Showing posts with label geloof. Show all posts
Showing posts with label geloof. Show all posts

Wednesday, January 12, 2011

Splinternuwe nuwe jaar

Ek het al hier vertel dat Joni Eareckson Tada een van my geëerde heldinne is. Elke keer as ek een van haar boeke/artikels/webwerfinskrywings lees, laat sy my oorstelp en geïnspireerd.


Baie ken die verhaal van hoedat sy in haar tienerjare ná ‘n duikongeluk, van haar nek af verlam gelaat is.


In "Dié God Wat Ek Liefhet", bl 304, skryf sy:


“Ek onthou die nag lank gelede toe ek as beangste tienderjarige in ‘n skemer hospitaalkamer hardop gelê en wonder het of God my dan afgeskryf het. Die gange was donker en verlate.


Dis toe dat my vriendin Jackie pens-en-pootjies langs my in die bed klim en teen die donkerte van daardie nag in begin sing:


‘Man of Sorrows!’ What a name!

For the Son of God who came

Ruined sinners to reclaim!

Hallelujah, what a Savior!’


“Wanneer iemand oor die afgelope dekades my gevra het na die keerpunt in my geestelike wroeging oor die ongeluk, beskryf ek daardie oomblik. Dit was die allerbeste wat enigeen vir ‘n verlamde meisie kon doen.


“Vroëer reeds in al die eindelose ure in daardie bed, het ek Bybelverse lê en herhaal oor God se doel met ons lyding, maar dit het nooit my diepste denke deurdring nie. Antwoorde en redes, hoe goed bedink ook al, het nie by die probleem in my hart uitgekom nie – in my hart en diepste wese…


“Eers het ek dit nie begryp nie. Máár, as God dan waarlik die middelpunt van die heelal en die skepping is, dié Een wat dit bymekaar hou sodat dit nie uitmekaartuimel nie – as alles deur Hom leef, beweeg en bestaan soos wat Handelinge 17 vers 28 sê, dan kan Hy ons geen belangriker antwoord óf rede óf geskenk gee as Homself nie.


Dit is wat Jackie my daardie nag help verstaan het. God het ons nie woorde gegee nie – Hy het ons die Woord gegee – Jesus, die verminkte en verbryselde Man van Smarte.”

~~~~~~~~~~~~~

Ek gaan hierdie nuwe jaar in met die Man van Smarte aan my sy. Hy ken my hartseer en het medelye met my swakhede. Hy is die Seun van God – God Self!


Hy dra my pyn vir my. Hy veg my geveg tot die oorwinning toe.


Hy stort Sy seën oorvloediglik op my uit. Hy gee my die goeie en verheug Hom in my lofsange.


Hy vergewe my opstandige hart en hou my styf in Sy arms vas.


Ek is veilig. Dwarsdeur hierdie splinternuwe 2011 -- en vir altyd.


Halleluja – wat ‘n Redder!!

~~~~~~~~~~~~~~~


Aan elke ene van julle: die Here se seënende nabyheid vir hierdie nuwe jaar toegebid!

Tuesday, October 26, 2010

Ooeee....


Gisteraand deur Tweede Laaste Jongste in Arizona geneem.

En dan dink ek: laat die Christushaters maar alles doen wat hulle kan om Hom en die kruis uit die wêreld weg te werk -- desnieteenstaande sal die plante (saam met die maan) dit uitroep.

Tuesday, October 19, 2010

Ag pleeze, Mr. President

Wonderbaarlik en uit genade alleen, is die 33 Chileense myners en hul helpers verlede week gered en daarna is die reddingskag verseël – en ‘n biljoen mense oor die ganske wêreld heen het dit alles ademloos dopgehou.


Ek het nog nóóit in my léwe vir sóvéél lánge minute áánmekáár, só gefassinéérd gesit en staar na 'n al-in-die-rondte-draaiende-wiel nie!


(Nou het ek ‘n idee hoe die ou wat die eerste wiel toenter-van-jare uitgevind het, naasteby moes gevoel het!)


En dat die Here se Naam enigsinds genoem was, het my soooo bly gemaak. Selfs die Chileense (sjarmante) president het herhaaldelik gesê dat dit bloot die genade van God was.


