Monday, July 19, 2010

Sinsverukking

Hierrond is geen museums te vinde nie. Nee, hier -- aan die noordwestelike Italiaanse kus -- kry jy net die son, bergagtige kuslyn, die skitterende Adriatiese see en wingerde teen die steiltes uit.

In feodale tye was die kastele van landhere ‘n bekende gesig in hierdie streek, maar vandag is daar net die een skilderagtige dorpie ná die ander te vinde.


Heel dikwels is die dorpies deur seerowers aangeval en van die inwoners ontvoer en net teen ‘n losprys weer vrygelaat, of hulle is as slawe gaan verkoop.


Deesdae is dit nou wel nie meer seerowers nie, maar wel duisende toeriste wat jaarliks hierdie gebied binneval -- en wie kan hulle kwalik neem....


Daar is net enkele paaie hier teen die berghange, dog wel talryke wandelroetes. En so het ons ‘n 18 km-wandelpad (5 ure!) aangedurf wat op-en-af, en soms asemsnak steil teen die heuwelhange tussen die dorpies deur slinger.


En die hele tyd die glinsterende see tot aan die verre einder.

Vernazza, wat deur baie mense as die mees sjarmante dorpie aan hierdie kus beskou word, is reeds in 1080 vir die eerste maal in geskiedskrifte genoem!


En net wanneer jy dink jy kan nie verder nie, dan is die volgende dorpie daar, en dwaal jy eers weer deur nou stegies en romantiese straatjies.



Hierdie streek se bestaan is sedert die middeleeue al van die vis- en boerderybedryf afhanklik. Vissersbote bou is honderd maal makliker as dié proses waarvan die klipmure getuig

.

Dis ‘n eeu-oue kuns om klippe met soveel sorg en beplanning en sonder sement te maak pas, sodat die klippe saamvoeg onder hulle eie gewig -- dis nou nadat jy hulle losgegrawe, aangedra en skoongemaak het!


En hier was dit een magtige ingenieurswerk: 3 163 meter reguit muur per hektaar, wat mens ‘n totaal van 6 729 km muur gee!! (Hoe dankbaar is ek nou, dat ek nie so vier geslagte terug in ‘n hardwerkende boeregesin aan die weskus van Italië gebore is nie – al is dit ook HOE mooi daar!)


Sien jy kans om Septembermaand hier te kom druiwe oes? Eers al sittende onder die prieëltjies, en kruip dan uit en dra skouerhoog (of op die kop!) mandjiesvol druiwe teen die skuinstes af!


(Dis hoe dit vir der jare gedoen is. Nou is daar so hier en daar sulke primitiewe, selfgemaakte “glygeute” wat darem deels die afdra-proses makliker maak – maar ok maar net ‘n bietjie!)

Tussen twee van die dorpies is ‘n deel van die wandelpad baie mak en selfs rolstoelbegaanbaar gemaak.

Sooo mooi en romanties, en genaamd “Via dell’amore” – “Pad van die Liefde.”



Mens gewaar dan ook heelwat “liefde-bedwelmdes” hierrond. (Mag dit tog net hou!)

Is dit nie die héél mooiste eetplekkie wat jy jou kan indink nie!

Mens is die hele tyd bewus van 'n intense spel van lug, ruimte, water en kleur wat van jou sintuie besit neem.

Ons was diep geraak en verwonderd oor die jubelend-mooi wat ons mog ervaar het. En aan die einde van 'n dag wat jou betower het met 'n oordaad van vervulling, het die aandson sagkens die berghange en dorpies vir oulaas nog prentjiemooi kom verf.

Waarlik, daar is geen vers of aanhaling wat vir my die stemming en ervaring van hierdie stuk kuslandskap kan verwoord nie.

(Wil net noem dat van die foto's tydens 'n vorige besoek geneem, en enkeles van die internet af kom.)

Friday, July 9, 2010

Wil jy nie saamkloek nie, kliek gerus maar weg.

Kyk, nou moet ek oppas.


Wil vandag bietjie begin deel oor ons Europa-vakansie. En DIT hou gevaar in.


Per slot van rekening, sê die Afrikaanse storiemaker Dirk van Schalkwyk, "Stories oor jou wónderlike kinders, diérbare honde en interessánte oorsese ervarings word net deur jouself waardeer."


Bowedien, deesdae reis omtrent almal orals heen en beskryf dit in al wat koerant, boek en tydskrif is. Wat bly daar dus oor om te vertel wat níé ounuus is nie?


Maar so suutjies-suutjies wil ek darem aanvoer dat ek hier by my kraaltjie kan gesels waaroor ek wil en waarvoor ek lus is. (En verveel ek jou, wel – kliek weg, ek sal nie weet nie, en só is jy én ek sielsaliglik gelukkig!)


