Wednesday, April 28, 2010

Stilhou-tyd vir ‘n ponie(tjie)

(Ek vra om verskoning vir elke onderstreepte en vetgedrukte woord -- dissie ekkie, dis SY, hierrie merrie van 'n neukenaar van my.)

Maar om tot by die punt te kom:


Toe ek vanoggend hierdie berig sien, toe kon ek darem nie net weste toe aanhou, sonder om hierby stil te staan nie.

Is dit nie eenvoudig die wonderlikste klein ding nie?! Genaamd Einstein, is hierdie 5-dag oue klein pinto-hingsie die wêreld se kleinste perdjie.. Gewig: 2.7 kg. Hoogte: 35.5 cm (14”). Hy is tuis op ‘n plaas vir miniatuur perde in New Hampshire, aan die ooskus.


Mens mag wel dink dat hy klein is omdat hy nog so jonk is, maar normaalweg is pasgebore perdjies darem heelwat groter as dit (ek dink selfs stadsjapies sal dit toegee….). Klein Einstein hou ook die rekord vir die kleinste perdjie by geboorte.



Einsteintjie vertoon geen dwerg-eiensskappe nie, soos wel die geval is met die vorige wêreldrekordhouer, Thumbelina, 44.5 cm (17.5 duim). Die arme Thumbelina (hieronder), moes beenstutte dra omdat haar lyf en kop uit verhouding met haar bene was. Sy het ook nie die gemiddelde 35-jarige perde-ouderdom gehaal nie, maar het op 17 haar laaste perdeasem uitgeblaas.



Maar hierdie popspeelding hieronder het sowaar self iets om op trots te wees. Sy is gebore kort voor Kersfees 2008 in Victoria, Australië en was ‘n hele 15 duim hoog! (Van ‘n ander ras as Einstein, het sy teen hierdie tyd waarskynlik al haar geskatte hoogte van 61 cm (24”), gehaal.)


En soos dit 'n klein ou meisietjie betaam, is sy beslis die mooiste van hulle almal.




Tuesday, April 27, 2010

Weswaarts (2) -- Klip- en grondstories

Hierdie verskillende formasies en kleure gesien, binne een dag se ry!



Kleurepalet: agterste is sneeuberge, dan blouberge, rooiberge en voor grys, bruin en groen!



Voutjiesberg

Vir der myle het ons verby, wat soos interessante gruisgroewe gelyk het, gery. Maar niks was mensgemaak nie.



Kannone op 'n ry.



Sunday, April 25, 2010

Weswaarts (1)

Die eerste nag slaap ons by Moab, suid-Utah.


Sedert die eerste Westerns in hierdie deel van die land, doer rondom 1920 geskiet is, is dit nie snaaks om voortdurend filmspanne in die gebied rondom Moab raak te loop nie. Moab staan dan ook bekend as Hollywood Oos. Geleë in 'n vrugbare vallei (vir wat dit in Utah beteken!) en ingesluit deur sandsteen rotswande.

Net soos die Israeliete vanouds by Moab, het die Mormone wat in die 1800's hier deurgetrek het na hul "beloofde land", verras gestaan oor die groen eiland in die middel van die uitgestrekte woestyn -- vandaar die naam.


Moab is naby twee nasionale parke geleë, en hierdie ou rof-en-trommel dorpie lok busvragte vol toeriste, asook bergfietsryers vanoor die hele wêreld.

(Wáárom my neukenaar besluit het om die bostaande te verswart en te onderstreep, sal ek nóóit weet nie...)

Rondgery in Canyonlands Nasionale Park (duidelik ‘n nefie van die Grand Canyon….)


Twee vreemdes pas toe mooi in my prentjie'n rukkie later, toe die mistigheid gelig het.



Koerantklip (Newspaper Rock) -- aangrypend om te weet jy staan by petrogliewe wat dateer vanuit die tyd wat Jesus op aarde was! Verskillende stamme het oor die eeue heen hul nalatenskap hier kom "beteken".



Mens moet bietjie onthou hierdie is nie graffiti nie -- die verskynsel om te vloek, bestaan nie in die Indiaanse kultuur nie.


Hoera vir Belofte (karrewaentjie) en Stoffel (ons motorregistrasie is STF)! En ag dankie tog, ek was nie een van die twee Roomse ontdekkingsreisiger-priesters wat deur Utah hoef te gereis het, dieselfde jaar as wat die Declaration of Independance (1776) geteken is.

Sunday, April 18, 2010

In memoriam oor die wêreld -- maar net kortstondig

Terug van ‘n heuglike, vredige en vreugdevolle vakansie. (Suiwer genade ervaar!)

Ek was nie weg uit die wêreld uit nie, maar ag, te heerlik – vir drie weke lank tog nie werklik deel daarvan nie.


Tot nou weer. Toe ek die nuus lees.


* Die Poolse president en 95 ander kom om in ‘n vliegramp

* Vier Duitse soldate sterf in Afghanistan

* Griekeland wankel op die rand van ‘n ekonomiese ineenstorting

* Bloedige opstand in Kyrgyzstan -- 75 dood

* 122 Sterf in ‘n storm in Indië

Terroriste vermoor 20 mense in Myanmar (Burma)

* Vier Spaanse soldate sterf in ‘n helikopter ongeluk

* Papua Guineë is pas getref deur ‘n aardbewing van 6.3 op die Richterskaal


En in ons plaaslike koerant, talle berigte oor die seksuele misbruik van kinders in Denver.


Dan praat ek nie eens van die neerdrukkende gemoedslas wat mens saamdra oor wat in Ouland aan die gang is nie…..


Ek hoor al hoe my ou Ma kopskuddend en op haar tipiese manier sou gesê het: “Die wind waai vandag weer koud van die garsland af.” Ja Moederma, die wind waai koud, baie koud oor hierdie kind van jou.


Kyk ek na die wêreld, dan wil ek sommer partykeer weghardloop dat ek klein word, na wie-weet-waar.


Want dis moord, verkragting, korrupsie en geweld in Ouland. Geloofsvervolging in ‘n derde van die wêreld. Afgodsdiens deur meeste mense, en verraad deur die regering, ook in hierdie land. As ek na die lewe rondom my kyk, sien ek pyn, krisisse, wanhoop, verwarring.


Maar weghardloop, dié kan ek nie.


Bowendien, my weet, my dink en my onthou, gaan saam met my -- waarheen ek ookal sal wil hardloop!


Moet ek dan net sit en bewe van die koue? Dit kan tog nie. Dis mos nie waarvoor die lewe daar is, of ek geskape is nie?


Weer Moederma se woorde: Opkyk! Boontoe-kyk!


Ja -- na God-toe kyk. DIT is al wat oorbly, of ek dit nou wil weet of nie.


Maar ek WIL dit weet. Ek wil dit WEET.


Om dit nooit te vergeet nie.


"Jahweh is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil." (Nah 1:7)