Waarom?
Waarom laat God aaklige goed gebeur?
Hierdie vraag word weereens gevra in die aangesig van die
afgryslike gebeure Vrydag in Connecticut.
Antwoorde kom nie maklik nie. Ongelowiges sê daar is geen
God nie; en as Hy bestaan, is Hy óf onmagtig óf self ook boos.
Dié wat aan Hom vasklem en wéét dat Hy goed is, sien ook
met verslaenheid hoedat Hy in Sy soewereiniteit, aaklige en verstommend
boosheid toelaat.
Ons weet ook dat sedert die eerste twee mense van die
verbode vrugte geëet het, niks meer is soos dit veronderstel was om te wees
nie.
Ons protesteer. Ons rou. Ons word kwaad. Ons harte verlang
na iets beters. Of ons in God glo of nie, diep binnekant weet ons dat dinge nie
is wat hulle moet wees nie. Alles wat God goed gemaak het, word verwring,
vermink en verwoes.
En dis dan amper Kersfees – tyd van blydskap en goeie
tyding….??
Maar ons sal wag. Ons sal wag totdat God op Sy tyd die antwoord gee –
dáárdie stralende helder dag wanneer Hy wat met die eerste Kersfees gekom het, finaal sal
verskyn en aan alle donkerte, pyn en lyding ‘n summiere einde sal maak.
Ons wag in kinderlike geloof; en ons vertrou – so goed as wat
ons weet hoe – dat daar meer besig is om te gebeur as wat ons met ons menslike
oë kan sien en met ons beperkte ou verstandjies kan verstaan. Saam met Dawid
roep ons uit: “O, as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien
in die land van die lewendes nie…”
En ons hou mekaar vas en versterk mekaar met die laaste woorde
van Ps. 27:
“Wag op die Here!
Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!”