Tuesday, December 14, 2010

Lewensteken

Nee, ek is nie oorlede nie. Het ook nie weggeloop nie. Net maar onhebbelik besig met allerlei, en ook nog om dinge in die regte voue te hê teen die tyd dat die kinders begin huis toe kom volgende week – aah! héérlike gedagte.

Maar kyk, Thanksgiving en Kersfees so op mekaar se hakke, het my vanjaar onkant gevang. Vir die eerste het ons Thanksgiving nie tuis deurgebring het nie. Saam met Poppiedot en haarse wederhelfte en Tweede Jongste-wat-ook-nie-meer-so-jonk-is-nie, en natuurlik Vennoot darem ook, is ons na vriende se plaashuis, so ses-sewe ure hiervandaan in New Mexico.

Groot kos-aksie geloods voor die tyd, om daar nie te moes rondspring nie, en tyd te hê om lekker te kon saamkuier.

Dus was dit kalkoenrol maak –ja! ná omtrent ‘n dekade in hierdie land kom ek toe waarlikstewaar so ver om my hand te waag aan kalkoen se kind-gaarmaak. (Nou nie die ganske gevoëlte nie, a nee a! -- mens leer mos maar partykeer bloot so trapsgewys soos ‘n ou kalkoen.)

Maar vir die tweede keer in ‘n ry, flop my Jan Ellis-poeding toe nogeens. Dis tog die maklikste poeding uit! Het pragtig die hele bak volgestoot en lekker bruin verkleur, maar toe ek hom uit die oond uit haal, sak die hele middeldeel in en staan ek met ‘n poedingkrater in my hande. Presies net soos die vorige keer. Al wat ek kan dink, is dat ek uit pure vakansieplesier, die deeg te deeglik geklits het. Die resep sê mos: “Roer alle bestanddele behalwe die koeksodamelk, bymekaar.” Volgende keer (maar dit sal lank vat voor ek weer die lus kan oprakel vir dié meneer), roer ek net weer kortweg alles met ‘n houtlepel bymekaar.


(Nee, dis nie ek of my familie hieronder nie, maar dis PRESIES soos ek oor my flopperasie gevoel het.)
En dankie ja, ons het lekker gekuier en héérlik geëet (ook aan die krisispoeding wat ek aanmekaar geslaan het) en nou is ek darem weer terug op die lug -- met die klere defnitief stywer om die lyf as voor ons Danksegging gaan vier het.

En ai, Kersfees lê dan nog voor...

6 comments:

Dané said...

Het jou gemis! Ek het ook al dikwels daarna gevoel om "te moor" in die kombuis!

Desia said...

Mariki, is dit moontlik dat die JanEllis resep nie werk nie agv die tipe meel wat mens hier kry?
My ma het eenkeer hier gekuier en het haar aartappelsuurdeeg wit beskuit (hoe water my mond nou hier waar ek sit met my koppie koffie...) probeer maak, maar dit het nie gelyk of geproe soos in SA nie; ons het toe maar die meel geblameer; iets te doen met die tipe koring/gluten/ ens.
'n Ander ekspat het ook gese dat koesisters nie dieselfde hier werk nie agv die suiker, weet nie hoe waar dit was nie, want ek het nooit koeksisters in SA gebak nie maar dikwels hier en ons eet baie lekker daaraan.
Geniet die voorberei vir en kuier met die kinders!

Thea said...

Solank jy darem net so dan en wan kom vertel waarmee jy besig is (al is dit flops) sal ons jou verskoon! :-) Hehehe... ek grap net!! Nee, dis lekker om weer van jou te hoor!! Julle moet 'n baie geseënde Kerstyd hê en geniet die kuier saam met die kinders!

Jan and Miekie said...

Hi Mariki
Klink my jy het 'n dol, maar heerlike tyd! Jan Ellis is ook ons familie se gunsteling! Ek probeer dink of dit insak in die middel, maar kan eerlikwaar nie onthou nie. (Miskien is jy net te krities - ek is seker dit het nog heerlik gesmaak!) Die vrugtekelkiepoeding (soortgelyke poeding) sak wel in... Vir altwee poedings gebruik ek Wenresepte se resepte.

mariki said...

Ha-ha, Dané!

Desia, jy noem nou iets interessants. Hoewel, ek bak al al die jare wat ons hier is, die poeding met groot sukses. Maar dalk het ek die laaste twee keer 'n ander soort meel gebruik! Sal moet uittoets. Dankie. Ons geniet ook die koeksister wat ek hier bak.

Dankie, Thea! Ook vir julle 'n wonderlikefeestyd.

Jip, Mieks -- Wenresepte s'n. En nee, daai "krater" was diep genoeg om in te val!

Sonja said...

Ek is seker die poeding het nog steeds lekker gesmaak! Ek het ook nou sommer iets geleer,want ek het dit ook al baie oorgekom en nie geweet hoekom nie.Daar het jy dit nou!