Sunday, January 31, 2010

Hou dit vir jouself

Wat is dit tog wat die mensdom so interesseer omtrent naaktheid?

Of hulle laat dink, andere is geïnteresseerd in hulle sonder-klere-wees.


Ek is waarlik al verby satwordens toe moeg om, wanneer ek aartappels of pampoen op koerant skil, in die gesig gestaar te word deur boesems en boudetjies. Mens kan nie daarvan ontsnap nie, nie eens in jou eie kombuis nie – want televisie met al sy kômmingeit, gevloek en kaalbasgeit, dié kyk Vennoot en ek tog lankal nie meer nie.


Maak geen fout nie – die menslike liggaam is vir my mooi, baie mooi; veral as dit ‘n pragtige jong perskeblom-meisiekind of goedversorgde ouer vrou is, wat net straal omrede van wie sy is – nie omrede van iets (of alles) wat sy aan jou (en almal wat tog asseblief net wil kyk), wil wys nie!


(Het dit al ontelbare kere gesien, dankie. Jy is maar net nóg een wat wil uithang.)


Genadiglik (en dit is NET genade), is die meerderheidsgevoel in meeste lande darem nog teen (totale!) kaalgeit.


Nie in Spanje nie.


Ná Franco se diktatuur het die Spanjaarde totale vryheid gesoek, en hulle grondwet veroorloof naaktheid oral: of jy nou op die strand sonbruin, of inkopies doen in Barcelona. Onbeskaamd het talle nudiste dus al by verskeie geleenthede in die Spaanse strate geparadeer en seker “o, so vry”, gevoel.


In Noorweë is ‘n beeldhouer besig om ‘n naakte Christusbeeld in opdrag van ‘n kerk daar, te skep.


‘n Ander naaktheids-“kunstenaar” (weet nou nie so mooi van die kuns nie, maar die naar…?) is die fotograaf Spencer Tunick. As hy nie 600 naaktes by onder 10ºC in die Alpe afneem nie, dan is dit 2 754 in die lavinntel-velde in Ohio, of 18 000 ou kales op Mexicostad se hoofplein – in die stralende sonskyn.


En dit alles dan nou glo omrede van vryheid, kuns en persoonlike uiting.


Dog, een van die vroulike deelnemers aan dusdanige fotosessie in Amsterdam, sê toe sy ná die tyd (aangetrek) op haar fiets terugry huis toe, tref dit haar dat sy haarself veel beter kan aktualiseer deur haar eie unieke en persoonlike klerestyl!


Maar aardsnudiste weet glo te vertel, kaalloop gee jou ‘n onvergelyklike gevoel van gelykheid en vryheid en vreugde.


Om openbare kaalgeit te beoefen, is dus glo wonderlik.


Ek mis dus iets wonderliks? Ek is dus aan die verloorkant?


Hierdie keer gee ek nie ‘n kale duit om nie – you can have it all (dis buitendien alles joue).


Gaan “have” dit asseblief net waar ek en (baie) ander wat nie wil weet hoe jou naakte waarheid lyk nie, dit nie hoef te sien of te bekyk nie.


(Ter inligting: Dis 'n naakfoto links bo, maar ek het dit gesensor tot ons almal se stigting. Uhm...)


Wednesday, January 27, 2010

Goed, goed, ek sal padgee

As mens iewers in Oostenryk rondry (soos die ou wat die foto geneem het) en jy kom op hierdie padteken af, dan sal ek sommer pleinweg padgee, nevermaaind nog dink aan toegee...

Thursday, January 21, 2010

Ramkat en rammetjie

Broer kon nog altyd ‘n ding sê nes hy is.


So ‘n paar jaar gelede kom vra een van sy rammetjies (die ene wat wat toe net besig was om rooihakskeentjies te begin kry), toestemming om die volgende naweek saam met ‘n paar maats te gaan kamp.


“Seuns of meisies?” kom die eerste wedervraag. (Rammetjie kon dit natuurlik verwag het.)


“Seuns én meisiekinders, Pa.”


“Gaan Nelia saam? (Nelia synde Rammetjie se -- baie oulike -- meisie te wees.)


“Ja Pa, sy gaan.”


“Dan sê ek ‘nee’.” Heeltemal rustig.


“Ekskuus, Pa?” Ongetwyfeld het Rammetjiekind reg gehoor, en hy het dadelik gewéét hy het. Maar die breingolwe moet nou eers tyd kry om van patroon te verander, sodat hy wat Rammetjie is, tot die aanval – nog altyd die beste manier van verdediging -- kan oorgaan.


Toe dus, op net die regte noot van gebelgde agressie: “Maar vertrou Pa my dan nie?”


“Nee.”


“Ekskuus, Pa?!” Hierdie keer is die jongeling eerlikwaar onkant gevang.


“Nee,” verklaar Broer ongestoord. “Ek vertrou jou nie, want jy is ‘n man en Nelia is ‘n meisie en mens loop soek nie moeilikheid nie. Dié kom sommer hêlleroordag vanself op jou afgestorm.”


Ramkat!


Dis nou Broer, nie Rammetjie nie.


