Thursday, March 5, 2009

Arizona, hier kom ons

Gou kom inloer om te sê dat Vennoot en ek môre vroeg vir so vir ‘n paar wekies die pad Arizona toe vat.

Dis nou die ding met aftree: mens sit nog teetyd so en praat oor luswees vir nuwe horisonne verken, dan vra die ander ou, maar wat is fout ons doen dit sommer einde van die week. Ja, wat IS fout? Mos g’n niks, net mens se eie stompsinnigheid om nie elke geleentheid met albei hande aan te gryp as dit jou gegun word nie.

En so sit ons die daaropvolgende dag af woonwahandelaar toe en saal die wilde perd op met die koop van ‘n piepklein woonwaentjie.

Nie dat ons nie al baie lank rondgekyk en bepraat en beplan het aan hierdie moontlikheid nie. Dis nou, vandat ek laasjaar die brosjuretjies en die asemwegslaanfoto’s van verre reise en rondrits so “terloops” in Vennoot se pad laat rondlê het.

En nou staan die ou waentjie gepak en wag om met sonop gehaak te word, wanneer die vrou-wie-se-plan-so-goed-gewerk het, saam met die man-wat-dink-hy-het-op-die-idee-gekom, die kar se neus suidweswaarts sal draai om die geluksaligheid van die eerste aftree-vakansie te beleef.

So groet ek tot wederkeer.
Mag die Here almal van ons tog veilig bewaar.
mariki

Wednesday, March 4, 2009

En skielik....toe's hy wit

Van ons vriende se dogter in die Kaap, bedryf haar eie klein winkeltjie met tuinbenodigdhede en plantpotte van enige kleur en vorm en grootte.

Eergister stap ‘n nie-besonder-bekend-vir-die-liefde-vir-tuinmaak-nie landsburger in en binne enkele oomblikke gryp hy haar selfoon en laat spaander.

En soos daardie Engelse ouma van ‘n week of drie gelede -- en agterna sê Tammy dit was van pure skok, want sy het nie eens daaraan gedink om die plantpot wat sy besig was om te verf, of om die kwas neer te gooi nie – sit sy wat Tammy is, toe die stuk in agter die dief aan.

Sy woedende agtervolger het net gewag dat sy naby genoeg aan dief se kind kom, toe slinger sy die plantpot teen hom vas en met dié dat hy swik, kom sy tot by hom en foeter hom goed met die verfkwas!

Nou ja, nét daar verander dapper dief in ‘n betakelde mak lam en gee sonder enige verdere onderhandeling ewe dienswillig die selfoon terug aan sy “aanvaller” en maak hom nogeens uit die voete.

Ongelukkig vir hom het sy hom wit “geverf”....nie die mees populêre kleur deesdae nie....of miskien was hy reeds té “wit” voor die tyd?

Hoe ook al….wonder of ta al skoon gekom het….en watter storie het hy aan sy pelle opgedis??

Monday, March 2, 2009

Enormous Enormance, voorwaar!

"All ready to put up the tents for my circus.
I think I will call it the Circus McGurkus.

"And NOW comes an act of Enormous Enormance!
No former performer's performed this performance!"

Watter skrywer van kinderboeke kan sy lesers só toedraai in die klank van woorde en hul tone laat krul van lekkerkry oor die nonsensrymelary van "I'll make you again the best Sneetches on beaches/ And all it will cost you is ten dollars eaches” ?

Niemand anders nie as Dr. Seuss, oftewel Theodor Seuss Geisel.

Hy is reeds in 1991 op 87 jaar oud oorlede, dog landwyd vier kleuterskoolleerlinge vandag (en elke jaar) sy verjaarsdag met koekies en lekkergoed en deur van sy stories te lees en op te voer.

Ek onthou nog hoe elkeen van ons eie kinders hul Dr. Seuss-stadium binnegegaan -- en nooit ontgroei het nie! Selfs vandag nog is dit vir hierdie ouma van 3 kabouterbekkies, van die lekkerste boeke om vir hulle voor te lees.

As ‘n jong meisie het Geisel se ma in sy oupa se bakkery gewerk en rympies oor die name van die koekies opgemaak vir wanneer sy dit aan die klante moes verkoop. Met hierdie rympies het sy later vir Theodor aan die slaap gesus! Hy het altyd onomwonde verklaar dat dit die grondlegging was van sy eie speel met woorde.

Op universiteit het hy as Theodor Geisel vir die grappiesblad geskryf, maar word as redakteur geskors nadat hy en ‘n paar maats van dronkgedrag aangekla is. En dis toe net daar dat hy die skuilnaam Suess (ook sy ma se nooiensvan), begin gebruik en aanhou skryf -- reg onder die neuse van die niksvermoedende skorsingskomitee!

‘n Toegewyde student was hy beslis nie, maar beland desnieteenstaande op Oxford, waar sy tekeninge wat hy in die klas sit en maak die aandag trek van ‘n mede-student, Helen Palmer. Helen doen aan die hand dat hy ‘n kunstenaar eerder as ‘n professor moet word, hy volg haar raad en op die koop toe, trou hy sommer ook met haar. (Hulle het 40 jaar lank gelukkig saamgeleef totdat sy aan kanker dood is.)

In hierdie tyd verander hy sy skuilnaam na “Dr.” Seuss “ter herdenking” daaraan dat sy pa begeer het dat hy ‘n akedemikus moes word -– tipies Geisel se humorsin.


In Mei 1954 verskyn ‘n verslag wat die ongeletterheid onder Amerikaanse skoliere blameer op die vervelige leesboeke in die skole. Hierop gee Dr. Seuss se uitgewers vir hom ‘n lys van 348 basiese woorde waarvan hy 250 vir ‘n storie moet gebruik. Nege maande later verskyn…The Cat in the Hat… met 236 van daardie woorde!

Daarna is daar geen keer aan sy kreatiwiteit nie: hy skryf o.a. meer as 60 kinderboeke wat 200 miljoen plus, kopieë verkoop en in 20 tale vertaal is.

Wat was Dr. Seuss (ironies genoeg was hy en sy vrou kinderloos) se suksesgeheim?

Sy keuse van woorde, die eenvoud van die stories, sy humor, sy illustrasies en sy verstommende verbeelding wat kon uiting vind in die lekkerste rympies, gesê op ‘n manier soos kinders dit sou sê, met opgemaakte woorde en al.

....Waarlik "Dr. Seuss", van jou kan ons ook sê:

"And NOW comes an act of Enormous Enormance!
No former performer's performed this performance!"