~~~~~
Staan toe mos vandeesweek met geen klere aan nie, op die lughawe.
Kaal. Sonder ‘n draad of ‘n vesel om my te bedek.
En ek is bekyk. Van bo to onder en van voor tot agter.
Darem deur mense wat ek nie kon sien nie – asof dit ‘n verskil maak…..En die mense rondom my wat ek wel kon sien, het genadiglik teen my klere vasgekyk.
Vrywillig? Nee, natuurlik nie!
Maar dit het gekom toe ons ná ‘n kort wekie se kuier by Tweede-Jongste in Phoenix se lughawe deur die sekuriteitskontrole moes gaan, en ek onkant gevang was, en nie vinnig genoeg gedink het om dié vernedering te ontduik nie. Voor ek my kon kom kry, is ek in die Full Body Scanner ingewink, met hande bokant die kop staan gemaak, en – soos dit vir my gevoel het – “gefussileer.”
Ek weet nie in hoeveel ander lande dié aaklige sekuriteitskassies al hul opwagting gemaak het nie, maar hier vervuil hulle by dosyne.
Die Full Body Scanner “ontklee” ‘n mens deur ‘n 3-D beeld van jou te vertoon – kompleet met alle nate, voue, skaduwees, bult-en-hobbel vlakke – en op die lughawens word dié beeld gesein na ‘n skerm in ‘n vertrek waar sekuriteitspersoneel jou bestudeer om te sien of al daardie kontoere werklik jou eie is, en of jy dalk dwelms, wapens of plofstof saamsmokkel.
Genadiglik kan mens nog weier om so verneder te word, maar dan word jy deeglik deur gehandskoende dames “betas”.
Liewer dit. Vat aan my as jy dan moet. En ek kan jou sien. Maar moet my nie beloer nie. Veral as ek nie klere aan het nie.