Showing posts with label reistyd. Show all posts
Showing posts with label reistyd. Show all posts

Tuesday, February 1, 2011

Ouma trêwwel weer

Saam met al die gedoentes en gewoel en opgewondenheid van pas-verby Kersfees, bel ons Kanada-kinders om uit die bloute te vertel dat daar by hulle ‘n tweelinkie oppad is.

Die nuus veroorsaak ‘n familie-oproer vanaf Kanada tot in Amerika, word deurgebel Suid-Afrika toe en oorgesein na Australië.


Verstomming! Aan geen kant van die families is daar nog ooit twee rye spoortjies langs mekaar getrap nie. Wat ‘n héérlike verwondering en dankbaarheid oor die spesiale hemelse geskenk wat oppad is – ‘n identiese tweelingdogtertjiekinners!!


En Ouma begin boeke aanstuur en brei en oorweeg om te leer hekel. Maar grootste beplanning is om te moet gaan help wanneer die mensies aan die kom is, so teen April-iewers, want ander ouma woon baie ver.


Net daar sit die Australië-kinders hul voet neer en hulle kleim in – jongste Aussietjie is al vyftien maande oud, en Ouma se arms het hom dan nog nooit vasgehou nie!

Een doller, twee dollers…..spoeg, spaarvark spoeg. Spaargeld maak dit!

Nou staan die stofwolke dakhoog soos hierdie ouma spring om klaar te kry vir volgende Woensdag se vliegtuigklim.

Ouma kom, kangaroetjie, Ouma kom!

Sunday, January 30, 2011

Ek met die keiser se klere aan....

