Showing posts with label die lewe. Show all posts
Showing posts with label die lewe. Show all posts

Tuesday, September 13, 2011

Tyd en hoogtyd


‘n Tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan....en as mens te lank wegbly moet jy oppas, of jou blokmaters mag dink, jy (dis nou ekke) -- het besluit dit is beslis net hier die gerieflike tyd vir myse kraaltjie om af te sterwe.

Dêffenitief néé EN aikona. Dit sou mos moord wees om hierdie ou kuierkraaltjie van my nek om te draai! As’t ware so goed soos om ‘n eie kind by die deur uit te jaag.

‘n Ander logiese moontlikheid vir die "stilstatus" sou kon gewees het, dat ekself dalk nie meer op die ondermaanse was nie. Sal dalk eendag gebeur, hoor – nie “dalk” nie -- dis nou die doodgaan, want dis mos tog wat op ons almal wag. Maar dat ek net in stilte sal wegraak met kraaltjie daar medeby is goed moontlik, want liewe Vennoot het g’n basteridee van hoe om by hierdie geselsplek uit te kom indien hy oor my heengaan sou moes publiseer nie.

(Heeltemal anders as die ou wat vir sy vrou die opdrag gegee het:

As ek die dag finaal disnis is,

my assies in ‘n nis gekis,

kan jy maar oral vonkpos stuur:

die ou is oor “ en in“ die muur!)

Nou maar wat het dan gebeur om my langerekte stiltetyd te veroorsaak?

Verskonings, verskonings: kinders en kleinkinders en ver reis en lank vat met die terugkomslag, en weer ‘n keer die vlaktes inry.

Kangaroeland toe gewees vir ‘n kinderkuiermaand tot helfte Maart; drie weke tuis; opry Halifax, Kanada toe saam met Vennoot aan begin April vir die geboorte van die tweelingfeetjies -- tot my tuiskoms so al terug by mysigselwers met die langpad langs, ‘n tyd gelede. Daarna groot vreugde toe die Australiërs hulle vir vyf weke hier by ons kom tuismaak het. Toe weer laasweek die wiele vir 900 myl ver laat draai saam met Vennoot, om die noordwestelike hoek van Colorado bietjie te verken so voor die koms van die winter.

En van al die dinge en doene sal ek dalk nog vertel.

Dit was ‘n ryk tyd; ‘n moegwerk tyd; ‘n dinktyd; 'n rustyd;‘n liefhê tyd en die hele tyd kon ek sê: “Die Here het vir my die meetsnoere in lieflike plekke laat val.”

Ja, die afgelope paar maande was verrykend en vervullend.

Ek het waarlik gelééf. En daarom wens ek ook vir jou vandag in die woorde van Jonathan Swift toe:

“May you live all the days of your life.”

En mits dese sê ek dan weer “hallo” aan almal van die liewe julles! (Gróót verskoning aangeteken, want julle het vriende geword met die tyd saam, en my vriende is kosbaar.)

Tuesday, August 31, 2010

Behoorlik poegaai

Kan ook nie anders nie: het Donderdagoggend voordag hier afgesit Kentucky toe, so al padlangs deur Kansas, Missouri, Illinois en Indiana – ‘n hele 1 862 km heen, en toe weer 1 862 km terug, gister.


Wat mens ook nie alles vir jou kroos sal doen nie. Julle weet mos die spreekwoord sê, ouers sal hulself uittrek vir hul kinders – nou darem nie vóór hulle se kinders nie -- tog hopelik nie.


En uittrek was ook nie deel van die doel van die reis nie, nee, moeder het ‘n mooi rokkie uit die tas gehaal vir die funksie waar Jongste-maar-grootste-Seun, sy “balkies” op sy skouers gekry het as ‘n nuwe luitenant in die National Guard van ‘Kintuck’. (Ses-en-sestig kandidate het begin, maar net 16 manne het klaargemaak.)


Elke staat het sy eie groep Guards.


Hoe staan “National Guard” te vertale? Nasionale Garde? Ek dink nie so nie. Maar

“by any other name” genoem ofte nie, hulle word opgelei deur, en maak deel uit van die Amerikaanse weermag. Is oorspronklik in 1636 in die lewe geroep om Amerika hier binnelands te verdedig.


Ook om te help in geval van natuurrampe, soos met Orkaan Katrina en die groot bosbrande in Kalifornië verlede jaar, waar hulle onmisbare hulp gelewer het.


