Tuesday, December 18, 2012

Stikdonkere dag


Waarom?
Waarom laat God aaklige goed gebeur?
Hierdie vraag word weereens gevra in die aangesig van die afgryslike gebeure Vrydag in Connecticut.
Antwoorde kom nie maklik nie. Ongelowiges sê daar is geen God nie; en as Hy bestaan, is Hy óf onmagtig óf self ook boos.
Dié wat aan Hom vasklem en wéét dat Hy goed is, sien ook met verslaenheid hoedat Hy in Sy soewereiniteit, aaklige en verstommend boosheid toelaat. 
Ons weet ook dat sedert die eerste twee mense van die verbode vrugte geëet het, niks meer is soos dit veronderstel was om te wees nie.
Ons protesteer. Ons rou. Ons word kwaad. Ons harte verlang na iets beters. Of ons in God glo of nie, diep binnekant weet ons dat dinge nie is wat hulle moet wees nie. Alles wat God goed gemaak het, word verwring, vermink en verwoes.
En dis dan amper Kersfees – tyd van blydskap en goeie tyding….??
Maar ons sal wag. Ons sal wag totdat God op Sy tyd die antwoord gee – dáárdie stralende helder dag wanneer Hy wat met die eerste Kersfees gekom het, finaal sal verskyn en aan alle donkerte, pyn en lyding ‘n summiere einde sal maak.
Ons wag in kinderlike geloof; en ons vertrou – so goed as wat ons weet hoe – dat daar meer besig is om te gebeur as wat ons met ons menslike oë kan sien en met ons beperkte ou verstandjies kan verstaan. Saam met Dawid roep ons uit: “O, as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie…”

En ons hou mekaar vas en versterk mekaar met die laaste woorde van Ps. 27:
“Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!”

Thursday, December 13, 2012

Timmer voort

God het oor tye heen verbasende gebruiksartikels tot uitbreiding van Sy Koninkryk aangewend. Van die meer bekendes is Moses se staf, Jael se tentpen, Dawid se slingervel en 'n seuntjie se middagete.


Al is jy of jou werksartikel nie iewers bekend of gelys nie -- is jy en jou kettie of knieskottel of wat jou doen-ding ook al is, ooit enigsins beskikbaar vir Sy wingerdwerk?