Tuesday, December 21, 2010

Nie wat sy wou hê nie


‘n Vriendin lees tans die onlangsgepubliseerde autobiografie van die Hertogin van Devonshire. Debo, soos die hertogin bekend staan, het maar arm grootgeword, dog, goed getrou en haar titel van haar man gekry.

In elk geval, Debo vertel hoedat haar pa (hy was aan die weermag verbonde) elke jaar met Kersfees ‘n geskenk vir haar ma by die Leër- en Vlootwinkel gaan uitsoek het. Met die toedraaislag het hy gereeld vir die winkelassistent agter die toonbank gesê: “’n Dame sal dit volgende week kom omruil.”

En, skryf die hertogin, hy was reg. Elke liewe jaar.

Tuesday, December 14, 2010

Lewensteken

Nee, ek is nie oorlede nie. Het ook nie weggeloop nie. Net maar onhebbelik besig met allerlei, en ook nog om dinge in die regte voue te hê teen die tyd dat die kinders begin huis toe kom volgende week – aah! héérlike gedagte.

Maar kyk, Thanksgiving en Kersfees so op mekaar se hakke, het my vanjaar onkant gevang. Vir die eerste het ons Thanksgiving nie tuis deurgebring het nie. Saam met Poppiedot en haarse wederhelfte en Tweede Jongste-wat-ook-nie-meer-so-jonk-is-nie, en natuurlik Vennoot darem ook, is ons na vriende se plaashuis, so ses-sewe ure hiervandaan in New Mexico.

Groot kos-aksie geloods voor die tyd, om daar nie te moes rondspring nie, en tyd te hê om lekker te kon saamkuier.

Dus was dit kalkoenrol maak –ja! ná omtrent ‘n dekade in hierdie land kom ek toe waarlikstewaar so ver om my hand te waag aan kalkoen se kind-gaarmaak. (Nou nie die ganske gevoëlte nie, a nee a! -- mens leer mos maar partykeer bloot so trapsgewys soos ‘n ou kalkoen.)

Maar vir die tweede keer in ‘n ry, flop my Jan Ellis-poeding toe nogeens. Dis tog die maklikste poeding uit! Het pragtig die hele bak volgestoot en lekker bruin verkleur, maar toe ek hom uit die oond uit haal, sak die hele middeldeel in en staan ek met ‘n poedingkrater in my hande. Presies net soos die vorige keer. Al wat ek kan dink, is dat ek uit pure vakansieplesier, die deeg te deeglik geklits het. Die resep sê mos: “Roer alle bestanddele behalwe die koeksodamelk, bymekaar.” Volgende keer (maar dit sal lank vat voor ek weer die lus kan oprakel vir dié meneer), roer ek net weer kortweg alles met ‘n houtlepel bymekaar.


(Nee, dis nie ek of my familie hieronder nie, maar dis PRESIES soos ek oor my flopperasie gevoel het.)
En dankie ja, ons het lekker gekuier en héérlik geëet (ook aan die krisispoeding wat ek aanmekaar geslaan het) en nou is ek darem weer terug op die lug -- met die klere defnitief stywer om die lyf as voor ons Danksegging gaan vier het.

En ai, Kersfees lê dan nog voor...

Thursday, November 18, 2010

Moet 'seblief net nie val nie







Die leier-skapie van Vennoot en my se ou troppie is op die oomblik in Stavanger, Noorweë vir sy werk. Sê toe ek moet bietjie prenkies opkyk van Preekstoelrots 'n endjie noordop met die ooskus. Mensig!! Wat kan ek meer sê....(behalwe dat dit GROOT ONGELUKKIG nie my eie prentjies is nie....)

Kyk bietjie hoe duidelik sien mens "preekstoel" in die Noorweegse naam: Preikestolen.



Ja, hallo vir jou ook...geseënde mens


So sien mens hom van die boot af

Hierdie ou was toe ook daar.....
Ai, nou moet ek eers weer die reisgogga 'n doodsklap gee.

Wednesday, November 10, 2010

Mild en mooi


Ná al hierdie genade van so 'n mooie en milde herfs, sal ek nie kla as die koue nou toeslaan nie...














