Showing posts with label museum. Show all posts
Showing posts with label museum. Show all posts

Monday, July 27, 2009

Mirakel van 'n museum (laaste)

Omdat die bure van die Getty Kunssentrum versoek het dat die geboue nie te hoog moet wees nie, is die onderste vloere van al die geboue ondergronds, en ook met gange verbind, wat die verskuiwing van die kunswerke vergemaklik.

Een van die sentrum se belangrikste argitektoniese elemente, is dié van natuurlike lig. Die baie glasbuitemure lok die sonlig na binne en gee ‘n gevoel van ontspannenheid en vryheid.

Die hoeveelheid lig word egter dwarsdeur die dag deur ‘n rekenaarstelsel beheer wat die blinders en sonskerms voor die vensters verstel. En in die sale waar die skilderye uitgestal word, is daar bowendien spesiale filters aangebring om skade aan die kosbare kunswerke te voorkom. (Is daar iets waaraan daar níé gedink is nie?!)


Portrait of Jeanne Kéfer
(1885, olieverf) -- Khnopff

Hartediefie!!



La Promenade (1870, olieverf) -- Renoir

WAT 'n rok! En kyk hoe onskuldig hou sy haar terwyl hy haar die woud binnelei...is die spel van lig en skadu nie manjefiek nie!



En....Van Gogh se Irisse! Elke ene van Van Gogh se irisblomme is uniek -- ongelooflik! Hy het 'n fyn studie gemaak van die beweging en vorm van die blomme, om sodoende met kartelende en golwende lyne 'n verstommende verskeidenheid van blomsillouette weer te gee.


In 1874 het die kunskritikus Leroy vorendag gekom met die term "Impressioniste" toe hy die hawetoneel van Monet, getiteld "Impression, Sunrise" (1903) gesien het. Hy was van mening dat die kunstenaars bloot 'n indruk van 'n toneel/figuur/voorwerp met enkele, abrupte kwashale begin weergee, en dan sommer net daar opgehou het sonder die verdere afronding.


Die baie bekende The Bridge Over The Water-Lilly Pond (1903, olieverf) -- Monet

Monet het vertel dat hy ure lank na die toneel gesit en kyk het voordat hy sy kwas opgetel het. Een van sy waterlelie-skilderye is in 1998 vir sowat $39 miljoen verkoop. Tog so jammer die man weet dit nie...maar IS ek dankbaar hy het wel daai kwas opgetel!



Tuesday, July 21, 2009

'n Mirakel van 'n museum (3)

Een van die lekkertes van die Getty Kunssentrum, is dat dit geoorloof is om foto's (nie met flits nie) van die kunswerke te neem!

En o, die agternákyk se vreugde:

Baroness de Domecy (ong. 1900, pastel en grafiet op bruin papier) -- Redon
Is dit nie skitterend modern nie! Die barones se gesig word gevorm deur die agtergrondpapier.

Maria Frederike van Reede-Athlone op 7 jaar (ong. 1755, pastel) -- Liotard
Sy's alte dogtertjierig. En daai kleinhond spring nou-nou uit die raam uit.

John Gulston, vier jaar oud (1754, pastel) -- Cotes
John dra, soos dit destyds nog die gewoonte vir klein seuntjies was, 'n rokkie (waarom weet nugter? En tjek bietjie daai moue), nogal ewe met kantwerk ook. Francis Cotes was die eerste Engelse skilder om met pastelle te werk. (Menige ma sal wens om so 'n mooi dogtertjie te hê!)


Die Wasmeisie (1761, olieverf) -- Jean-Baptiste Greuze
(Haar gesigsuitdrukking lyk soos ek dikwels in die waskamer voel.)

Portret van Suzanne Le Peletierde Saint-Fargean (1804, olieverf) -- Jacques-Louis David
Hierdie portret is een van die min privaatwerke wat David gedoen het nadat hy vir Napoleon begin werk het. Suzanne is wees gelaat in die Franse Rewolusie. Is dit nou nie interessant watse verskil die borand van die handskoene aan die hele prentjie maak nie -- ewe skalks.

Young Girls Admiring Japanese Artware (1869, olieverf) -- James Tissot
Gedurende die middel-1800's was dit die in-ding onder die Paryse hoër-middelklas om Japanese kunsstukke te versamel. Hier bekyk twee jong meisies hul moontlike aankope. Oftewel, hulle "windowshop."

Nadine Dumas (1873 -75, Marmer) -- Jean-Baptiste Carpeaux
Carpeaux was hooggeag deur Napoleon III en een van die beroemdste beeldhou-portretkunstenaars ooit. Hierdie beeld is dié van die Russiese vrou van die Franse skrywer Alexandre Dumas, Jr., en beste vriend van die beeldhouer.



Thursday, July 16, 2009

'n Mirakel van 'n museum (2)

J Paul Getty het Franse meubels bymekaar gemaak – en ook nou nie sommer so nie.

