Sunday, March 21, 2010

Dankie tog die dokters is slim

Laat ek nou maar eerlik wees:


Ek is nie in alle sake onbevooroordeeld nie; ek is amper nooit in ‘n goeie bui oor politici nie, en soms kritiseer ek selfs die mediese geleerdes.


Soos met my laaste possie.


En moet tog nie dink ek trap gevoelloos op tone van iemand wat dalk medici in die familie het nie. Ek moet bieg en erken, dat een van ons eie kinders mense met naalde steek en oopsny.


En ja, ek dryf maar so bietjie die spot ook. Eintlik is ek baie dankbaar dat ons van hul dienste gebruik kan maak. Dis mos genade!


So, gee eer aan wie eer toekom.


Want as hulle die dag goed en slim is, nou ja, dan is hulle verstommend goed en slim.


Soos die spannetjie Franse slimjannies wat verlede jaar in Desember aangekondig het dat hulle ontdek het hoe om baie vinnig menslike vel te kweek van stamselle (wil op ‘n latere stadium hieroor gesels).


Tot nog toe, moes ‘n brandpasiënt tot 3 weke wag vir die kweek van selle van sy eie liggaam, en in sommige gevalle was dit dan te laat om sy/haar lewe te red.


Nou kan die hospitaal onmiddelik wanneer ‘n brandpasiënt opgeneem word, nuwe epidermis vanaf die laboratorium bestel, dit as tydelike dekmiddel vir die wonde gebruik, en só die liggaam help om die brandplek te heel.


Dit bied ‘n fenominale oplossing vir brandwonde!


En as dit nie slim is nie, vertel my wat is….


Dankie, Dokter.


Friday, March 19, 2010

'n Appel 'n dag help nie meer nie

Soms dink ek aftrede is wanneer mens jou loopbaan afsluit sodat jy voltyds dokter toe kan gaan.

Dis die werklikheid van die nuwe lewenswyse waarna jy sooo lank uitgesien het.


Jy sit jou sit te sitte in wagkamers. In die Goue Jare Kliniek sit en wag jy om die ondersoek te ondergaan wat geen mens behoort te ondergaan nie – en hierna is daar sekerlik niks méér wat enigiemand omtrent jou lyf te wete kan kom nie.


Baie vinnig is mens se eie uitrustinkie vervang met ‘n skamele net-agter-die-nek-

vasknoop-jassie -- en nou is daar van weghardloop en ontsnap geen sprake meer nie. (Gewis die rede vir die dra van hierdie kledingstukkie.)


Die hoogtepunt van die wagtery is die gesprek met die vissies in die akwarium, terwyl jy wag, en wag, en wag om by die volgende “toetsstasie” uit te kom.


Soos gewoonlik gee niemand enige terugvoer oor die vorige uitslag nie, hoewel dit jóú lyf was wat betas, bevoel en bekyk is, en die uitslae van die ondersoek onbetwis jóú geregtelike eiendom is. Maar nee…eers is daar meer dokters en nog toetse.


Elke nuwe toets is erger as die vorige een. En wanneer mens heel laaste by die stresstoets uitkom, is jy net een bondel senuspanning, sodat die lesing hemelhoog is (met voorbedagte rade? Want só moet jy nou ‘n duur dosis anti-stress medisyne voorgeskryf kry.)


Hopelik waai die lugreëlaar nie die horde voorskrifte uit jou hand uit nie, want teen die tyd wat mens klaar rondgeskarrel het om alles weer bymekaar te kry, sit jy waarrempel met ‘n nuwe rugbesering.


En net as jy dink nou is sake afgehandel en jy kan maar vertrek, bring hulle die papier met die “solvensie” toets -- met die syfers en baie nulletjies, met die dollerteken vooraan.


En die heel laaste ene wat jy moet teken voordat jy vrygelaat word?


Dié ene wat verklaar dat jou boedel die onkoste sal dra as jy dalk van al die getoetsery te sterwe kom.


Goue jare inderdaad – waar die enigste goud dié in die dokters se sak is.....


En net indien iemand sou wonder....ten spyte van al die pille gaan dit besonder goed met my, dankie.


Wednesday, March 17, 2010

AsseBLIEF!! Lees hier (vir in Suid-Afrika)

As jy in Suid-Afrika woon, MOET jy hierdie brief ernstig opneem. Asseblief!

Dit is nie 'n grap of oëverblindery nie!

As jy vir jou kinders in Suid-Afrika omgee, moet jy anders begin dink en hulle help om reg op te tree.


Vrydagaand 29 Januarie 2010 het my dogter saam met die gemeente se jeuggroep na die Waterfall Mall in Rustenburg gegaan. Hulle het net gaan uitreik. Sy was deel van ‘n groepie van drie.

Terwyl hulle geloop het, was sy op 'n stadium 'n paar tree agter haar maats toe 'n swartman haar aan die arm gryp. Hy het hom voorgestel as Ben van Zimbabwe en haar eenkant toe probeer trek. Sy het gevries en besef sy is in 'n yslike gevaar. Daar was 'n tweede man wat 'n entjie verder vir hulle staan en kyk het.

