Thursday, July 30, 2009

Mottemanewales (1)

Vir twee weke al is hier nou ‘n klein oorloggie in hierdie huishouding aan die gang. Ons klap, begluur en slaan om dood te slaan.

Genadiglik haal ons die agressie nie op mekaar nie, maar op ‘n gesamentlike vyand uit: mislike motte.

En baie van hulle. Elke dag minstens sewentienstuks of wat, wat baie ywerige deur ons die mot-ewigheid ingehelp word.

Die oorlog het so in drie fases verloop:
verbasing
verstomming
verligting.

En as hier nie redelik kort gelede ‘n deeglike huisskoonmaaksessie plaasgevind het nie -- dankie toggie -- dan was al die fases nog deurspek met skuldgevoelens boonop.

Maar so tussendeur het die oorloggie ‘n ligter sy ook: bokspronge en atletiese rekspronge, klapdanse, (hiervoor het jy bogemiddelde koördinasie nodig want jy moet die indringer probeer doodslaan met die vlieëplak terwyl hy teen ‘n wafferse spoed by jou verbypeil en luglangs swenk) -- en dit alles word met allervenyn teen die ronddartelende, vaalgrys gebroedsels uitgehaal!

Verbasing en verstomming – wat is aan die gang?

Tot gister was ons grootliks bekommerd oor die skade wat die gagga-goed besig is om aan te rig – volwasse kleremotte leef nou weliswaar net ‘n klein rukkie omdat hulle nie eet nie, maar intussen kan ‘n jonger mot se vreetpartytjie 12 mm klerasie in ‘n minuut laat verdwyn! En net omdat hulle die vermoë het om die proteïn Keratien te verteer, is hul gunstelinghappies wol, pels en ander diereprodukte.

Bowendien, so onder onse neuse kon daar nog allerhande onstigtelikhede ook helderoornag plaasgevind het, want vroutjiemotte se feromone kan tot 8 km ver by meneer-motte aandag trek, terwyl sy ywerig besig is om dit vry te stel deur die skubbe op haar vlerke, deur haar abdomen of deur die tibiasegment van die been (hoe lyk ‘n meisiemot se been?!)

Seksie, so ‘n mottemeisie seg ek jou.

Verligting

Groot dankie tog het ons kon aflei dis nie valkmotte nie – dié insek-wêreldrekordhouers swiep teen meer as 50 km/h by jou verby; ook is dit nie hummingbirdmotte nie, wat hulle vlerke teen 70 maal per minuut klap. Of dan die witheksmot -- brrr!!

Die witheksmot (Mexico, Suid-Amerika) se vlerkspan kan tot 30.5 cm wyd wees – ‘n hele skoolliniaallank! Geen wonder as mens die ding sien verbyvlieg word hy merendeel vir ‘n klein voëltjie aangesien nie.

Só voer ons toe oorlog hierdie laaste twee weke sonder om te weet waarvandaan en waarom, totdat ‘n klein koerantberiggie vanoggend ons vrae beantwoord.

1) Die wat: dis glo vaalbruin Miller-motte op verbyvlug na Kansas, en die pes is baie lig vanjaar. (Juig!) Ook vreet hulle nie materiaal nie – hoera!

2) Die waarom: hoewel die wetenskaplikes onder mekaar verskil (wat’s nuut?), glo meeste dat motte die maan as padwyser gebruik, en as hulle dié nie kan sien nie, maak hulle op geomagnetiese tekens staat. (En as ek so aanhou, praat ek myself netnoumaartjies in ‘n respeksverhouding met hierdie motgedoentes in.)

Maar nou raak van die verbyvliegendes moeg, kom rus op MY vensterbanke en dergeliks, word aangetrek deur MY lamplig en kom versteur MY vrede.

En dan gee die joernalis die wenk: gedurende vliegtye moet mens maar saans sorg dat daar so min lig moontlik vir die maansoekende motterasies sigbaar is.