Maar toe hierdie land se regering na hartelus begin oorlog maak, wettig of onwettig, toe word die NG sommer oorsee ook ingespan. Die mag in Irak het uit meer as 40% NG-lede bestaan, en dié in Afghanistan tans uit 55%.


Soldaatwees is nooit speletjies nie. Selfs nie tydens opleiding nie. Seunskind se hakskene het eenkeer met ‘n veldmars so stukkend geskuur en gebloei dat die “medics” hom aangesê het om uit te val en hospitaaltent toe te kom – wat die einde van sy offisiers-opleiding sou beteken. Hy het geweier en drie ure later met terugkoms by die basis, was sy stewels so bloedbevlek, dat hulle moes asdrom toe -- en hy in die hospitaal gedraai het.


Hy kan dus regtig sê dat hy sy balkies met sweet en bloed verwerf het.


(En ek is seker met trane ook – maar daaroor sal ‘n man mos nie praat nie.)



Thursday, February 4, 2010

Ek wen steeds met 3 minus 2


“Falling on my face is still forward motion, and it helps me to remember that 3 steps forward with 2 steps back, is still one step closer to where I want to be.”

`Unknown

(Anders gestel: ek moet onthou, aanhouer wen.)

Tuesday, February 2, 2010

Die land van (t)alle moontlikhede

Groot bewondering vir die feit dat in hierdie land daar sovele moontlikhede vir sovele mense bestaan. Sekerlik is Amerika die onbetwiste leier in die wêreld op hierdie gebied.


En dit is opwindend om dit te beleef. Dat baie, baie mense in staat gestel word om hul potensiaal, drome en ideale uit te leef.


Maar soms, net soms, dan kry ek lag vir party van die idees wat dus ook tot uitvoer gebring kan word: hier naby ons by ‘n hoogaangeskrewe hospitaal word kursusse (teen betaling) aangebied in die Lamaze-geboortetegniek; borsvoeding; baba-versorging; baba-noodhulp en ook….Introducing Your Dog to Your Baby.


“Learn to help your dog adapt to the new addition and create a safe environment for both dog and baby.”


Anderhalfur lank.


Koste: “net” R150.


(Verstaan ek iets nie mooi nie, of is Ouland se honde maar net sommer vanself op die spoor....)


In elk geval, ek hoop waarlik die honde hier naby, kan die klas verniet meemaak.




Duidelik het hierdie gedierte se mense nie die klas geloop nie....


(Alle foto's NMN -- nie myne nie)

Sunday, January 31, 2010

Hou dit vir jouself

Wat is dit tog wat die mensdom so interesseer omtrent naaktheid?

Of hulle laat dink, andere is geïnteresseerd in hulle sonder-klere-wees.


Ek is waarlik al verby satwordens toe moeg om, wanneer ek aartappels of pampoen op koerant skil, in die gesig gestaar te word deur boesems en boudetjies. Mens kan nie daarvan ontsnap nie, nie eens in jou eie kombuis nie – want televisie met al sy kômmingeit, gevloek en kaalbasgeit, dié kyk Vennoot en ek tog lankal nie meer nie.


Maak geen fout nie – die menslike liggaam is vir my mooi, baie mooi; veral as dit ‘n pragtige jong perskeblom-meisiekind of goedversorgde ouer vrou is, wat net straal omrede van wie sy is – nie omrede van iets (of alles) wat sy aan jou (en almal wat tog asseblief net wil kyk), wil wys nie!


(Het dit al ontelbare kere gesien, dankie. Jy is maar net nóg een wat wil uithang.)


Genadiglik (en dit is NET genade), is die meerderheidsgevoel in meeste lande darem nog teen (totale!) kaalgeit.


Nie in Spanje nie.


Ná Franco se diktatuur het die Spanjaarde totale vryheid gesoek, en hulle grondwet veroorloof naaktheid oral: of jy nou op die strand sonbruin, of inkopies doen in Barcelona. Onbeskaamd het talle nudiste dus al by verskeie geleenthede in die Spaanse strate geparadeer en seker “o, so vry”, gevoel.


In Noorweë is ‘n beeldhouer besig om ‘n naakte Christusbeeld in opdrag van ‘n kerk daar, te skep.