Iewers aan die begin van ons reisie (dit pas mos om by die begin te begin), loop ons die Sondagoggend by 'n dorpsmark rond. Fees vir die oog (en die smaak).


Die stalletjies kronkel al met die kanaal langs....



Varsgebakte brood (nou nie my ma s'n nie, maar toe darem amper net so lekker.)

En toe....Nougat! Opregte smelt-oppie-tong, Franse nougat!!

Die Fransmannetjie wat op't se gebroke Engels, maar baie trots verduidelik het dat dit die handewerk van hom en sy suster is. En "specially for you" dubbel afsny wat ons gevra het, en só sy wins-"verkoop" van die dag maak. Maar dis so lekker -- dubbel so lekker as wat ons gedink het dit sou wees!


Langsaan, die kaasmaker.

Algou is al wat dorpenaar is, met sy weeklike varsgoed inkope besig. (Is dit nie om van jaloesie te wil ween nie? Besef hulle hoe geseënd hulle is?)


Dis vrugte en groente....


....kruie en olywe....


....bessies en konfyt.....


Maar voorwaar, die arme siele wat eens in hierdie eilandtronk in die middel van die kanaal vasgekerker was, het beslis nie gedeel in soveel eetgenot nie.....

Friday, July 2, 2010

Slegs op die vlerke van Sy Gees

Dit was die jaar 1967.


Snags – daar waar sy vasgegordel was aan ‘n eienaardige, roterende raamwerk – het sy na die hospitaalvloer lê en staar, vas oortuig dat God haar verlaat het.


Sy, ‘n aantreklike en intelligente 17-jarige meisie, gewild en atleties, was nou ‘n parapleeg ná ‘n duikongeluk.


In die intensiewe sorgeenheid het sy die dood van twee ander pasiënte met ‘n gebreekte nek beleef, en in desperaatheid by haar vriende gesoebat om haar te help selfmoord pleeg. “Sny my polse, gooi die hele bottel pille in my keel af -- enigiets om my uit my ellende te verlos!”


“Ek het in God geglo, maar nou was ek woedend vir Hom. Dit was mos belaglik om te dink dat my omstandighede ‘n bewys was van Sy liefde en krag? Hy kon verseker die ongeluk voorkom het! Hoe kan ‘n lewenslange verlamming deel wees van Sy liefdevolle plan vir my?


As ek nie antwoorde op my vrae kon vind nie, was God my vertroue nie waardig nie!”


Tydens ‘n lang tyd van worsteling het God deur haar vriende haar vrae beantwoord om só Christus te laat deurbreek in haar gemoed.


“Van toe af het ek geweet dat dit God se doel was om ‘n koppige meisie te verander in ‘n vrou wat geduld, deursetting, en die hoop op die hemelse heerlikheid uitstraal.”


En dit is presies hoedat die wêreld vir Joni (gewoon uitgespreek soos Johnny) Eareckson Tada, leer ken het.


Sy het haar lewe aan God gewy en die afgelope 43 jaar in Amerika en internasionaal, verstommende dienslewering aan gestremdes verleen, waarvoor sy tallose toekennings ontvang het. Dit alles, terwyl sy vasgekluister sit in haar elektriese stootstoel – en nie eens self haar neus kan afvee nie.




En toe, verlede Woensdag, moes sy op haar radioprogram aankondig dat sy met borskanker gediagnoseer is.

Dit is sulke tye dat ek my oë toeknyp en inmekaarkrimp.

Here, hoeveel laai U dan op een mens? Hoever moet ‘n gewone mens getoets en gesuiwer word? Tot breekpunt toe?? Het U plesier in die vermorseling van U kind?

My Heiland, ek het dan gedink ek verstaan U! My teologie is in orde en my Bybelkennis helder oor Wie die God is wat ek dien!

En dan besef ek net weer met kleinwording voor U, o God: U is ‘n ondeurgrondelike God met onverstaanbare planne. U hou U nie by menslike redenasies en beredenerings nie. U doen nie dinge volgens ons nietige verwagtings nie, en U hoef nie binne ons ou klein verwysingsraamwerkies op te tree nie.

U is GOD.

U MAG doen wat U wil, en soos U dit wil doen. U skuld niemand iets nie.

Soos Job, Here, is dit wanneer ons op die ashoop van pyn, ellende en dood sit, dat ons verseker en onontkombaar weet: Vroeër het ek van God gehoor, maar nóú het ek U van aangesig tot aangesig gesien.

Gesien dat my God nie ‘n fout maak nie. Gesien dat “alles ten goede meewerk, vir dié wat vir U lief is.”

En saam met Dawid kan ek dan getuig: “Dat U my verdruk het, Here, dit was net maar goed vir my.”

Want só kan ek meer soos Christus word.

Help my Here, om altyd styf teen U te bly skuil – my toevlug in die storm.