Vennoot was by 'n konferensie en ek het so twee ure noord van hier gaan kamp en rondry om vir oulaas die herfs te geniet.

~~~~~~







~~~~~~~~~

~~~~~~~~

Tuesday, October 26, 2010

Ooeee....


Gisteraand deur Tweede Laaste Jongste in Arizona geneem.

En dan dink ek: laat die Christushaters maar alles doen wat hulle kan om Hom en die kruis uit die wêreld weg te werk -- desnieteenstaande sal die plante (saam met die maan) dit uitroep.

Friday, October 22, 2010

'n "Ag Please" van 'n ander soort hierdie

Lees vandag die volgende kleinadvertensie in ons plaaslike koerant.


Maar waarlik, is ek ondankbaar/lui/bederf om te dink dat -- indien ek sou werk gesoek het -- ek nie eens lus sou gewees het hiervoor nie…..al kry ek hierdie mense REGTIGWAAR jammer. (En al is die vergoeding R104 per uur.)


Wanted: Professional House Organizer and Doer

When: NOW and in future when needed

Pay: $15 p.h.


We live in what would qualify as one of The Messiest Houses in America TV-series.


We don't invite people over because we are too embarrassed. The garage, storage areas, and every room in the house is filled with junk. And, most of it truly is junk. No hidden family treasures, just piles and piles of papers that have to be sorted, trashed, shredded, filed, or acted on. Junk upon junk to an overwhelming, defeating amount.


We live with 10-year-old triplets who have had the world's worst role models for orderliness that a child could have, and they all excel at outdoing their parents in disorderliness.


We need A LOT of help. We need a plan and someone who can put in the time to actually do most of the work as well. My wife and I work full time. I work all the time, at home, which just makes a bigger mess, and I can't find a workspace now that my office has been taken over by clothes and toys.


We need someone with patience, vision, and an ability to communicate that vision to the family. Our two-car garage is a pit, our basement is a pit, and I have a storage unit that is a pit.


I am near tears. Every time I survey the situation it all seems so daunting, I would rather just stick my head in the sand and cry. We don't need advice as much as pleasant, courteous, directive assistance: hands-on assistance with actually doing the work. The yard is also a total mess.


Please respond.

Tuesday, October 19, 2010

Ag pleeze, Mr. President

Wonderbaarlik en uit genade alleen, is die 33 Chileense myners en hul helpers verlede week gered en daarna is die reddingskag verseël – en ‘n biljoen mense oor die ganske wêreld heen het dit alles ademloos dopgehou.


Ek het nog nóóit in my léwe vir sóvéél lánge minute áánmekáár, só gefassinéérd gesit en staar na 'n al-in-die-rondte-draaiende-wiel nie!


(Nou het ek ‘n idee hoe die ou wat die eerste wiel toenter-van-jare uitgevind het, naasteby moes gevoel het!)


En dat die Here se Naam enigsinds genoem was, het my soooo bly gemaak. Selfs die Chileense (sjarmante) president het herhaaldelik gesê dat dit bloot die genade van God was.


Maar toe kom bederf hy dit alles hier teen einde met die volgende opmerking: “Eendag, wanneer ons voor die hemelpoort staan en wag om ingelaat te word, moet julle 33 asseblief kom en voorspraak doen vir ons redding.”


NEE! Géén goeie werke, géén inspraak van enige ander sondige mens kan God beïndruk nie – maar ALLEENLIK dat ek glo dat Jesus Christus vir my sondes gestef het.


Pleeze Mr. President, get your act together.

Tuesday, October 12, 2010

Redding voor die redding

José Henríquez lei elke aand ‘n klein gebedsgroep vir manne in die noorde van Chile -- 2,300 voet onder die aarde.


Soos al wat'n koerant in die wêreld al berig het, wag 33 Chileense mynwerkers om gered te word uit ‘n ondergrondse skuilplek uit so groot soos ‘n normale woonkamer, nadat die myningang op 5 Augustus toegeval het.


Die reddingsaksie om die myners bo-gronds te bring, sal om middernag vannag (Dinsdag) begin.


