Monday, August 31, 2009

Tot later dan

I think that travel comes from some deep urge to see the world, like the urge that brings up a worm in an Irish bog to see the moon when it is full. ~Lord Dunsany


O wel, as dit dan nou my Ierse wurmgier is wat my dring om te reis, dan is dit nou maar so. Gelukkig is Vennoot deur dieselfde wurm gebyt, want hy het voorgestel ons ry bietjie noordwes en gaan bekyk Wyoming en Montana.


Ek groet dus tot later vandeesmaand so die Here wil –

Vrede, vreugde en genade vir julle.

Met liefde

mariki



Saturday, August 29, 2009

Vir die room van die oes - maar ook vir almal wat wil kom (laaste)

Een van die bekendste geboue in Amerika is die Akademie se Protestantse kapel – so mooi en sooo indrukwekkend!


Baie teenkanting ontlok by die voltooing daarvan in 1963.


Die treffende buitekant, gebou uit staal, aluminium en glas, skiet 17-puntig die lug in, soos vegvliegtuie wat in formasie opstyg.



Die binneplafon is 30 meter hoog, en die blou loodglasvensters slaan mens se asem weg. Die kleur van die vensters is van donker na lig, wat dui op die mens se beweeg uit die donkerte uit in die lig van God in.





Die staalkruis voor in die kerk was vir my aandoenlik mooi. Dit herinner mens aan ‘n vliegtuig wat in die lug in skiet, maar terselfdertyd sien jy ‘n swaard (dit is immers 'n militêre kapel) en jy dink ook aan die swaard van die Woord, en dan tog, vóór en ná alles, bly dit die simbool van die oorwinning van Christus en ook God se liefdessimbool, beskikbaar vir elkeen wat tot Hom wil kom.


Die banke is van Amerikaanse okkerneuthout, sowel as mahoniehout uit Afrika.


Die voorste twee rye in die kerk (wat sitplek bied aan 1 200 mense) is permanent afgesper, ter herdenking aan dié manne en vroue wat nie weer van die oorlogsveld af teruggekom het nie.


Hoog agter in die kerk, troon ‘n groot, klassieke pyporrel, met sy 4 334 pype, waarvan die hoogste feitlik 10 meter is.


Wat ‘n uiters besondere en pragtige plek van aanbidding – mag die siele van die jong studente tog daar gevoed word met die suiwere Waarheid!

[In die kelderverdieping is daar aanbiddingsareas vir die Jode en Rooms-Katolieke, sowel as ‘n vertrek waarin die volgelinge van ander gelowe bymekaar kan kom.]


Friday, August 28, 2009

Net die room van die oes (1)

Gister was ‘n allermooiste dag en Vennoot en ek het bietjie ‘n draaitjie gemaak by die Nasionale Lugmag Akademie, so anderhalfuur se ry van hier af.

Die Akademie is een van die mees gesogte publieke “kolleges” in Amerika. Die totale opleiding van vier jaar vir ‘n B.Sc (met ‘n verstommende aantal keusevakke, en nie alles suiwer wetenskappe nie) is gratis EN die studente kry ‘n toelaag. MAAR die keuring van elke jaar se 1 400 nuwe studente, is van de taaiste, en die suksesvolle kandidate moet dan vir ‘n paar jaar militêre diens verrig (met goeie betaling.) Sport en militêre opleiding is eweseer deel van die opleiding – hierdie storie is nie vir sissies nie.

Jy hoef nie hierheen te kom om ‘n lugmagvlieënier te word nie en jy kan as Akademie-gegradueerde dan ook in enige afdeling van die weermag diens doen. Hul doel is eintlik om ‘n leierskorps vir die weermag op te lei, met die leuse: “Integriteit eerste, Diens staan voorop en Uitmuntendheid in alles wat ons doen.”


'n Beeldhouwerk op die gronde

Heelwat internasionale militêre studente is al hier opgelei, maar interessant genoeg nog nie een Suid-Afrikaner nie.

[In Amerika word universiteite normaalweg kolleges genoem, en so van geleerdheid gepraat: die oudste opvoedkundige akademie het al bestaan in die 3e eeu voor Christus, in Mesopotamië.]