Sy het die jeugpredikant sien aankom en sy aandag getrek. Die Zimbabwiese man het weggeloop, terwyl sy vir die jeugprediker vertel wat gebeur het.

Hy het die man agterna gesit en wou weet wat hy wou hê. Die man was arrogant genoeg om te sê " I like that girl, I want that girl". Toe vra die predikant wie hy is en het hy geantwoord: "I am a crook and a dealer".

Ek wil nie dink wat kon gebeur het nie. Ek eer die Here vir Sy beskerming.

Die realiteit is dat hierdie mense hul teiken gryp, inspuit en ontvoer. Hierdie goed is bevestig en moet nie ligtelik opgeneem word nie! In Rustenburg is dwelmhandel 'n groot probleem.

Ek het ook soos wat jy nou dalk doen, na e-posse gekyk en gedink dit is oordrewe -- totdat dit met ons gebeur het. Ek pleit by jou dat jy jou kinders moet inlig en dat hulle nie sommer alleen mall toe, of elders heen moet gaan nie. (Hierdie dinge gebeur selfs terwyl hulle in ‘n groep is!) Leer hulle om oplettend te wees en alarm te maak.

Skole moet ook met die kinders hieroor praat en hulle asseblief inlig.

Dankie dat jy die e-pos gelees het. Ek voel dit my plig om mense in te lig en hulle voorkomend te laat optree. Kom ons beskerm dit wat God aan ons toevertrou het.



STUUR hierdie e-pos, met my toestemming, aan al jou kontakte. Mense moet weet wat aangaan, en optree om hul kinders te beveilig.

