Tuesday, December 18, 2012

Stikdonkere dag


Waarom?
Waarom laat God aaklige goed gebeur?
Hierdie vraag word weereens gevra in die aangesig van die afgryslike gebeure Vrydag in Connecticut.
Antwoorde kom nie maklik nie. Ongelowiges sê daar is geen God nie; en as Hy bestaan, is Hy óf onmagtig óf self ook boos.
Dié wat aan Hom vasklem en wéét dat Hy goed is, sien ook met verslaenheid hoedat Hy in Sy soewereiniteit, aaklige en verstommend boosheid toelaat. 
Ons weet ook dat sedert die eerste twee mense van die verbode vrugte geëet het, niks meer is soos dit veronderstel was om te wees nie.
Ons protesteer. Ons rou. Ons word kwaad. Ons harte verlang na iets beters. Of ons in God glo of nie, diep binnekant weet ons dat dinge nie is wat hulle moet wees nie. Alles wat God goed gemaak het, word verwring, vermink en verwoes.
En dis dan amper Kersfees – tyd van blydskap en goeie tyding….??
Maar ons sal wag. Ons sal wag totdat God op Sy tyd die antwoord gee – dáárdie stralende helder dag wanneer Hy wat met die eerste Kersfees gekom het, finaal sal verskyn en aan alle donkerte, pyn en lyding ‘n summiere einde sal maak.
Ons wag in kinderlike geloof; en ons vertrou – so goed as wat ons weet hoe – dat daar meer besig is om te gebeur as wat ons met ons menslike oë kan sien en met ons beperkte ou verstandjies kan verstaan. Saam met Dawid roep ons uit: “O, as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie…”

En ons hou mekaar vas en versterk mekaar met die laaste woorde van Ps. 27:
“Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!”

Thursday, December 13, 2012

Timmer voort

God het oor tye heen verbasende gebruiksartikels tot uitbreiding van Sy Koninkryk aangewend. Van die meer bekendes is Moses se staf, Jael se tentpen, Dawid se slingervel en 'n seuntjie se middagete.


Al is jy of jou werksartikel nie iewers bekend of gelys nie -- is jy en jou kettie of knieskottel of wat jou doen-ding ook al is, ooit enigsins beskikbaar vir Sy wingerdwerk?

Wednesday, November 21, 2012

Kalkoengroete

Môre is dit weer Turkse hoender-dag hier (Thanksgiving), en ek wil iets oorkom as ek in die kruidenierswinkels sien hoe die oorlaaide waentjies steun, kreun en knars. Die enigste "giving" is by die kasregister en van "thanks" teenoor wie ook al, is daar by meeste van die volk (beslis nie almal nie) al vir baie jare nie meer sprake nie.


Oooeee -- klink ek oud en sinies? Laat ek dan liewers groet voordat ek myself verder "ontbloot" en so kaal staan soos 'n geplukte kalkoen.

Ek groet met-- soos hulle sê: 
Keep calm and gobble on

Monday, November 19, 2012

Net een skuilplek

Die Weskaap brand. 


Die res van die wêreld ook --  dog, meeste biljoene mense sien -- en wil nie -- nie die stuwende rookwolke nie.

Daarom luister ek vanmôre met oorgawe na Johnny Cash -- 

"I am a tree, planted by the waters, and I shall not be moved." (Al voel my blare verdordgewaai deur die winde van verandering.)

"I am a pilgrim and a stranger, on my way to that good city not made by hand." (Al is die pad dof en ek moeg geloop.)

"When the roll is called up yonder, I'll be there." (Tuis, regtig tuis.)

Troosgroete in ons lieflike Here Jesus!

(Ook aan myself.)




Sunday, March 18, 2012

GPS-liegstories


 Drie Japanese toeriste verlaat Australië vandag sonder die vakansie waarvan hulle gedroom het en R10 500 armer as wat hulle verwag het, en laat ‘n motorverhuringsmaatskappy agter met die hande in die hare – oftewel in die water.

Die sondebok agter die storie? ‘n onbetroubare GPS-stelsel, en ‘n oormaat vertroue in moderne tegnologie (en 'n gefaalde I.K.-toets?)
 
Die drie toeriste in hul vroeë twintigs, was oppad vir ‘n besoek aan die eiland Noord Stradbroke. Maklik – spring net in jou gehuurde Hyundai toegerus met ‘n GPS.

Die enigste interessantheid van die rit was dat tussen hulle en hul bestemming was daar ‘n goeie 9.3 myl water. Geen problem nie, seg die GPS – hou maar net reguit vorentoe.

“Die ding het aanhou sê ons moet deursteek, hy gaan ons op die regte pad sit.”

Maar so ‘n derde van ‘n myl verder toe kan die ou motortjie nie vorentoe of agtertoe in die modder nie, en al genade was uitklim en terugwaad land toe.

Onthou dus: as jou GPS jou vertel om reguit vorentoe aan te hou en al wat jy kan sien is water, moenie die ding verder vertrou nie.  Per slot van rekening – jou naam is nie Noag nie. 

Tuesday, February 14, 2012

Die vaalte van Valenstyn






Op hierdie Valentynsdag het ek my toenterjare se jongmeisiedroom geleef. Daardie romantiese droombeeld van om saam met jou held die wondelikste dae in jul eie ou knus plekkie te mag beleef.

Amper alles net so gewees.

My (nog steedse) held, ons mooi huis en ‘n sonskyndag.

En ek besig om van hoek tot kant te was en te stofsuig.

Snaaks, dit was nooit deel van my droom gewees nie.