Sunday, February 28, 2010

Twee kante van een munt

As ek my lewe aan Jesus gegee het, dan is Hy my ALLES.


As ek niks van Hom wil weet nie, dan is Hy net een ding vir my – my REGTER.


Wednesday, February 24, 2010

Wat IS dit met die Duitse kinnertjies?

‘n Avontuurlike negejarige het vandeesweek al wat ‘n polisieman is in Beiere (Duitsland) op loop gejaag, nadat hy weggeraak het in ‘n poging om te gaan goud soek in Italië.


Gelukkig is die klein reisiger skaars 20 kilometer van sy huis af gevind –- en hy het darem ‘n uitgeskeurde bladsy van ‘n atlas by hom gehad.


‘n Hele paar honderd polisiemanne, brandslaners en ‘n polisiehelikopter het aan die soektog deelgeneem.


Toe hulle hom opspoor, het die knaap vertel dat hy “so gou as moontlik ‘n goudprospekteerder wil word, want dit sal baie meer werd wees as om skool klaar te maak.”


Vroeë vanjaar het drie klein Duitsertjies van hul kleuterskool af weggeloop om te probeer om Afrika toe te gaan vlieg.


En laasjaar het twee opgeskotes (een ses en die ander sewe) op Oujaarsaand die pad uit Hannover uit gevat om weg te loop, ook Afrika toe, om daar te gaan trou.


(Nóú weet ek: die Duitse kinnertjies beskik nog oor ‘n goeie verbeelding!)


Thursday, February 18, 2010

Twee keer so oulik

'n Kaliforniese koerant het tans 'n wedstryd aan die gang vir die beste foto's van tweelinge. Hier is so 'n paar:

