Monday, September 26, 2011

Muise in huise


Die aarde draai en die seisoene wissel en ons beleef tans die mees vredige en sagte, ryke herfsdae. En dis wonderlik om vensters en deure te laat oopstaan ná ‘n nogal baie warm Augustusmaand.


So sit ek vanaand teen skemer welbehaaglik op die rusbank in die woonkamer toe iets vaals, klein en blitsig, reg voor my voete verbyflits onder die bank in.


Nou wel, dit moes presies die oomblik gewees het waarop hierdie moedige en beheersde, volwasse vrou moes afgebuk en die die klein, hulpelose ou diertjie opgeskep en by die oop skuifdeur na buite vrygelaat het. (Seersekerlik waarskynlik met ‘n boog deur die lug.)


Ek wens ek kon julle beïndruk en sê dis absoluut net wat gebeur het….maar dan sou ek moes jok.

My eie gille weerklink nou nog in my ore, en elke keer as ek vir Vennoot kyk, dan wil-wil hy weer begin lag oor my gebokspringery van die een bank tot op die ander tot op die groot stoel in die hoek – die laaste springslag het ek so dodelik ampertjies nie gemaak nie!


Haai, en om te dink ek het voorgeslagte gehad wat feitlik kaalvoet oor die Drakensberge getrek het; ‘n oupa wat in die Boereoorlog teen die kakies baklei het en ekself het die moed gehad om ‘n hele paar keer in my lewe kindertjies in die wêreld te bring --- hoe dan dat ek so halfpad in my oudag in nog steeds sulke wilde wegholspronge gee omrede van ‘n swerkater van ‘n muis….


Ek troos my darem aan een ding: dit bewys net ek is nie katterig nie….

1 comment:

Anonymous said...

Ek het 'n ou tannie geken wat 'n muis in 'n hoek sou vaskeer/emmer sou injaag en dan regtig met die hand die ding aan die stert uitgesmyt het.

Nie vir my nie, dankie!