Maar toe kom bederf hy dit alles hier teen einde met die volgende opmerking: “Eendag, wanneer ons voor die hemelpoort staan en wag om ingelaat te word, moet julle 33 asseblief kom en voorspraak doen vir ons redding.”


NEE! Géén goeie werke, géén inspraak van enige ander sondige mens kan God beïndruk nie – maar ALLEENLIK dat ek glo dat Jesus Christus vir my sondes gestef het.


Pleeze Mr. President, get your act together.

Tuesday, October 12, 2010

Redding voor die redding

José Henríquez lei elke aand ‘n klein gebedsgroep vir manne in die noorde van Chile -- 2,300 voet onder die aarde.


Soos al wat'n koerant in die wêreld al berig het, wag 33 Chileense mynwerkers om gered te word uit ‘n ondergrondse skuilplek uit so groot soos ‘n normale woonkamer, nadat die myningang op 5 Augustus toegeval het.


Die reddingsaksie om die myners bo-gronds te bring, sal om middernag vannag (Dinsdag) begin.


Tydens die toeval van die myn, was Henríquez en twee van sy kollegas Christene – sedertdien het nog twee manne hul harte aan die Here gegee.



Nadat reddingswerkers kontak met die myners bewerkstellig het, het José gevra dat ‘n evangeliese predikant die manne oor die telefoonverbinding in die skag af, moet kom bedien. Dit was ‘n lang gesoek om 'n predikant op te spoor, aangesien Chile hoofsaaklik Rooms Katoliek is.

Twee weke gelede het die hoof van die Baptiste Unie, Ds. Morales, uiteindelik met Marcelo Leiva, predikant van die Baptiste kerk in Vallenar en so 2 ure van die myn af, in verbinding kon tree.


“Dominee,” het Morales gesê, “dis óf jy, óf jy wat moet gaan.”


“Ek gaan,” was Leiva se antwoord.


Met sy aankoms by die kamp waar die mynwerkers se families wag dat die manne bevry moet word, het Leiva die familielede uit die Skrif uit vertroos.



Die vrou van een van die mynwerkers wat ondergronds tot bekering gekom het, het met dominee Leiva kom gesels en het ook besluit om Jesus te volg.


Die families slaap op matrasse in militêre tente, en saans gesels ds. Leiva met wie ook al wil saampraat. Hy vertel dat die verskil tussen diegene wat Christus ken en dié wat nie, opvallend is. Die gelowiges is ooglopend moediger en rustiger en ondersteun die ander wagtendes.


Die dominee het die geleentheid gebruik om ook met die polisie en buitelandse joernaliste oor Christus te praat.


”Ons as die Here se kinders moet ons werk doen solank die geleentheid daar is,”sê hy.


Mag God die uitbring van die 33 manne vannag geseënd laat afloop.

Friday, July 2, 2010

Slegs op die vlerke van Sy Gees

Dit was die jaar 1967.


Snags – daar waar sy vasgegordel was aan ‘n eienaardige, roterende raamwerk – het sy na die hospitaalvloer lê en staar, vas oortuig dat God haar verlaat het.


Sy, ‘n aantreklike en intelligente 17-jarige meisie, gewild en atleties, was nou ‘n parapleeg ná ‘n duikongeluk.


In die intensiewe sorgeenheid het sy die dood van twee ander pasiënte met ‘n gebreekte nek beleef, en in desperaatheid by haar vriende gesoebat om haar te help selfmoord pleeg. “Sny my polse, gooi die hele bottel pille in my keel af -- enigiets om my uit my ellende te verlos!”


“Ek het in God geglo, maar nou was ek woedend vir Hom. Dit was mos belaglik om te dink dat my omstandighede ‘n bewys was van Sy liefde en krag? Hy kon verseker die ongeluk voorkom het! Hoe kan ‘n lewenslange verlamming deel wees van Sy liefdevolle plan vir my?


As ek nie antwoorde op my vrae kon vind nie, was God my vertroue nie waardig nie!”


Tydens ‘n lang tyd van worsteling het God deur haar vriende haar vrae beantwoord om só Christus te laat deurbreek in haar gemoed.