(Hierdie paragrafie het ek nie vir Vennoot gelees nie, anders moes ek dalk vanaand met sonsonder al gaan slaap het.)

Tuesday, July 28, 2009

Hierts, maar dit gaan GOED met my!


En met jou?

As ons die totale wêreldbevolking kon gelykstel aan 100 mense wat saam in een klein gemeenskappie woon, dan sou:

• Ses van die 100 mense 60% van alle rykdom besit.
• Jy, as jy ’n paar muntstukke in jou sak het, slegs een
uit agt van die 100 wees wat enigsins geld het.
• Een uit die 100 ’n rekenaar hê.
• 50 uit die 100 honger ly en ondervoed wees.
• Jy, as jy in die oggend wakker word met goeie gesondheid, nie onder die 1 miljoen mense wees wat gedurende hierdie week die laaste asem uitgeblaas het.

Geniet jou dag!
(En o ja, ons weet vir Wie om dankie te sê, né.)

Monday, July 27, 2009

Mirakel van 'n museum (laaste)

Omdat die bure van die Getty Kunssentrum versoek het dat die geboue nie te hoog moet wees nie, is die onderste vloere van al die geboue ondergronds, en ook met gange verbind, wat die verskuiwing van die kunswerke vergemaklik.

Een van die sentrum se belangrikste argitektoniese elemente, is dié van natuurlike lig. Die baie glasbuitemure lok die sonlig na binne en gee ‘n gevoel van ontspannenheid en vryheid.

Die hoeveelheid lig word egter dwarsdeur die dag deur ‘n rekenaarstelsel beheer wat die blinders en sonskerms voor die vensters verstel. En in die sale waar die skilderye uitgestal word, is daar bowendien spesiale filters aangebring om skade aan die kosbare kunswerke te voorkom. (Is daar iets waaraan daar níé gedink is nie?!)


Portrait of Jeanne Kéfer
(1885, olieverf) -- Khnopff

Hartediefie!!



La Promenade (1870, olieverf) -- Renoir

WAT 'n rok! En kyk hoe onskuldig hou sy haar terwyl hy haar die woud binnelei...is die spel van lig en skadu nie manjefiek nie!



En....Van Gogh se Irisse! Elke ene van Van Gogh se irisblomme is uniek -- ongelooflik! Hy het 'n fyn studie gemaak van die beweging en vorm van die blomme, om sodoende met kartelende en golwende lyne 'n verstommende verskeidenheid van blomsillouette weer te gee.


In 1874 het die kunskritikus Leroy vorendag gekom met die term "Impressioniste" toe hy die hawetoneel van Monet, getiteld "Impression, Sunrise" (1903) gesien het. Hy was van mening dat die kunstenaars bloot 'n indruk van 'n toneel/figuur/voorwerp met enkele, abrupte kwashale begin weergee, en dan sommer net daar opgehou het sonder die verdere afronding.


Die baie bekende The Bridge Over The Water-Lilly Pond (1903, olieverf) -- Monet

Monet het vertel dat hy ure lank na die toneel gesit en kyk het voordat hy sy kwas opgetel het. Een van sy waterlelie-skilderye is in 1998 vir sowat $39 miljoen verkoop. Tog so jammer die man weet dit nie...maar IS ek dankbaar hy het wel daai kwas opgetel!



Thursday, July 23, 2009

Hande

Raakgelees:

'n Gholfstok in my hande beteken nie veel nie.
'n Gholfstok in Ernie Els se hande beteken 'n paar miljoen rand.
Dit hang af in wie se hande dit is…

'n Stok in my hande kan gebruik word om myself te verdedig.
'n Stok in Moses se hande het die see geskei.
Dit hang af in wie se hande dit is...

‘n Kettie in my hande is ‘n speelding.
‘n Slingervel in Dawid se hande is ‘n magtige wapen.
Dit hang af in wie se hande dit is...