'n Voorbeeld van 'n aaklige sekuriteitskassie:

~~~~~

Staan toe mos vandeesweek met geen klere aan nie, op die lughawe.


Kaal. Sonder ‘n draad of ‘n vesel om my te bedek.


En ek is bekyk. Van bo to onder en van voor tot agter.


Darem deur mense wat ek nie kon sien nie – asof dit ‘n verskil maak…..En die mense rondom my wat ek wel kon sien, het genadiglik teen my klere vasgekyk.


Vrywillig? Nee, natuurlik nie!


Maar dit het gekom toe ons ná ‘n kort wekie se kuier by Tweede-Jongste in Phoenix se lughawe deur die sekuriteitskontrole moes gaan, en ek onkant gevang was, en nie vinnig genoeg gedink het om dié vernedering te ontduik nie. Voor ek my kon kom kry, is ek in die Full Body Scanner ingewink, met hande bokant die kop staan gemaak, en – soos dit vir my gevoel het – “gefussileer.”


Ek weet nie in hoeveel ander lande dié aaklige sekuriteitskassies al hul opwagting gemaak het nie, maar hier vervuil hulle by dosyne.


Die Full Body Scanner “ontklee” ‘n mens deur ‘n 3-D beeld van jou te vertoon – kompleet met alle nate, voue, skaduwees, bult-en-hobbel vlakke – en op die lughawens word dié beeld gesein na ‘n skerm in ‘n vertrek waar sekuriteitspersoneel jou bestudeer om te sien of al daardie kontoere werklik jou eie is, en of jy dalk dwelms, wapens of plofstof saamsmokkel.


Genadiglik kan mens nog weier om so verneder te word, maar dan word jy deeglik deur gehandskoende dames “betas”.


Liewer dit. Vat aan my as jy dan moet. En ek kan jou sien. Maar moet my nie beloer nie. Veral as ek nie klere aan het nie.


Thursday, November 18, 2010

Moet 'seblief net nie val nie







Die leier-skapie van Vennoot en my se ou troppie is op die oomblik in Stavanger, Noorweë vir sy werk. Sê toe ek moet bietjie prenkies opkyk van Preekstoelrots 'n endjie noordop met die ooskus. Mensig!! Wat kan ek meer sê....(behalwe dat dit GROOT ONGELUKKIG nie my eie prentjies is nie....)

Kyk bietjie hoe duidelik sien mens "preekstoel" in die Noorweegse naam: Preikestolen.



Ja, hallo vir jou ook...geseënde mens


So sien mens hom van die boot af

Hierdie ou was toe ook daar.....
Ai, nou moet ek eers weer die reisgogga 'n doodsklap gee.

Monday, September 20, 2010

Op wieke van die woord


Vennoot is in sy skik -- sommer baie. Want sy bester mater (*die uwe), is veilig tuis ná amper ‘n week se uithuisigheid.


Ek en my klein rooi karretjie het voorverlede Donderdag padgevat na Utah se jaarlikse storiefees. Die tweede grootse ene in die land.


Vennoot sou saamgegaan het, maar sy werksvrag pootjie hom toe. Hy het my die geleentheid egter van harte gegun -- "Ry, vrou, ry."


Syse vrou het haar ook nie onnodiglik laat aansê nie.

Luister partykeer baie graag as die man praat.


Hierdie storie-gedoente is waarlikwaar ‘n fees. Gewoonweg (maar alles behalwe “gewoon”), word die feesgangers deur storievertellers van formaat, en wat vanoor die hele land kom, op die wieke van die woord meegevoer.


En as dit nie stories uit die skatkis van die geskiedenis of oor hul eie families se doene en late en stommiteite is nie, is dit opgerakelde verhale oor wie en wat ook al. Huilstories en lagstories en liegstories. (Einste so op Jan Spies-patroon.)



Die Utahfees trek jaarliks 25 000 besoekers, en word gehou in 'n natuurpark, op in 'n kloof.

Sowat van uitmuntende organisasie het ek nog nie baie gesien nie. Parkeer op aangewese plekke in die dorp, klim op een van die string busse wat staan en wag, en ry sit-sit-so tot by die feesterrein. Twaalf kunstenaars wissel heeldag tussen die ses groot markiestente, vertel elke keer 'n nuwe storie -- hoe kies mens tog?!

Verhale word, o, so kunstig gespin soos 'n spinnerak se web......en mens word weer pure kind....



Moenie hierdie "tannie" onderskat nie -- sy het die afgelope 25 jaar voor ongeveer al 250 000 mense haar ding gedoen. Internasionaal ook. Sy is Elizabeth Ellis, en word gereken as een van die voorste Amerikaanse storiekunstenaars.

Dis einste sy wat my een aand wat-en-trane laat huil het met haar storie oor die graftes van onbekende soldate uit die Burgeroorlog uit, en 'n ma of vrou of kind wat nooit sal weet van waar of hoe nie....

Die verrigtinge word afgesluit by 'n opelugpark -- en 'n uur voor die tyd al sal jy hard soek om 'n plekkie te kry waar jy jou kombersie kan oopgooi.


Feitlik elke staat het sy eie storiefees en die beste van die bestes (uit 'n groep van 9000 woordkunstenaars uit Amerika en die res van die wêreld), word uitgenooi na die nasionale fees.

Dié word elke jaar in Oktober in Tennessee gehou.

Oktober...oor drie weke...wonder mos nou of Vennoot my weer sal laat ry.

Miskien moet ek vir hom 'n allermooiste ou storietjie spin.

Monday, July 19, 2010

Sinsverukking

Hierrond is geen museums te vinde nie. Nee, hier -- aan die noordwestelike Italiaanse kus -- kry jy net die son, bergagtige kuslyn, die skitterende Adriatiese see en wingerde teen die steiltes uit.

In feodale tye was die kastele van landhere ‘n bekende gesig in hierdie streek, maar vandag is daar net die een skilderagtige dorpie ná die ander te vinde.


Heel dikwels is die dorpies deur seerowers aangeval en van die inwoners ontvoer en net teen ‘n losprys weer vrygelaat, of hulle is as slawe gaan verkoop.


Deesdae is dit nou wel nie meer seerowers nie, maar wel duisende toeriste wat jaarliks hierdie gebied binneval -- en wie kan hulle kwalik neem....