Logieserwys, maar ag, tog so tragies, het so ‘n inrigting ook sy oorlogshelde.

Kaptein Lance Sijan (afgestudeer 1965) was die eerste gegradueerde van die Akademie om die Medal of Honour te ontvang. Hy is oor Viëtnam afgeskiet en ernstig beseer, maar het vir ses weke lank die vyand ontwyk deur in die kalksteengebergtes op sy rug – weens sy talle beserings -- te seil-kruip. Hoewel erg verswak, het hy later uit aanhouding ontsnap, maar is weer aangekeer. Ten spyte van erge marteling, het hy nooit geknak nie. Hy is in gevangenskap oorlede weens geen mediese versorging vir sy talle beserings, asook verhongering.

Hy was ‘n skrale 25 jaar oud.

Die volgende internetfoto's is van die kalksteengebergtes in Viëtnam, waar die bloedige oorlog afgespeel en so skokkend baie lewens verloor is.



Wednesday, August 26, 2009

Wat het jy by die winkel nodig?

As mens vyf jaar oud is en jy mag ‘n lysie maak:


Gelukkig eet die kind darem kaas ok.

Tuesday, August 25, 2009

Een, twee, drie - jy is skuldig, dok op en betaal!....(laaste)


“Kyk waar jy loop.”

Dis tog eenvoudig. Maar die vyftienjarige Alexa Logueira het nie dááraan gedink toe sy in New York geloop en ‘n sms op haar selfoon getik het nie. En toe nie die oop mangat gesien het nie. En ingeval het.

Die padwerkers het juis met die oranje keëls aangestap gekom (nou waarom nie éérs die keëls uitgepak nie!)

Gelukkig het Alexa net skrape opgedoen. Maar haar ouers reken die trauma daarvan om in ‘n rioolpyp te val, is rede genoeg om skadevergoeding te eis.

“Dat sy nie gekyk het waar sy loop nie, is nie ter sake nie,” sê hulle.

[Julie 2009]

~~~~~

Ek skrik jou nie.

‘n Pa in Quebec, baie ongelukkig oor die feit dat sy dogter se skoolwerk skade ly omdat sy te veel tyd voor die rekenaar deurbring, het haar as straf verbied om op ‘n skooluitstappie te gaan.

Toe vat sy haar pa hof toe – en wen die saak. Die pa (‘n enkelouer met toesigregte), het geappelleer – en weer verloor.

Want, sê die hof, die straf was buite verhouding met die oortreding.

(Die appélhofregter het gewaarsku dat kinders nie die uitspraak moet sien as ‘n ope uitnodiging om regstappe teen hul ouers te neem elke keer as hulle gestraf word nie.)

Maar nou wil ek graag weet: wat is dit anders?

[Junie 2009]

~~~~~

O, die pyn….(was die geld werd).

Cedrick Makara (‘n ondersoekbeampte van geregtelike eise) het ‘n geboue-eienaar in New York vir nalatigheid gedagvaar weens ‘n duimbesering.

Makara moes die ruskamer besoek en, omdat waar die deurknop moes wees daar net ‘n ronde opening was, het hy sy duim daarin gesteek om die deur oop te trek. Ongelukkig (of gelukkig?) het iemand aan die ander kant op daardie oomblik die deur oopgestoot en is sy duim sodanig beseer dat hy dit moes laat opereer en bowendien kon hy vir 6 maande lank nie werk nie.

Die jurie het hom bykans $3 miljoen aan skadevergoeding toegestaan.

[Junie 2003]

Sunday, August 23, 2009

Een, twee, drie – jy is skuldig, dok op en betaal!.....(1)


Na aanleiding van ons verstomming laasweek oor die winkeldiefstalvoorval: hier is nog so ‘n paar verregaande hofsake uit hierdie land van “o-moet-my-tog-net-nie-(vermeende)-skade-aandoen-nie-want-
dan-gaan-ek-jou-“sue”-en-lekker-rykword.”