‘n Ander naaktheids-“kunstenaar” (weet nou nie so mooi van die kuns nie, maar die naar…?) is die fotograaf Spencer Tunick. As hy nie 600 naaktes by onder 10ºC in die Alpe afneem nie, dan is dit 2 754 in die lavinntel-velde in Ohio, of 18 000 ou kales op Mexicostad se hoofplein – in die stralende sonskyn.


En dit alles dan nou glo omrede van vryheid, kuns en persoonlike uiting.


Dog, een van die vroulike deelnemers aan dusdanige fotosessie in Amsterdam, sê toe sy ná die tyd (aangetrek) op haar fiets terugry huis toe, tref dit haar dat sy haarself veel beter kan aktualiseer deur haar eie unieke en persoonlike klerestyl!


Maar aardsnudiste weet glo te vertel, kaalloop gee jou ‘n onvergelyklike gevoel van gelykheid en vryheid en vreugde.


Om openbare kaalgeit te beoefen, is dus glo wonderlik.


Ek mis dus iets wonderliks? Ek is dus aan die verloorkant?


Hierdie keer gee ek nie ‘n kale duit om nie – you can have it all (dis buitendien alles joue).


Gaan “have” dit asseblief net waar ek en (baie) ander wat nie wil weet hoe jou naakte waarheid lyk nie, dit nie hoef te sien of te bekyk nie.


(Ter inligting: Dis 'n naakfoto links bo, maar ek het dit gesensor tot ons almal se stigting. Uhm...)


Thursday, January 14, 2010

Die lewe se onthou

So is Kersfees 2009 amper vergeet alweer agter die rug.


Die jaar van onse Here 2010 (is dit nie die mooiste manier om dit te benoem nie?) het stilletjies aangebreek, ons laaste kinders is ook weer terug na eie huis en haard en saam met die gemis van die heerlike pret, gewoelery en gelag deur, word die Kersboom afgeslaan, lakens en handdoeke gewas en speelgoed gebêre tot ‘n volgende kuier.


Om dit nogmaals te kon beleef het, en boonop nogal hier in Annerland – dis mos van die bestes van genade!


Dus dan: verlang moet hierdie ma en ouma nou maar. Daaraan is nie te ontkom nie. Die kosbare herinneringe is immers gemaak, en dié sal lang jare in ons harte leef.


Bowendien, so skryf die digter Barend Toerien mos: Om te onthou, is om te lewe.



Thursday, October 8, 2009

Een van dáái dae

Vandag was NIE my dag in die kombuis nie…

Gelukkig is ek vir die volgende drie dae “kombuisvry” – ons is oppad na ‘n sendingkonferensie.

Ek kan nie wag nie!....Maar regtig, dis NIE oor die kombuisstorie nie!
















Monday, August 17, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(laaste)

Wie, ek, Here?!
Toe ek weer gewaar, is Linda besig om haarself moeisaam dwars te draai en uit haar sitplek orent te kom. Sy steek stadig haar linkerhand met die polsstut na my uit. Ek is reeds by haar en vra net dat Jesus my sal wys hoe om haar tog die beste van hulp te wees.

(En toe onthou ek met 'n skok -- daar is mos 'n badkamer aan die agterkant van die bus!! Dus géén uitkoms om te wag vir die volgende bushalte en om die dame oorkant die paadjie te mobiliseer nie!!)

Maar die volgende oomblik steek ek spontaan my arms na haar toe uit met die palms oop na bo, en vat haar onder haar twee elmboë vas, terwyl sy dieselfde met my doen. So beweeg ek treetjie vir treetjie in die onstabiele gangetjie tussen die sitplekke agteruit, terwyl sy my met kreupelstappies volg. Want tot nou toe het ek nie eens gesien dat die een voetjie effens na buite gedraai staan, en die ander een in ‘n ortopediese toerygstewel is nie. En ook nie dat haar arms donkerbruin is van pigmentasievlekke, deurspek met spookwittes nie.

Só vorder ons, stadig maar seker na die agterkant van die bus en terwyl ek daarop konsentreer om haar te help regop hou, vloei ‘n liefde en vreugde deur my vir hierdie vrou, soos waarvan ek lanklaas bewus was.

Later, nadat ek haar in die badkamer help regkom en toe weer op haar siplekkie sitgemaak het, en die busbestuurder by die volgende stopplek so goedgunstiglik geweier het dat enigiemand anders as hy vir haar ete betaal, is ons weer onderweg.