Tydens die toeval van die myn, was Henríquez en twee van sy kollegas Christene – sedertdien het nog twee manne hul harte aan die Here gegee.



Nadat reddingswerkers kontak met die myners bewerkstellig het, het José gevra dat ‘n evangeliese predikant die manne oor die telefoonverbinding in die skag af, moet kom bedien. Dit was ‘n lang gesoek om 'n predikant op te spoor, aangesien Chile hoofsaaklik Rooms Katoliek is.

Twee weke gelede het die hoof van die Baptiste Unie, Ds. Morales, uiteindelik met Marcelo Leiva, predikant van die Baptiste kerk in Vallenar en so 2 ure van die myn af, in verbinding kon tree.


“Dominee,” het Morales gesê, “dis óf jy, óf jy wat moet gaan.”


“Ek gaan,” was Leiva se antwoord.


Met sy aankoms by die kamp waar die mynwerkers se families wag dat die manne bevry moet word, het Leiva die familielede uit die Skrif uit vertroos.



Die vrou van een van die mynwerkers wat ondergronds tot bekering gekom het, het met dominee Leiva kom gesels en het ook besluit om Jesus te volg.


Die families slaap op matrasse in militêre tente, en saans gesels ds. Leiva met wie ook al wil saampraat. Hy vertel dat die verskil tussen diegene wat Christus ken en dié wat nie, opvallend is. Die gelowiges is ooglopend moediger en rustiger en ondersteun die ander wagtendes.


Die dominee het die geleentheid gebruik om ook met die polisie en buitelandse joernaliste oor Christus te praat.


”Ons as die Here se kinders moet ons werk doen solank die geleentheid daar is,”sê hy.


Mag God die uitbring van die 33 manne vannag geseënd laat afloop.

Friday, October 8, 2010

Toe is dit skielik hallo!

Ek skree nie normaalweg in die openbaar nie. Dit sluit in restaurante in.

Maar dis presies wat ek Maandagaand gedoen het.

Skoonseun en Poppiedot nooi ons uit vir aandete in ‘n eetplek hier naby. Kom daar, sit en raak aan die gesels.

Die volgende oomblik staan Jongste-maar-Grootste Seun (van Kentucky) aan die oorkant van die tafel!!

En dis tóé dat hierdie ma skree. En HARD.

Alles was natuurlik vooraf beplan deur die jongklomp, en my reaksie was water op hul meul.

Nou kuier ons eers weer ‘n hond uit ‘n bos uit uit vir hierdie korte wekie.

Só verander die Vader toe my hartseer "totsiens-sê-aan-Ousus" in ‘n "heerlike-hallo-vir-Jongste".

........Is Hy nie ook ‘n God van goeie verrassings nie!


Saturday, October 2, 2010

Kan amper nie hier sien om te lees nie



In ‘n retrograde woordelys (= lys van verwante woorde) op google, vind ek -- ironies genoeg -- die volgende klompie woorde bymekaar:

getjank... lank... tydlank... ellelank ......

En ook: onherkenbaar... onversoenbaar.

Wel, ek het myself gister onherkenbaar poffer-oë gehuil. Hart gekneus en lyf skoon siek.

En ek kan my nie met die gedagte versoen nie…..Oudste sus is al klaar weer weg.

Why can't we get all the people together in the world that we really like and then just stay together? I guess that wouldn't work. Someone would leave. Someone always leaves. Then we would have to say good-bye. I hate good-byes. I know what I need. I need more hellos. ~ Charles M. Schulz

Ek stem.

Volmondig.

En toententaal.

Sunday, September 26, 2010

Joegaai!

Ousus vannie Kaap -- wat ek vier hele jare laas gesien het, kom gooi vandeesweek ‘n vinnige draaitjie hier.

Heerlik vooruitsig!

En nou is die huis ook sommer skoon vir Kersfees……!!

Friday, September 24, 2010

Oesmaan, Jupiter en die jaar wat draai

(Nie my foto's nie)

22 September 2010:


Vir die eerste keer in bykans 20 jaar, het die begin van die noordelike herfs eergister saam met volmaan geval.


Toe die son eergisteraand op die laaste dag van ons somer in die weste gesak het, het die Oesmaan in die ooste begin opkom. Die twee ligbronne het vermeng in ‘n soort van 360-grade, somer-herfs aandgloed, wat selde gesien word.


Die goue sirkel in die ooste het ongewoon “geswel” gelyk –- ‘n maan-illusie.