“Van toe af het ek geweet dat dit God se doel was om ‘n koppige meisie te verander in ‘n vrou wat geduld, deursetting, en die hoop op die hemelse heerlikheid uitstraal.”


En dit is presies hoedat die wêreld vir Joni (gewoon uitgespreek soos Johnny) Eareckson Tada, leer ken het.


Sy het haar lewe aan God gewy en die afgelope 43 jaar in Amerika en internasionaal, verstommende dienslewering aan gestremdes verleen, waarvoor sy tallose toekennings ontvang het. Dit alles, terwyl sy vasgekluister sit in haar elektriese stootstoel – en nie eens self haar neus kan afvee nie.




En toe, verlede Woensdag, moes sy op haar radioprogram aankondig dat sy met borskanker gediagnoseer is.

Dit is sulke tye dat ek my oë toeknyp en inmekaarkrimp.

Here, hoeveel laai U dan op een mens? Hoever moet ‘n gewone mens getoets en gesuiwer word? Tot breekpunt toe?? Het U plesier in die vermorseling van U kind?

My Heiland, ek het dan gedink ek verstaan U! My teologie is in orde en my Bybelkennis helder oor Wie die God is wat ek dien!

En dan besef ek net weer met kleinwording voor U, o God: U is ‘n ondeurgrondelike God met onverstaanbare planne. U hou U nie by menslike redenasies en beredenerings nie. U doen nie dinge volgens ons nietige verwagtings nie, en U hoef nie binne ons ou klein verwysingsraamwerkies op te tree nie.

U is GOD.

U MAG doen wat U wil, en soos U dit wil doen. U skuld niemand iets nie.

Soos Job, Here, is dit wanneer ons op die ashoop van pyn, ellende en dood sit, dat ons verseker en onontkombaar weet: Vroeër het ek van God gehoor, maar nóú het ek U van aangesig tot aangesig gesien.

Gesien dat my God nie ‘n fout maak nie. Gesien dat “alles ten goede meewerk, vir dié wat vir U lief is.”

En saam met Dawid kan ek dan getuig: “Dat U my verdruk het, Here, dit was net maar goed vir my.”

Want só kan ek meer soos Christus word.

Help my Here, om altyd styf teen U te bly skuil – my toevlug in die storm.


Monday, May 24, 2010

En die Here het verlos

“Ons kan nie genoeg dankiesê vir die gebede van God se kinders vir ons nie. Hy het gehoor, en ons uit gevangenskap verlos.”


Dit was die woorde van Maryam Rostampour and Marzieh Amirizadeh toe hulle hierdie naweek op ‘n buitelandse lughawe (naam geheim gehou) in die arms van geloofsgenote ingehardloop het, ná 14 maande van aanhouding in Iran.


Hulle is op 5 Maart 2009 in hegtenis geneem omrede van hul Christelike geloof en weens swak behandeling, eensame opsluiting en geen mediese versorging nie, het hulle erge gesondheidsprobleme ontwikkel. Hulle het egter nie geswik onder die aanhoudende druk en intimidasie om terug te keer tot Islam nie. Hulle getuig dat hulle herhaaldelik in die tronk wonderwerke gesien en die versterking van God ervaar het.


Soveel so, dat beide jong vroue in die hof waagmoedig aan die Islamietiese regter gesê het dat hulle nooit van hul geloof in Christus sal afsien nie.


Vandeesmaand is hulle teen alle verwagting in, op alle aanklagte vrygespreek, maar gewaarsku dat geen Christelike bedrywighede in die toekoms geduld sal word nie.


Toe hulle op die lughawe vertel is hoedat hul voorbeeld skares gelowiges regoor die wêreld heen versterk het, het hulle dadelik geantwoord: “Ons is bloot swakke mensekinders met baie tekortkominge. Die eer en die heerlikheid behoort aan God wat ons staande gehou en gebruik het. Waarom Hy ons gekies het, weet ons nie, maar die glorie is Syne.”