Ek het verwag sy sou nie kon wag om die kos gulsig te verslind nie. Maar nee, soo, ek wil amper sê elegant, het sy warm aartappelskyfie vir warm aartappelskyfie uit die pakkie gehaal, dit stadig in haar mond gesit, en met ‘n glimlag sit en kou. Net so met die hamburger. Duidelik het sy elke happie wat sy geneem het, deeglik geproe en haar behaaglik daarin verlekker. Daarna haar hande ewe sorgsaam met ‘n natlappie afgevee.

Toe, soveel anders as vroeër die dag, trek sy haar kombersie tot onder haar ken, en raak rustig aan die slaap.

En hierdie keer, toe ek haar al slapende sien oorkantel en byna van die sitplek afgly, het ek nie bedinktyd nodig gehad nie. Ek het eenvoudig my klein reiskussinkie onder haar kop ingewikkel en met my hande ‘n bakkie daaronder gevorm, sodat hierdie geringste ene van Jesus, heerlik gesit en slaap het soos ‘n kind, veilig en geborge.

En nie minder nie het ek, rustig en dankbaar, vrede gehad by die Here. Hy, wat dit goedgedink het om my nog ‘n stukkie van my mislike, bedrieglike eie ek te laat aflê op hierdie reis -- nie net van Kentucky na Colorado nie, maar op die pad van minder-word-sodat-Hy-immer-meer-mag-word.

Sunday, August 16, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(2)

[ Om verder eerlik te wees oor hierdie gebeure wat die Here Self so duidelik op my pad gebring het -- ek het weens ‘n administratiewe fout op daardie bus en spesifiek op daardie sitplek beland -- skets 'n minder mooi prentjie van my. Wens ek kon vertel hoe ek selfloos en sonder om te dink, inderhaas die sukkelende vrou voor my op die bus te hulp gesnel het met groot oorgawe! Maar nee, die sondige oue mens sit ‘n horibale en hardkoppige bakleiery op as dit hom/haar pas….]

Dus:

Die bus is reeds weer onderweg, maar die kermgeluidjies en die kneukelkappery duur voort. Ek sit my hand versigtig op die ontstelde vrou se skouer. Sy ruk eers weg, en draai dan stadig haar hele lyf om te sien wie aan haar vat. ‘n Helder blou oog bekyk my aandagtig deur die lens van die halwe bril.

Ek buk en tel die notaboekie op. Skryf met groot letters: “I will buy you food at the next stop.” Gee dit dan aan haar. Verbasend vlug lees sy die woorde, kyk weer deurdringend na my, en maak ‘n vingertaalteken vir “goed”. Drukskrif dan “ need go bathroom” en wys dit vir my. Ek knik en sy draai weg vorentoe.
Verlig sak ek in my sitplek terug, so bly dat ek iets vir haar kon doen. Noudat sy my aandag getrek het, bly ek oormatiglik bewus van haar en haar ontsteltenis en my gedagtes maal rond.

“Here, U weet hoe ‘n privaatmens ek is. U weet hoe moeilik dit vir my is om fisies by mense betrokke te raak. U het my die gawe van ondersteuning gegee, deur mense te bemoedig met woorde en gedagtes en boeke en briewe; maar tog nie om letterlik die dowes en blindes en die verminktes aan te raak nie? U Self het my mos gemaak met die tipe persoonlikheid wat ek het. U maak tog mense verskillend en gebruik hulle verskillend?”

Ek sien hoedat die vrou haar buskaartjie sit en beskou. Lees dis uitgereik aan ene “Linda Byerd.”

“Vader, as u wil hê dat ek hierdie mens, .…Linda.... dalk fisies moet help, moet U my help. Ek sal nie weet hoe nie.” (Voeg nie by dat ek eintlik nie wil kans sien nie.)

Nou eers kom ek agter dat die passasiers naaste aan ons, ook betrokke geraak het by die gebeure en alles deeglik sit en beskou. ‘n Mollige vrou van oorkant die paadjie glimlag met my. “Hmm, vir jou gaan ek vra om vir Linda te help as sy dalk by die volgende busstasie badkamer toe wil gaan,” dink ek verlig.

(Nee, maar so werk ons Here nie volgens ons ou plannetjies nie. En ek is seker Sy sin vir humor kom ook sulke kere in die prentjie -- soos ek toe ook ter bevestiging sou uitvind!)

