Friday, October 30, 2009

Ek verpes my (wyfie)neukenaar, en ander verhewe gedagtes

Grrr…..


En ja, ek weet “verpes” is ‘n sterk woord, en normaalweg probeer ek daardie soort aksie vermy, maar “normaalweg” is nie altyd van toepassing op die verhouding wat daar tussen my en hierdie masjien bestaan nie.


Inderwaarheid is dit hy wat my dryf tot REaksie = abnormaliteit = verpes (in hierdie geval).



Nou dat ek daaraan dink…. Ek kry mos nou al ‘n vermoede, gesien al die streke en geite van ou glasgesig, dat ek hier met ‘n wyfie-neukenaar te doene het (maar DIT, sal Vennoot oor MY lippe nooit hoor nie.)



Maar die ding wil hom….haar, net nie laat beheer nie. Nog altyd netjies saamgespeel, en toe, van so twee-drie possies gelede af, sukkel ek myself simpel met prentjies oplaai, en ook gooi sy ewe omgeêllie my paragrawe rond of sluk spasies in soos dit haar hoogheid behaag.



(Verskoon dus groot asseblief die nuwe, swak blogversorging wat ek -- magteloos -- in my skryfsels openbaar.)



Soms verpes ek my neukenaar….of verpes sy my dalk?


Wednesday, October 28, 2009

Mosaïektyd

So kom ek mos die laaste week agter iemande (sal nou nie name noem nie), het ons somer weggesleep...en ons sit met herfs hier buite.


O wel, elke hond kry seker sy dag. (Moet dus maar nie te skuldig voel nie.)


Toe dit laatmiddag bewolk en boonop koud raak, is ek met 'n spoed hier uit in die buurt in om herfskleure vas te vang. Latenstyd het dit selfs begin motreën, maar natword of te nôt, ek het my swaar weggedraai van die ryk én rype kleurespel.

"Winter is an etching, spring a watercolor, summer an oil painting and autumn a mosaic of them all."

~ Stanley Horowitz ~












Tuesday, October 27, 2009

Dit kan mos nie beter nie

Ek was die afgelope paar dae bietjie platgetrek deur ‘n rasegte boereverkoue.


Staan vanoggend in die kombuis toe Vennoot uit sy studeerkamer kom en sy arms om my kom sit en wil hoor hoe dit gaan.


“Baie beter, dankie.”


En so, in die bekende kring van sy arms en met my kop teen sy bors geleun, sê hy: “Dan is ek baie bly, my alte beste vrou.”


Ja, dit gaan goed met my; voorwaar, dit kan nie beter nie, my Hartsgenoot.

Sunday, October 25, 2009

Seënvra



Ek weet nie waar of wanneer ek die eerste keer hierdie skildery gesien het nie, ook nie eens of dit hier in Annerland of nog in Ouland was nie, maar ek onthou wel dat ek so getref was daardeur dat ek in my spore vasgesteek het.

En nou vertel ‘n vriendin dat ‘n vriendin van háár ‘n paar somers gelede ‘n afdruk van “Grace”, gekoop het by die einste klein fotografiese ateljee’tjie waar die foto destyds van jare in Bovey, Minnesota, geneem is!

In 1918 was die dorpsfotograaf Eric Enstrom.

Een goeie oggend het ‘n skoenskraper-smous by hom opgedaag en Enstrom was so getref deur die waardige ou verkoopsman se saghartige gesig, dat hy besluit het om ‘n foto van hom te neem vir ‘n portefeulje wat hy aan die saamstel was.

Enstrom wou naamlik ‘n foto neem om aan mense te wys dat selfs al leef hulle swaar weens die pas afgelope oorlog, hulle nog baie het om voor dankbaar te wees.

Hy het Charles Wilden gevra om by die tafeltjie met die enkele voorwerpe op, te gaan sit en ‘n gebedshouding in te neem.

“Meneer Wilden het dit so spontaan gedoen, dat mens kon sien dit is by hom ‘n gewoonte,” het die fotograaf later vertel.

Eric Enstrom het hierdie foto as sy heel beste ene beskou, uit al die duisendes wat hy in die 50 jaar van sy loopbaan geneem het, en wel omdat hy gevoel het dat hy die

opregte dankbaarheid wat van die ou heer uitgestraal het, in die foto kon vasvang.

Die foto is later deur ‘n olieverfskilder op doek vasgelê.