Twee vissies en vyf brode in my hande beteken 'n paar vis-toebroodjies.
Twee vissies en vyf brode in Jesus se hande beteken kos vir duisende.
Dit hang af in wie se hande dit is...

Met spykers in my hande kan ek 'n kassie bou.
Spykers in Jesus se hande beteken oorwinning en verlossing vir almal wat Syne is.
Dit hang net af in wie se hande dit is...


Daarom wil ek vandag, en vir altyd, ALLES wat ek is en het -- in God se hande los.

Tuesday, July 21, 2009

'n Mirakel van 'n museum (3)

Een van die lekkertes van die Getty Kunssentrum, is dat dit geoorloof is om foto's (nie met flits nie) van die kunswerke te neem!

En o, die agternákyk se vreugde:

Baroness de Domecy (ong. 1900, pastel en grafiet op bruin papier) -- Redon
Is dit nie skitterend modern nie! Die barones se gesig word gevorm deur die agtergrondpapier.

Maria Frederike van Reede-Athlone op 7 jaar (ong. 1755, pastel) -- Liotard
Sy's alte dogtertjierig. En daai kleinhond spring nou-nou uit die raam uit.

John Gulston, vier jaar oud (1754, pastel) -- Cotes
John dra, soos dit destyds nog die gewoonte vir klein seuntjies was, 'n rokkie (waarom weet nugter? En tjek bietjie daai moue), nogal ewe met kantwerk ook. Francis Cotes was die eerste Engelse skilder om met pastelle te werk. (Menige ma sal wens om so 'n mooi dogtertjie te hê!)


Die Wasmeisie (1761, olieverf) -- Jean-Baptiste Greuze
(Haar gesigsuitdrukking lyk soos ek dikwels in die waskamer voel.)

Portret van Suzanne Le Peletierde Saint-Fargean (1804, olieverf) -- Jacques-Louis David
Hierdie portret is een van die min privaatwerke wat David gedoen het nadat hy vir Napoleon begin werk het. Suzanne is wees gelaat in die Franse Rewolusie. Is dit nou nie interessant watse verskil die borand van die handskoene aan die hele prentjie maak nie -- ewe skalks.

Young Girls Admiring Japanese Artware (1869, olieverf) -- James Tissot
Gedurende die middel-1800's was dit die in-ding onder die Paryse hoër-middelklas om Japanese kunsstukke te versamel. Hier bekyk twee jong meisies hul moontlike aankope. Oftewel, hulle "windowshop."

Nadine Dumas (1873 -75, Marmer) -- Jean-Baptiste Carpeaux
Carpeaux was hooggeag deur Napoleon III en een van die beroemdste beeldhou-portretkunstenaars ooit. Hierdie beeld is dié van die Russiese vrou van die Franse skrywer Alexandre Dumas, Jr., en beste vriend van die beeldhouer.



Sunday, July 19, 2009

Welkom, Kalispell!

Iets nuuts uit Afrika nou hier in die groot stad van Denver, nadat die jongste okapi-meisiekind, Kalispell genoem, einde Junie in die dieretuin gebore is en haar by haar 4 ander familielede gevoeg het. (Moet asseblief net nie vir my die hoekom en die waarom van die naam "Kalispell" vra nie, want dis ‘n Indiaanse woord wat “platteland bokant die meer” beteken. Maar dit klink digterlik genoeg vir so 'n oulike vierbeentjie.)

Baie besonders is hierdie familietjie. Okapis lyk na ‘n kruising tussen kameelperde en zebras, maar nee, hulle is slegs aan ou langnek verwant. Wetenskaplikes meen die streepbene dien om die ma’s in die digte bosse vir hul kroos makliker sigbaar te maak.

Okapis kom net in die Kongo voor en hierdie skaam diersoort is verlede jaar vir die eerste keer in die wildenis op film vasgelê! Dog tragies genoeg wil dit lyk asof okapis weens wildroof en ook vanweë die gewapende stryd in die Kongo, gaan uitsterf.