Friday, August 14, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(1)

Sy sit reeds op die voorste sitplek in die bus toe ek reg agter haar, langs die vriendelike Amerikaanse boeretannie neersak. Met die opklimslag het ek gemerk dat sy beslis nie gewoon was nie, maar "goed opgevoed" en ewe polities korrek, het ek nie meer as vlugtig na haar gekyk nie.

Dis die voorlaaste lang skof oppad Denver toe, deur Kansas. Ek en die boeretannie raak aan’t gesels asof ons mekaar jarre lank al ken, maar net baie lanklaas gesien het.

So tussendeur merk ek uit die hoek van my oog dat die vrou op die voorste sitplek met groot klem sit en vingertaal praat -- die linkerhand en -pols in 'n kort stut -- so in die leegte in voor haar. Hmm, doof, of selfs doofstom dus. Maar ek en die Amerikaanse tannie geséls. En die buswiele vreet die myle op.

Dis eers toe my geselsgenoot afklim by ‘n klein haltetjie oppad na haar suster, dat ek myself regskuif om uiteindelik ‘n rustige leeskansie ingepas te kry. Salig.

En toe trek die vrou voor my vir die eerste keer werklik my aandag. Sy is verstommend “nie gewoon nie.” Sy het na alle waarskynlikheid onlangs ‘n operasie iewers op die voorste helfte van haar kop gehad, want die haartjies daar moes afgeskeer gewees het en staan nou net so stoppelhoog orent. Die langerige, ligbruin hare op die agterkop is in ‘n poniestert vasgevat.

Sy kan nie haar regteroog oopmaak nie, en oor die ander oog is ‘n halwe plastiekbrilraam met kleeflint op haar voorkop en teen haar neus vasgeplak.

Haar mond is ingesak en hol – sy het duidelik nie tande nie, en daarmee saam, staan die kennetjie puntig in die lug, presies net soos dié van Hansie en Grietjie se heks wat doer diep in die bos gewoon het.

Maar die vingers “praat”! Heftig en aanmekaar, en hulle hou net op toe die busbestuurder haar iets vra en sy die notaboekie langs haar gryp en met pen-en-al in sy hande druk. Hy skryf, en sy skryf, en hy skryf weer, maar toe hy omdraai en agter die boeretannie aan uit die bus uit klim en in die ruskamer verdwyn, is sy hoogs ontsteld.

Vir die eerste keer hoor ek ‘n geluid van haar kant af. Dis sulke klein babakat-kermpies, terwyl sy haarself heftig met die kneukels van die regterhand teen die kop bly kap.

“Here,” bid ek woordeloos, “help my om haar te help.” En dis toe ek huiwerig oorleun na haar toe, dat ek sien die notaboekie het oopgeval op ‘n bladsy waarop in onnette drukskrif geskryf staan: “Not eat for 2 days. Have no money.”

Thursday, August 13, 2009

Busrit van besinning

Sondagoggend voor hanekraai nog saam met Selfoonseun die pad gevat Kentucky toe -- om hom met die negentien uur-rit geselskap te hou (en dit in 17 uur gedoen), en toe Maandagaand daar op die Greyhoundbus geklim en 26 uur en 1269 myl later hier aangeland!! (Vanoggend halftwee!)

Leersame en besinnende ervaring -- die "down and outs" gesien soos nog nooit tevore. Was vir 26 uur lank die wel-afste mens in die omgewing tussen derhonderde malendes en in-die-ry-stanendes met die oorklimslag vir die volgende trajek.

In vier stede oorgeklim en dan langspad ‘n paar minute op ‘n keer gestop vir badkamertoegaan en kitskos koop. Insiggewende gesprekke met medereisigers gehad. Daggarook geruik. ‘n Pragtige jong meisie gesien sit en ruk van kop tot tone en oë, o só leeg -- ek vermoed a.g.v. dwelmmisbruik. Wesens gesien met geen, maar geen ongetatoeërde sigbare plek op die liggaam nie. En moes kyk hoe kindertjies emosioneel verniel word drie-uur in die oggend wanneer hulle veilig en knus in ‘n warm bedjie moes kon geslaap het.

O, wat ‘n deursnit van ‘n stukkende en verwoeste wêreld.

En met soooveel dankbaarheid later vanoggend my oë in my eie, skoon bed oopgemaak: nie blind of kreupel nie; nie verwaarloos of arm nie; nie ongelooflik oorgewig nie. Nie honger nie. Nie ongeliefd en verwaarloos, verwese of uitgestote nie.

En met vrede en veiligheid tuis by Jesus.

