Friday, July 2, 2010

Slegs op die vlerke van Sy Gees

Dit was die jaar 1967.


Snags – daar waar sy vasgegordel was aan ‘n eienaardige, roterende raamwerk – het sy na die hospitaalvloer lê en staar, vas oortuig dat God haar verlaat het.


Sy, ‘n aantreklike en intelligente 17-jarige meisie, gewild en atleties, was nou ‘n parapleeg ná ‘n duikongeluk.


In die intensiewe sorgeenheid het sy die dood van twee ander pasiënte met ‘n gebreekte nek beleef, en in desperaatheid by haar vriende gesoebat om haar te help selfmoord pleeg. “Sny my polse, gooi die hele bottel pille in my keel af -- enigiets om my uit my ellende te verlos!”


“Ek het in God geglo, maar nou was ek woedend vir Hom. Dit was mos belaglik om te dink dat my omstandighede ‘n bewys was van Sy liefde en krag? Hy kon verseker die ongeluk voorkom het! Hoe kan ‘n lewenslange verlamming deel wees van Sy liefdevolle plan vir my?


As ek nie antwoorde op my vrae kon vind nie, was God my vertroue nie waardig nie!”


Tydens ‘n lang tyd van worsteling het God deur haar vriende haar vrae beantwoord om só Christus te laat deurbreek in haar gemoed.


“Van toe af het ek geweet dat dit God se doel was om ‘n koppige meisie te verander in ‘n vrou wat geduld, deursetting, en die hoop op die hemelse heerlikheid uitstraal.”


En dit is presies hoedat die wêreld vir Joni (gewoon uitgespreek soos Johnny) Eareckson Tada, leer ken het.


Sy het haar lewe aan God gewy en die afgelope 43 jaar in Amerika en internasionaal, verstommende dienslewering aan gestremdes verleen, waarvoor sy tallose toekennings ontvang het. Dit alles, terwyl sy vasgekluister sit in haar elektriese stootstoel – en nie eens self haar neus kan afvee nie.




En toe, verlede Woensdag, moes sy op haar radioprogram aankondig dat sy met borskanker gediagnoseer is.

Dit is sulke tye dat ek my oë toeknyp en inmekaarkrimp.

Here, hoeveel laai U dan op een mens? Hoever moet ‘n gewone mens getoets en gesuiwer word? Tot breekpunt toe?? Het U plesier in die vermorseling van U kind?

My Heiland, ek het dan gedink ek verstaan U! My teologie is in orde en my Bybelkennis helder oor Wie die God is wat ek dien!

En dan besef ek net weer met kleinwording voor U, o God: U is ‘n ondeurgrondelike God met onverstaanbare planne. U hou U nie by menslike redenasies en beredenerings nie. U doen nie dinge volgens ons nietige verwagtings nie, en U hoef nie binne ons ou klein verwysingsraamwerkies op te tree nie.

U is GOD.

U MAG doen wat U wil, en soos U dit wil doen. U skuld niemand iets nie.

Soos Job, Here, is dit wanneer ons op die ashoop van pyn, ellende en dood sit, dat ons verseker en onontkombaar weet: Vroeër het ek van God gehoor, maar nóú het ek U van aangesig tot aangesig gesien.

Gesien dat my God nie ‘n fout maak nie. Gesien dat “alles ten goede meewerk, vir dié wat vir U lief is.”

En saam met Dawid kan ek dan getuig: “Dat U my verdruk het, Here, dit was net maar goed vir my.”

Want só kan ek meer soos Christus word.

Help my Here, om altyd styf teen U te bly skuil – my toevlug in die storm.


8 comments:

Andorize said...

Dankie dat jy dit gedeel het, Mariki. Ek volg haar postings op Facebook maar ken nie haar agtergrondverhaal so goed nie. Dis merkwaardig en aangrypend. Laat 'n mens diep besin.

Sonja said...

Dit is n treffende verhaal!n Ander liedjie se: Moet die hart dan bloei sodat die siel kan groei? So mooi! Ons wil dit nie he nie,maar dit is waar ons die meeste groei!

Is hierdie vrou nie deel van die Gaithers nie? Dit lyk soos Bill Gaither se dogter,sy is ook in n rolstoel en dit klink vir my soos sy!Sy is dierbaar,ek het haar al gehoor praat.

Jan and Miekie said...

Wat kan 'n mens sê? Ek voel en dink soos jy.
N.S. Hoe was die vakansie?

Dané said...

Welkom terug, Mariki!

Ja, dit vat ons 'n lewe lank om te moet leer wat ons ou klein plekkie voor 'n groot God is, né.

Ons sal bid dat die Here haar sal genees -- sy is so 'n wonderlike mens.

Anonymous said...

Dis great om weer te kuier hierso, maater.

Joni is 'n fabulous christen. May she be spared and healed!

C

mariki said...

Andorize, kyk of jy haar outobiografie in die hande kan kry -- dis aangrypend.

Nee Sonnie, sy is nie van hulle familie nie. Ek het nie eens van hul dogter se omstandighede geweet nie!

En ja, ons groei deur pyn....

Mieks, dankie. Vakansie was net genade, seën en genieting. Kom net nie sover om te vertel nie!

Dankie Dané en C'tjie. Bid saam met julle, en letterlik duisende andere.

A human kind of human said...

"U is GOD. U MAG doen wat U wil, en soos U dit wil doen. U skuld niemand iets nie." Dit is so 'n groot waarheid en ek kom agter dat daar baie Christene (?)is wat dit nie besef nie en verwag dat God net gemaklike en lekker dinge na ons kant to moet stuur. Ek is so jammer om te hoor dat Joni nou borskanker het. Haar getuienis was vir my baie inspirend to ek nuut op die pad was. Dankie dat jy vertel (en uitgebrei) het.

mariki said...

Ahkoh -- waarlik, waarlik nie 'n maklike waarheid om te aanvaar nie -- maar hoe bevrydend!!