Hoewel hul toekoms onseker is, is hulle vasbeslote om ná ‘n tyd van herstel en die soek van God se wil, die vervolgde Iranese kerk te bedien.

~~~~~

Bid tog asseblief vir Maryam en Marzieh se spoedige en algehele herstel, asook vir die vervolgde christene in Iran.


Monday, May 17, 2010

Briefie uit Bloem

Vrydagmiddag ry ek by die hek uit op pad winkel toe. ‘n Lang, skraal swartvrou stap stadig voor in die pad met ‘n volgelaaide plastieksak in die hand.

Op die ingewing van die oomblik hou ek stil en vra of sy wil saamry tot by die taxi-staanplek. Dankbaar klim sy in en slaak ‘n sug…haar mooi besnede gesig is strak. Kwellinge oor ‘n harde lewe?

Ná ‘n minuut of wat se stilte, vra ek haar of sy in Jesus Christus glo?

“Ja!” kom die antwoord.

Ons ry verder en toe haal sy ‘n verskrompelde plastieksakkie uit haar handsak, en uit die sakkie haal sy haar verrinneweerde Xhosa Bybel, absoluut opgelees!

Daar skiet ‘n pyn deur my binneste by die aanskoue van hierdie onbekende vrou se geloof waarvan sy toe getuig en vertel hoe sy altyd met die Here praat en hoe Hy haar help… sy het nie meer ‘n man nie, net haar kinders….

Toe kom dit asof van nêrens in my op: “Dan is ons mos susters in die geloof in Jesus Christus!”

‘n Ligte glimlag trek oor haar gelaat, sy praat in haar taal en beduie boontoe…wat sou sy kwytgeraak het?

Dit flits deur my om haar ‘n nuwe Bybel te gee, maar die vertroudheid waarmee sy hare vashou, spreek boekdele…

Diep getref!

Liefde,

Ousus

Sunday, May 2, 2010

Weswaarts (3) -- Gleanings

Laasmaand se ry Kalifornië toe, was eintlik om ‘n week se vrywilligerwerk by ‘n YWAM-basis (Youth With A Mission) te gaan doen.

Gleanings for the Hungry is ‘n merkwaardige plek.


Vyf-en-twintig jaar gelede het die Here vir Wally en Norma Wenge die droom gegee om ‘n Josef-bediening in Thailand te begin (dit wil sê, om kos aan die hongeres te verskaf.) Hulle het onthou van al die vrugte wat in die vrugbare San Joaquin Vallei in Kalifornië verlore gaan – en só is Gleanings gebore. (“Gleanings” = oorskot. In die Bybel het Rut koringare – die oorskiet – op Boas se land “geglean.”)


Uitskot vrugte (perskes en nartjies wat nie bemarkbaar is nie omdat dit te klein is, of die vel nie goed lyk nie), word deur vrugteboere aan Gleanings geskenk, waar dit in die somermaande gewas en gedroog word vir verspreiding.


Van oorskotgroente word in die afseisoen, soppoeier gemaak. In 2009 is 27 miljoen porsies sop versend!

En AL die werk word deur vrywilligers vanoor die hele land gedoen onder leiding van die YWAM-personeel, wat nie ‘n salaris verdien nie, maar deur hul gemeentes, familie en vriende onderhou word.


Die personeel se beskeie behuising (alles word deur die vrywilligers in stand gehou). In ons week het 'n span van drie óú omies byvoorbeeld die slotte en knippe van al die deure en vensters nagegaan.


Nie sommer net nog 'n tannie aan't vroetel in haar tuintjie nie -- hierdie is die produk van vrywilligerwerk waarvan sy maar een is, met die tye saam -- (ek het haar bekruip en sy weet nie eens die foto is geneem nie.)



Drie etenstye en twee "pouses" in die eetsaal, en aan die einde van die week is jy lekker opgepoffer en baie ronder as toe jy die eerste keer deur die hek gery het!


Saans ná ete is daar bordspeletjies gespeel. Wat gee jou die idee dat Arlene (oorkant die tafel met die blou bloes), 'n "juffrou" was?! Ginny met die gestreepte hemp, is 84, maar nog hups en aan die gang. Sy was een van die kwiltwerkers wat daardie week 13 kwilts help maak het om saam met die kosbesendings uit te stuur.


