Voorverlede week vertel Kanadese seun vir dogtertjiekind (5), dat hulle Kersfees na ons toe kom en sy is hoog in haar skik met die idee.
So twee-drie middae later, kom skoondogter agter dat dit darem verdag stil is daar in meisiekindjie se kamer.
Sy gaan loer om die deur en sien dat al meisietjie se klere rondom haar versprei lê, terwyl sy plat op die vloer sit en besig is om haar rokkies in haar skoolrugsak te pak.
Toe die mamma verbaas wil weet wat dan nou aan die gang is, kom die antwoord ewe opreg:
“Ek pak solank in om na Ouma toe te gaan Mamma, dan sal ek nie laat wees vir die vliegtuig nie.”
Ag jinne tog Ouma se kind, en dis dan nog só baie slapies voor Kersfees….
Verlede naweek het Vennoot hier deur die huis gewandel en wekkers, radio-horlosies, die oondhorlosie, mikrogolfhorlosie, armshorlosies en die Oupa-staanhorlosie loop en verstel.
Gelukkig nie ‘n afwyking, of iets wat hy elke naweek probeer doen nie! Wel twee maal per jaar (November en Maart) met die verandering van die Dagligbesparingstyd-program.
Dagligbesparingtyd = meer bruikbare aandligure.
Die hele palawe dat Amerika (Arizona en Hawai nie) hul horlosies se wysers verstel, is om die aandligure beter te kan benut, omdat dit die tyd is wanneer meeste mense wakker en aan die gang is.
Navorsing het globewys dat dié stelsel ‘n beduidende afname in verkeersongelukke, padsterftes en kriminaliteit teweegbring. Ook word parke en speelareas só beter benut.
Mens is net jammer vir die arme boere en ander vroegoggend-aan die gangkommers wat dus heelwat langer in die donker moet voortsukkel.
Where there is anger, may there be peace Where there is confusion, may there be clarity Where there are questions, may there be trust and Where there is hopelessness, may there be faith...
"The Lord is good, a refuge in times of trouble." Nahum 1:7
Seun-nommer-hoeveelste deel gisteraand ‘n knop-op-die-maag-bekommernis oor die telefoon. Wil so graag my arm om sy skouer sit -- al moet ek r-ê-ê-ê-k om by te kom, want ai, die op-die-skoot-tel-dae is lankal iets van die verre verlede. Bowendien, dese dae is die myle tussen ons hopeloos te veel dáárvoor.
‘n Briefie moet maar die plek inneem van naby-my-kind-wil-wees-om-te-troos:
Worrying doesn’t change the outcome of tomorrow, it only robs today of it’s strength.
Seun, wanneer laas het jy ‘n bekommerde voëltjie sy vlerke sien wring? !!
Nee, jy sien dit eenvoudig nie. Omdat, hoe “bird brained” hulle ook al is, dit amper wil voorkom asof hulle meer sou weet as ons. Dat God sorg. Dat God in hul behoeftes gaan voorsien. Nee, nie dat Hy al ons wense gaan vervul nie, maar gaan sorg vir dit wat ons nodig het.
En jy het nodig om in Sy vredesvoorsiening te leef. Dié soort wat Hy gee, wat alle verstand te bowe gaan.
Jesus sê, kyk na die voëls, na die blomme in die veld: God sorg vir hulle.
Is jy dan nie belangriker as ‘n voëltjie nie?!
My kind, leer ken die verskil tussen "wring" en "sing"!
God kán en sál voorsien en jou groot bekommernis wegneem (ook dit wat jy onbewustelik saamdra en wat soos ‘n wolk oor jou kom lê) AS, AS, AS, jy DIT ALLES AAN HOM GEE.
Boeta, elke keer wanneer jy agterkom die knop kom sit op jou maag, begin die Here prys, sommer so in jou kop, as jy dan nie hardop kan nie, of dalk wil nie. (Ek weet mos, jy glo vas jy sing vals!)
'n Ou-ou kinderliedjie werk goed vir my:
Ek wil die Here loof,
loof met my hele hart.
Hy gee hom (my) wat roep,
weer nuwe krag.
BVJ (Bid vir jou)!
mm
(En raai, nou is ek ook sommer getroos. Hoor jy my sing? “Ek wil die Here loof”…..)
Mensig – was ek net betyds met my mosaïek-prentjies. Want oor die naweek beleef ons toe ons eerste winterstorm. SO mooi!
Dog, ons hier in Colorado is meestalgelukkig --twee, drie dae se sneeuval, en dan skyn die son weer vol en helder (soos vandag), en die paaie en sypaadjies is oop en bruikbaar. Bederf, is die woord.
Om te dink ons kuier somerdae so lekker op die agterstoep
Kom sit, dan drink ons gou 'n koppie warm sjokolade....
Stoepprieël, bo uit die studeerkamer uit gesien
Sommer so deur die muskietgaas geneem -- wie gaan nou buitentoe in hierdie koue? (Dis nou as jy nie in die sneeu wil gaan speel nie.)
As 'n denneboom se takke nie so sag en buigsaam was nie, was almal van hulle kerplaks! afgebreek onder die sneeuvrag.
Verseker kan ek maar die Hummingbird-voerder gaan afhaal ná dese!
Ek is maar sommer, en gesels graag oor allerhande dinge en doenighede. Eggenote van een, moeder van vele en drie kabouterbekkies wat my "Ouma" noem. My allergrootste liefde? Ons Liewenheer natuurlik, hoe dan anders?