Want wie sou kon dink dat Lodewyk XIV (regeer 1643 – 1715), se tapisserieë hier in Los Angeles sou beland? Wel, die ou Sonkoning moes uithang vir de vale (of is dit dalk uithang vir de pure purper), want Frankryk was in daardie jare die magtigste Europese land. Die ge-uithangery was dus ook politieke speletjies om ander lande te beïndruk.

Aan die Franse hof het dit geskitter en geblink van goud en silwer en marmer en alles baie formeel. (Wanneer ek geskiedkundige flieks van daardie tyd sien, gril ek my lam vir die oordadige tierlantyntjies, pruike en sieklik-oppervlakkige lewensstyl.)

‘n Koffer (jou waarlik “coffer” genoem) op ‘n staander, bedoel vir juwele of klein, kosbare besittings. (Ek sal tevrede wees met ‘n leë koffertjie ook, dankie!) Dis gemaak van eike-, sipres- en okkerneuthout, versier met koper, horing, pewter en skilpaddop. Waarskynlik die eiendom van een van Lodewyk XIV se seuns.

Die klein houtstukkies wat die blomme op hierdie tafelblad vorm, is vooraf met warm sand geskroei om die merkwaardige kleurnuanses te kry. Kreatief!

‘n Unieke skryftafel wat aan beide kante kan oopklap. Was die eiendom van ‘n ryk edelman wat tydens die Franse Revolusie op die guillotine gesterf het.

Hierdie indrukwekkende horlosie (1747) wys mens net oor watter verstommende kennis die Franse sterrekundiges al hier in die middel-sewentienhonderds beskik het. Daar is ‘n hoofwyserplaat, bestaande uit drie klein wyserplaatjies: die eerste ene dui die tyd van die dag aan; die tweede wys watter maand van die jaar dit is en gee sy sterreteken, en wys boonop die tydsverloop van die maanmaande aan, terwyl die derde wyserplaatjie mens op die hoogte bring van plaaslike tyd in verskillende stede dwarsoor die wêreld.

In die boonste glasvenstertjie is daar vier wyserplaatjies. Op die een kry mens die fases van die maan; op die tweede ene die hoogwatertye aan die noordkus van Frankryk; nommer drie vertel jou watter dag dit vandag is en die laaste een lig jou in aangaande die
verduistering van Io, ‘n maan van Jupiter!

As die kersstaander so groot is, hoe groot was die kers?!

Hierdie fyn tafeltjie het gestaan in die huis in die tuin van Versailles, wat Lodewyk XIV vir sy houvrou Madame De Montespan, laat bou het. Sy was een van sowat 5 of 6 byvrouens wat die koning oor die jare heen aangehou het, en hy het sewe kinders by haar gehad (dis meer as by sy wettige vrou. En dan dink ons vandag se politici gaan erg te kere....)

‘n Potpourri-houer. Welriekende blomknoppe, speserye en parfuum is gedurende die 1700’s op rojale wyse as lugverfrissers in Europa gebruik. Destyds het persoonlike higiëne, selfs onder die hoëlui, nie ingesluit dat mens gereeld gebad het nie.

Dit mag alles nou regtig baie kosbaar wees, maar niemand sal my oortuig dat 'n paleis 'n gesellige woonplek is nie.


Hier systoele was onder die 64 wat Marie Antoinette in 1786 vir haar ontspannings- en kaartspeelvertrekke bestel het, en dit, terwyl die derduidende armes in Frankryk aan’t sterwe was van ellende. Kan mens glo dat sy eendag verbluf gevra het: “Waarom haat die volk my so? Watter skade het ek hulle dan ooit aangedoen?”

Watter verstommende houtkerfwerk op hierdie muurpaneel uit die Franse paleis! En om te dink ou wêreldgrotes het dit ook bekyk (of miskien glad nie eens raakgesien nie,)

Monday, July 13, 2009

'n Mirakel van 'n museum (1)

Nou wel, as ‘n stad jou 90 teaters en meer as driehonderd museums bied, en jy oor net ‘n driekwartdag beskik – WAT doen jy? Dit was die besluit wat ons so ‘n week of drie gelede in Los Angeles moes neem.

Ooee, dankie toggie, ons het besluit om die Getty Museum te gaan bekyk. Feeste!

Ek is geen befaamde kunskenner nie, maar wanneer mens die voorreg het om soveel estetiese perfeksie en grootse kuns te geniet, dan is daar net een woord: verheffend!!

Die Getty-storie is ‘n lang en fassinerende ene (mense en hul dinge, die hoekom hulle is soos hulle is en doen wat hulle doen, lok my soos ‘n mot wat al na die lig toe dwing). Maar ek gaan nie die storie hier uitryg nie.

Genoeg om te sê John Paul Getty (1892 - 1976), was ‘n oliemagnaat en een van die rykste mense van sy tyd en baie min mense weet presies watter bedrag geld hy nagelaat het – iets tussen 2 en 4 biljoen dollertjies….