'n Klein deeltjie van die emmers waarin die gedroogde somervrugte versend sal word. Elke ene is 'n skenking van boere in die vallei en elke liewe ene en sy deksel moet gewas en alle etikette verwyder word voor gebruik. (Gelukkig is daar droërs vir die goed!)


Dennis aan die werk om die houtpalette wat gekraak en gebreek is, reg te kry vir die somerbesending van vrugte wat daarop gedroog sal word. Dis hier waar ek my vuurdoop gekry het in die hantering van "power tool"-gebruik. Aanvanklik bietjie skeef geboor en geskaaf (veral die kere wat ek my oë toegeknyp het met die gebruik van die "staple gun"!)


'n Badkamer is feitlik heeltemal klaar gerenoveer deur hierdie ou en sy flukse kollega.



Onder:

Dié oompie was my held. Drie-en-tagtig jaar oud, maar die gewilligheid en dierbaarheid vanself; en hier in die sopverpakkingskuur het hy ure op sy voete gestaan en werk. (Baie stowwerige vanweë die fyn soppoeier, vandaar die masker.)


'n Nuwe span werkers (skoolkinders van naby Los Angeles ) wat vir 'n dag lank kom help het, word touwysgemaak in die sopskuur.



Dis rugbreekwerk om die sopmengsel uit die "bin" te skep en beker-vir-beker (die tannie regs voor) in sakkies gegooi te kry. (Ek weet -- ek het ook gedoen.)



Woensdag:

Grróóót opwinding toe twee vragmotors inkom om te kom laai aan die vrag na Kambodja.


Die vragmotorbestuurders. Hulle het seker ook nie geweet wat hulle getref het nie, toe daar eers vir hulle gebid en gesing is! Die een het gesê hy weet nie veel van die Christelike geloof af nie; die ander ene het gesê sy vrou is 'n Christen en hy is "amper ene."



Die vol vrag aan die regterkant: 'n kwartmiljoen doller werd! Dit was wonderlik om hier te staan en saam met die hele groep vir die Here dankie te sê vir Sy voorsiening en genade, en te bid dat Hy sal beskik dat die kos veilig die regte bestemming sal bereik. In al die jare het daar nog net één vrag weggeraak! (Dis algemeen bekend dat skeepsvrag wêreldwyd "wegraak" en niemand weet glo wat daarvan geword het nie. Ook dat korrupte doeane/regeringsamptenare beslag lê op inkomende besendings -- nie net van sendingorganisasies nie -- en dan vir hul eie gewin verkoop.)


So lyk iemand wat uitbundig bly is oor die Here se goedheid! (Anne is 'n velkankerlyer, vandaar die handskoene. Hier staan sy nog met haar sopskuur-voorskoot aan.)


Die name van die 40 lande waarheen Gleanings kos stuur. Die versendingskoste word gedra deur die sendingorganisasies wat dit in ontvangs neem en dan versprei. Gleanings maak geen sent nie, en al vereiste is dat die evangelie verkondig sal word met elke kospakkie wat uitgedeel word.


Dit was ' n onoortreflike week so saam met ons "Here-familie"!!

Sunday, April 18, 2010

In memoriam oor die wêreld -- maar net kortstondig

Terug van ‘n heuglike, vredige en vreugdevolle vakansie. (Suiwer genade ervaar!)

Ek was nie weg uit die wêreld uit nie, maar ag, te heerlik – vir drie weke lank tog nie werklik deel daarvan nie.


Tot nou weer. Toe ek die nuus lees.


* Die Poolse president en 95 ander kom om in ‘n vliegramp

* Vier Duitse soldate sterf in Afghanistan

* Griekeland wankel op die rand van ‘n ekonomiese ineenstorting

* Bloedige opstand in Kyrgyzstan -- 75 dood

* 122 Sterf in ‘n storm in Indië

Terroriste vermoor 20 mense in Myanmar (Burma)

* Vier Spaanse soldate sterf in ‘n helikopter ongeluk

* Papua Guineë is pas getref deur ‘n aardbewing van 6.3 op die Richterskaal


En in ons plaaslike koerant, talle berigte oor die seksuele misbruik van kinders in Denver.