Hierdie houding het al die samelewing so deursuur, dat mens selde of ooit uit die gemiddelde Amerikaner – want dis beslis nie almal nie -- se mond die woord “sorry” sal hoor; soos wanneer hulle dalk op straat teen jou stamp, of iets in die gewone omgang doen wat jou verontrief – want dit kan as ‘n skulderkenning (met nare gevolge vir hulle) gesien word!

(Nogal moeilik vir ‘n gemanierde mens om mee saam te leef! Maar wanneer iemand so onbeskof is, en die 'gemanierde' mens na haar asem snak van verontwaardiging, dan moet so 'n 'gemanierde mens' maar net onthou “’n dienaar is nie groter as sy meester nie, en kyk wat het hulle aan my Meester gedoen….)

Maar terug na die ge-sue en so:


Liewe Mamma….?

‘n Man in New Jersey het laasjaar byna R800 000 gekry in ‘n hofsaak wat hy teen sy ma gemaak het.

John Garrity was besig om vir sy ma houtvloere in haar huis in te sit, toe sy hom op die skouer tik om te kom eet. Hy het met die omkykslag sy pinkie verloor toe sy hand aan die elektriese saag geraak het.

John het sy ma vir R1.6 miljoen gedagvaar, maar omdat die hof bevind het dat hulle albei ewe veel skuld aan die voorval gehad het, het hy net die helfte van sy eis toegestaan gekry.

Friday, August 21, 2009

Welkom, al julle ou langvingers


Maandag sien twee winkelassistente by ‘n elektroniese winkel hier naby, hoedat ‘n winkeldief ‘n artikel of wat vaslê en deur toe laat spaander. Hulle sit hom summier agterna en trek hom in die parkeerplek vas.

Die winkelbestuurder kom uit en kry ‘n sny aan die hand by die messwaaiende dief, maar beveel die twee “speurders” om die man te laat gaan.

‘n Paar uur later word hulle twee in die pad gesteek.

Die rede:

Tydens hul opleiding (die een werk al drie en die ander een ‘n jaar daar), is hulle mooi geleer om nie skelms en diewe te hinder en te vang nie.

(a) Dis sleg vir die winkelketting se reputasie
(b) Skurke maak hofsake teen winkels en wen baie keer.

Nou weet jy: as jy Amerika toe kom en jy dink dis jou dag om jouself vrylik, dog onwettig te bederf -- kontak my dan gee ek jou die winkel se adres.

Thursday, August 20, 2009

Soetigheid vir ‘n kind (en dié wat maar net nie meer soos kinders lyk nie…)


Het ons maar altyd geweet wat die regte manier van optrede is…


Ook in die Bos van Honderd Akkers is daar ‘n verkeerde en ‘n regte manier.

En selfs vir dié met meer verstand, is dit moeilik om daai manier agter te kom….


Kennismaking

“Wel,” sê Uil, “die gewone optrede in so ‘n geval, is soos volg.”

“Wie se gewoonte is op en wie het geval?” vra Pooh.

“Want ek is ‘n Beer van Klein Verstand, en lang woorde maak my deurmekaar.”

“Dit beteken die regte ding om te doen.”

“O,” antwoord Pooh.


Uit: Winnie-the-Pooh.

(Al weet ek meestal darem watter optrede van my verwag word, en al het ek Pooh Beer baie, en nog meer jare gelede, vir die eerste keer teëgekom, is en bly sy doene en late vir hierdie ouma ‘n heuningsoete en lieflike lekkerte.

Seker maar die kind in my.)

Wednesday, August 19, 2009

'n Soppie storie

Vandag het die weer vir my besluit wat vanaand gekook sal word. Heerlik in die middel van die somer het ons ‘n dag van sagte en deurdringende “ouKaapse” reën.

Dus: sop sal dit wees vanaand, en wel yskassop. Dit is nou, al die oorskietgroentetjies in die yskas, opgekook saam met ‘n verdwaalde ou skaapskenkeltjie van laas se skapie-aankope op die plaas.