En die vol Oesmaan met die maan-illusie daarmee saam, was wondermooi.


Maar dit was nie al nie!


Die noordelike somer het gisteraand kort by middernag in herfs oorgegaan en op daardie presiese oomblik -- herfs-ewening -- het die Oesmaan hoog teen die naghemel gehang met die planeet Jupiter reg langsaan – sjoe!


(Bo) ‘n Maan-Jupiter konjunksie van verlede jaar.

Dis natuurlik weer die boere wat met die benaming Oesmaan vorendag (oftewel, voren-nag), gekom het.



In die dae voor elektriese lig, was die boere van die maanlig afhanklik om hul werk ná sonsondergang gedoen te kry. Dit was die enigste manier waarop hulle die oes betyds vir marktyd, kon in. Die volmaan naaste aan die herfs-ewening, het die “Oesmaan” geword, en was altyd ‘n welkome gesig.


Gewoonlik maak die Oesmaan sy opwagting ‘n paar dae of selfs weke, voor of ná die begin van die herfs. Maar die Oesmaan van 2010 het sy volgroote ‘n skrale ses ure ná die ewening bereik en sterrekundiges het gisteraand s’n, ‘n super-Oesmaan gedoop.


Daar was laas in September 1991 naasteby so ene (volgroote en ewening tien ure uitmekaar uit), en as die aarde dan nog bestaan, sal dié van ons wat die lewe behou, weer so-iets in die jaar 2029 beleef.


So is ons herfs dan ingelui met ‘n super-Oesmaan, ‘n rare aandgloed en ‘n middernagtelike konjunksie – baie besonders.


Hmm….dit alles beteken mos nou net één ding: die winter kom.


Dus dan maar:- lekker lente vir julle.......

Monday, September 20, 2010

Op wieke van die woord


Vennoot is in sy skik -- sommer baie. Want sy bester mater (*die uwe), is veilig tuis ná amper ‘n week se uithuisigheid.


Ek en my klein rooi karretjie het voorverlede Donderdag padgevat na Utah se jaarlikse storiefees. Die tweede grootse ene in die land.


Vennoot sou saamgegaan het, maar sy werksvrag pootjie hom toe. Hy het my die geleentheid egter van harte gegun -- "Ry, vrou, ry."


Syse vrou het haar ook nie onnodiglik laat aansê nie.

Luister partykeer baie graag as die man praat.


Hierdie storie-gedoente is waarlikwaar ‘n fees. Gewoonweg (maar alles behalwe “gewoon”), word die feesgangers deur storievertellers van formaat, en wat vanoor die hele land kom, op die wieke van die woord meegevoer.


En as dit nie stories uit die skatkis van die geskiedenis of oor hul eie families se doene en late en stommiteite is nie, is dit opgerakelde verhale oor wie en wat ook al. Huilstories en lagstories en liegstories. (Einste so op Jan Spies-patroon.)



Die Utahfees trek jaarliks 25 000 besoekers, en word gehou in 'n natuurpark, op in 'n kloof.

Sowat van uitmuntende organisasie het ek nog nie baie gesien nie. Parkeer op aangewese plekke in die dorp, klim op een van die string busse wat staan en wag, en ry sit-sit-so tot by die feesterrein. Twaalf kunstenaars wissel heeldag tussen die ses groot markiestente, vertel elke keer 'n nuwe storie -- hoe kies mens tog?!

Verhale word, o, so kunstig gespin soos 'n spinnerak se web......en mens word weer pure kind....



Moenie hierdie "tannie" onderskat nie -- sy het die afgelope 25 jaar voor ongeveer al 250 000 mense haar ding gedoen. Internasionaal ook. Sy is Elizabeth Ellis, en word gereken as een van die voorste Amerikaanse storiekunstenaars.

Dis einste sy wat my een aand wat-en-trane laat huil het met haar storie oor die graftes van onbekende soldate uit die Burgeroorlog uit, en 'n ma of vrou of kind wat nooit sal weet van waar of hoe nie....

Die verrigtinge word afgesluit by 'n opelugpark -- en 'n uur voor die tyd al sal jy hard soek om 'n plekkie te kry waar jy jou kombersie kan oopgooi.


Feitlik elke staat het sy eie storiefees en die beste van die bestes (uit 'n groep van 9000 woordkunstenaars uit Amerika en die res van die wêreld), word uitgenooi na die nasionale fees.

Dié word elke jaar in Oktober in Tennessee gehou.

Oktober...oor drie weke...wonder mos nou of Vennoot my weer sal laat ry.

Miskien moet ek vir hom 'n allermooiste ou storietjie spin.