Here, in U groot genade, sorg vir die armes, die verwaarloosdes, die lewensverminktes. Ek kan nie, in elk geval nie meer as wat een mens kan nie, maar U is almagtig en liefdevol.

Here….help….

Tuesday, July 28, 2009

Hierts, maar dit gaan GOED met my!


En met jou?

As ons die totale wêreldbevolking kon gelykstel aan 100 mense wat saam in een klein gemeenskappie woon, dan sou:

• Ses van die 100 mense 60% van alle rykdom besit.
• Jy, as jy ’n paar muntstukke in jou sak het, slegs een
uit agt van die 100 wees wat enigsins geld het.
• Een uit die 100 ’n rekenaar hê.
• 50 uit die 100 honger ly en ondervoed wees.
• Jy, as jy in die oggend wakker word met goeie gesondheid, nie onder die 1 miljoen mense wees wat gedurende hierdie week die laaste asem uitgeblaas het.

Geniet jou dag!
(En o ja, ons weet vir Wie om dankie te sê, né.)

Thursday, July 9, 2009

Ry sal ons ry


Vennoot is besig om die huis te verf en op te knap. Vanoggend is dit heerlik koel genoeg om die buitenste vensterrame by te dam.

Ná ‘n soektog deur sy verfblikke in die motorhuis, kom hy teleurgesteld in die kombuis rapporteer: “Niks van die regte kleur nie en ek verpes dit om eers te moet ry om die regte goed te gaan koop as ek wil begin werk.”

Hmm Venoot, en hoeveel keer per week ry ek kruidenierswinkel toe….

Friday, April 17, 2009

Sprokie


Net voor haar optrede op die Britse Televisie se Talentkompetisie vertel sy gou dat sy werkloos is, alleen bly met net haar kat Pebbles as geselskap in die huisie waar sy haar ma tot haar sterwe toe opgepas het, en dat sy nog nooit getroud was of deur ‘n man gesoen is nie.

So ‘n outydse, vyftigerjare kerktannie-voorkoms, dubbelken, ‘n amper onverstaanbare Skotse aksent, kom van ‘n klein ou dorpie af, sy kan haarself nie goed uitdruk nie, sy is eenvoudig en --- boonop is sy OUD!

Só het die gehoor en die beoordelaars haar afgeskryf -- totdat sy begin sing, en die soetsuiwer klanke van “I dreamed a dream” om hulle vou.

Toe het Susan Boyle hulle op hul voete!

En as ek na die video kyk en haar hoor sing (al meer as eenmaal!) dan wil-wil die trane loop. En dis die reaksie by meer as een vriendin, en ek lees dit raak in die pers en op die internet. Want oornag is sy ‘n wêreldsensasie met meer as 13 miloen YouTube-kykers.

Nou waaroor huil ons? Wat is dit omtrent hierdie vrou wat ons so diep raak? Waarom tog wil huil as die glasskoentjie so voor ons oë aan Aspoestertjie se voet glip?

Ek dink ons huil omdat haar talent nooit raakgesien of ontwikkel is nie; oor die verlore tyd; oor ‘n gawe wat vir 47 jaar lank amper doodgesmoor was van iemand wie se stem met dié van Julie Andrews s’n vergelyk word.

En ons huil oor die kinderlike egtheid van ‘n eenvoudige mens wat die moed van iewers af moes bymekaarskraap om ‘n blasé (sou sy ooit die woord ken?) en afknouerige wêreld -- op sy terme -- aan te durf.

En ons huil omdat daar wie-weet hoeveel Susan Boyles rondloop met gawes wat hulle van die Here af ontvang het, en wat elke dag geweeg, te lig bevind en opsygeskuif word.

En miskien huil ons nie net ter wille van hulle nie, maar ook omrede van ons eie, onvervulde ideale en drome.

~~~~~~~~
Ongelukkig is die video'tjie nie aflaaibaar nie, maar doen jouself asseblief 'n guns en gaan loer op YouTube by:
http://www.youtube.com/watch?v=RxPZh4AnWyk&feature=related

Thursday, February 5, 2009

Ou gesegdes en nuwe gedoentes

My ou moederma het vele gesegdes gehad; en verder kon mens jou altyd verlekker as sy die keer aan’t storie vertelle geraak het. Een van die uitdrukkings wat sy so geselliglik kon gebruik as sy verbaas was oor iets, was om te sê… "Nou toooeeeee nou."

Met die "nou" op 'n kort middel C, die "toooeeeee" op E en dan val die tweede "nou" weer af tot op 'n stabiele middel C.

Wel, vandag kan ek ook sê: "Nou toooeeeee nou...."

Gisteraand kom Vennoot naamlik tuis met die aankondiging dat hy nou finaal -- ná lank se dink en weer dink --- besluit het om einde vandeesmaand af te tree.

Ha -- ek het nog nooit probleme gehad om my in enige van my lewensrolle tuis te voel nie, maar.... AFGETREDENE??? Waarvoor staan dit in elk geval?

"AF" (nie op nie, wat gewoonlik darem op positiewe vordering dui), en TREDENE -- "tree" om te beweeg = beweeg af....nader na grondvlak toe....en dieper??!!

Toemaar, toemaar, die tong-in-die-kies-kabouter het my aangepor om te skerts (ek het vroeër van die ditse ou 'duiweltjie' en datse ou 'duiweltjie' gepraat, maar aikona, nie meer nie. Daar is geen manier waarop mens sagkens van die duiwel en sy trawante kan praat nie. "Kabouter" is ook nie suiwer nie, glo vir my, maar kom ons laat die donkere karakters nou maar vereers daar.)

En ook hoor, ek is darem nie totaal gekant teen "afgetredene" wees nie, hoewel ek glo dit sal sekere (en hoe!~) aanpassings verg.

Het jarre lank al vir Vennoot gewaarsku ek sal nie met 'n pottekyker --- dis nou deksels kom oplig in die kombuis en kom vra "Wat kook jy vanaand"-se-styl, kan klaarkom nie.

Was ook nog altyd baie onafhanklik oor die rigtings wat ek ry of loop of nie ry en loop nie, en sommer net sit as ek nie wil loop nie, en nou kan ek dit nie meer ongemerk of sonder verduideliking doen nie....aanpassing se miesies, ek bedoel moses....

HA!! Het nou net die oplossing gevind.

"Nou toooeeeee nou" -- en nou sal julle my moet verskoon....ek moet vir Geliefde loop inskryf vir 'n kookkursus....

Tatta, hoor....

Monday, January 26, 2009

Joey se Olimpiese Spele

Interessant genoeg lees ek toe net vanoggend hierdie kosbare vertelling oor die Spesiale Olimpiese Spele:

Een naweek was ek ‘n vrywilliger by ons kerkgroep wat sou help om ‘n sagtebalspan vir die Spesiale Olimpiese Spele af te rig. Ons het die spelers aangemoedig, “high-fives’ en drukkies uitgedeel. My span was besig om sleg te verloor en ek het begin planne maak om hulle agterna met allerhande flou verskonings te troos, soos onder andere “toemaar, môre is nog ‘n dag.”

Algou kom een van my spelers uitasem aangehardloop: “Twish (vir Trish), raai wat? Raai net wat?! Toe, raai!”

“Wat, Joey?” vra ek en sit my arm om hom sodat hy sal ophou bokspring en ek kan verstaan wat hy sê.

“Ons het TWEEDE gekom!” skree hy, terwyl hy ‘n uitbundige oorwinningsdans uitvoer. Sy hele lyf was die ene opwinding, en sy arms het lomp en los heen-en-weer geswaai soos hy hom verlustig in ‘n goed-afgehandelde taak.

“Dit beteken ons het die silwer medalje gewen!”

Dit het nooit tot hom deurgedring dat die tweede plek, met net twee spanne wat deelneem, laaste is nie.

Nee, daar was geen verloorders in Joey se Olimpiese Spele nie.

Thursday, January 22, 2009

Afgedankte verdriet

Dis nou laataand se halftwaalf en ek weet sommer: vannag gaan daar min kom van slaap.

Ek het regtig nie laasnag te veel geslaap nie, ek kry genoeg oefening en ek makeer genadiglik niks nie – maar ek is siek. Ek is siek en ontsteld en my hart huil oor die ellende en swaarkry en droefheid in hierdie wêreld – opnuut vir my onderstreep deur die gesprek netnou met ‘n vriend uit Portland, Oregon uit, oor sy ervaring vandag.

Hy beklee ‘n goeie pos by ‘n sterk nasionale maatskappy wat ook buitelandse belange die wêreldoor het. Gister het hulle gehoor dat die St. Louis-kantoor in Mississippi 80% van hul werknemers afgedank het, en vandag moes hulle self, 60% van hul personeel summier laat gaan. Vir die eerste keer in sy leeftyd, sê hy, het hy iets beleef wat hy nooit gedink het hy sou sien nie: kollegas wat in die gange van die gebou rondstaan en huil, hardop huil.

Ag mense, ek het nie woorde nie…

En toe, teen die einde van die dag, is daar ‘n klein afskeidsfunksie gehou, versnaperings en drank is bedien. En die afgedankte manne – en vroue – het gedrink. Meeste meer as te veel. Om hul sorge te versuip.

Ek huil oor daardie mense se probleme en hul nood.

En ek huil ook oor die ellende van mense wat geen ander heenvlugplek het as om te diep in die bottel te kyk nie, Want môre wanneer hulle wakker word, gaan hulle immers nog steeds werkloos wees. Hulle rekeninge gaan nie oornag betaal wees of die skok van werkloos gelaat wees, met dalk ‘n gesin om te versorg, in die niet verdwene nie.

Maar…hul heenkome gaan hulle dalk nog steeds nie by die Bron van Lewende Water soek nie.

Ek huil oor die tragiek van mense wat werkloos, maar bowe-al, Godloos is.

Wednesday, January 7, 2009

En toe is dit regtig nie so belangrik nie



Charles Schultz, die skepper van die Peanuts-strokiesfiguur, se filosofie.

Hoeveel van die volgende vrae kan jy beantwoord:

1. Wie het in 2004 die Eugene Marais Prys vir prosa gewen?

2. Noem die laaste ses wenners van die Mej. S.A.-wedstryd.

3. Gee die name van die vyf rykste mense in die wêreld.

4. Wie is die laaste vier keer se Academy Award-wenners as beste akteur
en aktrise?

5. Noem tien Nobelpryswenners.

6. Wie was die kaptein van die Baleka (wat die Kaap na Rio Wedvaart
in 2003 gewen het).

Hoe het jy gevaar?

Dit bewys maar net: nie een van ons onthou gister se hoofnuus nie. Hierdie mense was immers nie tweederangse presteerders nie. Hulle was die beste op hul gebied.

Maar die applous vervaag.

Die silwer van die trofee verdof.

Prestasies word vergeet.

Sertifikate vergeel.

En uiteindelik keer ook die presteerders tot stof terug.




(Ek het Schultz se vrae so bietjie aangepas en “versuidafrikaans”.)

Thursday, October 23, 2008

Van vreugde en verdriet























Eergister kuier ek op verskillende blogs.

By Desia die groot opwinding oor ‘n nuwe lewetjie; by Wipneus die verhaal van vergete oumense in bejaardesentrums.

Spieëlbeeld van die lewe.

Altyd weer sonlig en skadu, lag en trane: altyd weer
vreugde en verdriet.

Geen wonder die digter sê:
Sit Vreude aan tafel om jou maaltyd te deel,
dan wag Verdriet al op jou bed om jou nagrus te steel.

En mens onthou die Hollanse vers: zonder vreugde, geen verdriet, want zonder een, bestaan het ander niet.

Loskom hiervan, kan nie een van ons nie. En vergeefs sal ons probeer om die verdriet te ontsnap.

Maar oee! Dan lees ek Army Carmichael:

“Verdriet is een van die dinge wat geleen, en nie gegee word nie. Iets wat geleen word, mag teruggeneem word; iets wat gegee word, nie. Vreugde word gegee, verdriet word geleen.

Ons behoort nie aan onsself nie, ons is gekoop teen ‘n prys en ons verdriet is nie ons s’n nie – dit is aan ons geleen vir ‘n kort tydjie sodat ons dit mag gebruik met die oog op die ewigheid. Dan sal dit van ons weggeneem word en ons sal die present van ewigheidsvreugde in die plek daarvan kry, en die Here God sal al die trane van ons oë afdroog.

So, laat ons hierdie “geleende” ding gebruik om ons nader te trek na die hart van Hom, eens die Man van Smarte. (Hy is dit nie meer nie, maar Hy het die gevoel van smart en verdriet nie vergeet nie).

Laat ons hierdie “geleende” ding gebruik om ons te dring om liefdevol teenoor ander op te tree, soos Hy gedoen het toe Hy op aarde was; en soos Hy nou, op hierdie oomblik, met liefde en teerheid op ons lyding en verdriet neerkyk.”

En nou wéét ek: mens kan vreugde ervaar te midde van verdriet!