Terwyl “yskassop” by almal bekend is, plaas ek hier ‘n meer ongewone reseppie vir blomkoolsop wat ek van ‘n vriendin gekry het. (Net ingeval jy lus is vir ‘n andersoortige soppie storie.)

~~~~
Blomkoolsop

100g botter

1 kg vars blomkool in klein blommetjies gebreek

3 preie, geskil, in ringetjies gekap en goed afgespoel (tensy jy van sandkorrels onder jou tande hou!)

4 knoffeltoontjies, geskil en gekap

3 takkies vars tiemie (vriendin sê sy het ook al gekapte pietersielie gebruik – dis net so lekker)

2 lourierblare

800 ml hoenderaftreksel

125 ml room (opsioneel) – (Hmm, maak dit ‘n vereiste!)

So maak mens:

1) Smelt die botter in ‘n kastrol
2) Roer die blomkoolblommetjies daarby
3) Voeg die preie, knoffel, tiemie en lourierblare by
4) Braai liggies
5) Roer hoenderaftreksel by
6) Laat dit stadig kook totdat die blommetjies net sag is
7) Verwyder lourierblare en tiemietakkies en verpulp die sop met
jou handmenger, of laat effens afkoel en verpulp in jou
voedelsverwerker
8) Verhit die sop weer oor ‘n matige hitte (as afgekoel vir die
voedselverwerker)
9) Roer die room by

En indien jy wonder oor sout en peper – hierdie sop het dit werklik nie nodig nie.

(Natuurlik gaan jy dit bedien met warm, tuisgebakte brood. Hoe anders!)

Monday, August 17, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(laaste)

Wie, ek, Here?!
Toe ek weer gewaar, is Linda besig om haarself moeisaam dwars te draai en uit haar sitplek orent te kom. Sy steek stadig haar linkerhand met die polsstut na my uit. Ek is reeds by haar en vra net dat Jesus my sal wys hoe om haar tog die beste van hulp te wees.

(En toe onthou ek met 'n skok -- daar is mos 'n badkamer aan die agterkant van die bus!! Dus géén uitkoms om te wag vir die volgende bushalte en om die dame oorkant die paadjie te mobiliseer nie!!)

Maar die volgende oomblik steek ek spontaan my arms na haar toe uit met die palms oop na bo, en vat haar onder haar twee elmboë vas, terwyl sy dieselfde met my doen. So beweeg ek treetjie vir treetjie in die onstabiele gangetjie tussen die sitplekke agteruit, terwyl sy my met kreupelstappies volg. Want tot nou toe het ek nie eens gesien dat die een voetjie effens na buite gedraai staan, en die ander een in ‘n ortopediese toerygstewel is nie. En ook nie dat haar arms donkerbruin is van pigmentasievlekke, deurspek met spookwittes nie.

Só vorder ons, stadig maar seker na die agterkant van die bus en terwyl ek daarop konsentreer om haar te help regop hou, vloei ‘n liefde en vreugde deur my vir hierdie vrou, soos waarvan ek lanklaas bewus was.

Later, nadat ek haar in die badkamer help regkom en toe weer op haar siplekkie sitgemaak het, en die busbestuurder by die volgende stopplek so goedgunstiglik geweier het dat enigiemand anders as hy vir haar ete betaal, is ons weer onderweg.

Ek het verwag sy sou nie kon wag om die kos gulsig te verslind nie. Maar nee, soo, ek wil amper sê elegant, het sy warm aartappelskyfie vir warm aartappelskyfie uit die pakkie gehaal, dit stadig in haar mond gesit, en met ‘n glimlag sit en kou. Net so met die hamburger. Duidelik het sy elke happie wat sy geneem het, deeglik geproe en haar behaaglik daarin verlekker. Daarna haar hande ewe sorgsaam met ‘n natlappie afgevee.

Toe, soveel anders as vroeër die dag, trek sy haar kombersie tot onder haar ken, en raak rustig aan die slaap.

