Nee, ek is nie oorlede nie. Het ook nie weggeloop nie. Net maar onhebbelik besig met allerlei, en ook nog om dinge in die regte voue te hê teen die tyd dat die kinders begin huis toe kom volgende week – aah! héérlike gedagte.
Maar kyk, Thanksgiving en Kersfees so op mekaar se hakke, het my vanjaar onkant gevang. Vir die eerste het ons Thanksgiving nie tuis deurgebring het nie. Saam met Poppiedot en haarse wederhelfte en Tweede Jongste-wat-ook-nie-meer-so-jonk-is-nie, en natuurlik Vennoot darem ook, is ons na vriende se plaashuis, so ses-sewe ure hiervandaan in New Mexico.
Groot kos-aksie geloods voor die tyd, om daar nie te moes rondspring nie, en tyd te hê om lekker te kon saamkuier.
Dus was dit kalkoenrol maak –ja! ná omtrent ‘n dekade in hierdie land kom ek toe waarlikstewaar so ver om my hand te waag aan kalkoen se kind-gaarmaak. (Nou nie die ganske gevoëlte nie, a nee a! -- mens leer mos maar partykeer bloot so trapsgewys soos ‘n ou kalkoen.)
Maar vir die tweede keer in ‘n ry, flop my Jan Ellis-poeding toe nogeens. Dis tog die maklikste poeding uit! Het pragtig die hele bak volgestoot en lekker bruin verkleur, maar toe ek hom uit die oond uit haal, sak die hele middeldeel in en staan ek met ‘n poedingkrater in my hande. Presies net soos die vorige keer. Al wat ek kan dink, is dat ek uit pure vakansieplesier, die deeg te deeglik geklits het. Die resep sê mos: “Roer alle bestanddele behalwe die koeksodamelk, bymekaar.” Volgende keer (maar dit sal lank vat voor ek weer die lus kan oprakel vir dié meneer), roer ek net weer kortweg alles met ‘n houtlepel bymekaar.
(Nee, dis nie ek of my familie hieronder nie, maar dis PRESIES soos ek oor my flopperasie gevoel het.)
En dankie ja, ons het lekker gekuier en héérlik geëet (ook aan die krisispoeding wat ek aanmekaar geslaan het) en nou is ek darem weer terug op die lug -- met die
klere defnitief stywer om die lyf as voor ons Danksegging gaan vier het.
En ai, Kersfees lê dan nog voor...