Dan praat ek nie eens van die neerdrukkende gemoedslas wat mens saamdra oor wat in Ouland aan die gang is nie…..


Ek hoor al hoe my ou Ma kopskuddend en op haar tipiese manier sou gesê het: “Die wind waai vandag weer koud van die garsland af.” Ja Moederma, die wind waai koud, baie koud oor hierdie kind van jou.


Kyk ek na die wêreld, dan wil ek sommer partykeer weghardloop dat ek klein word, na wie-weet-waar.


Want dis moord, verkragting, korrupsie en geweld in Ouland. Geloofsvervolging in ‘n derde van die wêreld. Afgodsdiens deur meeste mense, en verraad deur die regering, ook in hierdie land. As ek na die lewe rondom my kyk, sien ek pyn, krisisse, wanhoop, verwarring.


Maar weghardloop, dié kan ek nie.


Bowendien, my weet, my dink en my onthou, gaan saam met my -- waarheen ek ookal sal wil hardloop!


Moet ek dan net sit en bewe van die koue? Dit kan tog nie. Dis mos nie waarvoor die lewe daar is, of ek geskape is nie?


Weer Moederma se woorde: Opkyk! Boontoe-kyk!


Ja -- na God-toe kyk. DIT is al wat oorbly, of ek dit nou wil weet of nie.


Maar ek WIL dit weet. Ek wil dit WEET.


Om dit nooit te vergeet nie.


"Jahweh is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil." (Nah 1:7)


Thursday, March 11, 2010

Het jy "familie" in Indonesië?

‘n Bybelvertaler uit Indonesië skryf:

“’n Kort rukkie voor die bekendstelling van die Nuwe Testament in die Bauzi-taal, het ‘n jong man van dié stam na ons huis toe gekom. Ek het een Nuwe Testament by my gehad, en ek probeer toe my bes om dit weg te steek sodat dit saam met die ander Nuwe Testamente uitgedeel kon word.


Maar hierdie broeder het dit uitgevind en daarop aangedring om die Boek te sien.


Hy het die Nuwe Testament in sy hand gevat, God hardop daarvoor gedank, en toe net daar gestaan en soos ‘n kind gehuil.”


Bauzi is een van die meer as 700 tale wat in Indonesië gepraat word, en hierdie stam woon op die eiland Papua.


Oorspronklik was hulle ‘n agressiewe groep afgodsdienaars, maar omtrent 65% van die stam (ongeveer 1 500 sterk), is nou Christene.


En hulle is oorstelp van vreugde om uiteindelik die Nuwe Testament in hul eie taal te kan lees!


Só sorg God vir die uitbreiding van Sy Koninkryk -- en word die Christen-familie elke dag meer talryk!

Wednesday, February 10, 2010

Rooi in die gesig

Focus on the Family, ‘n Christen-organisasie met Dr. James Dobson aan die stuur (hy het verlede jaar uitgetree), het oor tye heen ‘n diens van onskatbare waarde aan die Amerikaanse volk (en internasionaal) gelewer.

Ontelbare verlore lewens is vir ewig gered, en ontelbare stukkende lewens – mans, vrouens, kinders, enkellopendes, gesinne, bejaardes – is herstel en sinvol help maak.

Dis húlle advertensie wat toe voor Sondag soveel oproer veroorsaak het. (Sien vorige possie.)


En?


Voor en gedurende, en ná die Superbowl kon die hele land (106 miljoen amptelike kykers het die wedstryd bekyk, sê die koerant!) uiteindelik sien waaroor die bohaai vooraf gegaan het – en vir my is die video’tjie so slim en smaakvol aanmekaar gesit; maar nogtans kon niemand die dieper boodskap mis nie!


Die einste Terry O’Neill wat so gal gebraak het (vorige possie), staan belaglik en rooi in die gesig – wie kan op grond van hierdie halfminuut vir Fokus beskuldig van selfverheffing en voorskriftelikheid en “holier than thou”- heid?


Maar van iets móét hulle beskudig word. En daarom sê sy nou: “die advertensie vertoon geweld teen vroue. Dis totaal afkeurenswaardig.”


Ha-ha-ha!!




En die Here het die hele bohaai vir Koninkryksvoordeel gebruik:


