Ek het al hier vertel dat Joni Eareckson Tada een van my geëerde heldinne is. Elke keer as ek een van haar boeke/artikels/webwerfinskrywings lees, laat sy my oorstelp en geïnspireerd.
Baie ken die verhaal van hoedat sy in haar tienerjare ná ‘n duikongeluk, van haar nek af verlam gelaat is.
In "Dié God Wat Ek Liefhet", bl 304, skryf sy:
“Ek onthou die nag lank gelede toe ek as beangste tienderjarige in ‘n skemer hospitaalkamer hardop gelê en wonder het of God my dan afgeskryf het. Die gange was donker en verlate.
Dis toe dat my vriendin Jackie pens-en-pootjies langs my in die bed klim en teen die donkerte van daardie nag in begin sing:
‘Man of Sorrows!’ What a name!
For the Son of God who came
Ruined sinners to reclaim!
Hallelujah, what a Savior!’
“Wanneer iemand oor die afgelope dekades my gevra het na die keerpunt in my geestelike wroeging oor die ongeluk, beskryf ek daardie oomblik. Dit was die allerbeste wat enigeen vir ‘n verlamde meisie kon doen.
“Vroëer reeds in al die eindelose ure in daardie bed, het ek Bybelverse lê en herhaal oor God se doel met ons lyding, maar dit het nooit my diepste denke deurdring nie. Antwoorde en redes, hoe goed bedink ook al, het nie by die probleem in my hart uitgekom nie – in my hart en diepste wese…
“Eers het ek dit nie begryp nie. Máár, as God dan waarlik die middelpunt van die heelal en die skepping is, dié Een wat dit bymekaar hou sodat dit nie uitmekaartuimel nie – as alles deur Hom leef, beweeg en bestaan soos wat Handelinge 17 vers 28 sê, dan kan Hy ons geen belangriker antwoord óf rede óf geskenk gee as Homself nie.
“Dit is wat Jackie my daardie nag help verstaan het. God het ons nie woorde gegee nie – Hy het ons die Woord gegee – Jesus, die verminkte en verbryselde Man van Smarte.”
~~~~~~~~~~~~~Ek gaan hierdie nuwe jaar in met die Man van Smarte aan my sy. Hy ken my hartseer en het medelye met my swakhede. Hy is die Seun van God – God Self!
Hy dra my pyn vir my. Hy veg my geveg tot die oorwinning toe.
Hy stort Sy seën oorvloediglik op my uit. Hy gee my die goeie en verheug Hom in my lofsange.
Hy vergewe my opstandige hart en hou my styf in Sy arms vas.
Ek is veilig. Dwarsdeur hierdie splinternuwe 2011 -- en vir altyd.
Halleluja – wat ‘n Redder!!
~~~~~~~~~~~~~~~
Aan elke ene van julle: die Here se seënende nabyheid vir hierdie nuwe jaar toegebid!
5 comments:
Baie wysheid kom uit pyn gebore. Ek haal ook my hoed af vir hierdie vrou!
Ek kan jou nie sé hoe baie hierdie stuk my bemoedig het nie. Jy stel dit so grasieus, dit vloei soos vars fonteinwater deur my wese. Dankie dat jy dit gedeel het. Ek stap saam, Mariki. Die res is besig om stadig maar seker weg te kwyn terwyl Sy lig al helderder skyn.
So waar, Sonnietjie. Wanneer dit goed gaan, fladder ons te ligvoets rond om iets te kan leer.
Dan is ek sooo bly, An'rize! En wat jy hier verwoord, is waar ons moet uitkom: niks moet tussen ons en ons fokus op Jesus kan kom nie! (Maar oe, dis 'n laaaang leerproses.)
O Mariki, hoe bevoorreg is ons as die Here se kinders nie! En gemeet teen Joni E-Tada se lewe, wat het ons dan om oor te kla?! Maar Hy is daar vir elkeen van ons se geringste EN grootste probleme, né.
'n Jesusjaar vir jou.
Dankie baie, D.
Post a Comment