Monday, July 19, 2010

Sinsverukking

Hierrond is geen museums te vinde nie. Nee, hier -- aan die noordwestelike Italiaanse kus -- kry jy net die son, bergagtige kuslyn, die skitterende Adriatiese see en wingerde teen die steiltes uit.

In feodale tye was die kastele van landhere ‘n bekende gesig in hierdie streek, maar vandag is daar net die een skilderagtige dorpie ná die ander te vinde.


Heel dikwels is die dorpies deur seerowers aangeval en van die inwoners ontvoer en net teen ‘n losprys weer vrygelaat, of hulle is as slawe gaan verkoop.


Deesdae is dit nou wel nie meer seerowers nie, maar wel duisende toeriste wat jaarliks hierdie gebied binneval -- en wie kan hulle kwalik neem....


Daar is net enkele paaie hier teen die berghange, dog wel talryke wandelroetes. En so het ons ‘n 18 km-wandelpad (5 ure!) aangedurf wat op-en-af, en soms asemsnak steil teen die heuwelhange tussen die dorpies deur slinger.


En die hele tyd die glinsterende see tot aan die verre einder.

Vernazza, wat deur baie mense as die mees sjarmante dorpie aan hierdie kus beskou word, is reeds in 1080 vir die eerste maal in geskiedskrifte genoem!


En net wanneer jy dink jy kan nie verder nie, dan is die volgende dorpie daar, en dwaal jy eers weer deur nou stegies en romantiese straatjies.



Hierdie streek se bestaan is sedert die middeleeue al van die vis- en boerderybedryf afhanklik. Vissersbote bou is honderd maal makliker as dié proses waarvan die klipmure getuig

.

Dis ‘n eeu-oue kuns om klippe met soveel sorg en beplanning en sonder sement te maak pas, sodat die klippe saamvoeg onder hulle eie gewig -- dis nou nadat jy hulle losgegrawe, aangedra en skoongemaak het!


En hier was dit een magtige ingenieurswerk: 3 163 meter reguit muur per hektaar, wat mens ‘n totaal van 6 729 km muur gee!! (Hoe dankbaar is ek nou, dat ek nie so vier geslagte terug in ‘n hardwerkende boeregesin aan die weskus van Italië gebore is nie – al is dit ook HOE mooi daar!)


Sien jy kans om Septembermaand hier te kom druiwe oes? Eers al sittende onder die prieëltjies, en kruip dan uit en dra skouerhoog (of op die kop!) mandjiesvol druiwe teen die skuinstes af!


(Dis hoe dit vir der jare gedoen is. Nou is daar so hier en daar sulke primitiewe, selfgemaakte “glygeute” wat darem deels die afdra-proses makliker maak – maar ok maar net ‘n bietjie!)

Tussen twee van die dorpies is ‘n deel van die wandelpad baie mak en selfs rolstoelbegaanbaar gemaak.

Sooo mooi en romanties, en genaamd “Via dell’amore” – “Pad van die Liefde.”



Mens gewaar dan ook heelwat “liefde-bedwelmdes” hierrond. (Mag dit tog net hou!)

Is dit nie die héél mooiste eetplekkie wat jy jou kan indink nie!

Mens is die hele tyd bewus van 'n intense spel van lug, ruimte, water en kleur wat van jou sintuie besit neem.

Ons was diep geraak en verwonderd oor die jubelend-mooi wat ons mog ervaar het. En aan die einde van 'n dag wat jou betower het met 'n oordaad van vervulling, het die aandson sagkens die berghange en dorpies vir oulaas nog prentjiemooi kom verf.

Waarlik, daar is geen vers of aanhaling wat vir my die stemming en ervaring van hierdie stuk kuslandskap kan verwoord nie.

(Wil net noem dat van die foto's tydens 'n vorige besoek geneem, en enkeles van die internet af kom.)

7 comments:

Anonymous said...

This is stunning! En ek will ook nog daar gaan draai, maaikie.

Good to have you back, though,

C

Thea said...

Oe Mariki, dis ongelooflik mooi! Baie dankie vir die deel hiervan!!

Sonja said...

Dit is fantasties mooi! So skilderagtig! Dit moes seker n belewenis gewees het!

Anonymous said...

Stunning! Dit laat my sprakeloos.

Sonja said...

Ai,dit lyk so lekker daar,is dit nie die mooiste natuur tonele nie!
maar ek wil nie die een wees wat daar druiwe oes nie....

Desia said...

Sjoe, dis eenvoudig asemrowend!

mariki said...

Thanks, C.

Thea, dis een van die mooiste plekke nóg, wat ek al ooit besoek het!

Was, Sonnie, was.

Ja annapatat, mens kan net kyk en kyk.

Ekke okkie, Sonkind!

Absoluut, Desia.