Friday, July 9, 2010

Wil jy nie saamkloek nie, kliek gerus maar weg.

Kyk, nou moet ek oppas.


Wil vandag bietjie begin deel oor ons Europa-vakansie. En DIT hou gevaar in.


Per slot van rekening, sê die Afrikaanse storiemaker Dirk van Schalkwyk, "Stories oor jou wónderlike kinders, diérbare honde en interessánte oorsese ervarings word net deur jouself waardeer."


Bowedien, deesdae reis omtrent almal orals heen en beskryf dit in al wat koerant, boek en tydskrif is. Wat bly daar dus oor om te vertel wat níé ounuus is nie?


Maar so suutjies-suutjies wil ek darem aanvoer dat ek hier by my kraaltjie kan gesels waaroor ek wil en waarvoor ek lus is. (En verveel ek jou, wel – kliek weg, ek sal nie weet nie, en só is jy én ek sielsaliglik gelukkig!)


Iewers aan die begin van ons reisie (dit pas mos om by die begin te begin), loop ons die Sondagoggend by 'n dorpsmark rond. Fees vir die oog (en die smaak).


Die stalletjies kronkel al met die kanaal langs....



Varsgebakte brood (nou nie my ma s'n nie, maar toe darem amper net so lekker.)

En toe....Nougat! Opregte smelt-oppie-tong, Franse nougat!!

Die Fransmannetjie wat op't se gebroke Engels, maar baie trots verduidelik het dat dit die handewerk van hom en sy suster is. En "specially for you" dubbel afsny wat ons gevra het, en só sy wins-"verkoop" van die dag maak. Maar dis so lekker -- dubbel so lekker as wat ons gedink het dit sou wees!


Langsaan, die kaasmaker.

Algou is al wat dorpenaar is, met sy weeklike varsgoed inkope besig. (Is dit nie om van jaloesie te wil ween nie? Besef hulle hoe geseënd hulle is?)


Dis vrugte en groente....


....kruie en olywe....


....bessies en konfyt.....


Maar voorwaar, die arme siele wat eens in hierdie eilandtronk in die middel van die kanaal vasgekerker was, het beslis nie gedeel in soveel eetgenot nie.....

8 comments:

A human kind of human said...

Hallo Mariki, Dankie vir jou kuiertjie daar by my. Jy weet mos ons het hier in Suid Afrika ook sulke "straatmarkte"... sommer op elke sypaadjie... orals. Ons s'n verkoop natuurlik "lekkernye" soos gedroogde Mopani-wurms, gekookte grondboontjie en hardgekookte groenmielies... (giggel). Anders as daar anderkant, maar eie aan Afrika.

Anonymous said...

ek kloek heerlik saam, maar sal jok as ek sé ek is die een wat nie ween van jaloesie nie! julle is SO bevoorreg. ek sal wat wou gee! dankie dat jy gedeel het.

Thea said...

Welkom terug Mariki! Van reisverhale en foto's sal ek NOOIT genoeg kry nie.

Hierdie dorpsmark lyk darem alte kleurvol en gesellig! Sien uit na die vervolg...

Sonja said...

Dit is fantasties!! Geen ou nuus hierdie vir my nie,ek was nog nooit daar nie, ek wil alles hoor!!
Ek is mal oor nougat en daai lyk voortreflik! Die groente en vrugte afdeling lyk so gesond en daai olywe afdeling is prentjiemooi! Maar ek is die mallererste oor die mooi skilderagtige plek!Dit sal n fantastiese skildery maak! Ek kan nie wag vir die volgende episode van hierdie toer nie!Vertel nog!

Sonja said...

Is dit Venesie of Holland of nie een van die twee nie,want ons hang nou hier om die moooooooi foto's en wonder!

Dané said...

Tien uit tien vir hierdie lekker stukkie gesels, Mariki! (En so lekker gekyk ook nog.)

mariki said...

Og annapatat, ek is so diep bewus van die seën, en ek wens ek kon jou saamgeneem het. (Nie net hier by die kraaltjie nie).

Ek ook nie, Thea!

Wil graag vertel, maar ai, die besigwees, Sonnie....en dit was Annecy in noordoos Frankryk.

Ek beleef dit sommer weer van vooraf, Dané.

mariki said...

Ahkoh - o grrrr....vir party van daardie "lekkernye"...!

(Miskien is ek te lank uit Afrika uit weg?!)