Was ‘n kunsversamelaar (meer bereid om geld dáárop, as op sy kinders uit te gee. Ses seuns by vyf vrouens gehad – dis nou binne die huwelik -- 2 van hulle reeds voor hom oorlede.) Uiters ongelukkige familiegeskiedenis – geld is mos nou ook nie enigeen se maat nie en, soos ons weet, het dit al tallose vingers verbrand en derduisende lewens verwoes.

Met Getty se sterwe laat hy ‘n trustfonds na vir die bewaring van sy kunsskatte en in 1984 word die argitek Richard Meier gekies om ‘n museum te bou…..met ‘n onbegrensde begroting….is dit nou nie die wonderlikste ding vir so ‘n ou om te hoor nie?!

Beplan en bou 13 jaar lank (hy kon maar, as mens sien wat die man reggekry het), totdat die Getty Kunstesentrum in 1997 in die Santa Monica-heuwels naby Beverley Hills, sy deure oopmaak.

Mens betaal net $10 vir ‘n plekkie in die parkeergarage (sewe ondergrondse vloere met 1 200 parkeerplekke), verder het jy vrye toegang tot die fantastiese gronde en tot die fenominale kunsversameling van skilderye, beeldhouwerke, foto’s, tekeninge, Middeleeuse manuskripte, meubels en noem maar op.

Die kompleks uit die lug uit:

Al op die ruglyn van die Santa Monica-heuwels.

Die loop-, sit en eetareas is alles buitekant en elke keer dat mens na die volgende uitstalling in die langsaanste gebou gaan, moet jy eers na buite met trappe of 'n op wandelterras langs, en kry dan grootse uitsigte oor die heuwels en die stad.



Daar was nog min kere in my lewe dat ek gevoel het dat die argitektuur van ‘n gebou(e) ‘n durende herinnering help skep het, maar hierdie sentrum is ‘n kunsskat op sigself! Die gekapte klip (uit Italië), die vloeiende lyn van die geboue op die rug van die heuwels, die spel van lig en skadu, die gebruik van verskillende vlakke, van water….ag noem maar op, dit was ‘n onuitwisbare vreugdeavontuur.




Nee, nie 'n skildery nie; 'n kunswerk in die tuin. Bied die bome nie perfekte simmetrie nie? (Kan simmetrie onperfek wees?!)



Die sentrale tuin:



Monday, May 25, 2009

En hoe kraak jy jou neute?

Ek wou só graag die volgende oggend nog ‘n draai by die neutkrakermuseum in Leavenworth gaan maak, maar met die baie myle voor totdat ons Sondagmiddag op die eiland moet wees, kon dit net nie. Maar, soos ons weet, ‘n Boer maak ‘n plan….dus lees mens die brosjures en voel bietjie getroos.

Met meer as 4 000 vertoonstukke, tel die museum se neutkrakerversameling onder een van die gootstes ter wêreld. Nogal mooitjies begin deur ‘n voormalige balletonderwyseres.


Arlene Wagner, wat baie jare lank die Neutkraker Ballet op die planke gebring het. Sy vertel dat sy, net soos Clara in die ballet, gefassineer geraak het met die houtfiguur met die groot tande en dit het daartoe gelei dat sy en haar man die wêreld deurkruis het om hul versameling aan te vul.

Ontmoet Clara, die neutkrakermeisietjie. Sy is 'n musikale poppie ook nog -- moet haar net nie te styf opwen nie.

Clara se prins. (Hy maak my nie opgewonde nie.....)

Omdat die mens sedert die vroegste tye neute geëet het, moes hy tog ‘n manier vind om die dop te kraak!

Die oudste neutekraker in die wêreld is in die museum in Tarent, Italië, te siene (4e/5e eeu). Die een hieronder is in die Leavenworth museum en dateer uit ongeveer die tyd van Christus se geboorte. Dit is in 1960 gevind nadat dit vir meer as 1 800 jaar begrawe glelê het.


En wie sou kon dink dat ‘n mens met ‘n neutkraker kan weerwraak neem?!

In die myngebied in Oos-Duitsland in die 17/18-honderds wanneer die mynwerkers tydens die winter moes tuis bly, het hulle nuttige gebruiksartikels uit hout vir hul families gekerf. Daar was 'n bygeloof dat ‘n neutkraker in die vensterbank die bose geeste, sowel as gevaar, van die familie sou weghou. En só word die krakers in konings- en soldatefigure uitgekerf: vir ééns in die lewe darem werk die adel en die militêre vir die plebs – en dit deur hul neute vir hulle te kraak!

Hierdie is twee ware oues van dae --- 140 jaar oud.

Voordat ‘n kraker op die rak staan gemaak kan word, verg dit sowat 130 stappe, beginnende met die uitsoek van die hout (waarvan die jaarringe 'n bepaalde afstand van mekaar af moet wees) en dan lê die hout vir ‘n paar jaar om droog te word.

Vir die rykes is daar krakers uit ivoor, been en porselein gekerf.

Aan humor het dit die kerwers ook nie ontbreek nie.



So jammer dat ek nou nie al die gegewe in ‘n neutedop kon saamvat nie, maar ai, dis dan so interessant tog!


Lig bietjie Wagter se stert en hy kraak jou neut in sy bek.