Daar is net enkele paaie hier teen die berghange, dog wel talryke wandelroetes. En so het ons ‘n 18 km-wandelpad (5 ure!) aangedurf wat op-en-af, en soms asemsnak steil teen die heuwelhange tussen die dorpies deur slinger.


En die hele tyd die glinsterende see tot aan die verre einder.

Vernazza, wat deur baie mense as die mees sjarmante dorpie aan hierdie kus beskou word, is reeds in 1080 vir die eerste maal in geskiedskrifte genoem!


En net wanneer jy dink jy kan nie verder nie, dan is die volgende dorpie daar, en dwaal jy eers weer deur nou stegies en romantiese straatjies.



Hierdie streek se bestaan is sedert die middeleeue al van die vis- en boerderybedryf afhanklik. Vissersbote bou is honderd maal makliker as dié proses waarvan die klipmure getuig

.

Dis ‘n eeu-oue kuns om klippe met soveel sorg en beplanning en sonder sement te maak pas, sodat die klippe saamvoeg onder hulle eie gewig -- dis nou nadat jy hulle losgegrawe, aangedra en skoongemaak het!


En hier was dit een magtige ingenieurswerk: 3 163 meter reguit muur per hektaar, wat mens ‘n totaal van 6 729 km muur gee!! (Hoe dankbaar is ek nou, dat ek nie so vier geslagte terug in ‘n hardwerkende boeregesin aan die weskus van Italië gebore is nie – al is dit ook HOE mooi daar!)


Sien jy kans om Septembermaand hier te kom druiwe oes? Eers al sittende onder die prieëltjies, en kruip dan uit en dra skouerhoog (of op die kop!) mandjiesvol druiwe teen die skuinstes af!


(Dis hoe dit vir der jare gedoen is. Nou is daar so hier en daar sulke primitiewe, selfgemaakte “glygeute” wat darem deels die afdra-proses makliker maak – maar ok maar net ‘n bietjie!)

Tussen twee van die dorpies is ‘n deel van die wandelpad baie mak en selfs rolstoelbegaanbaar gemaak.

Sooo mooi en romanties, en genaamd “Via dell’amore” – “Pad van die Liefde.”



Mens gewaar dan ook heelwat “liefde-bedwelmdes” hierrond. (Mag dit tog net hou!)

Is dit nie die héél mooiste eetplekkie wat jy jou kan indink nie!

Mens is die hele tyd bewus van 'n intense spel van lug, ruimte, water en kleur wat van jou sintuie besit neem.

Ons was diep geraak en verwonderd oor die jubelend-mooi wat ons mog ervaar het. En aan die einde van 'n dag wat jou betower het met 'n oordaad van vervulling, het die aandson sagkens die berghange en dorpies vir oulaas nog prentjiemooi kom verf.

Waarlik, daar is geen vers of aanhaling wat vir my die stemming en ervaring van hierdie stuk kuslandskap kan verwoord nie.

(Wil net noem dat van die foto's tydens 'n vorige besoek geneem, en enkeles van die internet af kom.)

Friday, July 9, 2010

Wil jy nie saamkloek nie, kliek gerus maar weg.

Kyk, nou moet ek oppas.


Wil vandag bietjie begin deel oor ons Europa-vakansie. En DIT hou gevaar in.


Per slot van rekening, sê die Afrikaanse storiemaker Dirk van Schalkwyk, "Stories oor jou wónderlike kinders, diérbare honde en interessánte oorsese ervarings word net deur jouself waardeer."


Bowedien, deesdae reis omtrent almal orals heen en beskryf dit in al wat koerant, boek en tydskrif is. Wat bly daar dus oor om te vertel wat níé ounuus is nie?


Maar so suutjies-suutjies wil ek darem aanvoer dat ek hier by my kraaltjie kan gesels waaroor ek wil en waarvoor ek lus is. (En verveel ek jou, wel – kliek weg, ek sal nie weet nie, en só is jy én ek sielsaliglik gelukkig!)


Iewers aan die begin van ons reisie (dit pas mos om by die begin te begin), loop ons die Sondagoggend by 'n dorpsmark rond. Fees vir die oog (en die smaak).


Die stalletjies kronkel al met die kanaal langs....



Varsgebakte brood (nou nie my ma s'n nie, maar toe darem amper net so lekker.)

En toe....Nougat! Opregte smelt-oppie-tong, Franse nougat!!

Die Fransmannetjie wat op't se gebroke Engels, maar baie trots verduidelik het dat dit die handewerk van hom en sy suster is. En "specially for you" dubbel afsny wat ons gevra het, en só sy wins-"verkoop" van die dag maak. Maar dis so lekker -- dubbel so lekker as wat ons gedink het dit sou wees!


Langsaan, die kaasmaker.

Algou is al wat dorpenaar is, met sy weeklike varsgoed inkope besig. (Is dit nie om van jaloesie te wil ween nie? Besef hulle hoe geseënd hulle is?)


Dis vrugte en groente....


....kruie en olywe....


....bessies en konfyt.....


Maar voorwaar, die arme siele wat eens in hierdie eilandtronk in die middel van die kanaal vasgekerker was, het beslis nie gedeel in soveel eetgenot nie.....

Thursday, June 10, 2010

Tot anderdag dan!

Gehaal het ek dit ampertjies nie, maar toe darem tog!


Die “gehaal” verwys na die vertrektyd vir ons vakansie.


Dis nou ampertjies twaalfuur en twintig oor drie gaan die wekker lui vir opstaantyd om lughawe toe te gaan.

Hmmm…..miskien moet ek sommer verder deurnag hou. Maar dan, jiggietjie nee, ek is poegaai. Sal maar gou gaan oë toemaak en dan verder slaap op die vliegtuig Frankfurt toe.


Dus sê ek vereers aan al my gewaardeerde kraaltjie-vriende: jammer ek het julle so afgeskeep die laaste tyd! Maar toemaar, Juliemaand is ek terug en dan kuier ons weer dik stukke.


Mooi loop, en ek vertrou die Here sal in Sy goeie guns ons almal weer veilig bymekaarbring.


Met waardering,

mariki

Tuesday, April 27, 2010

Weswaarts (2) -- Klip- en grondstories

Hierdie verskillende formasies en kleure gesien, binne een dag se ry!



Kleurepalet: agterste is sneeuberge, dan blouberge, rooiberge en voor grys, bruin en groen!



Voutjiesberg

Vir der myle het ons verby, wat soos interessante gruisgroewe gelyk het, gery. Maar niks was mensgemaak nie.



Kannone op 'n ry.