Showing posts with label sterwe. Show all posts
Showing posts with label sterwe. Show all posts

Monday, October 10, 2011

Kennis sonder wysheid

Hy was ‘n uitvinder met meer as 300 patente op sy naam. Sy hoogste kwalifikasie was matriek. Hy was ‘n biljoenêr ($6.4 biljoen) wat jeans werk toe gedra het.


Hy was een van die wêreld se grootste oorreders wat miljoene mense sover gekry het om tegnologie te gebruik. Hy was ‘n befoeterde perfeksioenis. Hy was die wêreld se bekendste korporatiewe uitvoerende beampte.


Hy was Steve Jobs.


Tot sover ons koerant se hoofartikel oor die afsterwe verlede week van ‘n briljante man wat die wêreldgeskiedenis onherroepelik verander het.


Hy het van die Apple-korporasie gemaak wat dit is: Apple bestuur meer as 300 winkels in 11 lande; het wêreldwyd meer as 275 miljoen iPods, 100 miljoen iPhones and 25 miljoen iPads verkoop (die iPad het die vinnigste verkoop van enige tegnologiese hulpmiddel ooit).


In Julie vanjaar, het Apple oor meer kontantreserwes beskik as die Amerikaanse Tessourie (!!) en was die maatskappy vir ‘n kort rukkie meer werd as Exxon Mobil.


Ek skud net my kop in stomme verwondering oor wat dié man in sy kort lewe van 56 jaar reggerkry het. En saam met al die Here se kinders dank ek die Vader vir die Godgegewe gawes en talente wat hierdie man aangewend het om tegnologiese hulpmiddels daar te stel, wat die uitdra van die Evangelie bevorder het teen ‘n spoed soos nog nooit vantevore gesien of beleef nie.


En hoewel ek totaal afkeurig is oor sy lewenswyse van klipharde be- en veroordeling van sy medemens, sy onverdraagsaamheid van andere se tekortkominge, sy ego so groot soos die aardbol (“He not just wanted to put out something great, but insanely great, better than anyone else, because it had to represent who he was” sê sy eertydse vennoot ), sy goedkeuring van die “avontuur” van dwelmgebruik, die miljoene wat hy vir die aborsie-bedryf geskenk het en sy Bhoedistiese lewensuitkyk, is ek eienaardiglik geraak deur sy sterwe.


Hierdie geniale mens het tegnologies met kennis omgegaan soos nog niemand voor hom nie. Hy wou wéét en wat hy weet, bekendmaak. Hy wou uitvind wat nog nooit voorheen bekend was nie – daarop dui sy maatskappy-logo van die gebyte appel -- hoewel daar in Genesis staan dat Eva van ‘n verbode vrug – nie appel nie – geëet het om om kennis te bekom, nadat sy die duiwel se leuen geglo het dat “sy soos God sou word.”


En dis waarom ek hartseer is oor hierdie groot man se sterwe – dat hy die duiwel se leuen geglo het dat daar nie ‘n God is nie. En dat hy van verlede Woensdag af verseker en onomkeerbaar weet dat hy ‘n afgryslike – en ewige – fout gemaak het.


Dat hy by al sy omvangryke kennis, nie wou weet, wat selfs ‘n klein kindjie kan verstaan nie – dat Jesus die Redder van siele is.


Wat baat dit die mens om die hele wêreld te wen, maar aan sy siel skade te ly. (Matt.16:26)


Ek treur oor jou, Steve Jobs.

Wednesday, November 12, 2008

Tot weersiens, Kyle

‘n Verweg sonstraal gly oor die die silwer kis
raak aan die stilte daaromheen
‘n Rilling trek deur my lyf;
dit is koud, so bitterlik koud

Bekende woorde stuif vreemd oor die kis
Stof wat terugkeer tot stof
En nou bly net leegheid, leemte, gemis
Soos die naklank van ‘n innig kortstondige lied

'n Verwese sonstraal skuif weg van die kis
‘n skaduwee dring in sy plek
My keel trek toe, ek word skreiend benoud
ons moet voortgaan, maar hoe…sonder jou

Totsiens,
Kyle Matthew Feck










Monday, November 3, 2008

Ons Vader maak nie ‘n fout nie, maar eina!

Kyle en 'n niggietjie, vroeër vanjaar


Donderdagaand herinner Desia op haar blog ons, om ons geliefdes te waardeer vir solank as wat ons hier aan mekaar gegun word.

‘n Paar uur later moet ons verneem dat Vennoot se 40-jarige susterskind (oudste kleinkind aan daardie kant van die familie) in ‘n motorongeluk oorlede is. ‘n Vrou en twee jong kinders bly agter.

Maar van Saterdagaand af huil ek nog meer emmers vol trane: jongste seunskind bel die middag om te sê dat hy die oggend met sy meisie van 18 maande lank, uitgemaak het en hy kry kwaai swaar, maar weet dit was die regte ding. Is oppad na sy beste vriend Kyle se huis vir die aand, en oorslaap.

Bel 'n uur later met die aaklige nuus dat Kyle (net maar 20 jaar oud), twee ure vantevore in 'n motorbotsing op slag dood is. 'n PRAGTIGE seun vir wie ons 'n baie teer plek gehad het. So 'n groot, ou sagtehart teddiebeerding wat baie swaargekry het toe sy ouers laasjaar uitmekaar is. Kop-aan-kop botsing, en die ouens in die ander motor wat die ongeluk veroorsaak het, net skrape....

Kyle en Seunskind was sewe jaar lank “broers”.

My kind is stukkend. Sien hy het vanmiddag op sy werf geskryf:

"Riaan wishes he understood. But still: "The LORD gave and the LORD has taken away; may the name of the LORD be praised."

Oe, dis seer. En die finaliteit van die dood tog.

Ná haar seun se sterwe, skryf Elizabeth Eybers:

"Dit is my seun" het ek verwaand verklaar
soos een wat sorgeloos ’n feit aanvaar,
dog plots staan daar slegs één gegewe vas:
dat is wreedaardig snel verwoord tot was.


Ek weet lankal die lewe is nie vir sissies nie, maar net partymaal is ek 'n groot ou sissie...