste nuus gewag het.


Daardie middag, 10 Maart 1991, het Diana -- 24 weke swanger -- met ‘n noodkeiser hul dogtertjie Dana Lu Blessing in die wêreld gebring.



Net 30 cm lank en met ‘n gewig van 709 g, het die ouers geweet haar lewe hang aan ‘n draadjie, maar nogtans het die dokter se woorde hulle lamgeslaan.


“Dana het net ‘n 10% kans om môreoggend te haal “ het hy die slegte nuus met ‘n simpatieke stem oorgedra. “Selfs al sou sy bly leef, lyk haar toekoms nie goed nie.”


~~~~~~~

Sy sou nooit kon loop of praat nie; sy sou waarskynlik blind wees en die kans op serebrale skade of totale geestelike geremdheid was baie hoog.


Diana, David en die vyfjaar-oue Dustin het so lank gedroom oor ‘n nuwe klein mensie, en nou het die droom binne enkele ure in ‘n aaklige nagmerrie ontaard.


Maar, met die verbygang van die dae, het ‘n nuwe hartseer ontvou: Dana was so swak en teer dat hulle haar net ligweg kon aanraak en slegs kon pleit op God se genade vir die kleine mensie wat so broos en alleen in die broeikas gelê het tussen ‘n magdom verstrengelde buisies en pypies.




~~~~~

Deur lange weke heen het Dana nou ‘n gram gewig opgetel, en dan weer ‘n halfgram lewenskrag bygekry, totdat haar ouers toe sy twee maande oud was, haar vir die eerste keer in hul arms kon hou. Op vier maande, met die dokters se steeds duistere vooruitskouings vir haar toekoms, is sy huis toe – net soos mamma Diana met vaste vertroue op die Here, voorspel het.


Vyf jaar later was klein Dana ‘n petite, opgeruimde en lewenslustige dogtertjie – so normaal en gesond soos haar ouer boetie.


Maar die gesin, familie en vriende koester vandag nog steeds ‘n kosbare gebeurtenis in hul herinnering:


Gedurende die somer het Dana een snikhete middag tydens Dustin se bofbaloefening op Diana se skoot gesit.


Soos altyd was sy onophoudelik met haar ma en ander toeskouers aan die babbal – totdat sy ewe skielik stil geraak het.


Terwyl sy haar armpies om haarself slaan, vra sy: “Ruik Mamma dit?”


“Ja,” antwoord Diana, “dis die reën wat aan die kom is.”


Met ogies styf toe, herhaal Dana die vraag, maar toe haar mamma weer antwoord dat sy reën ruik, skud sy haar koppie beslis en sê met groot oortuiging:


“Nee, dit ruik soos Hy. Dit ruik soos God wanneer mens met jou kop teen sy skouer lê.”


En in daardie oomblik het Diana geweet: tydens Dana se eerste twee maande toe geen mens haar kon vashou nie, was sy in die arms van God en veilig teen sy bors gesus.

~~~~~~~~~~~~~~~

‘n Ware verhaal – deur verskeie bronne bevestig.



10 comments:

Anonymous said...

Thanks dat jy my skrik en bang oor die vorige skryf outbalance met hierdie ene. Ek moet net tog altyd onthou van God se arms.

love
C

Sonja said...

Sit ek nou en huil hier!Dit is een van die mooiste getuienisse wat ek nog gehoor het!Ek wens ek kan meer daaroor lees.

Dané said...

Oo Mariki! Dis 'n verstommende storie -- dankie! Hoe bemoedig dit mens!!

mariki said...

C'tjie -- ekke ok!!

Sonnie, ek het al wat 'n spoor is, probeer vat om ook meer te wete te kom oor die klene dogtertjie wat nou ook nie meer so klein is nie, maar die laaste was toe hulle met haar mamma gepraat het toe sy amper ses was.

IS aangrypend!!

mariki said...

Dané, ons dien 'n LEWENDE God!!

cat said...

Ag hierdie is kosbaar - bly elke keer mooi om te lees. Jy het seker ons 2ling se storie gelees - wonderwerkies in eie reg.

Anonymous said...

Dis aangrypend. Gee my sommer opnuut 'n bly hart omdat ek aan God behoort.

mariki said...

cat -- ek lees dit ook altyd oor en oor vandat dit so laat negentigs in omloop gekom het; maar ek weet daar is nog altyd mense wat moet "bevoorreg" word! Sal BESLIS gaan oplees oor julle wondermensies!

mariki said...

Andorize -- dis so heerlik, né¡

Thea said...

Absoluut aangrypend en bring elke keer wat ek dit lees, trane in my oë!