Monday, December 21, 2009

Kerstyd 2009




Die kinders is reeds besig om so stuk-stuk op te daag vir die familie-saamwees, en daarom groet ek DV tot iewers in Januarie.

Mag aanbidding en verwondering oor God se onbeskryflike groot geskenk aan ons, ons hierdie Kerstyd vervul.

En mag dit deur die nuwe jaar heen, ons steeds verbly en bemoedig.

Met liefde in Christus,
mariki

Tuesday, December 15, 2009

Vat DIT, OU

Dave Nosek se buurman het jaar ná jaar uitsonderlike Kersversierings.


Elke jaar word dit net meer en meer. En byhou kan (en wil) Dave Nosek nie.


En al is ou Dave nou nie ‘n Boer nie, maak hy toe vanjaar ‘n plan. En ‘n goeie ene: met ‘n paar ineengedraaide stringe Kersliggies “skryf” hy die woord “DITTO” bo sy motorhuisdeure, en teken ‘n pyl in die rigting van buurman se “ligwerke”.


Buurman het vyf dae lank gearbei om al daai liggies uit die kartonne te haal, los te wikkel en te ranggeer. Dave kon ná ‘n skrale uur terugstaan en sy eie handewerk bewonder.


Wat meer is: die meeste motors hou deesdae voor Dave se huis stil om foto’s te neem…..



Friday, December 11, 2009

Die Here se telwerk

(Vandag is my ou wyfie-neukenaar weer haar bekonkelde self. Gedog ek het nie meer oneerlike werkers/werksdinge in diens nie...maar sy het my hele foto-biblioteek gesteel en weier om te erken...Dus is dit net lettertjies voor die aangesig vandag. So jammer.)


Ons dogtertjiegoed (27) is so twee weke gelede van de een mediese man na de ander (snaaks tog dat ek nou nie hier van ‘n “kwak” wil praat nie, né – ons woordgebruik is darem maar so emosioneel begrond…).

In elk geval, so het sy gehoor dat sy ‘n Pseudoangiomatous stromal hyperplasia (PASH) vergroeisel in die bors het. Al so groot soos ‘n eier.

Maar in die oneindige genade van God is PASH ‘n nie-kwaadaardige soort tumor. Het eers in 1986 benoem geraak het. Baie onbekend.

Die affêre se patroon is glo om ‘n sakkie in ‘n vrou se bors te vorm, met ‘n sterk buite-vliesie wat die sponsagtige weefsel binnehou en geen uitsaaiings maak nie.

Die prognose is uiters goed en in bittermin gevalle van waar die sakkie verwyder is, steek die ding weer later kop uit.

So is die ongewenstheid vanoggend toe uitgesny.

Skoonseun het nou net gebel: sy het so pas uit die teater uitgekom, besig om by te kom, wil glo net slaap...Ag, moeder tog.

Snydokter sê alles was soos vermoed, het gegaan soos verwag, en alles kon verwyder word. Hy het nog nooit eens voor nou, van dié soort ding gehoor nie.

Ek lees gisteraand dat dit by net 1 uit elke 200 000 vrouens voorkom.

Maar wat maak syfers vir ‘n mens saak as jy nommer een uit tweehonderdduisend is? Of nog benouender: een uit die drie vroue (VSA) wat vanjaar gehoor het dat jy borskanker het, met die wete dat 40 000 per jaar daaraan sterf?

Sóveel, dat jy weet dat die Here se somme sin maak. Dat Hy op jou nommertjie druk met ‘n rede. Sy rede. Sy liefdevolle rede.

En jy weet en glo en twyfel nie daaraan nie, dat Hy goed is met somme.

Hy is die Een wat die Allerbeste is met tel. Ook met OPTEL en dra – deur die driwwe en doringvelde van hierdie lewe heen, tot in die eendag se hiernamaals waar somme nie meer gaan saak maak nie.

Behalwe daarvoor dat Een + Een + Een = aan Een, Ewige, Waaragtige en Getroue God, in Wie se allesomvattende, heerlike teenwoordigheid ons tot in alle ewigheid sal lewe.

Thursday, December 10, 2009

Weldaad

Ek sal darem nie eerlik wees nie, as ek net vertel van Amerikaanse oordaad en dan nie ook praat van die Amerikaners se ruimhartigheid nie.


Dis lank reeds bekend dat Amerikaners voor loop as dit kom by naastediens en vrywilligerwerk.


Dié tradisie kry mens van die rykes met ‘n lang geskiedenis van filantropie tot by die armes. Diegene wat jaarliks $20 000 of minder verdien (ongeveer $150 000 of minder), gee interessant genoeg ‘n groter deel van hul inkomste aan verdienstelike sake as die rykeres.



Dog, Amerikaners gee nie net geld nie. Hulle dink ook nie twee keer daaroor om vrywilligerwerk te doen nie. Gemiddeld word $150 BILJOEN se vrywilliger-ure per jaar geskenk. (Dis nou bereken teen $18 per uur wat dit andersinds vir betaalde werkers sou gekos het.)

Hierdie bewusmaking van naastediens word reeds op skool geskep. Dis ‘n vaste instelling dat primêre skoolleerlinge een maal per semester bv. seniorsentrums besoek om by die bejaardes te kuier; en op hoërskool kan leerlinge krediet-ure (gelykwaardig aan vak-ure)

opbou, deur gemeenskapswerk te verrig.


En ook op die gebied van sending het die Amerikaners ‘n verstommende oop hand: 70% van sending oor die wêreld heen word met dollars betaal.


So is dit dan nie net die wandaad van oordaad wat hier ervaar word nie, maar ook die weldaad van goed doen in grootmaat.


En dit, sou ek reken, is voortreflik!

Monday, December 7, 2009

Oordaad

Dis soms so moeilik om inkopies – sommer net vir kruideniersware ook -- hier te doen. Selfs na heelwat jare nog.


Die rede? Eintlik 'n baie jammer ene.


‘n Vriend skryf:


“Ek wou nou al ‘n paar keer vir my nuwe handskoene koop, maar soos met baie ander dinge hier, loop ek dan weer by die winkel uit sonder om dit te doen. Daar is net eenvoudig té ‘n groot keuse van alles.


‘n Eenvoudige voorbeeld is ‘toothpics’. Tannestokkies -- daardie houtjies waarmee mens net jou tanne skoonmaak. Dis nie net die plattes en rondes waaraan ons gewoond is nie: dis plasties, hout, vierkantig, plat, rond, reenboogkleure, met strikkies aan, individueel verpak, in houertjies wat weer ‘n netso groot verskeidenheid het en dan, as dit jou nie tevrede stel nie -- nog gegeurdes ook!”


(Vriend, koop die mooies, ek sien mens kan kersboompies daarvan maak!)