Saturday, January 16, 2010

Haiti en gebed sonder ophou

Port-au-Prince, Haiti, voor Dinsdagaand

Leann Chong van Florida, Amerika, is besig om in ‘n hospitaal in die Dominikaanse Republiek te herstel van skok, trauma en minder ernstige beserings.

Sy was Dinsdagaand op die 2e vloer van die Hotel Montana in Port-au-Prince tydens die aarskudding in Haiti.

Die tradisieryke en 98 jaar-oue Hotel Montana was onder die welvarendste hotelle in Haiti, maar lê nou totaal verwoes. (Die hoteleienaar, Reinhard Riedl, se vrou kon nie betyds uit die verwoeste hotel gered word nie.)

(Bo) Gewese uitsig vanaf die voorste balkon oor Port-au-Prince en (onder), die hotel (vroeër) van agter.

"Binne drie sekondes, nie ses of sewe nie, maar drie,” beskryf een van die ander oorlewendes dit, het die vloer onder Leann padgegee, het sy in die donker ingetuimel en het die drie boonste vloere op haar en andere neergestort.

Vasgeval in ‘n opgekrulde posisie en met haar gesig teen die grond vasgedruk, het sy vir die volgende 17 uur met God bly praat, gebid en halleluja’s gesing. “Ek kon soms stemme hoor, maar dan het alles stil geword en moes ek teen die oorweldigende vrees en benoudheid baklei.”

Sy is uiteindelik deur reddingswerkers onder drie voet beton, glas en ander rommel uitgetrek nadat hulle haar hare met ‘n mes moes afsny om haar los te kry.

Sy vertel: “Dwarsdeur al die donker, angsvolle oomblikke, het Tess 5:16-18 deur my kop bly draai: Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”

~~~~

Ek het nie woorde nie.


Thursday, January 14, 2010

Haiti, die duiwel en ek

Skok en verbystering en diep simpatie. Dis hoe mens voel oor die ramp wat Haiti getref het.

En dan begin hoor jy berigte dat Haiti in ‘n komplot met die duiwel was. Lang jare bestaan die storie al – en geglo deur vooraanstaande Christene (en nou praat ek nie van Pat Robinson en sy TV-program wat ‘n patetiese en verwerplike beeld van Christenskap uitdra nie.)

Haiti se tragiese verhaal begin toe die inheemse bevolking wreedaardig deur die Spanjaarde gekolonialiseer is. Feitlik ook heeltemal uitgemoor. Soveel so, dat die Franse wat later oorgeneem het, slawe uit Afrika ingevoer het. (En die Rooms-Katolieke priesters hulle probeer kersten het, soos die sendeling Jean-Baptiste Labat. Hy skryf ‘n gloeiende verslag in sy dagboek oor hoedat hy ‘n slaaf doodgeslaan het “om sy siel te red.”)

Saam met die slawe het voodoo gekom en, lui die storie, tydens ‘n slawe-opstand in 1791 is Haiti aan die duiwel oorgegee as hy hulle sou help om vry te kom.

Hierdie eed is na bewering weer rondom die begin van hierdie eeu deur die toentydse president Jean-Bertrand Aristide herbevestig.

Wat wel soos ‘n paal bo water staan, is dat op 8 April 2003, Aristide voodoo as die amptelike godsdiens van Haiti verklaar het.

Maar pas dit ons om nou rond te hardloop en te sê dat hierdie verskriklike aardbewing God se spesifieke straf teen die afgodsdiens in Haiti is?

Wat was dan die oorsaak dat die Here die tsunami teen Indonesië gestuur het? (Waar terloops) hoevéle Christene ook omgekom het?

Dan beter ons hier in Amerika ons bitter vinnig voorberei vir wat wag op hierdie land met sy groeiende veragting vir God.

Laat ons nie die vinger probeer wys namens die Here nie. Maar laat ons ook nie vergeet nie dat God wel die sonde (enige sonde) haat –- ook my eie, persoonlike sonde – en laat ons ons bekeer en opreg voor Hom leef.

Want dit is, so het Dawid reeds geweet, verskriklik om te val in die hande van die Lewende God.


~~~~~~



[Daar word beraam dat 213 miljoen mense wêreldwyd in 2009 weens natuurrampe omgekom het, en 220 miljoen die jaar vantevore.]









Die lewe se onthou

So is Kersfees 2009 amper vergeet alweer agter die rug.


Die jaar van onse Here 2010 (is dit nie die mooiste manier om dit te benoem nie?) het stilletjies aangebreek, ons laaste kinders is ook weer terug na eie huis en haard en saam met die gemis van die heerlike pret, gewoelery en gelag deur, word die Kersboom afgeslaan, lakens en handdoeke gewas en speelgoed gebêre tot ‘n volgende kuier.


Om dit nogmaals te kon beleef het, en boonop nogal hier in Annerland – dis mos van die bestes van genade!


Dus dan: verlang moet hierdie ma en ouma nou maar. Daaraan is nie te ontkom nie. Die kosbare herinneringe is immers gemaak, en dié sal lang jare in ons harte leef.


Bowendien, so skryf die digter Barend Toerien mos: Om te onthou, is om te lewe.