Wednesday, March 4, 2009

En skielik....toe's hy wit

Van ons vriende se dogter in die Kaap, bedryf haar eie klein winkeltjie met tuinbenodigdhede en plantpotte van enige kleur en vorm en grootte.

Eergister stap ‘n nie-besonder-bekend-vir-die-liefde-vir-tuinmaak-nie landsburger in en binne enkele oomblikke gryp hy haar selfoon en laat spaander.

En soos daardie Engelse ouma van ‘n week of drie gelede -- en agterna sê Tammy dit was van pure skok, want sy het nie eens daaraan gedink om die plantpot wat sy besig was om te verf, of om die kwas neer te gooi nie – sit sy wat Tammy is, toe die stuk in agter die dief aan.

Sy woedende agtervolger het net gewag dat sy naby genoeg aan dief se kind kom, toe slinger sy die plantpot teen hom vas en met dié dat hy swik, kom sy tot by hom en foeter hom goed met die verfkwas!

Nou ja, nét daar verander dapper dief in ‘n betakelde mak lam en gee sonder enige verdere onderhandeling ewe dienswillig die selfoon terug aan sy “aanvaller” en maak hom nogeens uit die voete.

Ongelukkig vir hom het sy hom wit “geverf”....nie die mees populêre kleur deesdae nie....of miskien was hy reeds té “wit” voor die tyd?

Hoe ook al….wonder of ta al skoon gekom het….en watter storie het hy aan sy pelle opgedis??

7 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello mariki,
ek bewonder altyd sulke brawe mense, ek kan natuurlik glad nie dink as ek skrik nie... sou eers n dag of wat later daaraan gedink het om hom agterna te sit!
Nimsi

mariki said...

Nimsi, ek skrik my ook gewoonlik besimpeld tot in volgende week in. Gil amper elke keer as my eie huismense onverwags in die vertrek inkom waar ek besig (en ingedagte) is.

Sandra said...

Hy sou nog lank kon dink aan wat hy verkeerd gedoen het terwyl die verf pynlik bietjie vir bietjie verwyder moet word.

Thea said...

Mariki ek het lekker gelag vir hierdie een!

*me trek die stoute skoene aan*

Is sy eerste laag verf al droog? As dit droog is, kan hy terug kom vir die 2de laag! LOL!!!

Muriel said...

Whahaha briljante stukke verfwerk! Mens raak nou moeg, gooi hulle met 'n potplant as hulle nie wil hoor nie :-) Sy verdien 'n medalje!

Charmaine said...

Dis 'n kostelike storie die :-) Ek kan my die pretjie voorstel. Ek dink nie die ou sal sommer gou weer 'n selfoon gryp nie.

mariki said...

Sandra -- ek hoop dis goed seer!

"Tweede laag verf" -- ha-ha-ha, Thea. Nou lag ek lekker.

Muriel, as dit tog net sou help, dan gaan die kwekerye darem goed geld maak.

Hoop hy het regtig geskrik, Charmaine.