Tuesday, February 1, 2011

Ouma trêwwel weer

Saam met al die gedoentes en gewoel en opgewondenheid van pas-verby Kersfees, bel ons Kanada-kinders om uit die bloute te vertel dat daar by hulle ‘n tweelinkie oppad is.

Die nuus veroorsaak ‘n familie-oproer vanaf Kanada tot in Amerika, word deurgebel Suid-Afrika toe en oorgesein na Australië.


Verstomming! Aan geen kant van die families is daar nog ooit twee rye spoortjies langs mekaar getrap nie. Wat ‘n héérlike verwondering en dankbaarheid oor die spesiale hemelse geskenk wat oppad is – ‘n identiese tweelingdogtertjiekinners!!


En Ouma begin boeke aanstuur en brei en oorweeg om te leer hekel. Maar grootste beplanning is om te moet gaan help wanneer die mensies aan die kom is, so teen April-iewers, want ander ouma woon baie ver.


Net daar sit die Australië-kinders hul voet neer en hulle kleim in – jongste Aussietjie is al vyftien maande oud, en Ouma se arms het hom dan nog nooit vasgehou nie!

Een doller, twee dollers…..spoeg, spaarvark spoeg. Spaargeld maak dit!

Nou staan die stofwolke dakhoog soos hierdie ouma spring om klaar te kry vir volgende Woensdag se vliegtuigklim.

Ouma kom, kangaroetjie, Ouma kom!

8 comments:

Dané said...

Watter FANTASTIESE nuus! Mag die Vader dit alles -- babetjies en reise -- goed laat afloop, mariki!

Thea said...

Jinne maar dis wonderlike nuus Mariki!! Ek het eers op 30 weke uitgevind ek verwag 'n tweeling en ek onthou so goed hoe opgewonde almal was. Jy moet die kuiertjie by klein "kangaroetjie" ook baie geniet en veilig reis! :-)

mariki said...

Baie, baie dankie, Dané.

Thea, nooit geweet jy het 'n tweeling nie? Hoe oud/jonk is hulle? Ag, di nuus was 'n salige opwinding om te beleef! Dankie baie vir die reiswense -- sal geniet!

Anonymous said...

My Friend, what wonderful news! Ek is bly vir julle. Ek bel voor jy gan vlieg.

mariki said...

Txs, C'tjie.

Desia said...

Wonderlik! Is dit hul eerstelinge?
Geniet die trippie Austalie toe!

Thea said...

My seuns is 27 jaar oud (word 28 in November) en hulle is 'n identiese tweeling. Op die oomblik lyk hulle nie vreeslik dieselfde nie a.g.v verskillende haarstyle maar toe hulle nog op skool was, kon baie mense hulle nie uitmekaar ken nie. Dit het natuurlik vir baie pret gesorg!

mariki said...

Nee, Desia -- hulle beleef 'n verdubbeling van hul nageslag. Ousus sal dan ampertjies 7 en Ouboetie 5, wees. Dié 2 kan ook nie wag nie (maar wag maar...!)

Hmm, hulle is defnitief jou hart se punt, glo ek. En van daai pret (en die uitbuiting daarvan!) kan ek my net indink....