En hierdie keer, toe ek haar al slapende sien oorkantel en byna van die sitplek afgly, het ek nie bedinktyd nodig gehad nie. Ek het eenvoudig my klein reiskussinkie onder haar kop ingewikkel en met my hande ‘n bakkie daaronder gevorm, sodat hierdie geringste ene van Jesus, heerlik gesit en slaap het soos ‘n kind, veilig en geborge.

En nie minder nie het ek, rustig en dankbaar, vrede gehad by die Here. Hy, wat dit goedgedink het om my nog ‘n stukkie van my mislike, bedrieglike eie ek te laat aflê op hierdie reis -- nie net van Kentucky na Colorado nie, maar op die pad van minder-word-sodat-Hy-immer-meer-mag-word.

Sunday, August 16, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(2)

[ Om verder eerlik te wees oor hierdie gebeure wat die Here Self so duidelik op my pad gebring het -- ek het weens ‘n administratiewe fout op daardie bus en spesifiek op daardie sitplek beland -- skets 'n minder mooi prentjie van my. Wens ek kon vertel hoe ek selfloos en sonder om te dink, inderhaas die sukkelende vrou voor my op die bus te hulp gesnel het met groot oorgawe! Maar nee, die sondige oue mens sit ‘n horibale en hardkoppige bakleiery op as dit hom/haar pas….]

Dus:

Die bus is reeds weer onderweg, maar die kermgeluidjies en die kneukelkappery duur voort. Ek sit my hand versigtig op die ontstelde vrou se skouer. Sy ruk eers weg, en draai dan stadig haar hele lyf om te sien wie aan haar vat. ‘n Helder blou oog bekyk my aandagtig deur die lens van die halwe bril.

Ek buk en tel die notaboekie op. Skryf met groot letters: “I will buy you food at the next stop.” Gee dit dan aan haar. Verbasend vlug lees sy die woorde, kyk weer deurdringend na my, en maak ‘n vingertaalteken vir “goed”. Drukskrif dan “ need go bathroom” en wys dit vir my. Ek knik en sy draai weg vorentoe.
Verlig sak ek in my sitplek terug, so bly dat ek iets vir haar kon doen. Noudat sy my aandag getrek het, bly ek oormatiglik bewus van haar en haar ontsteltenis en my gedagtes maal rond.

“Here, U weet hoe ‘n privaatmens ek is. U weet hoe moeilik dit vir my is om fisies by mense betrokke te raak. U het my die gawe van ondersteuning gegee, deur mense te bemoedig met woorde en gedagtes en boeke en briewe; maar tog nie om letterlik die dowes en blindes en die verminktes aan te raak nie? U Self het my mos gemaak met die tipe persoonlikheid wat ek het. U maak tog mense verskillend en gebruik hulle verskillend?”

Ek sien hoedat die vrou haar buskaartjie sit en beskou. Lees dis uitgereik aan ene “Linda Byerd.”

“Vader, as u wil hê dat ek hierdie mens, .…Linda.... dalk fisies moet help, moet U my help. Ek sal nie weet hoe nie.” (Voeg nie by dat ek eintlik nie wil kans sien nie.)

Nou eers kom ek agter dat die passasiers naaste aan ons, ook betrokke geraak het by die gebeure en alles deeglik sit en beskou. ‘n Mollige vrou van oorkant die paadjie glimlag met my. “Hmm, vir jou gaan ek vra om vir Linda te help as sy dalk by die volgende busstasie badkamer toe wil gaan,” dink ek verlig.

(Nee, maar so werk ons Here nie volgens ons ou plannetjies nie. En ek is seker Sy sin vir humor kom ook sulke kere in die prentjie -- soos ek toe ook ter bevestiging sou uitvind!)

Friday, August 14, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(1)

Sy sit reeds op die voorste sitplek in die bus toe ek reg agter haar, langs die vriendelike Amerikaanse boeretannie neersak. Met die opklimslag het ek gemerk dat sy beslis nie gewoon was nie, maar "goed opgevoed" en ewe polities korrek, het ek nie meer as vlugtig na haar gekyk nie.

Dis die voorlaaste lang skof oppad Denver toe, deur Kansas. Ek en die boeretannie raak aan’t gesels asof ons mekaar jarre lank al ken, maar net baie lanklaas gesien het.

