Sunday, April 18, 2010

In memoriam oor die wêreld -- maar net kortstondig

Terug van ‘n heuglike, vredige en vreugdevolle vakansie. (Suiwer genade ervaar!)

Ek was nie weg uit die wêreld uit nie, maar ag, te heerlik – vir drie weke lank tog nie werklik deel daarvan nie.


Tot nou weer. Toe ek die nuus lees.


* Die Poolse president en 95 ander kom om in ‘n vliegramp

* Vier Duitse soldate sterf in Afghanistan

* Griekeland wankel op die rand van ‘n ekonomiese ineenstorting

* Bloedige opstand in Kyrgyzstan -- 75 dood

* 122 Sterf in ‘n storm in Indië

Terroriste vermoor 20 mense in Myanmar (Burma)

* Vier Spaanse soldate sterf in ‘n helikopter ongeluk

* Papua Guineë is pas getref deur ‘n aardbewing van 6.3 op die Richterskaal


En in ons plaaslike koerant, talle berigte oor die seksuele misbruik van kinders in Denver.


Dan praat ek nie eens van die neerdrukkende gemoedslas wat mens saamdra oor wat in Ouland aan die gang is nie…..


Ek hoor al hoe my ou Ma kopskuddend en op haar tipiese manier sou gesê het: “Die wind waai vandag weer koud van die garsland af.” Ja Moederma, die wind waai koud, baie koud oor hierdie kind van jou.


Kyk ek na die wêreld, dan wil ek sommer partykeer weghardloop dat ek klein word, na wie-weet-waar.


Want dis moord, verkragting, korrupsie en geweld in Ouland. Geloofsvervolging in ‘n derde van die wêreld. Afgodsdiens deur meeste mense, en verraad deur die regering, ook in hierdie land. As ek na die lewe rondom my kyk, sien ek pyn, krisisse, wanhoop, verwarring.


Maar weghardloop, dié kan ek nie.


Bowendien, my weet, my dink en my onthou, gaan saam met my -- waarheen ek ookal sal wil hardloop!


Moet ek dan net sit en bewe van die koue? Dit kan tog nie. Dis mos nie waarvoor die lewe daar is, of ek geskape is nie?


Weer Moederma se woorde: Opkyk! Boontoe-kyk!


Ja -- na God-toe kyk. DIT is al wat oorbly, of ek dit nou wil weet of nie.


Maar ek WIL dit weet. Ek wil dit WEET.


Om dit nooit te vergeet nie.


"Jahweh is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil." (Nah 1:7)


6 comments:

Desia said...

Amen - watter groot genade dat ons by Hom kan skuil en vrede kry in hier onveilige en wrede wereld!

Sonja said...

Ai,my ou matertjie,ek is sooooo bly jy is terug,ek het jou so baie gemis!!!!

Sonja said...

Dit is so waar wat jy se! Ons is deur diep waters die laaste ruk in hierdie land van ons.Net ons almagtige God weet wat moet gebeur!Die wereld is besig om uitmekaar uit te val. Ons as kinders van die Almagtige sal moet sterker word en kragtiger bid,want die wereld is in nood !

Thea said...

Ai Mariki, ja mens voel partykeer om net bietjie weg te kom van al die slegte nuus en mens moet ook. Hierdie stukkie van jou het my nou laat dink aan die gedeelte uit Psalm 121: "Ek slaan my oë op na die berge....." En dis aan hierdie belofte waaraan ek dan vasklou.

Dané said...

Lekker om weer hierso te wees -- ook terug van 'n wegbrekie.

Ja Mariki, die lewe is opdraend né. Maar die Here is genadig, jong. En Hy rig mens altyd weer op.

mariki said...

O, van harte JA, Desia!

Hierts, Sonnie -- maar ek hou van die nuweste prenkie! Dankie vir die liefde.

En ja, ons bid so armsaliglik en dan meestal vir onsself.

Theatjie, dankie. VASKLOU is die regte woord.

Net so, Dané. Hoop jy het ook goed gerus.