Ds. Manie Delport

Tel: 014 592 4508 (Kantoor)

~~~~~~
(Ek het hierdie omsendskrywe ontvang van 'n vriendin wat die mense ken met wie dit gebeur het -- mariki.)

Sunday, March 14, 2010

Kou en kuier

Ek het ‘n hekel aan koue kos. Of liewers, aan koud-geworde kos.

Mens doen dan tog soveel moeite met die voorbereiding van ‘n gesonde en aptytwekkende bord kos (om nou nie eens te praat oor hoe lank jy voor die tyd beplan aan “wat kook ek vandag?” nie).


Daarom is dit nou al jarre dat ek loop en wonder (soms sit ek ook om dieselfde ding te doen), hoe om kos aan tafel warm te hou.


Want ek bedien ‘n gekookte maaltyd op ‘n warmgemaakte bord, net om so ‘n entjie weg deur die ete agter te kom dat die volgende vurk vol kos, nou nie veel meer as lou is nie.


En daar sien ek toe netnou op die internet die oplossing (wel, nie heeltemal nie, maar dis ‘n goeie begin):




Sover as wat mens op sig kan uitmaak, is dit ‘n gewone tipe bord. Maaaar...maak hom vir ‘n minuut lank in die mikrogolf warm, en siedaar – jy kan maar stadig eet en rustig kou, want jou kos word vir ‘n volle halfuur lank vir jou warm gehou terwyl jy al gesels-gesels sit en kuier-eet.


Wat meer is, dis net die middelkol van die bord wat verhit word, sodat jy dit maar met kaal hande uit die mikrogolfoond kan uithaal en tafel toe dra, soos mens hieronder uit die hitteverspreiding in die bord kan sien.

En vergeet maar nie die ou koffietjie aan die einde van die feesmaal nie – skink dit in die beker van dieselfde stel, en tot jou laaste ou slukkie is net so strelend hittig soos die eerste ene.


Maar, soos ek gesê het, sien ek dit nie heeltemal as die gepaste oplossing vir my nie – hoe erg ek nou ook al oor warm kos is. Want hoe kan ek met 'n hele paar gekoopte en geërfde (maar darem nie gesteelde) borde in my kas, nóg ‘n stel aanskaf teen R235 per bord?

A nee-a, tot ek met ‘n meer praktiese plan vorendag kan kom, moet ek maar net minder praat en vinniger eet, dis al.

Thursday, March 11, 2010

Het jy "familie" in Indonesië?

‘n Bybelvertaler uit Indonesië skryf:

“’n Kort rukkie voor die bekendstelling van die Nuwe Testament in die Bauzi-taal, het ‘n jong man van dié stam na ons huis toe gekom. Ek het een Nuwe Testament by my gehad, en ek probeer toe my bes om dit weg te steek sodat dit saam met die ander Nuwe Testamente uitgedeel kon word.


Maar hierdie broeder het dit uitgevind en daarop aangedring om die Boek te sien.


Hy het die Nuwe Testament in sy hand gevat, God hardop daarvoor gedank, en toe net daar gestaan en soos ‘n kind gehuil.”


Bauzi is een van die meer as 700 tale wat in Indonesië gepraat word, en hierdie stam woon op die eiland Papua.


Oorspronklik was hulle ‘n agressiewe groep afgodsdienaars, maar omtrent 65% van die stam (ongeveer 1 500 sterk), is nou Christene.


En hulle is oorstelp van vreugde om uiteindelik die Nuwe Testament in hul eie taal te kan lees!


Só sorg God vir die uitbreiding van Sy Koninkryk -- en word die Christen-familie elke dag meer talryk!

Monday, March 8, 2010

Ekskuus Teekoppie, ek bedoel, Teepoppie

Laaskeer geskyf oor die tee-liefhebbende Ouma en haar nuwe kleinkindpoppie met die naam van Teagan.

Nou wil ek die dame (wat ek nog nooit ontmoet het nie, wie se naam ek waarskynlik nooit sal ken nie en wat nie eens kan droom dat ek oor haar danighede berig het nie), en vir klein Teepoppietjie soort van om verskoning vra. Nou nie dat ek dink dat ek té lelik met hulle was nie, maar darem.

Lees toe mooitjies dat Teagan ‘n ou Ierse naam is wat “digter” beteken. In Gallies was dit tadhg. Kom waarskynlik van die Ierse van Ó Tadhgáin.

Soortgelyke name:

* Keagan (Iers)

* Meagan (Wallies)

* Reagan (Kelties)

En die volgende slaapliedjie dra ek graag formeel en sommer oor die vreugde van kleine babetjies, aan klein Teagan op:

Thursday, March 4, 2010

Ag, Kaspaas, Kaspaas, waarom tog is jy Kaspaas?

O Romeo, Romeo, wherefore art thou Romeo?

Deny thy father and refuse thy name.


Kyk, sê die Hollanders: Oor smaak val nie te twiste.


Overgesetsynde: Smaak verskil, en wie sê my smaak is sodanig beter as joue? (Behalwe natuurlik dat ek wéét dit is!)


Ek het ‘n rukkie gelede opgehou met die maak van ‘n laaaang lys van hedendaagse Afrikaanse name waaroor ek ‘n possie wou skryf. Gedorie, as dit kom by die uitdink en opmaak van name, dan dink ek die Afrikaners wen loshande – of is dit dalk verloor loshande? Want mense, volgens my kry jy van die lagwekkendste samevoegsels, opmaaksels en verdraaisels denkbaar, wanneer dit kom by Afrikaanse naamgewing.


Maar nou ja, ek wil tog nie op enigeen se tone trap nie want dit vat immers baie breinkrag, oorspronklikheid en tyd om met ‘n nuwe naam vorendag te kom. Dis omrede van dié vleiende en naaste-liefhbbende gedagte dat daardie possie nooit die lig sal sien nie.


Maar vanmiddag lees ek van ‘n dame hier te lande wat ‘n groot aanhanger is van tee, teedrink en alles wat met dié geliefde drankie te doene het. Skoon ‘n prys uitgeloof met die geboorte van haar kleindogter –- natuurlik ‘n pragtige teekoppie, verskillende soorte tee en ‘n mooi boekie oor teedrink-gebruike.


En die naam van Ouma se nuweling?


Teagan.


Maar wie is ek om my daaroor uit te laat?


Want oor smaak val nie te twiste, sê die Hollanders.


Tuesday, March 2, 2010

Dankie broer, jy het dit verdien

Ek het nou nie besonderlik ag geslaan op die Winter Olimpiese Spele nie. Niks daarteen nie (behalwe die oordaad van geldbesteding met die opening- en afsluitingseremonies, terwyl die ganse wêreld onder droewe ekonomiese omstandighede gebuk gaan).


Maar dis maar net dat ons so besig was met allerlei, dat ons nie by Spele-kyk uitgekom het nie.


Ek hoor egter van een agtergrondstorie wat ‘n onuitwisbare indruk op baie kykers gemaak het.


Met die begin van die Spele het Kanada nog nooit ‘n goue medalje op eie bodem gewen gehad nie, al het hulle al twee maal vantevore ‘n Olimpiese Spele aangebied (’76, ’88).


En toe, reg aan die begin van hierdie Spele wen die Kanadees Alexandre Bilodeau die goue medalje in sy ski-afdeling –- en die Kanadese se vreugde ken geen perke nie.


Maar daar is meer aan sy storie. Alexandre het ‘n jonger boer, Frédéric, wat serebraal geremd is.


En toe Alexandre oor die wenstreep ski, toe wys die kameras vir Frédéric daar langs die baan: arms hoog in die lug en sy gesig die pure vreugde. Presies asof dit sy goue medalje was.



Alexandre erken ruiterlik dat Frédéric sy bron van inspirasie is.

Dat wanneer hy regtig nie lus is om te gaan oefen nie, die gedagte aan Frédéric wat sou wou, maar nie kan nie, hom aan die gang laat kom.


Dat wanneer hy nie soggens kans sien vir nóg ‘n hele dag se geoefen nie, hy dink aan sy broer in sy stootstoel, wat skaars kan praat, en dit word dan sy motivering vir die volgende skof.


“So al reën dit katte en honde, dan gaan oefen ek. My broer het so min in die lewe, maar elke oggend is hy die een wat jou met ‘n stralende glimlag groet.”


Ja, waarlik, dit was Frédéric se goue medalje ook.