So tussendeur merk ek uit die hoek van my oog dat die vrou op die voorste sitplek met groot klem sit en vingertaal praat -- die linkerhand en -pols in 'n kort stut -- so in die leegte in voor haar. Hmm, doof, of selfs doofstom dus. Maar ek en die Amerikaanse tannie geséls. En die buswiele vreet die myle op.

Dis eers toe my geselsgenoot afklim by ‘n klein haltetjie oppad na haar suster, dat ek myself regskuif om uiteindelik ‘n rustige leeskansie ingepas te kry. Salig.

En toe trek die vrou voor my vir die eerste keer werklik my aandag. Sy is verstommend “nie gewoon nie.” Sy het na alle waarskynlikheid onlangs ‘n operasie iewers op die voorste helfte van haar kop gehad, want die haartjies daar moes afgeskeer gewees het en staan nou net so stoppelhoog orent. Die langerige, ligbruin hare op die agterkop is in ‘n poniestert vasgevat.

Sy kan nie haar regteroog oopmaak nie, en oor die ander oog is ‘n halwe plastiekbrilraam met kleeflint op haar voorkop en teen haar neus vasgeplak.

Haar mond is ingesak en hol – sy het duidelik nie tande nie, en daarmee saam, staan die kennetjie puntig in die lug, presies net soos dié van Hansie en Grietjie se heks wat doer diep in die bos gewoon het.

Maar die vingers “praat”! Heftig en aanmekaar, en hulle hou net op toe die busbestuurder haar iets vra en sy die notaboekie langs haar gryp en met pen-en-al in sy hande druk. Hy skryf, en sy skryf, en hy skryf weer, maar toe hy omdraai en agter die boeretannie aan uit die bus uit klim en in die ruskamer verdwyn, is sy hoogs ontsteld.

Vir die eerste keer hoor ek ‘n geluid van haar kant af. Dis sulke klein babakat-kermpies, terwyl sy haarself heftig met die kneukels van die regterhand teen die kop bly kap.

“Here,” bid ek woordeloos, “help my om haar te help.” En dis toe ek huiwerig oorleun na haar toe, dat ek sien die notaboekie het oopgeval op ‘n bladsy waarop in onnette drukskrif geskryf staan: “Not eat for 2 days. Have no money.”

Thursday, August 13, 2009

Busrit van besinning

Sondagoggend voor hanekraai nog saam met Selfoonseun die pad gevat Kentucky toe -- om hom met die negentien uur-rit geselskap te hou (en dit in 17 uur gedoen), en toe Maandagaand daar op die Greyhoundbus geklim en 26 uur en 1269 myl later hier aangeland!! (Vanoggend halftwee!)

Leersame en besinnende ervaring -- die "down and outs" gesien soos nog nooit tevore. Was vir 26 uur lank die wel-afste mens in die omgewing tussen derhonderde malendes en in-die-ry-stanendes met die oorklimslag vir die volgende trajek.

In vier stede oorgeklim en dan langspad ‘n paar minute op ‘n keer gestop vir badkamertoegaan en kitskos koop. Insiggewende gesprekke met medereisigers gehad. Daggarook geruik. ‘n Pragtige jong meisie gesien sit en ruk van kop tot tone en oë, o só leeg -- ek vermoed a.g.v. dwelmmisbruik. Wesens gesien met geen, maar geen ongetatoeërde sigbare plek op die liggaam nie. En moes kyk hoe kindertjies emosioneel verniel word drie-uur in die oggend wanneer hulle veilig en knus in ‘n warm bedjie moes kon geslaap het.

O, wat ‘n deursnit van ‘n stukkende en verwoeste wêreld.

En met soooveel dankbaarheid later vanoggend my oë in my eie, skoon bed oopgemaak: nie blind of kreupel nie; nie verwaarloos of arm nie; nie ongelooflik oorgewig nie. Nie honger nie. Nie ongeliefd en verwaarloos, verwese of uitgestote nie.

En met vrede en veiligheid tuis by Jesus.

Here, in U groot genade, sorg vir die armes, die verwaarloosdes, die lewensverminktes. Ek kan nie, in elk geval nie meer as wat een mens kan nie, maar U is almagtig en liefdevol.

Here….help….

Thursday, August 6, 2009

En toe gil ek lank en lekker

Verlede Sondag het ons ‘n uitnodiging gehad om by Ketoenjie (oftewel dogterkind Poppiedot) en skoonseun te gaan eet. Sy ouers sou net voor middagete per vliegtuig aanland vir ‘n week se vakansie.

Daar gekom, staan en bewonder ons saam met die twee hul voortuintjie, maar toe Ketoentjie nogeens daarop aandring dat ons uit die warm son uit binnetoe moet gaan, maak ons so. Dis toe ek by die deur instap dat ek net oor die drumpel vir Selfoonseun gewaar (dis nou die meneertjie wat vir my so ‘n maklike selfoonnommer in die hande gekry het op grond van my verstandelike “agteruitgang”).

En toe kry ek my kind beet en ek gil lank en lekker, sonder ophou. Want ons is mos baaie lief vir die klong, en as hy bowendien vir negentien uur lank gery het (meeste daarvan deur die nag en met net drie ure se slaap) om as ‘n verrassing vir sy ouers te kom kuier, nou ja, dan kan die hele buurt maar in die vreugdekreet deel. Sondagstilte of te not.

Dis nou Donderdag en ons kuier nog steeds ‘n hond uit ‘n bos uit. En die vreugde is groot. Maar ek gil darem nie meer nie.

Tuesday, August 4, 2009

Ai, ai.....


....die Suid-Afrikaanse Kapingsindikaat slaan weer toe!



Om verstaanbare redes wou hierdie oortreder nie met die kameraman saamwerk nie:

Monday, August 3, 2009

1231....en g'n kompliment


Vennoot beveel aan dat dit tyd is vir my om ‘n nuwe selfoon te kry. Ek is nie vreeslik beïndruk met die voorstel nie -- het dan nou net na twee jaar lekker tuis geraak met my ou selfoontjie. Maar nou ja….
So met die rondvra tussen die kinders na goeie dienslewering deur maatskappye, doen die jongste aan die hand dat ek op sy plan aanteken omdat dit finansiële voordeel inhou.

Wel, so besluit, so gedoen. Hy onderneem om alles gereël en bevestig te kry, moet net weet of ek enige voorvereistes het. “Ja,” grap ek sommer so tussendeur, “tog net ‘n maklike nommer om te onthou, asseblief.”

‘n Paar uur later bel hy. Alles is soos dit moet wees, ek kan my splinternuwe selfoon gaan haal.
“En my nuwe nommer?”

“Die areakode, Ma, en dan 1231.”

“Régtig Seun, jy maak nie ‘n grap nie?!”

“Régtig Ma. Is Ma nie bly nie?”

“Bly?? Ek is verheug! Maar hoe het jy dit reggekry?”

“Ag maklik. Die mannetjie het nou wel omtrent so vyf-ses minute gevat om dit te bekom, maar hy was baie gewillig nadat ek hom vertel het Ma is vinnig besig om agteruit te gaan en kan amper niks meer onthou nie.”



..…..O……

Saturday, August 1, 2009

Mottemanewales (laaste)

Sommer vir interessantheid, so ‘n paar ander gevlerktes in die motwêreld…

Brahminmot, ook genoem die uilmot (Indonesië)


Luiperdmot (Oos- en suidelike VSA en Mexico)

Io moth:


Die wêreld se grootste mot, die Atlasmot, is tuis in die woude van Suidoos-Asië. Gereken as die grootste op grond van totale vlerkoppervlak: meer as 400 vk cm/65 vk duim. Die vlerkspan dieselfde as die witheksmot, 30 cm. Sy kokon lyk glo soos ‘n vrug wat aan die boom hang en word in Taiwan as klein handsakke/beursies gebruik.. Die volwasse mot het geen mond nie en kan dus niks eet nie.


En dan…..die móóiste mot waarvan ek weet: die Maanmot (Luna moth). Vlieg net snags, en wel in die bladwisselende woude van Noord-Amerika. Die volwasse mot kan ook nie vreet nie en leef net een week lank, slegs om te kan paar.


Hoef seker nie eens te noem in watter kategorie ou Willie wolmot sekerlik die prys gaan wen nie: