Monday, November 3, 2008

Ons Vader maak nie ‘n fout nie, maar eina!

Kyle en 'n niggietjie, vroeër vanjaar


Donderdagaand herinner Desia op haar blog ons, om ons geliefdes te waardeer vir solank as wat ons hier aan mekaar gegun word.

‘n Paar uur later moet ons verneem dat Vennoot se 40-jarige susterskind (oudste kleinkind aan daardie kant van die familie) in ‘n motorongeluk oorlede is. ‘n Vrou en twee jong kinders bly agter.

Maar van Saterdagaand af huil ek nog meer emmers vol trane: jongste seunskind bel die middag om te sê dat hy die oggend met sy meisie van 18 maande lank, uitgemaak het en hy kry kwaai swaar, maar weet dit was die regte ding. Is oppad na sy beste vriend Kyle se huis vir die aand, en oorslaap.

Bel 'n uur later met die aaklige nuus dat Kyle (net maar 20 jaar oud), twee ure vantevore in 'n motorbotsing op slag dood is. 'n PRAGTIGE seun vir wie ons 'n baie teer plek gehad het. So 'n groot, ou sagtehart teddiebeerding wat baie swaargekry het toe sy ouers laasjaar uitmekaar is. Kop-aan-kop botsing, en die ouens in die ander motor wat die ongeluk veroorsaak het, net skrape....

Kyle en Seunskind was sewe jaar lank “broers”.

My kind is stukkend. Sien hy het vanmiddag op sy werf geskryf:

"Riaan wishes he understood. But still: "The LORD gave and the LORD has taken away; may the name of the LORD be praised."

Oe, dis seer. En die finaliteit van die dood tog.

Ná haar seun se sterwe, skryf Elizabeth Eybers:

"Dit is my seun" het ek verwaand verklaar
soos een wat sorgeloos ’n feit aanvaar,
dog plots staan daar slegs één gegewe vas:
dat is wreedaardig snel verwoord tot was.


Ek weet lankal die lewe is nie vir sissies nie, maar net partymaal is ek 'n groot ou sissie...

9 comments:

Jan and Miekie said...

Ag ons bid vir julle! Baie, baie simpatie. Die lewe is so broos. Ek het nou die dag weer besef hoe skielik en onherroepbaar die dood kan kom: my leerder Tammy het op haar stoel "gery" en dit per ongeluk om hulle troetelmeerkat laat sak. Die diertjie het vir 'n paar oomblikke wild gespartel en toe stil geword... Dit was vreeslik om haar daar voor ons oe te sien gaan! Hoeveel te meer 'n geliefde jong man in die fleur van sy lewe!

mariki said...

Baie, baie dankie!

Sandra said...

En ons kan maar sussies wees Mariki. Dis dan wat Vader ons op sy skoot tel en naby hou. Sterkte

mariki said...

Jy is reg! Dankie.

Muriel said...

My innige simpatie. Dis so hartseer!

mariki said...

Dankie, Wipneus!

Anonymous said...

Mariki, die finaliteit van die dood is verskriklik. Baie simpatie.

Desia said...

Ai Mariki, ek weet nie wat om te se vir troos nie; mag die Here julle vertroos.

mariki said...

Dankie, boendoes en Desia. Is vanaand weer by die huis ná die begrafnisdinge en my kop en hart wil dit nog nie vat nie.