~~ Een oggend in 1918 was ‘n doodgewone man besig om sy doodgewone werk te doen en van deur tot deur te smous, toe hy ‘n ander doodgewone man ontmoet het, besig om sy doodgewone werk te doen – en die resultaat was uitsonderlik.

[In 2002 is hierdie foto as die amptelike staatsfoto van Minnesota verklaar. Natuurlik het dit skerp kritiek uitgelok (hoe dan nou nie!), maar een van Minnesota se senatore het op die wêreldbekendheid van die foto gewys, en genoem dat hy selfs ‘n brief van ‘n Amerikaanse soldaat ontvang het wat sodanige foto in ‘n woonplek in Afghanistan gesien het!)

Wednesday, October 21, 2009

Klein kleuter-feminis!

Omtrent drie maande gelede tydens ons weeklikse gesels, verbly van die ver kinders ons met die nuus oor ‘n nuwe aankomeling wat oppad is. Altyd welkom in hierdie familie!!

Vandeesweek kon hulle nie help nie, om op die sonar te sien dis ‘n klein blouvoetjie aan't kome, en besluit om dit met sussie (5) te deel.

Sy luister, bly so ‘n oomblik stil en laat hoor (beskuldigend?): “But he is not going to be as useful as a little girl.”

Daar het jy dit.

Tuesday, October 20, 2009

Ek is "it"

Ek lees iewers die volgende definisie van “aan-aan”:


The basic rules to Tag are quite simple. All you need is a group of kids and a decent sized backyard. One person is designated as "it", and that person runs around and tries to touch someone else. If they succeed, the person they touch is now "it".


Nou ja, Sonja het my ”it” gemaak. En julle kan kies: óf “it” skryf vier laaaang aflewerings oor haar lewensriglyne, óf julle is bereid dat “it” met die volgende volstaan ~


Kortom, die rigwyser vir my lewe is presies dieselfde as duisende ander en vele geslagte syne, en ook julle s’n: jy moet die Here jou God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself.


En daaruit spruit al die afgeleide beginsels van my lewe.


Maak dit my sondeloos? "St. Mariki"? Iemand wat op water kan loop? Nee, hoegenaamd nie. Hierdie “it” is steeds al vallende en opstanende en voortbeurende, maar genadiglik onder die straling van God se glansende genade!


“God’s people fall a hundred times

Before each day is done.

But Grace, in whispers,

lifts them up

One hundred times and one.”

~~ William D. Blake



Thursday, October 15, 2009

Dese dag toe proe ek my ouma se konfyt in Annerland


Vandag was toe die dag. Al lankal lus gehad om weer ‘n keertjie tamatiekonfyt te kook (nogal ‘n waagstuk, gesien my kombuismanewales so twee possies gelede….)


En ek is nou maar eenmaal ‘n kortpadkok. (Darem so nou en dan ‘n uitsondering, waneer ek nie omgee om fênsie en met fieterjasie te kook nie.)

Dus en daarom skil ek nie die konfyttamaties nie; buitendien, ons hou van die repies skil so saam met die pitjies in die taaigekookte stropie.


Soek toe so bietjie rond vir ‘n geskikte reseppie, nie dat die Ingelse internet oorloop van sodanige resepte nie. Ons bevind ons onder ‘n volk wat verslááf is aan tamatieketchup (lyk soos tamatiesous, maar soeter), maar feitlik nie tamatiekonfyt ken nie!


Dié ou rooie staatmakers het hul oorsprong (destyds nog net so groot soos kersietamatietjies) in Peru. Maar, Viva la conquistador! Want die Spaanse veroweraars neem die plantjies Europa toe, waar dit fluks versprei en Parys met geur en kleur oorneem ten tyde van die Rewolusie.


Die Italianers egter, had vrede met die Franse se tamatiepit-gekou so tussen hul bakleiery deur, want volgens húl romantiese mening was hierdie liefdesvruggies die ware jakob om mens lus te maak vir “un milione di baci” (drukkies en soentjies).


Maar o wee, in die land van die “stiff upper lip” (nie bekend vir goeie minnaars nie), bevind ‘n seer geëerde fisikus en kruiekundige dat die Spanjaardse en ’Taljaners vinnig besig is om hulself met hul tamatie-etery te vergiftig en hy weier beslis om dit as kos te klassifiseer. Só versier die afgekeurde tamatieplante toe maar ewe sedig die Ingelse tuine, totdat ongeveer hier teen 1728, ‘n paar dapper vroue (hoera!) dit stilletjies in hul soppotte begin inglip.


En in Amerika? Nou ook maar nie veel dapperder as die Britse voorsate of vinniger om die bygelowigheid af te skud nie. So hier-en-daar is die groeiseltjie stadigaan aanvaar, maar om ‘n klomp op ‘n slag te eet? Doodsake! Dit was die opinie van dokters in Salem, Massachusetts op 25 September 1820. Kol. Robert Johnson sou naamlik voor 2 000 toeskouers op die dorpsplein ‘n kilogram (2 lb) tamaties opeet om te bewys dat al die gifstories ongegrond is.


Die spanning het hooggeloop. Doodluiters het die kolonel die een tamatie ná die ander na binne gestuur, opgestaan en weggestap, en gesterf…veertig jaar later!

Dog, die groot tamatiekoors het eers in 1834 behoorlik uitgebreek nadat ‘n mediese dokter die lof van die tamatie in ‘n koerantartikel besing het. Toe was dit tamatieresepte, en tuinbouwenke en gesondheidsartikels voor en agter. Tot selfs tamatiepille het teen 1837 hul verskyning gemaak.


Maar tamatieslaai? Tamatietoebroodjies? Tamatiesous? Onbekend! Tot so 70 - 80 jaar gelede.


En selfs nou nog, hier in die jaar 2009, ken die ‘Merikaners nie regtig tamatiekonfyt nie. So hier-en-daar kry mens ingevoerde potjies van dié pittige, rooi soetgoed op die rak, maar dan smaak dit niks te nimmer soos kleintyd s’n.









Dis toe met dié dat ek vandag konfyt gekook het. Met gekneusde gemmer en suurlemoensap en ‘n veegseltjie kaneel.


En soos ek hier sit, is ek soet tot agter myse ore…



Tuesday, October 13, 2009

Gaan maak bly die nasies!

Afwagting. Tuis. Behoort. Geniet. Vreugde. Jubeling.

Ag, wáár om te begin vertel van die kosbare sendingkonferensie die afgelope naweek?!

Sowat tien jaar gelede het die Here aan een van sy Amerikaanse kinders ‘n visie oor al dié man se mede-Baby Boomers gegee: van die 70 miljoen van hulle in Amerika, is 12 miljoen gelowiges – hulle kan met hul aftrede gemotiveer en gehelp word, om nie net vir nog jarre rond te reis of rustig in die son te sit nie, maar wel om deel te word van ‘n nuwe vloedgolf sendelinge wat Jesus aan die verlorenes kan gaan verkondig!

En só het The Finishers Project sy beslag gekry, en saam met 80 sendingorganisasies word daar landwyd die afgelope vier jaar forums gerëel om aan hierdie droom gestalte te gee. By ons forum was daar die afgelope naweek 27 organisasies om hulself bekend te stel:

International School Project rëel dat mens vir 2 weke lank in Oos-Europa of Asië onderwysers kan oplei in ‘n kursus oor etiek en moraliteit. En natuurlik is die Bybel die handboek!

Evangelism Explosion gee opleiding om met straatkinders, dowes en ook prisoniers te werk. Hier en oorsee.

Arab World Ministries soek onderwysers vir veral Libanon, ‘n land so verskeurd en vol geweld, dat dit jou totaal wil oorrompel. (‘n Ou Arabiese spreekwoord lui: “Saam met my neef teen die uitlander; saam met my broer teen my neef.”)



International Institute for Christian Studies help Christen-akademici fakulteitsposte kry aan oorsese kolleges en universiteite – veral in lande waar sendelinge nie toegelaat word nie -- sodat hulle Christus aan daardie lande se leiers van môre, kan verkondig!


European Christian Mission stuur o.a. spanne uit om met dwelmverslaafdes op die strate van Europese stede te gaan werk. Om radio-uitsendings te gaan doen. Om met vlugtelinge te gaan werk. Om van deur tot deur, literatuur te versprei.

Ag, en so kan ek voortgaan. En wat 'n fees was dit om die opwindende getuienisse van veldwerkers te kon hoor, om mens se geloof te versterk!

Ek is sooo opgewonde en vertrou dat wanneer dit ons beurt en kans is, die Here ons sal uitstuur in Sy wingerd.

Maar by al die baie emosies van die naweek, behoort daar ook verlange. Diep verlange. Om eendag dié Een te sien oor wie dit alles gegaan het en gaan en steeds sal gaan: Jesus, my Rots en my Redder.

Give me one pure and holy passion
Give me one magnificent obsession
Give me one glorious ambition for my life
To know and follow hard after You
To grow as your disciple in your truth

This world is empty, pale, and poor
Compared to knowing you, my Lord
Lead me on and I will run after you
Lead me on and I will run after you

Thursday, October 8, 2009

Een van dáái dae

Vandag was NIE my dag in die kombuis nie…

Gelukkig is ek vir die volgende drie dae “kombuisvry” – ons is oppad na ‘n sendingkonferensie.

Ek kan nie wag nie!....Maar regtig, dis NIE oor die kombuisstorie nie!
















"Waansinnig mooi" -- o wel, amper! (3)

Die fantastiese spuitbronne staan natuurlik as geysers bekend. Maar wáár lag skoonseun

eendag amper sonder ophou toe ek dit op ons ou manier (soos in Afrikaanse-Engelse vir warmwatertenk) uitspreek. Nee, word ek reggehelp, daai soort“geezer” is ‘n eksentrieke ou omie, terwyl die wit spuitgatwatertjies nou eintlik ‘n “guy-ser” is. Thanks guy, nog iets geleer.


Almal wat Yellowstone toe gaan, sien vreeslik daarna uit om “Old Faithful” -- die bekendste “guy-ser” in die park -- te sien, en omtrent ‘n kwartier voor hy spuit begin die mense al stelling inneem.


Old Faithful is nie die hoogste spuiter nie, maar jy kan amper jou horlosie stel omdat hy so voorspelbaar sy vertoning lewer. (Brosjure foto)


Sy spuitbek: (dis natuurlik 'n brosjurefoto, want self mag mens nie naby kom nie.)


Die waterblasery kan 3 700 – 8 400 gallon (14 – 32 000 liter) kokende water tot op ‘n hoogte van tussen 106 – 185 voet (30 tot 56 meter) opskiet, vir 1.5 tot sowat 5 minute lank.


Glo dit of nie, maar Old Faithful is glo in die verre verlede as wasmasjien gebruik: “Garments placed in the crater during quiescence are ejected thoroughly washed when the eruption takes place. Gen. Sheridan's soldiers, in 1882 found that linen and cotton fabrics were uninjured by the action of the water, but woolen clothes were torn to shreds.”


'n Dubbele spuiter:

Die volgene ene was nie veronstel om voor drie ure later te blaas nie (daar word tot op die minuut boekgehou van watter wanneer spuit). Mensig! Julle moes die opwinding ervaar het toe ou grootbek skoon ontydig begin gorrel, en dadelik is dit per radio deur van die "guy-ser gazers" aan die hoofkantoor gerapporteer.


Ja, daar is regtig so 'n internasionale vereniging. Een Britse omie en tannie het ons vertel hulle kom nou al agt jaar lank vir drie weke op ‘n slag om die poele en fonteine te bekyk en te bewonder en te rapporteer. Dan sit sy ewe rustig en brei en hy lees, en as die vertoning verby is, kruie hulle met hul fietse aan na die volgende ene toe. (Klink of dit verslawend kan wees?)


So kom ons by 'n skare wagtendes op parkbankies by 'n groot warmpoel verby. Hierdie ene, só word ons meegedeel, spuit hoër as Old Faithful en gaan binnekort blaas. Die opwinding pak ons beet en nou ja, ná 2 ure in die warm son (!), is ons beloon. Nou wel net met so 90 voet, maar dit was sóó die wag werd.



Kokende fonteine, warm modderpoele en pragtige spuitbronne (guy-sers!) herinner mens daaraan dat ‘n “supervulkaniese” uitbarsting weer enige oomblik kan plaasvind. Volgens kundiges kan dit selfs die grootste deel van die VSA verwoes. (Die ene van 2.1 miljoen jare gelede het glo sy as tot in Texas gespoeg het.)

Anders as gewone vulkane, het die ondergrondse Yellowstone ene geen bergpiek wat as “spoegpunt” kan dien nie, en daarom kan die ganse bogrondse area deur ‘n titaniese uitbarsting weggeblaas word wat duisende kere meer kragtig is as ‘n gewone vulkaan en die hele Amerika onder 3voet as kan begrawe... hmm, grillerig.


In 1959 was hier ‘n 7.5-aardbewing! En in 2002 alleen, meer as 2 350 minder ernstiges.

Maar nogtans, en ten spyte van al hierdie “ernstige” feite, is Yellowstone eenvoudig asemberowend! En nogmaals het ons net klein geword voor die ondeurgrondbare grootsheid van die Vader se skepping.