En sowaar is die okapi een van die min soogdiere wat sy eie ore kan lek! Dit wil darem gedoen wees!

Thursday, July 16, 2009

'n Mirakel van 'n museum (2)

J Paul Getty het Franse meubels bymekaar gemaak – en ook nou nie sommer so nie.

Want wie sou kon dink dat Lodewyk XIV (regeer 1643 – 1715), se tapisserieë hier in Los Angeles sou beland? Wel, die ou Sonkoning moes uithang vir de vale (of is dit dalk uithang vir de pure purper), want Frankryk was in daardie jare die magtigste Europese land. Die ge-uithangery was dus ook politieke speletjies om ander lande te beïndruk.

Aan die Franse hof het dit geskitter en geblink van goud en silwer en marmer en alles baie formeel. (Wanneer ek geskiedkundige flieks van daardie tyd sien, gril ek my lam vir die oordadige tierlantyntjies, pruike en sieklik-oppervlakkige lewensstyl.)

‘n Koffer (jou waarlik “coffer” genoem) op ‘n staander, bedoel vir juwele of klein, kosbare besittings. (Ek sal tevrede wees met ‘n leë koffertjie ook, dankie!) Dis gemaak van eike-, sipres- en okkerneuthout, versier met koper, horing, pewter en skilpaddop. Waarskynlik die eiendom van een van Lodewyk XIV se seuns.

Die klein houtstukkies wat die blomme op hierdie tafelblad vorm, is vooraf met warm sand geskroei om die merkwaardige kleurnuanses te kry. Kreatief!

‘n Unieke skryftafel wat aan beide kante kan oopklap. Was die eiendom van ‘n ryk edelman wat tydens die Franse Revolusie op die guillotine gesterf het.

Hierdie indrukwekkende horlosie (1747) wys mens net oor watter verstommende kennis die Franse sterrekundiges al hier in die middel-sewentienhonderds beskik het. Daar is ‘n hoofwyserplaat, bestaande uit drie klein wyserplaatjies: die eerste ene dui die tyd van die dag aan; die tweede wys watter maand van die jaar dit is en gee sy sterreteken, en wys boonop die tydsverloop van die maanmaande aan, terwyl die derde wyserplaatjie mens op die hoogte bring van plaaslike tyd in verskillende stede dwarsoor die wêreld.

In die boonste glasvenstertjie is daar vier wyserplaatjies. Op die een kry mens die fases van die maan; op die tweede ene die hoogwatertye aan die noordkus van Frankryk; nommer drie vertel jou watter dag dit vandag is en die laaste een lig jou in aangaande die
verduistering van Io, ‘n maan van Jupiter!

As die kersstaander so groot is, hoe groot was die kers?!

Hierdie fyn tafeltjie het gestaan in die huis in die tuin van Versailles, wat Lodewyk XIV vir sy houvrou Madame De Montespan, laat bou het. Sy was een van sowat 5 of 6 byvrouens wat die koning oor die jare heen aangehou het, en hy het sewe kinders by haar gehad (dis meer as by sy wettige vrou. En dan dink ons vandag se politici gaan erg te kere....)

‘n Potpourri-houer. Welriekende blomknoppe, speserye en parfuum is gedurende die 1700’s op rojale wyse as lugverfrissers in Europa gebruik. Destyds het persoonlike higiëne, selfs onder die hoëlui, nie ingesluit dat mens gereeld gebad het nie.

Dit mag alles nou regtig baie kosbaar wees, maar niemand sal my oortuig dat 'n paleis 'n gesellige woonplek is nie.


