Wednesday, October 19, 2011

Huh??

Hierdie nuut-op-die-mark Oostenrykse woonwa het luukshede waarvan ek glo, die meeste mense op aarde dalk nie eens weet nie?


Nou praat ek nie van die hoofslaapvertrek met aangrensende badkamer nie. Of die stortbad, kaggel, 40” (102 cm) TV, of selfs die leersitplekbanke nie.


Daar is boonop ondervloerse verhitting wat geaktiveer word met die druk van ‘n enkele knoppie en ‘n uitskuifkroeg met dakvenster, wat 80%-ruimte by die 430 vk voet (40 vk meter) vloerruimte byvoeg.


En dalk hou jy nie daarvan nie, maar die wa is geverf in gloei-in-die-donker-verf.


Kroeg:

Slaapvertrek:

Die 20-ton Palazzo (watter ander naam sou hulle kies vir die ding?!) kan 93 m.p.u. haal, maar gebruik weens die aerodinamiese ontwerp 20% minder bandstof as voertuie van dieselfde grootte. (Haai, hoe oulik….)


Natuurlik moes ek die prys vir laaste bêre: $3 miljoen (so naasteby R24 miljoen.)


Eintlik moes ek nie oor hierdie monstrositeit geskryf het nie.


Want norrmaalweg praat ek nie oor goed wat my siek maak nie.

Monday, October 10, 2011

Kennis sonder wysheid

Hy was ‘n uitvinder met meer as 300 patente op sy naam. Sy hoogste kwalifikasie was matriek. Hy was ‘n biljoenêr ($6.4 biljoen) wat jeans werk toe gedra het.


Hy was een van die wêreld se grootste oorreders wat miljoene mense sover gekry het om tegnologie te gebruik. Hy was ‘n befoeterde perfeksioenis. Hy was die wêreld se bekendste korporatiewe uitvoerende beampte.


Hy was Steve Jobs.


Tot sover ons koerant se hoofartikel oor die afsterwe verlede week van ‘n briljante man wat die wêreldgeskiedenis onherroepelik verander het.


Hy het van die Apple-korporasie gemaak wat dit is: Apple bestuur meer as 300 winkels in 11 lande; het wêreldwyd meer as 275 miljoen iPods, 100 miljoen iPhones and 25 miljoen iPads verkoop (die iPad het die vinnigste verkoop van enige tegnologiese hulpmiddel ooit).


In Julie vanjaar, het Apple oor meer kontantreserwes beskik as die Amerikaanse Tessourie (!!) en was die maatskappy vir ‘n kort rukkie meer werd as Exxon Mobil.


Ek skud net my kop in stomme verwondering oor wat dié man in sy kort lewe van 56 jaar reggerkry het. En saam met al die Here se kinders dank ek die Vader vir die Godgegewe gawes en talente wat hierdie man aangewend het om tegnologiese hulpmiddels daar te stel, wat die uitdra van die Evangelie bevorder het teen ‘n spoed soos nog nooit vantevore gesien of beleef nie.


En hoewel ek totaal afkeurig is oor sy lewenswyse van klipharde be- en veroordeling van sy medemens, sy onverdraagsaamheid van andere se tekortkominge, sy ego so groot soos die aardbol (“He not just wanted to put out something great, but insanely great, better than anyone else, because it had to represent who he was” sê sy eertydse vennoot ), sy goedkeuring van die “avontuur” van dwelmgebruik, die miljoene wat hy vir die aborsie-bedryf geskenk het en sy Bhoedistiese lewensuitkyk, is ek eienaardiglik geraak deur sy sterwe.


Hierdie geniale mens het tegnologies met kennis omgegaan soos nog niemand voor hom nie. Hy wou wéét en wat hy weet, bekendmaak. Hy wou uitvind wat nog nooit voorheen bekend was nie – daarop dui sy maatskappy-logo van die gebyte appel -- hoewel daar in Genesis staan dat Eva van ‘n verbode vrug – nie appel nie – geëet het om om kennis te bekom, nadat sy die duiwel se leuen geglo het dat “sy soos God sou word.”


En dis waarom ek hartseer is oor hierdie groot man se sterwe – dat hy die duiwel se leuen geglo het dat daar nie ‘n God is nie. En dat hy van verlede Woensdag af verseker en onomkeerbaar weet dat hy ‘n afgryslike – en ewige – fout gemaak het.


Dat hy by al sy omvangryke kennis, nie wou weet, wat selfs ‘n klein kindjie kan verstaan nie – dat Jesus die Redder van siele is.


Wat baat dit die mens om die hele wêreld te wen, maar aan sy siel skade te ly. (Matt.16:26)


Ek treur oor jou, Steve Jobs.