Spieëlbeeld?
~~~~~~
Twee ertjiepitte van vyf daggies oud
~~~~~~
Ek voel nes jy: dit was 'n lang dag.....
~~~~~~
Twee pampoentjies van dieselfde rank af
~~~~~~
Ek het gewéét jy sal ook dink dis snaaks!
~~~~~~
Haai, jy lyk dan nes ek....
~~~~~~
Dubbel soveel pret
~~~~~~
Slaap soos 'n babetjie -- of twee
~~~~~~
~~~~~~
En as hierdie foto's jou nie broeis maak nie, is daar fout met jou!

Sunday, February 14, 2010

Dag en dae van liefde

“Want so agape het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie sal sterwe nie, maar die ewige lewe sal beërwe.” - Joh 3:16


Of jy dit Valentyn wil noem, of Agape-dag, weet maar net: ons is in staat om lief te hê, alléén omdat God ons eerste liefgehad het.


En sommer net ‘n gedagte van toegeneëntheid vir julle vandag:


As jy alleen die pad stap, onthou God het jou liewer as wat enige aardse vriend of geliefde ooit kan.


Is jy gelukkig getroud: Vier die Here se seën en genade in hierdie wonderlike geskenk aan jou.


Gaan jy deur die pyn van ‘n gebroke verhouding: God kan wonderwerkend herstel, vernuwe en heelmaak!


En vir die manne wat verstand het: ek vertrou jy het gesorg vir 'n lieflike, romantiese aandjie gisteraand vir jou maat; of haar vanoggend wakkergemaak met ‘n liefdesverklaring oor die telefoon, of koffie en beskuit in die bed.


Laat ons saam God se goedheid vier. Hy is die Gewer van vriendskap, liefde, die huwelik en familie – alles deel van Sy goeie plan!


En moenie wag vir Valentyn of ‘n herdenking nie: versprei die agape elke dag en dwarsdeur jou lewe.


Soos die Nike-ouens sal wil sê: Doen dit net!


*** Agape: 'n selflose liefde wat ingestel is op die vervuld-wees van die ander persoon.


Wednesday, February 10, 2010

Rooi in die gesig

Focus on the Family, ‘n Christen-organisasie met Dr. James Dobson aan die stuur (hy het verlede jaar uitgetree), het oor tye heen ‘n diens van onskatbare waarde aan die Amerikaanse volk (en internasionaal) gelewer.

Ontelbare verlore lewens is vir ewig gered, en ontelbare stukkende lewens – mans, vrouens, kinders, enkellopendes, gesinne, bejaardes – is herstel en sinvol help maak.

Dis húlle advertensie wat toe voor Sondag soveel oproer veroorsaak het. (Sien vorige possie.)


En?


Voor en gedurende, en ná die Superbowl kon die hele land (106 miljoen amptelike kykers het die wedstryd bekyk, sê die koerant!) uiteindelik sien waaroor die bohaai vooraf gegaan het – en vir my is die video’tjie so slim en smaakvol aanmekaar gesit; maar nogtans kon niemand die dieper boodskap mis nie!


Die einste Terry O’Neill wat so gal gebraak het (vorige possie), staan belaglik en rooi in die gesig – wie kan op grond van hierdie halfminuut vir Fokus beskuldig van selfverheffing en voorskriftelikheid en “holier than thou”- heid?


Maar van iets móét hulle beskudig word. En daarom sê sy nou: “die advertensie vertoon geweld teen vroue. Dis totaal afkeurenswaardig.”


Ha-ha-ha!!




En die Here het die hele bohaai vir Koninkryksvoordeel gebruik:


Focus vertel dat die besoeke aan hul webwerf net ná die advertensie, met 40% gestyg het – en 500 000 keer bekyk is. Ook het 5 000 mense hierdie week ingeteken op hul familietydskrif! (Is die Here nie goed nie!~)


Ek sit met so ‘n “sweet smile” en kyk na die kostelike advertensie wat die kern van menswees vasvat: om opreg voor God te leef, en hoe Hy mens daarvoor seën.


“Let’s go for it!”


Sunday, February 7, 2010

.dlerêw moroovetsretgA

(Nee, dis nie Russies nie, dis net dat hierdie wêreld so sieklik onderstebo en deurmekaar is...)
~~~
~~~

In 1987, terwyl Pam Tebow en haar man sendingwerk in die Fillipyne gedoen het, het sy baie siek geword. Sy was swanger en die dokters het haar aangeraai om ter wille van haar eie veiligheid, ‘n aborsie te ondergaan.


Pam het geweier en ná twee maande se bedrus, het sy geboorte geskenk aan Tim Tebow, wat die afgelope paar jaar as ‘n voetbalster roem verwerf het en gereken word as een van die beste Amerikaanse studente-atlete ooit.



Dis ‘n inspirerende verhaal.


Vandag is dit die Superbowl (die eindstryd van Amerikaanse Professionele Voetbal, waartydens feitlik al wat ‘n Amerikaner is, voor die TV vasgenael sit), en in rustyd word daar ‘n halfminuut-advertensie oor die Tebows uitgesaai (geborg deur James Dobson se Focus on the Family.)


Maar WAT ‘n furore het die afgelope twee weke in Amerika dáároor geheers – sonder dat enigiemand nog die advertensie gesien het!


Die blote idee dat ‘n vrou kan besluit om, teen die advies van haar dokters in, ‘n babatjie voltermyn te dra, is genoeg om landswyd woedende reaksie te ontlok.


Die presidente van die Nasionale Vroue-organisasie, Terry O’Neill, sê dat so ‘n advertensie “uiters aanvallend en vernederend” is. Hoewel sy g’n idee het wat die advertensie gaan uitbeeld nie, reken sy dat “dit disrespekvol teenoor ander mense se lewens is. Dis beledigend om één manier van lewe as superieur teenoor ‘n ander, voor te hou.”


Greg Doyel, ‘n nasionale rubriekskrywer, spoeg vuur oor die komende advertensie, want “…..dis die heiligste dag van die jaar. Beslis nie ‘n dag om aborsie te bespreek nie.


“Miskien op ‘n minder belangike plek ja, maar nie op die heiligste dag van die jaar in almal se teenwoordigheid nie.”


WAT ‘n kommentaar lewer hierdie gegewe oor ons kultuur. ‘n Dertig sekonde-lange, hartsverblydende storie oor die heiligheid van lewe en ‘n vrou wat haar lewe waag ter wille van haar kind – en dit is nou aanstootlik, vernederend en onwaardig om bespreek te word op “die heiligste dag” van die jaar??!


Ons leef voorwaar in ‘n agterstevoorom en donker, donker wêreld.


Thursday, February 4, 2010

Ek wen steeds met 3 minus 2


“Falling on my face is still forward motion, and it helps me to remember that 3 steps forward with 2 steps back, is still one step closer to where I want to be.”

`Unknown

(Anders gestel: ek moet onthou, aanhouer wen.)

Tuesday, February 2, 2010

Die land van (t)alle moontlikhede

Groot bewondering vir die feit dat in hierdie land daar sovele moontlikhede vir sovele mense bestaan. Sekerlik is Amerika die onbetwiste leier in die wêreld op hierdie gebied.


En dit is opwindend om dit te beleef. Dat baie, baie mense in staat gestel word om hul potensiaal, drome en ideale uit te leef.


Maar soms, net soms, dan kry ek lag vir party van die idees wat dus ook tot uitvoer gebring kan word: hier naby ons by ‘n hoogaangeskrewe hospitaal word kursusse (teen betaling) aangebied in die Lamaze-geboortetegniek; borsvoeding; baba-versorging; baba-noodhulp en ook….Introducing Your Dog to Your Baby.


“Learn to help your dog adapt to the new addition and create a safe environment for both dog and baby.”


Anderhalfur lank.


Koste: “net” R150.


(Verstaan ek iets nie mooi nie, of is Ouland se honde maar net sommer vanself op die spoor....)


In elk geval, ek hoop waarlik die honde hier naby, kan die klas verniet meemaak.




Duidelik het hierdie gedierte se mense nie die klas geloop nie....


(Alle foto's NMN -- nie myne nie)