Hier systoele was onder die 64 wat Marie Antoinette in 1786 vir haar ontspannings- en kaartspeelvertrekke bestel het, en dit, terwyl die derduidende armes in Frankryk aan’t sterwe was van ellende. Kan mens glo dat sy eendag verbluf gevra het: “Waarom haat die volk my so? Watter skade het ek hulle dan ooit aangedoen?”

Watter verstommende houtkerfwerk op hierdie muurpaneel uit die Franse paleis! En om te dink ou wêreldgrotes het dit ook bekyk (of miskien glad nie eens raakgesien nie,)

Monday, July 13, 2009

'n Mirakel van 'n museum (1)

Nou wel, as ‘n stad jou 90 teaters en meer as driehonderd museums bied, en jy oor net ‘n driekwartdag beskik – WAT doen jy? Dit was die besluit wat ons so ‘n week of drie gelede in Los Angeles moes neem.

Ooee, dankie toggie, ons het besluit om die Getty Museum te gaan bekyk. Feeste!

Ek is geen befaamde kunskenner nie, maar wanneer mens die voorreg het om soveel estetiese perfeksie en grootse kuns te geniet, dan is daar net een woord: verheffend!!

Die Getty-storie is ‘n lang en fassinerende ene (mense en hul dinge, die hoekom hulle is soos hulle is en doen wat hulle doen, lok my soos ‘n mot wat al na die lig toe dwing). Maar ek gaan nie die storie hier uitryg nie.

Genoeg om te sê John Paul Getty (1892 - 1976), was ‘n oliemagnaat en een van die rykste mense van sy tyd en baie min mense weet presies watter bedrag geld hy nagelaat het – iets tussen 2 en 4 biljoen dollertjies….

Was ‘n kunsversamelaar (meer bereid om geld dáárop, as op sy kinders uit te gee. Ses seuns by vyf vrouens gehad – dis nou binne die huwelik -- 2 van hulle reeds voor hom oorlede.) Uiters ongelukkige familiegeskiedenis – geld is mos nou ook nie enigeen se maat nie en, soos ons weet, het dit al tallose vingers verbrand en derduisende lewens verwoes.

Met Getty se sterwe laat hy ‘n trustfonds na vir die bewaring van sy kunsskatte en in 1984 word die argitek Richard Meier gekies om ‘n museum te bou…..met ‘n onbegrensde begroting….is dit nou nie die wonderlikste ding vir so ‘n ou om te hoor nie?!

Beplan en bou 13 jaar lank (hy kon maar, as mens sien wat die man reggekry het), totdat die Getty Kunstesentrum in 1997 in die Santa Monica-heuwels naby Beverley Hills, sy deure oopmaak.

Mens betaal net $10 vir ‘n plekkie in die parkeergarage (sewe ondergrondse vloere met 1 200 parkeerplekke), verder het jy vrye toegang tot die fantastiese gronde en tot die fenominale kunsversameling van skilderye, beeldhouwerke, foto’s, tekeninge, Middeleeuse manuskripte, meubels en noem maar op.

Die kompleks uit die lug uit:

Al op die ruglyn van die Santa Monica-heuwels.

Die loop-, sit en eetareas is alles buitekant en elke keer dat mens na die volgende uitstalling in die langsaanste gebou gaan, moet jy eers na buite met trappe of 'n op wandelterras langs, en kry dan grootse uitsigte oor die heuwels en die stad.



Daar was nog min kere in my lewe dat ek gevoel het dat die argitektuur van ‘n gebou(e) ‘n durende herinnering help skep het, maar hierdie sentrum is ‘n kunsskat op sigself! Die gekapte klip (uit Italië), die vloeiende lyn van die geboue op die rug van die heuwels, die spel van lig en skadu, die gebruik van verskillende vlakke, van water….ag noem maar op, dit was ‘n onuitwisbare vreugdeavontuur.




Nee, nie 'n skildery nie; 'n kunswerk in die tuin. Bied die bome nie perfekte simmetrie nie? (Kan simmetrie onperfek wees?!)



Die sentrale tuin: