I think I will call it the Circus McGurkus.
"And NOW comes an act of Enormous Enormance!
No former performer's performed this performance!"
Watter skrywer van kinderboeke kan sy lesers só toedraai in die klank van woorde en hul tone laat krul van lekkerkry oor die nonsensrymelary van "I'll make you again the best Sneetches on beaches/ And all it will cost you is ten dollars eaches” ?
Niemand anders nie as Dr. Seuss, oftewel Theodor Seuss Geisel.
Ek onthou nog hoe elkeen van ons eie kinders hul Dr. Seuss-stadium binnegegaan -- en nooit ontgroei het nie! Selfs vandag nog is dit vir hierdie ouma van 3 kabouterbekkies, van die lekkerste boeke om vir hulle voor te lees.
As ‘n jong meisie het Geisel se ma in sy oupa se bakkery gewerk en rympies oor die name van die koekies opgemaak vir wanneer sy dit aan die klante moes verkoop. Met hierdie rympies het sy later vir Theodor aan die slaap gesus! Hy het altyd onomwonde verklaar dat dit die grondlegging was van sy eie speel met woorde.
Op universiteit het hy as Theodor Geisel vir die grappiesblad geskryf, maar word as redakteur geskors nadat hy en ‘n paar maats van dronkgedrag aangekla is. En dis toe net daar dat hy die skuilnaam Suess (ook sy ma se nooiensvan), begin gebruik en aanhou skryf -- reg onder die neuse van die niksvermoedende skorsingskomitee!
In hierdie tyd verander hy sy skuilnaam na “Dr.” Seuss “ter herdenking” daaraan dat sy pa begeer het dat hy ‘n akedemikus moes word -– tipies Geisel se humorsin.
In Mei 1954 verskyn ‘n verslag wat die ongeletterheid onder Amerikaanse skoliere blameer op die vervelige leesboeke in die skole. Hierop gee Dr. Seuss se uitgewers vir hom ‘n lys van 348 basiese woorde waarvan hy 250 vir ‘n storie moet gebruik. Nege maande later verskyn…The Cat in the Hat… met 236 van daardie woorde!
Sy keuse van woorde, die eenvoud van die stories, sy humor, sy illustrasies en sy verstommende verbeelding wat kon uiting vind in die lekkerste rympies, gesê op ‘n manier soos kinders dit sou sê, met opgemaakte woorde en al.
....Waarlik "Dr. Seuss", van jou kan ons ook sê:
"And NOW comes an act of Enormous Enormance!
No former performer's performed this performance!"
2 comments:
Dankie,hiervoor. Lekker gelees. Vir my sal Geisel altyd een van die top kinderboekskrywers bly.
Stem saam, hoor! My kleinkinders is absoluut geboei as ons sy stories lees.
Post a Comment