Tuesday, August 31, 2010

Behoorlik poegaai

Kan ook nie anders nie: het Donderdagoggend voordag hier afgesit Kentucky toe, so al padlangs deur Kansas, Missouri, Illinois en Indiana – ‘n hele 1 862 km heen, en toe weer 1 862 km terug, gister.


Wat mens ook nie alles vir jou kroos sal doen nie. Julle weet mos die spreekwoord sê, ouers sal hulself uittrek vir hul kinders – nou darem nie vóór hulle se kinders nie -- tog hopelik nie.


En uittrek was ook nie deel van die doel van die reis nie, nee, moeder het ‘n mooi rokkie uit die tas gehaal vir die funksie waar Jongste-maar-grootste-Seun, sy “balkies” op sy skouers gekry het as ‘n nuwe luitenant in die National Guard van ‘Kintuck’. (Ses-en-sestig kandidate het begin, maar net 16 manne het klaargemaak.)


Elke staat het sy eie groep Guards.


Hoe staan “National Guard” te vertale? Nasionale Garde? Ek dink nie so nie. Maar

“by any other name” genoem ofte nie, hulle word opgelei deur, en maak deel uit van die Amerikaanse weermag. Is oorspronklik in 1636 in die lewe geroep om Amerika hier binnelands te verdedig.


Ook om te help in geval van natuurrampe, soos met Orkaan Katrina en die groot bosbrande in Kalifornië verlede jaar, waar hulle onmisbare hulp gelewer het.


Maar toe hierdie land se regering na hartelus begin oorlog maak, wettig of onwettig, toe word die NG sommer oorsee ook ingespan. Die mag in Irak het uit meer as 40% NG-lede bestaan, en dié in Afghanistan tans uit 55%.


Soldaatwees is nooit speletjies nie. Selfs nie tydens opleiding nie. Seunskind se hakskene het eenkeer met ‘n veldmars so stukkend geskuur en gebloei dat die “medics” hom aangesê het om uit te val en hospitaaltent toe te kom – wat die einde van sy offisiers-opleiding sou beteken. Hy het geweier en drie ure later met terugkoms by die basis, was sy stewels so bloedbevlek, dat hulle moes asdrom toe -- en hy in die hospitaal gedraai het.


Hy kan dus regtig sê dat hy sy balkies met sweet en bloed verwerf het.


(En ek is seker met trane ook – maar daaroor sal ‘n man mos nie praat nie.)



Thursday, August 19, 2010

Hoor jy my lag (en ween)?

Skoonheidswedstryde en ander mode-mededingende gebeure is beslis nie my forté nie. En ek weet ook nou nog nie hoe ek afgekom het op die foto’s van vanjaar se nasionale komstuumvertoning, by die Mej. Heelal-wedstryd nie. Maar waar vind ek dit toe skatersnaaks! (Veral die kommentaar van die Britse Telegraph daarby -- waarby ek so bietjie aangevul het!)

Daar is ‘n prys vir die beste kostuum te wen, maar dit tel nie vir die verkiesing van die semi-finaliste nie. Die kleurvolle okkasie bied ‘n kykie op die verskillende lande se kulture. Soooo leersaam!! (ha-ha).


Mej. Panama. Koooeee….hier is ek…….


Stekels, blinkers. blomme, vere, en Tsar Alexander se staf. Kom ek nog-iets kort? Mej. Nicaragua


Mej Brittanje kon nie belsuit na watter partytjie toe sy wil gaan nie, toe trek sy maar vir altwee aan (en wen die prys van die aand.)

Sykouse rond enige uitrusting af. Mej. Creole.


Nooit geweet tennis is België se nasionale sport nie?

(En as sy nie die bal kan raakslaan nie, sal sy hom wel kan raakSKOP.)

Kalahari-lappie op ‘n blink skaal, vertoon deur Mej Colombië.


Mej. Candy Queen – komende van Curacao.

Mej. Amerika. (Bly al 'n paar jaar in hierdie land, maar het nog nooit voor vandag hierdie soort voël gesien nie).

Mej. Australië se kostuum is in haar tuisland as ‘n “dingo-ontbyt” beskryf.

As ek die aandag van ‘n minder goedgevormde deel van my anatomie wou aftrek, het ek dalk ook spinnekopvlerke aangehaak soos Mej. Albenië, ekskuustog, Albanië.

Dié mejuffrou kom uit Angola. Ek swyg.

Mej. Dominikaanse Republiek. Is dit nie bietjie vroeg vir Kersfees nie?

Ek vermoed Mej. Guam moes ver deur oorgroeide tropiese woude hardloop om die vertoning te haal.

Mej. Pampoen, ag ekskuus, ek bedoel Mej. Zambië


[Waarom steek die woord ‘afgodspriesteresse’ dan nou al in my gedagtes vas?]