Thursday, January 3, 2013

Woestynreën


(Briefie van ‘n sendeling-vriendin in die Midde-Ooste)




Reën is iets so wonderbaarliks.

Ons het maande lank daarvoor gewag. Die wolke het weke lank vrugteloos verbygedryf. Maar vandag het hulle saamgestapel en die reuk van die reën in die lug het my leerlinge gespanne gemaak.

Hier ruik die reën soos stof: reënstorms roei die stof orent en dit meng met die stof wat in die lug hang en ons ruik dit as dit weer neersif en dink: “Reën! Die reën kom.” Ek veronderstel nat stof ruik anders as droë stof.

Maar die reën het weggebly en, weggebly. Die wolke het die son verdof, en verdwyn. Energievlakke het gestyg en produktiwiteit het getuimel. Alles in afwagting op die reën. Maar niks het gebeur nie. Teen die tyd dat die huistoegaanklok gelui het, het ons almal hoop opgegee.

En nou het die reën gekom. Saggies, vermeng met die aandskemering. En die stof is van die olyfbome afgewas; hulle is weer silwerig blink. Reën is verkwikkend. Reën maak skoon. Reën herinner my aan God se versorging. Sy genade is vir my genoeg. En soos die olyfbome, voel ook ek weer blinksilwerskoon. Ek het nodig gehad dat my stowwerigheid vanmiddag afgewas word. 

Ek het buitekant my klaskamer gaan staan en die reën ingedrink. Met my oë, my ore en met my siel. Ek het my hande bakkiegehou onder die geut. Ek het met oorgawe die wonder van die reën beleef. Ek het gesing, en ek het aanbid.

Mag ons vanjaar almal tyd maak om die mooie uit Gods hand te bewonder. Mag jy die energie en genade ontvang om te doen wat jy moet. En mag jy binnevrede en -vreugde ervaar, wat ook al jou omstandighede.”


Hy lei my in die spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil. Psalm 23:3