Focus vertel dat die besoeke aan hul webwerf net ná die advertensie, met 40% gestyg het – en 500 000 keer bekyk is. Ook het 5 000 mense hierdie week ingeteken op hul familietydskrif! (Is die Here nie goed nie!~)


Ek sit met so ‘n “sweet smile” en kyk na die kostelike advertensie wat die kern van menswees vasvat: om opreg voor God te leef, en hoe Hy mens daarvoor seën.


“Let’s go for it!”


Friday, December 11, 2009

Die Here se telwerk

(Vandag is my ou wyfie-neukenaar weer haar bekonkelde self. Gedog ek het nie meer oneerlike werkers/werksdinge in diens nie...maar sy het my hele foto-biblioteek gesteel en weier om te erken...Dus is dit net lettertjies voor die aangesig vandag. So jammer.)


Ons dogtertjiegoed (27) is so twee weke gelede van de een mediese man na de ander (snaaks tog dat ek nou nie hier van ‘n “kwak” wil praat nie, né – ons woordgebruik is darem maar so emosioneel begrond…).

In elk geval, so het sy gehoor dat sy ‘n Pseudoangiomatous stromal hyperplasia (PASH) vergroeisel in die bors het. Al so groot soos ‘n eier.

Maar in die oneindige genade van God is PASH ‘n nie-kwaadaardige soort tumor. Het eers in 1986 benoem geraak het. Baie onbekend.

Die affêre se patroon is glo om ‘n sakkie in ‘n vrou se bors te vorm, met ‘n sterk buite-vliesie wat die sponsagtige weefsel binnehou en geen uitsaaiings maak nie.

Die prognose is uiters goed en in bittermin gevalle van waar die sakkie verwyder is, steek die ding weer later kop uit.

So is die ongewenstheid vanoggend toe uitgesny.

Skoonseun het nou net gebel: sy het so pas uit die teater uitgekom, besig om by te kom, wil glo net slaap...Ag, moeder tog.

Snydokter sê alles was soos vermoed, het gegaan soos verwag, en alles kon verwyder word. Hy het nog nooit eens voor nou, van dié soort ding gehoor nie.

Ek lees gisteraand dat dit by net 1 uit elke 200 000 vrouens voorkom.

Maar wat maak syfers vir ‘n mens saak as jy nommer een uit tweehonderdduisend is? Of nog benouender: een uit die drie vroue (VSA) wat vanjaar gehoor het dat jy borskanker het, met die wete dat 40 000 per jaar daaraan sterf?

Sóveel, dat jy weet dat die Here se somme sin maak. Dat Hy op jou nommertjie druk met ‘n rede. Sy rede. Sy liefdevolle rede.

En jy weet en glo en twyfel nie daaraan nie, dat Hy goed is met somme.

Hy is die Een wat die Allerbeste is met tel. Ook met OPTEL en dra – deur die driwwe en doringvelde van hierdie lewe heen, tot in die eendag se hiernamaals waar somme nie meer gaan saak maak nie.

Behalwe daarvoor dat Een + Een + Een = aan Een, Ewige, Waaragtige en Getroue God, in Wie se allesomvattende, heerlike teenwoordigheid ons tot in alle ewigheid sal lewe.

Wednesday, November 4, 2009

Briefie aan my kind


Seun-nommer-hoeveelste deel gisteraand ‘n knop-op-die-maag-bekommernis oor die telefoon. Wil so graag my arm om sy skouer sit -- al moet ek r-ê-ê-ê-k om by te kom, want ai, die op-die-skoot-tel-dae is lankal iets van die verre verlede. Bowendien, dese dae is die myle tussen ons hopeloos te veel dáárvoor.


‘n Briefie moet maar die plek inneem van naby-my-kind-wil-wees-om-te-troos:


Worrying doesn’t change the outcome of tomorrow, it only robs today of it’s strength.


Seun, wanneer laas het jy ‘n bekommerde voëltjie sy vlerke sien wring? !!


Nee, jy sien dit eenvoudig nie. Omdat, hoe “bird brained” hulle ook al is, dit amper wil voorkom asof hulle meer sou weet as ons. Dat God sorg. Dat God in hul behoeftes gaan voorsien. Nee, nie dat Hy al ons wense gaan vervul nie, maar gaan sorg vir dit wat ons nodig het.


En jy het nodig om in Sy vredesvoorsiening te leef. Dié soort wat Hy gee, wat alle verstand te bowe gaan.

Jesus sê, kyk na die voëls, na die blomme in die veld: God sorg vir hulle.


Is jy dan nie belangriker as ‘n voëltjie nie?!


My kind, leer ken die verskil tussen "wring" en "sing"!


God kán en sál voorsien en jou groot bekommernis wegneem (ook dit wat jy onbewustelik saamdra en wat soos ‘n wolk oor jou kom lê) AS, AS, AS, jy DIT ALLES AAN HOM GEE.


Boeta, elke keer wanneer jy agterkom die knop kom sit op jou maag, begin die Here prys, sommer so in jou kop, as jy dan nie hardop kan nie, of dalk wil nie. (Ek weet mos, jy glo vas jy sing vals!)


'n Ou-ou kinderliedjie werk goed vir my:


Ek wil die Here loof,

loof met my hele hart.

Hy gee hom (my) wat roep,

weer nuwe krag.


BVJ (Bid vir jou)!

mm


(En raai, nou is ek ook sommer getroos. Hoor jy my sing? “Ek wil die Here loof”…..)




Tuesday, October 13, 2009

Gaan maak bly die nasies!

Afwagting. Tuis. Behoort. Geniet. Vreugde. Jubeling.

Ag, wáár om te begin vertel van die kosbare sendingkonferensie die afgelope naweek?!

Sowat tien jaar gelede het die Here aan een van sy Amerikaanse kinders ‘n visie oor al dié man se mede-Baby Boomers gegee: van die 70 miljoen van hulle in Amerika, is 12 miljoen gelowiges – hulle kan met hul aftrede gemotiveer en gehelp word, om nie net vir nog jarre rond te reis of rustig in die son te sit nie, maar wel om deel te word van ‘n nuwe vloedgolf sendelinge wat Jesus aan die verlorenes kan gaan verkondig!

En só het The Finishers Project sy beslag gekry, en saam met 80 sendingorganisasies word daar landwyd die afgelope vier jaar forums gerëel om aan hierdie droom gestalte te gee. By ons forum was daar die afgelope naweek 27 organisasies om hulself bekend te stel:

International School Project rëel dat mens vir 2 weke lank in Oos-Europa of Asië onderwysers kan oplei in ‘n kursus oor etiek en moraliteit. En natuurlik is die Bybel die handboek!

Evangelism Explosion gee opleiding om met straatkinders, dowes en ook prisoniers te werk. Hier en oorsee.

Arab World Ministries soek onderwysers vir veral Libanon, ‘n land so verskeurd en vol geweld, dat dit jou totaal wil oorrompel. (‘n Ou Arabiese spreekwoord lui: “Saam met my neef teen die uitlander; saam met my broer teen my neef.”)



International Institute for Christian Studies help Christen-akademici fakulteitsposte kry aan oorsese kolleges en universiteite – veral in lande waar sendelinge nie toegelaat word nie -- sodat hulle Christus aan daardie lande se leiers van môre, kan verkondig!


European Christian Mission stuur o.a. spanne uit om met dwelmverslaafdes op die strate van Europese stede te gaan werk. Om radio-uitsendings te gaan doen. Om met vlugtelinge te gaan werk. Om van deur tot deur, literatuur te versprei.

Ag, en so kan ek voortgaan. En wat 'n fees was dit om die opwindende getuienisse van veldwerkers te kon hoor, om mens se geloof te versterk!

Ek is sooo opgewonde en vertrou dat wanneer dit ons beurt en kans is, die Here ons sal uitstuur in Sy wingerd.

Maar by al die baie emosies van die naweek, behoort daar ook verlange. Diep verlange. Om eendag dié Een te sien oor wie dit alles gegaan het en gaan en steeds sal gaan: Jesus, my Rots en my Redder.

Give me one pure and holy passion
Give me one magnificent obsession
Give me one glorious ambition for my life
To know and follow hard after You
To grow as your disciple in your truth

This world is empty, pale, and poor
Compared to knowing you, my Lord
Lead me on and I will run after you
Lead me on and I will run after you